GOD HET GEEN PROBLEEM OM JOU TE VIND NIE

Gary Wilkerson

Maak nie saak hoe duister jou omstandighede of hoe “onbekend” jou identiteit is nie, wanneer God kies om homself aan jou te openbaar, het hy geen probleem om jou te vind nie. Kom ons beskou die moeder van Simson ... die sterkste man wat ooit geleef het.

“En toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die Here, het die Here hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank. En daar was ‘n man uit Sòrea,...met die naam van Manòag; en sy vrou was onvrubaar en het geen kinders gehad nie. Maar die Engel van die Here het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk ... jy sal swanger word en ‘n seun baar” (Rigters 13:1-3).

Vir veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn rondgedwaal, onderdanig aan die Filistyne en gedemoraliseerd in gees. Te midde van al hierdie chaos en wanhoop, het ‘n gelowige en biddende vrou geleef wat haar God geken het. Ons sien dat haar man se naam Manòag was, maar háár naam word nie genoem nie – ‘n anonieme dienares van die Here.

Net soos dit gebeur het in die Nuwe Testament met ‘n jong meisie genaamd Maria, was Manòag se vrou ook besoek deur ‘n engel, wat vir haar ‘n opvallende boodskap gegee het: “Jy gaan ‘n seun baar!”

Manòag se vrou was geduldig gedurende Israel se tyd van slawerny en het haarself afgesonder met God in haar binnekamer. Nou het sy ‘n woord van die Here ontvang. Haar beloofde kind was nie bestem om ‘n gewone seun te wees nie, omdat die engel verder gesê het, “hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne” (13:5). Toe het die Here spesifieke instruksies gegee oor hoe die seun grootgemaak en voorberei moes word vir sy spesiale roeping. (Lees die opwindende verhaal van Simson se lewe in Rigters 13 tot 16.)

Simson se moeder het die belofte van God geglo en het haar seun opgelei volgens die voorskrifte van die Here. So ook vandag, is God op soek na geduldige en toegewyde dienaars wat Hom sal vertrou in die moeilikste tye.