Godsdiens Haat, Jesus Liefhê
Ek reis deur die wêreld vir bediening, en wanneer ek in ‘n Buddiste land is, bid ek vir die mense daar om Jesus te ken. Wanneer ek in die Moslem wêreld is, bid ek vir die mense daar om ‘n openbaring van Christus te hê. En wanneer ek in Israel is, bid ek vir elke Israeliet om Jesus te ken. Ek wil hê al die mense van die wêreld moet die werklikheid van Jesus ken. Dan, wanneer ek terugkeer huistoe, bid ek dat elke Christen ook Jesus sal ken!
Ek hoop jy het daardie grappie gesnap – maar ek hoop ook dat jy weet ek skerts net gedeeltelik. Ons lewens as volgelinge van Christus handel nie oor ‘n identifiseerbare godsdiens nie. Dit handel oor ‘n kenbare Persoon, Jesus. Daar is ‘n groot verskil, en dit maak ‘n groot verskil in ons daaglikse lewens.
Die Bybel leer ons dat daar drie dinge is wat teen ons werk in ons wandel met Christus: die wêreld, ons vlees en die duiwel. Ek het al dikwels gewonder, “Waarom is godsdiens nie ingesluit by daardie lys nie? Dit werk ook teen ons verhouding met Jesus.” Toe besef ek godsdiens is in al drie!
As ek die woord “godsdiens” gebruik, bedoel ek eintlik godsdienstigheid. Dit is die idee dat ons godsdiens – ons teologiese gelowe en praktyke – in die middelpunt van ons lewens plaas, in plaas van die liefdevolle God agter dit alles. Dit is in Jesus wat ons lewe, asemhaal en bestaan, nie in ‘n stelsel van gelowe of werke nie.
Wanneer jy op daardie manier daarna kyk, word godsdiens ‘n uitdrukking van ons vlees, wat beteken ons sondige natuur. Die Heilige Gees identifiseer ons sondigheid aan ons, maar ons vlees gebruik godsdiens as ‘n front om bekering te weerstaan en ons te laat goed voel oor onsself. My Oom Don Wilkerson noem dit “voor-afvalligheid.” Afvalligheid is wanneer mense afvallig raak van Jesus deur hulle te wend na ernstige sondes: Voor-afvalligheid is afvallig raak in ‘n ander rigting: van Jesus af wegdraai na godsdiens.
Laat ons dit erken, om godsdienstig te wees kan baie makliker wees as om vol van Jesus se liefde te wees. Om deur Sy liefde gelei te word, kan ons ‘n bietjie gek laat lyk vir die wêreld. En dit is hoe die wêreld teen ons werk. Dit maak ons versigtig en huiwerig om Christus lief te hê en te gehoorsaam.
Satan het sekerlik ook godsdiens lief. As hy jou nie afvallig kan maak – deur al jou sinne deur sonde of verslawing te verdoof nie – sal hy jou versoek om voor-afvallig te raak. Hy sal jou fokus wegdraai van die koste om Christus lief te hê, na godsdienstige normes, reëls en regulasies wat doenbaar en meetbaar is. Dit produseer nie lewe nie, soos Paulus sê, maar in teendeel, lei tot die dood.
Moet my asseblief nie verkeerd verstaan wanneer ek sê, ek haat godsdiens nie. Wat ek bedoel is, ons moet daardie dinge haat wat lei tot geestelike dood eerder as ware lewe in Christus. Sekere predikers sê hulle haat godsdiens, maar wat hulle eintlik bedoel, is dat hulle die heilige, regverdige heerskappy van God haat wat hulle daarvan weerhou om hulle oor te gee aan hulle vleeslike begeertes. Hulle verkondig ‘n lisensie om vrylik te sondig sonder enige skuld. En dit is die presiese teenoorgestelde waarvan ek praat. Om godsdiens te haat, beteken nie jou vlees liefhê nie; dit beteken om Jesus meer lief te hê.
Een van die vreugdes van my lewe is om aanhoudend te leer presies hoe groot Jesus is.
Jesaja 6 bevat ‘n beroemde glorieryke gedeelte oor Jesus: “Ek [het] die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy soom die tempel gevul het” Jesaja 6:1). Toe ek grootgeword het, het ek hierdie beeld van die Here in my gedagtes gehad – dat Hy ver weg op ‘n plek was, verwyderd van my, ‘n entiteit wat ek moes aanspreek in die taal van die Kings James Bybel, as “Thee” en “Thou.”
Wat het ons verhewe, heilige God egter te sê oor ons nederige, sondige mense wat Hom volg? Jesaja sê vir ons: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon. Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15). Ja, ons Vader is heilig, majestueus en glorieryk – maar Hy het Homself verneder om te woon in ons nederige, sondebevlekte harte.
Ek dink elke kind ken instinktief die verskil tussen godsdiens haat en Jesus liefhê. Eendag, toe my dogter jonk was, het sy opgeskiet tussen die blaaie van die koerant wat ek gelees het. Ek was moeg en het haar versigtig weggestoot en wou net ‘n paar minute hê om te ontspan voor ek wou werk aan die preek wat ek nodig gehad het vir die volgende Sondag. Maar sy het aanhou opskiet en gesê, “Pappa, ek wil jou iets vertel.” Ek het haar net aanhou wegstoot en gedink aan die horlosie wat wegtik aan my ontspanning. Hierdie heer-en-weer het einde gekry toe ek uiteindelik gesê het, “Skat, wat wil jy vir my sê?” Sy het geantwoord, “Ek is lief vir jou.”
Sy het die verskil tussen godsdiens – my perfeksionisme as ‘n prediker – en ‘n liefdevolle Jesus geken, wat sy aan my gedemonstreer het. God se Woord maak dit duidelik Hy wil hê ons moet Hom nader soos my dogter het – uitroep na ons “Pappa,” Abba, wat naby is, nie ver of buite ons bereik nie.
Dawid is die enigste persoon in die Ou Testament wat God “Abba” genoem het. Hy het geskryf, “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand” (Psalm 139:17-18). Met ander woorde, “Jy kan nie die aantal kosbare gedagtes wat God oor jou het, tel nie. Tel ‘n handvol sand op die strand op en dink hoeveel korreltjies is dit. Dit is hoeveel wonderlike gedagtes God oor jou het op daardie oomblik. Kyk nou na die sandstrand wat reik tot aan die horison en beskou sy liefdevolle gedagtes teenoor jou. Dit eindig nooit!”
Daarenteen, oortuig godsdiens ons om ellendig te wees – dat ons lewens niks werd is nie, dat ons aanhou probeer, slegs om te misluk, dat ons voel wat is die nut om voort te gaan. Maar Jesus praat die waarheid met ons, en vertel ons ons het oorvloedige lewe, sodat ons nie langer in ons harte hoef te stry nie. Kortliks, ‘n godsdienstige hart voer ons weg van Jesus, terwyl Sy liefde ons altyd nader trek.
Ek myself in ‘n stryd bevind tussen hierdie twee werklikhede op ‘n onlangse reis na die Midde-Ooste waar ons ‘n herderskonferensie gehou het. Talle van die toegewyde herders wat dit bygewoon het, het groot afstand afgelê om daar te wees, so ons wou seker maak elke sessie was die moeite werd. Dit het my perfeksionisme laat inskop. Na elke sessie, het ek my gedagtes gefokus op die volgende een. Gedurende die resesse, het ek wandelings deur die stad geneem en my boodskap vir die volgende sessie opgesê. Die hele tyd het ek verby mense geloop wat nog nie eens die naam Jesus gehoor het nie.
Toe ek dit besef het, het ek gedink, “Dit is nie reg nie. Ek is reeds voorbereid om met hierdie wonderlike herders te praat. Al my ge-opsêery is oordoen; dit dien hulle nie, net my perfeksionisme. En dit is godsdiens! Here, maak my oomblikke op hierdie strate soos U s’n, toe U deur Jerusalem gewandel het. Ek wil fokus op die mense wat ek raakloop. Heilige Gees, lei my treë.”
Toe ek dit eers gebid het, was my hart vrygemaak – en die gesprekke wat ek met mense gehad het, was wonderlike, Jesus-gesentreerde oomblikke. Ek is oortuig ons gesprekke weerklink steeds deur die ewigheid.
As ons kies om te wandel soos Jesus het – te doen soos Hy lei, nie wat ons vlees dikteer nie – hoef ons nie die duisternis te vervloek nie.
Een geneigdheid van godsdienstige mense is om te fokus op die duisternis eerder as die lig. Ek hoor so baie Christus vandag hulle bitter woorde uiter: “Die kultuur is te blameer,” of “Die regering doen verkeerd,” of “Daardie spesiale belangegroep is ‘n negatiewe invloed.” As jy wandel soos Jesus, sal jy nie die duisternis vervloek nie, omdat jy reeds gefokus is op die lig wat jy bring. Laat my dit illustreer.
Dink daaraan dat jy in ‘n kerkdiens sit en die ligte gaan skielik af. Die hele plek is heeltemal donker. As ‘n onderhoudswerker net een klein liggie in daardie kamer aansit, word dit dadelik gesien deur almal in die gemeente, maak nie saak waar dit geplaas word nie. Vriend, dit is ‘n beeld van jou in ‘n totale donker wêreld. Dit maak nie saak hoe groot die donker ruimte is nie, jou lig kan gesien word deur almal in die omgewing. Dit kan nie weggesteek word nie, so laat dit skyn! Dan hoef jy nie vasgevang te word in angsvolle gesprekke oor ons kultuur nie.
Hierdie soort wandel beweeg jou nie net uit jou godsdienstige gewoonte nie, maar voer jou in die liefde van Jesus in. Dit gebeur nooit as ‘n gevolg van godsdienstige werkverrigting nie. Soos Johannes ons herinner, “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19).
As ons probeer om die werk van God te doen in ons eie krag, sonder sy liefde, sal daar geen krag daaragter wees nie. Paulus wys dit uit, “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword” (1 Korinthiërs 13:1). In kontras daarmee, gee Christus se liefde vir ons orals ‘n kansel, met die ewigdurende krag van die hemel daaragter: “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan” (1 Korinthiërs 13:8-10).
Wanneer die Gees ons dring om in liefde te praat, moet ons dit doen, selfs al kan dit ons ‘n bietjie gek laat lyk. My vrou, Kelly, en ek was onlangs by Times Square Kerk in New York Stad, en ons het ná die diens uitgegaan om te gaan eet. Sonder dat ek geweet het waarom, was ek gedring om vir een van die kelners in ons area te vertel dat Jesus hom liefhet. Later het ek gesien hoe hy die personeel vertel wat ek gesê het, en ek het ‘n paar van die gewone kyke gekry, asof ek mal was. Toe het ‘n interessante ding gebeur: Terwyl ons vertrek het, het ‘n ander kelner gestop en vir my gevra of ek vir hom sal bid!
Vriend, dit is die verskil tussen godsdiens en Jesus se liefde. Om Jesus lief te hê, beteken jy getuig van Hom wanneer dit jou ‘n bietjie mal laat lyk – en die krag van God kragtig sien beweeg. Liefde vir Jesus, is lewegewend, aktief en PRET!
World Challenge werkers in die Midde-Ooste en ander geslote lande, berig iets baie ongewoon. Hulle ontmoet mense wat nooit die evangelie gehoor het nie, maar wat drome en visioene van Jesus gehad het. Wanneer hulle hierdie mense uitvra oor daardie drome, antwoord die mense, “Jesus het aan my verskyn en vir my gesê Hy het my lief. Toe ek wakker word, was ek vasbeslote om iemand te soek wat hierdie Jesus ken, of wat hierdie boek wat jy het, die Bybel, verkoop, sodat ek meer van Hom kan leer.”
Dit gaan verder as ons vleeslike idee van godsdiens. Ons dink dat om ‘n Christen te word, moet iemand geestelike wette ken, op hulle knieë val en ‘n sekere gebed bid. Maar dit is nie hoe Jesus geloof verduidelik het aan Nikodémus, ‘n Joodse intellektueel, goed opgevoed in godsdiens nie. Dit was vir Nikodémus moeilik om te verstaan wat Jesus bedoel het om “weergebore” te wees; hy het gevra, “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” (Johannes 3:4).
Nikodémus het probeer om God se weë te verstaan met sy vleeslike verstand. Maar Jesus het uitgewys dat God se weë nooit bewerkstellig word deur ons vlees nie: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees” (Johannes 3:5-6). Dit is die konsep agter die doop: Wanneer ons in die water gedompel word, word ons ou lewe in die dieptes begrawe en ‘n hele nuwe lewe begin wanneer ons na die oppervlak kom. Skielik word ons saam met Christus gesetel in hemelse plekke, ons lewens nie langer deur die vlees beheers nie.
Vriend, ons is iets baie beter gegee as godsdiens. Dit is tyd om alle vleeslike godsdienstigheid uit ons wandel met die Christus uit te haal en op te staan uit die dood om Hom na hoër grond te volg. Dit is die hart van wat Jakobus noem “reine en onbesmette godsdiens voor God” (Jakobus 1:27, my beklemtoning) – om die liefde wat ons ken te neem en dit vrylik en oorvloedig met ander te deel. Dit verwyder alle angs en eensaamheid daarvan om ‘n Christen te wees – en dit verwyder enige vrees oor wat ons “vir die Here doen,” en vervang dit met ‘n hart om sy liefde te ontvang en te gee. In ‘n woord, verander dit alles vir ons. Dit is ware, oorvloedige lewe!