IN GOD SAL EK ROEM!

Carter Conlon

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

Wanneer jy in die krisis van jou lewe is – en God vertrou vir jou finansies, jou huwelik, jou weerspannige kinders, jou gesondheid – is dit belangrik dat jy terugkeer na die Woord van God en sê, “Here, sal U my help om nie op my eie insigte staat te maak nie? Sal U my help om nie ‘n manier uit my dilemma op my eie te probeer vind nie? Sal U my help om U te vertrou met my hele hart?” As jy op hierdie manier bid en die Heilige Gees vra om jou te lei, sal jy agterkom jy groei in vrymoedigheid en geloof.

Ek hou van wat Koning Dawid in Psalm 44 gesê het: “Ons vaders het ons dit vertel: ’n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd. U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit. Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ’n welbehae in hulle gehad het. U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob. Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan. Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie; maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak. In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid” (verse 1-8).

Dawid het in wese gesê, “Here, U het vir ons vertel wat U in die verlede gedoen het. U het U volk uit slawerny na die plek van belofte gebring – nie deur menslike intellek, redenering, of krag nie, maar deur u Gees. Aangesien ek die geskiedenis ken, gaan ek nie op my eie krag of insigte staatmaak nie. In U sal ek roem al die dae van my lewe!”

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.