Goeie Nuus Vir Die Louwarmes

Vind jy dat jou versoekings sterker word, jou weerstand minder en jou liefde vir Christus vreemd aan die kwyn is? Is jy in ‘n seisoen waarin God se Woord jou nie meer inspireer nie en jou gebedslewe swak en armoedig is? Is jy ooit bang dat jy stadig besig is om louwarm te word?

As dit so is, is hierdie boodskap vir jou. Daar is hoop vir die gelowiges wat in geestelike louwarmheid verval. Daar is ‘n krag beskikbaar vir jou — en daar is ‘n Verlosser wat namens jou werk om jou uit die stompheid van jou gees te ruk en ‘n herlewingsvuur in jou aan die brand te steek.

Die meeste van ons ken Jesus se welbekende woorde oor louwarm Christene. In Openbaring 3, waar hy die sewe gemeentes aanspreek, lyk dit nie of daar baie goeie nuus vir hierdie mense is nie. In werklikheid klink dit maar alles na slegte nuus:

“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug" (Openbaring 3:15–16).

Christus praat hier spesifiek met die kerk van Laodicéa. Dit is duidelik dat hierdie kerk baie selfvoldaan in hulle geloof geword het. Hierdie skrifgedeelte in Openbaring het so bekend geword dat die woord “laodicéaan” in die woordeboek opgeneem is. Dit dui op iemand wat middelmatig, halfhartig en nie ten volle toegewy is in dit wat hulle doen nie.

Dít is een van die kragtigste gedeeltes in die hele Skrif.

Hierdie vers rig inderdaad ‘n duidelike waarskuwing aan elke geslag in die kerk. Diegene wat as louwarm bestempel word, is mense wat sê dat hulle God se natuur het, maar nie ‘n lewe leef wat daardie natuur weerspieël nie.

Louwarm mense sê dat hulle van God se binnekring is, maar hulle doen nie moeite om sy gebooie te gehoorsaam nie. As Jesus sê, “Ek ken jou werke" (Openbaring 3:15), dan praat hy van die manier waarop hulle lewe. Die louwarm mense haal die Bybel aan, maar tree steeds soos die wêreld op. Hulle wil die voordele daarvan hê om met Jesus geïdentifiseer te word, maar hulle sal hulleself nie aan sy eise onderwerp nie.

Sulke mense is glad nie “koud” nie. Koudhartige mense lei wêreldse lewens sonder verskoning. Hulle hou partytjie, drink en fuif en dit verbaas niemand dat hulle geen lojaliteit teenoor God het nie — en hulle gee nie voor wat hulle nie is nie.

Maar louwarm mense leef lewens van bedrog en dit is hoe hulle die evangelie skade aandoen. Hulle sê dat hulle van God is, maar word deur wêreldse aptyte gelei. Dit word vernietigend vir ‘n getuienis — en is erger as die koue persoon wat erken, “Ek gee nie om oor God nie.”

Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek sê nie dat daar nie vergifnis is vir die sonde van die louwarmes nie. Jesus het sy reiniging nie net beskikbaar gemaak aan die warmes nie, maar ook aan die louwarmes en die koues. Hy is beskikbaar om enigeen se sonde af te was. God se oordeel oor sonde was ten volle tevrede gestel by die Kruis en het ons van alle skuld vrygemaak.

Tog is ons nie net vergewe nie. Jesus het ook sy geregtigheid aan ons toegereken. Hy het sy Gees in ons geplaas en aan ons ‘n regverdige mag oor sonde gegee. Louwarm gelowiges laat egter nie toe dat God se geregtigheid hulle aanraak nie — en dit is die tragedie.

Jy sien, die louwarmes het die reinigende, alles-oortreffende vuur van God se teenwoordigheid ervaar. Hulle het gehoor dat Christus die toorn geblus het deur sy bloed. Tog was hulle verveeld met hierdie heerlike waarheid en het dit met ‘n gaap aanvaar. Christus kyk na hulle en sê, “Jou louwarmheid is verder van my hart as enige koudheid.”

Elke Christen wat hierdie gedeelte lees, moet sy hart vir louwarmheid ondersoek.

In my jare as pastoor het ek verskeie tekens gesien in gelowiges wat louwarm geword het. Al hierdie tekens mag vir jou oorbekend wees, maar lees dit in die lig van Jesus se woorde dat Hy “ons werke ken” en sien of enige daarvan op jou van toepassing is:

Biddeloosheid. Daar is ‘n grappie tussen predikers dat die maklikste manier om ‘n Christen te laat skuldig voel, is om oor hulle gebedslewe uit te vra. Maar in werklikheid openbaar ’n halfhartige gebedslewe iets oor elke gelowige. Dat die persoon se werke — of gebrek daaraan — ‘n toestand van sy hart weerspieël. Gebed is ‘n goddelike werk wat uit ‘n Gees-vervulde lewe kom. En dit is een van die eerste dinge wat verdwyn as ‘n hart louwarm word.

Om onaangeraak te wees deur God se Woord. Om God se Woord te lees is veronderstel om ons op te wek, ons aan te raak en tot aksie oor te haal. Somtyds, wanneer ons egter die Skrif lees, dan is dit asof ons enige ander boek lees. Dit interesseer ons, of nie, en as ons verveeld is, dan laat ons dit eenkant lê.

‘n Ontmoeting met die lewende Woord van God is nie bedoel om ‘n ontsnapping te wees soos met ander maklike leesstof nie. Dit het die teenoorgestelde effek: Dit lei tot verandering. Die hart wat homself oopmaak vir die krag van God se Woord, word verander. Maar die louwarm hart word nie verander nie, omdat dit nooit toelaat dat hy self ondersoek word nie.

Ongehoorsaamheid aan God se Woord. Hoe tragies wanneer ‘n louwarm hart finaal ‘n kykie van die heilige waarheid kry. Die Heilige Gees breek deur en oortuig die gelowige, wat besef, “Geen louwarmheid vir my meer nie. Ek gee my alles weer aan die Here.”

Die louwarm gelowige het egter ‘n ander reaksie. Hy is soos die man wat in Jakobus se sendingbrief beskryf word: Hy kyk na homself in die spieël en sien sy toestand — maar wanneer hy wegloop, vergeet hy wat hy gesien het. Hy kyk gerieflikheidshalwe daarby verby, dat om deur Christus geroep te wees ‘n alles verterende passie is.

Min of geen erg aan die verlorenes. Wanneer die louwarm gelowige verslae van die verlorenes en desperates sien — of dit nou in sy agterstraat of oorsee is — bly hy ongeërg. Selfs as hy aan sy eie ongelowige geliefdes dink, dan is hy nie gepla nie.

Is daar ‘n uitroep in jou siel vir hulle wat jy weet in die duister wandel? Breek die lig van Christus deur in jou gebedstye wanneer jy die drukkende nood van die behoeftiges in ander nasies sien en wek dit ‘n geestelike ambisie in jou op? Het jy ‘n vuur om te sien dat die verlorenes, die blindes en die behoeftiges Jesus se liefde leer ken?

Ongereëlde samekoms met ander gelowiges. Die louwarm gelowige gaan kerk toe, nie om verander te word nie, maar omdat dit hom behaag om te gaan. Om met ander gelowiges saam te kom ter wille van God se heerlikheid, beteken vir hom niks nie. Hy kies om te gaan wanneer hy wil en het net sy gerief in gedagte.

Maar Dawid het die belangrikheid daarvan om saam met ander gelowiges in God se huis saam te kom, verstaan. Hy het verklaar dat een dag in God se teenwoordigheid beter was as ‘n duisend dae op ‘n ander plek. Dawid het selfs gesê dat hy met blydskap as ‘n deurwag sou dien as dit sou beteken om dáár te wees. Dit behoort iets vir ons te beteken. Dit was deur ‘n man van gesag oor tienduisende gespreek!

‘n Belangeloosheid teenoor die apatie in die kerk. 'n Louwarm Christen gee nie om of sy broers en susters ook louwarm is nie. Hy is daarmee tevrede om saam met hulle aanbiddingsliedere te sing en preke te hoor sonder dat enigiets insink. As hy sy wil kon kry, sou niks van sy kerk ooit verander nie. Hy sou nie omgee of dit ‘n lewendige, diensbare liggaam in die gemeenskap is of nie.

Terwyl jy hierdie kenmerke van louwarmheid lees, is daar iets wat in jou wakker gemaak word? Word jy aangeraak deur daardie dinge wat jóú lewe moontlik beskryf? Ons het almal nodig om by God te pleit om ons op te wek om ag te gee op sy belange. Hy is gereed en wag om ons goddelike passie te herstel.

As jy weet dat iets jou lewe sal verander tot God se eer, sal jy daarna streef?

My vrou en ek het ‘n speletjie wat ons dikwels speel. Dit gaan so: Verbeel jou jy kon enige vyf mense vir ete nooi, insluitende iemand van die verlede of hede. Jy maak keuses met die wete dat hierdie mense ‘n groot invloed op jou lewe sal hê soos niemand anders kan nie. Jy sal hulle harte leer ken en hulle toelaat om jou raad te gee. As dit kon gebeur, wie sal jy kies?

Oor die jare het ons lysies baie wonderlike geestelike mense ingesluit (hoewel myne ook ‘n sport figuur of twee ingesluit het!). Sou dit nie ‘n wonderlike ding wees nie? Om diep uit die fonteine te drink van hulle wat jou kan help om jou lewe te verander om meer soos Christus te word?

Jy het jou lys gemaak en die uitnodigings uitgestuur en al jou gaste het laat weet dat hulle kom. Daarom begin jy daardie perfekte maaltyd beplan met die perfekte atmosfeer waarin jy dit sal bedien. Jy word opgewonde, want jy besef jy is op pad om een van die mees betekenisvolle tye van jou lewe te beleef.

Tog, as die spesiale aand nader kom, is daar iets in jou wat dit weerstaan. Ander begeertes kom in jou gedagtes op: “Ek wil regtig daardie wonderlike boek wat ek lees, klaarmaak. Ek moet net sien wat gebeur.” Uiteindelik word die drang wat jou aandag aftrek so sterk dat jy besluit om die ete oor te slaan. Later, terwyl jou gade die gaste onthaal, sit jy ledig in die kamer langsaan, afgesluit van iets wat jou lewe kon verander het.

Dit is presies wat ‘n louwarm hart doen. Dit maak ware passie dood! Dit verswelg enige vurige ywer wat ons vir die dinge van God het.

Dit is presies waaroor Jesus se waarskuwing aan die Laodicense gaan. Sy boodskap is nie een van veroordeling nie, maar van hoop, liefde, genade en krag. Hy sê, “Daar is goeie nuus vir jou. Ja, jou toestand het vir my  laakbaar geword — maar ek roep jou nóú om uit jou louwarmheid te kom. Ek sal jou voorsien met al die krag om dit te doen.

Dit is reg — Christus het nie die louwarmes afgeskryf nie. Hy het hulle gewaarsku, sodat Hy hulle na Hom toe kan terug bring — om hulle verhouding met Hom weer aan die brand te steek.

Wat presies is Jesus se goeie nuus aan die louwarmes?

Die eerste deel van Christus se goeie nuus aan die Laodicense word opgesom in die frase: "Was jy tog maar koud of warm!" (Openbaring 3:15, kursief myne). Sommige vertalings lees, "Ek sou eerder wou hê jy moet...”

Jy mag sê, “Dit klink meer na ‘n voorstel.” Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Jesus is die Here van die heelal — en Hy spreek sy begeerte uit. Wanneer Hy sê, “Ek sou eerder wou hê jy moet...,” moet ons weet dat Hy op die punt is om elke beskikbare bron ter wille van ons te gebruik. As Hy wil hê dat ons louwarm hart weer aan die brand vir Hom moet wees, dan sal Hy ‘n volskaalse veldtog stuur om toe te sien dat dit gebeur. En Jesus se planne sal nie misluk nie.

“Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug" (Openbaring 3:16). Jesus het nie ‘n smaak vir ons louwarmheid nie. Dit is soos asyn in sy mond, ‘n bitter gal wat so aaklig is dat dit ‘n gastriese refluks beweging in werking stel. As ons volhou met ons louwarmheid, sal daardie suur smaak veroorsaak dat ons uitgespoeg word.

Tog is dit nie die laaste woord in hierdie gedeelte nie. Volgende lees ons: "Almal wat Ek liefhet bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou" (Openbaring 3:19). Dit is Christus se liefde wat veroorsaak dat Hy op hierdie manier met ons praat. Dit is die evangelie van genade wat selfs na die louwarmes tussen ons uitreik.

Eenvoudig gestel, Jesus vertel vir ons dat selfs wanneer ons louwarm word, sal sy liefde ons aanspoor om tot aksie oor te gaan. Sy bestraffing is verlossend en die doel in sy tugtiging is om ons te herstel. Jesus se liefde kan die mees middelmatige toewyding weer opwek. En Hy bied ons die volgende: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan en met hom maaltyd hou en Hy met my" (Openbaring 3:20).

Die kerkvaders het hierdie aspek van God se natuur “verdraagsaamheid” genoem. En die rede vir hierdie verdraagsaamheid is liefde. Tog het Jesus selfs meer te sê aan die louwarmes. Hy bied ‘n beloning aan almal wat op sy waarskuwing sou reageer: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het" (Openbaring 3:21).

Hoor wat jou Verlosser vir jou sê: Hy wil al jou liefde hê. Hy wil hê dat die Hooglied van Salomo die storie van jou verhouding met Hom sal wees. Hy wil hê dat jy na Hom moet verlang wanneer dit voel of Hy ver weg is en dat jy jouself moet verheug wanneer Hy naby is. Hy wil jou so met sy liefde vul dat jy aangeraak word om tot aksie oor te gaan — om sy werke met blydskap en met ‘n volkome hart te doen.

Dit was God se hart en doel sedert die Ou Testament. Toe het Hy verklaar, “Dit is nie my begeerte dat enige een verlore sal gaan nie.” En nou in Openbaring herinner Hy ons, “Ek beplan maniere om almal van hulle louwarm toestand af terug te bring.”

Kan daar enige beter nuus vir louwarm gelowiges wees? Hulle vir wie die res van ons so maklik as halfhartig oordeel? Jesus hou nie op by die openbaring van hulle sonde nie — Hy gee aan hulle die oplossing.

“Want jy sê, Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien" (Openbaring 3:17–18).

Let op wat Jesus se raad is. Hy sê dat Hy “goud wat deur vuur gelouter is” besit — en dat ons dit van Hom moet koop. Hy vertel vir ons, “Ek weet dat jy nie die krag het om God se vurige vlam in jou hart te herstel nie. Dit is my werk om dit in jou te doen. So, laat My toe om die werk in jou hart te doen.”

Tog is Jesus se waarskuwing baie ernstig. Kortliks: Moenie God se aanbod as vanselfsprekend neem nie. Ondersoek jou hart — moenie vir jou pastoor, predikant of vriende wag om jou te nader nie. ‘n Louwarm Christen kan lyk of hy aan die brand is, omdat hy aanbid en ‘n uiterlike liefde vir Jesus wys. Sy ongehoorsaamheid is verborge vir almal behalwe vir die Here.

Het jy louwarm geword? Ontbreek die “wil” om jou goddelike passie te herstel? Ek het twee woorde vir jou: Klop net. Jou hart is vir Hom kosbaar — Hy het so gesê — en Hy het belowe om jou na Homself toe terug te bring. Hy het sy liefde vir jou verklaar selfs in jou louwarm toestand. En sy waarskuwing is die sekerste teken van sy liefde.

Laat hierdie boodskap jou wakker maak. Laat dit jou ore oopmaak vir sy uitnodiging: “Kom deur hierdie deur wat Ek vir jou oopgemaak het. Ek het al die bronne wat jy nodig het. En ek wil hê dat jy langs My sit en my heerlikheid geniet.”

Laat hierdie heerlike waarheid jou gees opwek — jou hart laat herleef — en jou met passie vul om weer sy goeie werke te doen. Amen!