God Het Jou Nie Oorgeslaan Nie
Ons gaan terug na een van die donkerste dae in die geskiedenis van Israel. Op hierdie dag staan ‘n weduwee voor drie kiste, omring deur ‘n weeklagende menigte. In daardie treurende menigte was honderde ander weduwees, saam met ‘n groot groep gewonde soldate, party se wonde het nog gebloei.
In die middel hiervan was hierdie naamlose weduwee, wat amper nie voor die drie kiste kon staan nie. Verwagtend en in pyn, moes sy deur twee ander vroue ondersteun word. Hierdie vrou was geestelik en verstandelik dood, geheel-en-al oorweldig deur verdriet en pyn.
In die een kis, lê haar agt-en-tagtigjarige skoonvader, Eli, die Hoëpriester van Israel. In ‘n ander kis lê haar swaer, Hofni, die priester. Maar die kis waar hierdie vrou bly staan, is die van haar man, Pinehas.
Op hierdie tydstip in Israel se geskiedenis het ‘n groot ramp hulle oorval. ‘n Paar dae voor dit het die Israelitiese leër uitgegaan om teen die Filistyne te veg. Hulle is verslaan. Ongeveer 30,000 mans is gedood, saam met Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas. Toe die Hoëpriester die nuus ontvang dat die Ark van die Here buitgemaak is en dat Eli se twee seuns dood is, val hy agteroor van sy stoel af en breek sy nek.
Die Skrif wys vir ons dat hierdie naamlose weduwee ‘n mate van liefde gehad het vir die dinge van God. Sy het respek gehad vir die teenwoordigheid van die Here en was hartseer oor die verlies van die Ark van die verbond, aan die Filistyne (sien 1 Samuel 4:19). Sekerlik was sy ook geskok oor die manier waarop God se huis, in onverskilligheid en hebsug verval het, onder haar skoonvader se bediening.
Met Eli as Hoëpriester, het die geestelike herders hulle dikwels blind gehou vir allerlei sondes. Eli se seun, Hofni was ‘n slegte priester wat ontug in God se huis gepleeg het. Pinehas was ook ‘n teruggevalle, owerspelige priester wie se ongetemde wellus dikwels skande op die tempel gebring het. Jare lank, het sy treurende vrou met die profetiese waarskuwing in haar ore geleef, wat deur ‘n onbekende profeet oor die huis van Eli uitgespreek is:
“Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie; en al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterwe. En dit sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en Pinehas, sal kom: Op een dag sal hulle altwee sterwe” (1 Samuel 2:33-34).
Stel jou voor watter pyn hierdie vrou by die graf moes gedra het. Haar man het vroue in die tempel verkrag, vroue wat sy waarskynlik moes versorg. Sy bediening was wellustig, vol hebsug en onverskilligheid teenoor die dinge van God. Die Here se ware diensknegte het reeds vir jare gewaarsku teen God se oordeel oor so ‘n korrupte bediening. Die mense het traak my nie agtig geword as gevolg van die huigelary. Nou het die onheil oral toegeslaan. Die ergste van alles was dat die vyand die ark afgeneem het, wat die teenwoordigheid van God verteenwoordig het.
Vir hierdie arme vrou het die Here se vyande getriomfeer. Oral om haar was die kerk verwoes en die nasie van hoop beroof. Daar was niks meer waarna ‘n mens kon uitsien nie, behalwe die oordeel. Verder het hierdie vrou die persoonlike pyn van haar man se ontrouheid, gedra.
Skaars het sy hulle begrawe of sy sak inmekaar, en haar bevalling begin: “En sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was ver heen in haar swangerskap. Toe sy dan die tyding hoor dat die ark van God geneem is, en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy haar krom gebuig en gebaar, want haar barensweë het haar oorval. En … sê die vroue wat by haar staan: Wees nie bevrees nie, want jy het ‘n seun gebaar” (4:19-20).
Daar was baie ander vroue, by daardie graf wat mans in die geveg teen die Filistyne verloor het. Hulle probeer Pinehas se vrou bemoedig, deur te sê: “Skep moed. Daar is hoop vir jou – ‘n nuwe seun. God het jou nie oorgeslaan nie.” Hulle sien in dat te midde van dood en chaos, daar nuwe hoop was.
Maar Pinehas se weduwee, het reeds haarself oortuig, “Die Here het my verlaat. Kyk na al die rampe, die afvalligheid, die puin. My gebede is nie verhoor nie. Daar is geen hoop meer oor nie.” Sy was heeltemal ontroosbaar. Selfs na die geboorte van haar seun, weier sy om na hom te kyk, sy stoot hom weg. Haar laaste woorde voor sy sterf was, “Sy naam is Ikabod. Noem hom so, want die heerlikheid het Israel verlaat. Die ark van God is afgeneem” (sien 4:21-22).
Met ander woorde, sy het oorgegee in die geveg, en gesterf. Ek glo dat die ware rede van hierdie vrou se dood, hopeloosheid was. Selfs vandag nog, beteken die woord “Ikabod” die verlies van God se teenwoordigheid en die afwesigheid van enige hoop vir sy mense.
Elke Christen staar hierdie drie soorte strome van pyn in die oë: pyn oor die volk se toestand, pyn oor die toestand van die kerk en die pyn van persoonlike lyding en verlies.
Soos sy, leef ons in ‘n tyd van geestelike en morele verval. Byna daagliks sien ons, duiwelse aanvalle teen die naam van Christus. Die vyand breek geleidelik ons morele waardes af, wat nie slegs ons volk se fondament was nie, maar baie ander s’n ook.
Ons het gesien dat gebed, teen die wet geraak het in Amerikaanse skole. Die tien gebooie word verwyder van ons magistraats-en landdroshowe. Sommige van die State het wette wat kapelane verbied om Christus se Naam aan te roep. Intussen wys ons land se howe hulle vuis vir God se gesag en selfs die noem van sy Naam.
Homoseksueles en hulle invloedryke vriende, lyk onkeerbaar, in hulle voorneme om hulle homoseksuele huwelike in te stel. ‘n Nuwe film oor homoseksuele “cowboys”, lok klante, en kom in aanmerking vir die “Academy”-toekennings. Sommiges noem dit die beste film wat ooit gemaak is. Dit word bekendgestel as ‘n film wat vir altyd ons samelewing sal verander. U kan verseker wees, dat dit slegs die eerste is, van baie soortgelyke films.
Ons bediening kry talle briewe en e-posse van treurende, liefhebbers van Christus, wat vra: “Wat gebeur met Amerika? Hy was bekend as die draer van die Evangelie na die wêreld deur die sending pogings. Nou is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. TV programme is liederlik, dit bespot Christene, morele standaarde en Christus self. Hierdie films verheerlik homoseksualiteit en breek familie-waardes af.
“Howe bespot die Christendom. Hulle kryt gelowiges uit as fanaties of dom bloot weens hulle geloof. Waar sal dit eindig? Dit lyk asof niks die morele instorting kan voorkom nie. Wanneer sal die Here ‘n einde daaraan maak?”
Die bespotting vind nie net plaas in die sekulêre wêreld nie. Belaglike, onheilige dinge gebeur in God se huis, reg oor die land. ‘n Paar weke gelede het ek gehoor van “stoei wedstryd kerke”, waarin die preekstoel vervang word met stoeikryte. Stoeiers, wat Christus bely, slaan stoele stukkend oor mekaar se koppe, spoeg nagemaakte bloed uit, en gee daarna hulle getuienis. Nee! Dit behoort nie in die kerk te gebeur nie. Elke bedienaar van God se woord weet, dat dit as gevolg van geweld op die aarde was, dat God die aarde verdelg het met ‘n vloed.
In duisende kerke word sonde, die Kruis, opoffering, oordeel en hel, nie meer genoem nie. Godvresende brandwagte word nie meer toegelaat om te praat nie, en daar is geen brandende harte nie. Die hele fokus val op sukses, die doel van elke preek is om mense te laat goed voel. Die resultaat is hebsug, onverskilligheid, selfbelang en koudheid van hart. Dit pynig gelowiges oral, as hulle sien hoe God se naam in die skande kom.
Ons sien ‘n soortgelyke voorbeeld in Israel. Toe Pinehas se vrou sien hoe die sonde van Silo ten hemele skrei, het sy geweet dat God se teenwoordigheid nie met hulle kan wees nie. Die Here was nie deel daarvan nie.
“Hy het die tabernakel in Silo verwoes, die tent [kerk] waarin Hy onder die mense gewoon het” (Psalm 78:60). God verlaat die kerk van hebsug, Hy neem sy heerlikheid weg van so ‘n teruggevalle kerk. Hy oordeel dit en skryf “Ikabod” op die deur van die kerk.
As ons terug kyk na Jeremia se tyd, sien ons hoedat die profeet teen dieselfde hebsug en selfsug van die kerk praat. Jeremia sê dat elke man net vir homself sorg, en dat die herders net vrede, voorspoed en geluk, preek. Hierdie pastore bevoordeel hulleself, blind vir die behoeftes van weduwee’s en ander minder bevoorregtes.
Die Here sê reguit vir Jeremia: “Dit is nie my kerk nie. Dit is ‘n gruwel.” Hy sê dat Jeremia die priesters moet waarsku. “Huil, herders, roep om hulp, rol in die stof … daar sal nie vir die herders ‘n plek wees waarnatoe hulle kan vlug nie, die leiers van die kudde sal nie kan ontsnap nie… die Here vernietig hulle weiveld … die gloeiende toorn van die Here sal dit alles doen” (Jeremia 25:34-36,38).
Ten slotte sê God, “Ek sal hierdie huis soos Silo maak”(26:6). Hy sê: “Dit is hoe ek elke vleeslike, hebsugtige kerk, in elke eeu, sal oordeel.” En Hy sê vir Jeremia: “Praat … al die woorde wat ek vir jou sê, jy mag nie ‘n enkele woord weglaat nie … Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie dinge hoor sê, in die huis van die Here” (26:2, 7).
Hoe reageer die mense op Jeremia se boodskap? “die priesters en die profete en die hele volk het hom gepak en gesê: Jy moet sekerlik sterf! Waarom tree jy in die Naam van die Here op as profeet en sê dan, dat hierdie huis soos Silo sal word en dat hierdie stad verwoes sal word en sonder inwoners sal wees?” (26:8-9).
Dink net aan al die welvaarts-prediking in die huidige kerke. Toe ek onlangs op besoek was by iemand, het hulle hul TV aangeskakel gehad op ‘n Christen stasie. Elke program was op welvaart ingestel. Baie min was op die Bybel ingestel, en as dit wel was, was dit afgewater om die “self” op te bou. Ek was diep bedroef.
Hierdie self-verheerliking, hierdie gou-ryk-word evangelie en die kompeterende kerk-sisteem wat dit in die hand werk, is gemerk met die woord Ikabod. Dit is alles veroordeel en dood, binnekort sal ons sien dat God met hulle doen, wat Hy gesê het wat Hy met Israel sal doen: “Ek sal hierdie huis soos Silo maak.” Hy gaan die geld-boom afkap, en groot verliese sal gely word. Al die huurling herders sal bankrot raak, en oornag sal hulle groot kerk programme verdamp.
Wat het Pinehas se weduwee misgekyk? God het iets nuuts voortgebring uit die ruïnes van die Eli-kerk van hebsug. Hy het ‘n buitengewone ding gedoen om sy Glorie te herstel. Dit het alles binne in hierdie vrou se huis gebeur en sy het dit nie gesien nie.
Kyk, te midde van die oordeel oor Israel, het God ‘n Samuel-groep tot stand gebring. Dit was mense wat gespeen was van die wêreld. Hulle het die stem van die Here geken, en was volledige aan Hom toegewy.
Op dieselfde manier het die Here ‘n Samuel-groep in hierdie tyd. Hy rig hulle op uit die ruïnes van ‘n hebsugtige kerk en roep hulle tot Hom. Hy sal hulle nie verlaat nie. Ek ontmoet lede van hierdie onsienlike Samuel-groep oral oor op die aarde. Hulle hoor die Here se stem duidelik en hulle is nie bang om die kerk te waarsku nie.
Buitendien het God baie weggesteekte, onbekende profete wat opgelei word deur moeilike omstandighede. Hulle is deel van die Samuel-groep, en hulle weet wat gaan gebeur, want die Here het vir hulle daarvan vertel. Ondanks die komende oordeel, verbly hulle hulle en is vol hoop, want hulle sien ‘n nuwe dag kom.
Pinehas se vrou het geen rede gehad om bekommerd te wees oor die Verbondsark nie. Want die genadetroon was daar. Ek sal verduidelik.
In ou Israel, het die ark die genade van die Here uitgebeeld, ‘n kragtige waarheid, wat in Christus versinnebeeld is. Ons moet sy genade ontvang, terwyl ons op die reddende bloed van sy genade vertrou, en ewiglik gered sal wees. ‘n Mens kan lag oor die wet, jy kan heiligheid bespot, jy kan alles beswadder wat van God praat. Maar as jy God se genade bespotlik maak, volg die oordeel vinnig. As jy op die genadebloed trap, sal jy sy oordeel ondervind.
Dit is presies wat met die Filistyne gebeur het, toe hulle die ark gesteel het. Dodelike verwoesting het oor hulle gekom, tot hulle erken het: “Dit is nie net toeval nie, God se hand is teen ons.” Kyk maar wat gebeur toe God se ark in Dagon se tempel geneem is, om Israel se God te spot en uit te daag. In die middel van die nag, word die Genadetroon, op die ark, ‘n oordeelstroon. Die volgende dag, vind hulle Dagon op sy gesig voor die ark, met kop en hande afgebreek.
Geliefdes, dit is waar Amerika vandag moes wees. Ons sou lank gelede al geoordeel moes wees. Ek sê vir almal wat God se genade uitdaag: Gaan aan, probeer wat julle kan om Christus se kerk onder die vloek van verwêreldliking en vrydenkery te bring. Maar as julle die genade van Christus bespot, sal God al julle outoriteit en mag op die grond gooi. Jeremia sê: “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie, daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is nuut elke môre” (Jeremia 3:22). Tog, as mense ‘n bespotting maak van die groot genade van Christus, kom die oordeel.
Dit is slegs die genade van die Here, wat nog die oordeel terug hou. Op die oomblik trek Amerika nog voordeel uit daardie genade. Ons land is betrokke in ‘n wedloop met die res van die wêreld om God en Christus uit die samelewing te verplaas, dit is ongelooflik! Maar die Here sal nie bespot word nie, sy genade duur tot in ewigheid, en Hy het hierdie volk lief. Ek glo dat dit die rede is waarom Hy ons nog steeds seën. Sy begeerte is dat sy goedheid ons tot bekering sal lei (sien Romeine 2:4).
Die Samuel-groep van godvresende manne en vroue weet dit. Hulle verloor nie moed oor die toestand in Amerika of oor die afskuwelike Eli kerk van hebsug nie. Ja, hulle treur oor die ontsettende verval, bespotting en sonde en hulle weet die oordeel kom. Maar hulle is vol hoop, want hulle weet God is in beheer. Sien, hulle het die genade van Christus gesmaak en hulle weet sy genade duur tot in ewigheid. Anders as Pinehas se weduwee, sal hulle nooit toegee dat die vyand die oorwinning kan bepaal teen Christus en sy ware kerk nie.
Ek wil nou met diegene praat wat iets van die pyn van hierdie weduwee leer ken het. Ek praat van die pyn wat aanhoudend is, pyn wat die liggaam, die hart en siel aanval. Moelikhede het opgestapel, met blykbaar geen einde in sig nie. Die pyn is ondraaglik.
Jou pyn mag wees … die verlies van ‘n geliefde … die pyn van ‘n verswakkende siekte … die pyn van verwerping … die pyn van ‘n gebroke huwelik … die pyn van kinders wat in aaklige sonde leef …pyn wat niemand anders kan verstaan nie.
Ek het onlangs met ‘n predikant gepraat wat in sulke verskriklike pyn leef, dat dit hom op die grond laat kruip het. Hierdie man het van een dokter na ‘n ander gegaan, niemand kon die oorsaak diagnoseer nie. Hy leef in onverklaarbare aanhoudende pyn.
Dan is daar ook diep, geestelike pyn, ‘n agtervolging van die gedagtes. Sommige geestelike beproewings is so hewig dat hulle verder gaan en selfs ‘n mens se geloof ondermyn. Hulle skud jou geloof in God. Hierdie pyn laat jou uitroep: “O, Here, het U my verlaat? Het U my gebede nie gehoor nie? Is U daar?”
Dit is nie ongewoon vir ‘n gelowige om ‘n geslote hemel te ervaar, as hy deur ‘n ernstige toets gaan nie. Hy het geen behae in gebed nie, en as hy bid is daar geen reaksie nie. Hy is so belas en vermoeid dat hy nie op God se woord kan konsentreer nie, selfs as hy lees registreer dit nie.
Dit is wanneer Satan inkom. Hy kom na ons, op die hoogtepunt van ons pyn en beproewing, met ‘n duiwelse leuen. Dit is dieselfde leuen waarmee hy Christus tydens die kruisiging geteister het: “God het jou verlaat. Hy het jou in die steek gelaat en jou verbygegaan.” Hierdie aanvalle kan genadeloos wees, vol leuens, beskuldigings, veroordeling en dit voeg ‘n swaar las van skuld by die pyn. Hy fluister, “Jy kan dit nie maak nie. Jy bid nie eers meer nie. Hoe kan jy gered word?”
Sy doel is om jou op dieselfde plek te kry, as waar Pinehas se weduwee was, om hopeloos te raak en die geveg gewonne te gee. Daardie arme vrou het ‘n noodlottige fout begaan, om in haar pyn te besluit: “God is nie by my nie. Ek voel sy teenwoordigheid nie meer nie. Ek is weggegooi.” Op daardie oomblik het sy totaal oorgegee, haar geloof weggesmyt.
Dit bring my by die grootste las wat ek as herder dra. Ek roep gedurig tot die Here, “O, God, hoe bring ek hoop en vertroosting na gelowiges wat sulke pyn moet verduur? Gee vir my ‘n boodskap wat hulle vertwyfeling en vrees kan uitwis. Gee vir my ‘n boodskap wat trane sal droog en ‘n lied, aan die sonder hoop sal gee.”
Die boodskap wat ek van die Heilige Gees vir God se volk ontvang is eenvoudig: “Gaan na my Woord, staan op my beloftes. Verwerp jou twyfel gevoel.” Alle hoop kom van God se beloftes.
Ek het onlangs ‘n brief ontvang, wat ‘n pragtige illustrasie is. ‘n Moeder skryf: “My dogter is sestien jaar oud. Sy het ‘n fisiese verval van haar spiere, ligamente en gewrigte, en verduur kwaai pyn, vier-en-twintig uur van elke dag. My seun het selfmoord gepleeg in 1997 as gevolg van dieselfde, pynlike siekte. Hy was twee-en-twintig, toe hy na ‘n lyding van nege jaar, sy eie lewe geneem het. Hy kon die pyn nie meer verduur nie.
My dogter was ‘n ballerina en het uitgesien daarna om na Juilliard Skool in New York stad te gaan. Haar drome is verpletter toe sy dieselfde siekte gekry het, wat haar broer vernietig het. Die dokters sê dat haar pyn op ‘n skaal van 1 tot 10, op 14 staan. Die hoeveelheid pynverdowers wat sy moet gebruik, sal haar niere vernietig, dus kan sy dit nie gebruik nie.
“Sy het die Here lief, en dit is ‘n vreugde om naby haar te wees. Sy is ‘n uitsonderlike digteres, met publikasies in vyftien tydskrifte, en haar naam is opgeneem in die internasionale lys van ‘Who’s Who in Poetry.’”
Te midde van ‘n geweldige beproewing van liggaam en gees het hierdie moeder en haar dogter hulle hoop in God se Woord geplaas. En Hy het hulle vrede gegee.
Is jy al versoek om tot die gevolgtrekking te kom dat die Here nie met jou is nie? Het jy al amper jou geloof opgegee? Plaas jou hoop in die Woord van die Here aan jou:
- “Hy het gesê, Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).
- “So is die Here dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here!” (Psalm 9:10-11).
- “Deur die Here word die gange van ‘n man bevestig, en Hy het ‘n welbehae in sy weg. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die Here ondersteun sy hand. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. …die Here … sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar” (Psalm 37:23-25, 28).
- “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar die radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Korinthiërs 4:8-9). ■