Groei Jy in Genade?
Een vraag was aan die voorpunt van my gedagtes oor die afgelope paar weke. Ek glo dit is ‘n vraag wat elke opregte gelowige homself moet afvra: Groei ek in genade?
Vir my is genade die Heilige Gees se bemagtiging om meer soos Jesus te word. Daarom beteken om in genade te groei om toe te neem in Christus se gelykenis deur die onverdiende krag van God se Gees. Laat my nou hierdie vraag in my gedates herformuleer: “Vertrou ek op die Heilige Gees om my meer soos Jesus te maak – in my huis, my bediening en my verhoudings?”
Hierdie vraag is van toepassing op volwasse Christene – mense wat oor die jare ‘n geestelike fondament gebou het deur gereelde Bybelstudie, ‘n konsekwente gebedslewe en goddelike instruksie. As dit jou beskryf, laat my vra: Na al jou studie, gebed en wat jy geleer het, word jy steeds meer soos Jesus? Is jy meer deernisvol, sagmoedig, barmhartig en vergewensgesind as wat jy was hierdie tyd verlede jaar? Of is jou groei belemmer? Het jy gaan staan op ‘n plato of nul groei?
Hier is een manier om te bepaal of jy in genade groei: God was barmhartig teenoor jou – so, was jy op jou beurt weer barmhartig teenoor ander? As jy nie seker is nie, vra jouself: Hoe reageer jy op die hartseer wat ander vir jou veroorsaak? Is jy vriendelik en sag? Of word jy kwaad en bitter? Is jy geduldig en begrypend of geïrriteerd en twisgierig?
Ek wil in die besonder lesers aanspreek wat betrokke is in die bediening – herders, ouderlinge, gemeentelede en almal wat deur God uitverkies is om ‘n voorbeeldige lewe voor ander te lei. Ek glo die vraag van die uur vir almal vir ons is: “In watter rigting beweeg ek? Groei ek in genade in my roeping – of word ek minder goedhartig?”
Neem ‘n eerlike kyk na jou lewe oor die laaste jaar. Dink aan al die beproewings waardeur jy gegaan het – by die huis, by die werk en in al jou ondernemings in die bediening. Baie van my vriende in Christen leieskapposisies vertel vir my hulle het die mees intense beproewings van hulle lewens beleef die afgelope jaar.
Kan jy eerlik sê dat jy op al jou probleme gereageer het met geloof, genade, liefde en barmhartigheid? Het jy deur jou beproewings geleer om meer goedhartig, geduldig, sagmoedig en saggeaard te wees? Of moet jy erken, soos ek, dat jy met flitse van woede, harde woorde en selfbejammering opgetree het – reaksies wat intense spanning en slapelose nagte veroorsaak het?
Ons moet almal vra: Het ek teenoor my kritici en vyande opgetree met deernis, liefde, barmhartigheid, genade en vergifnis? Of het ek gereageer met woede, verontwaardiging en het ek myself probeer regverdig? Moes ek bewys dat ek reg was en hulle verkeerd? Hoeveel wonde het ek ander toegedien terwyl ek hulle probeer wys het hoe erg ek seergekry, misverstaan en ‘n wanvoorstelling van my gegee is?
“Was dit belangriker vir my om my behoefte om reg te wees in stand te hou as om myself te verneder en die ander wang te draai? Het ek uit seerkry en minagting gereageer waar ek ‘n geneser en versoener moes gewees het?”
Petrus herinner ons dat Jesus gou kom – en ons moet op die uitkyk wees vir sy terugkeer.
Die apostel Petrus beskryf ‘n wonderlike dag wat kom wanneer die hemele sal verbygaan, die aarde se elemente sal brand en versmelt en alles in die skepping sal vergaan. Daarom sê Petrus, moet ons heeltyd gereed wees en verlang na ons Here se wederkoms:
“Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle vastigheid nie” (2 Petrus 3:17). “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Petrus 3:11). “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:14).
Die frase wat my hier die diepste van sonde oortuig, is Petrus se waarskuwing in vers 17: “dat julle nie miskien.” Hy daag ons uit deur te sê: “Jy is ‘n liefhebber van Jesus. Jy maak daarop aanspraak dat jy gereed is en na die Here se wederkoms verlang. En jy waarsku altyd ander om dieselfde te doen. Maar leef jy asof Jesus nooit terugkom nie?
“Jy is veronderstel om ‘n voorbeeld te wees vir die res van Christus se kerk. So – leef jy in vrede met almal wat jy ken? Is jou wandel voor die Here waarlik vlekkeloos? Ek waarsku jou – moenie dink dat jy nie uit jou standvastige wandel kan val nie. Jy kan ook mislei word deur die onreg van die bose.”
Wat is die “dwaling van sedelose mense” waarvan Petrus in vers 17 praat? Dit is die misgissing dat Jesus nie regtig by die deur is nie. Dit is ‘n tragiese oorgerustheid – ‘n gebrek aan belangstelling, ‘n sorgeloosheid wat gedemonstreer word in gesprekke en lewenstyl op hierdie laat uur.
Petrus beskryf diegene wat in hierdie dwaling verval: “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; ...Want as julle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste” (2 Petrus 2:19-20).
As Petrus die woord “verstrik” hier gebruik, praat hy nie van mense wat terugkeer na growwe sondes soos owerspel en alkoholisme nie. Hy praat van diegene wat vasgevang word in die vleeslike gesindhede en motiewe wat hulle gehad het voor hulle Christus geken het.
Jy mag getuig dat jy gered, geregverdig en geheilig is; dat jy die begeertes van hierdie bose eeu ontvlug het; dat jy geseënd is met ‘n intieme kennis van Jesus. Maar, Petrus waarsku, “Daar is ‘n gevaar om af te dwaal van jou groei. Jy kan teruggelei word in die slawerny van bitterheid en wraak...van ‘n onvriendelike, onbarmhartige, onvergewensgesinde gees...van ‘n onbarmhartige optrede. As jy terugval in enige van hierdie weë, sal jy slegter af wees as wat jy Jesus nie geken het nie.”
Ons groei word belemmer wanneer ons kinderagtig reageer op die skade wat ander ons aandoen.
Paulus waarsku die Efésiërs, “Sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Efésiërs 4:14). Jy mag dink, “Hierdie vers is nie op my van toepassing nie. My fondament is Bybels solied. Ek word nie nie weggesleep deur al die nuwe evangeliese giere en ligsinnige herlewings wat mense se aandag van Christus aflei nie. Ek is gewortel en gegrond in God se woord.”
Luister egter na die res van Paulus se vers “...deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (dieselfde vers). Miskien word jy nie van stryk gebring word deur vals lering nie. Paulus sê jy kan steeds weggesleep word deur ‘n heel ander saak. Hy vra, “Word jy rondgegooi deur die bose planne van diegene wat jou teëstaan?”
Paulus se boodskap roep ons om onsself weereens te ondersoek: Hoe moet ons reageer op mense wat hulleself ons broers en susters in Christus noem, maar steeds valshede oor ons versprei? Hoe moet ons reageer wanneer hulle ons motiewe bevraagteken en ‘n wanvoorstelling van ons gee en lyk of hulle van plan is om ons te vernietig? Wat is ons antwoord wanneer hulle ons seermaak en bedroef tot die punt van trane?
Wanneer Paulus beveel, “wees nie meer kinders nie,” bedoel hy, “Daardie vyande van jou – diegene wat skinder en laster, bedrog en manipulasie, skelmstreke en sluheid, misleiding en onderduimsheid gebruik – ek sê vir jou, hulle is rebelse kinders. Hulle is agterbaks en bedorwe. En hulle het nie toegelaat dat God se genade ‘n werk in hulle doen nie. So, moenie vir hulle bose, kinderagtige speletjies val nie. Hulle wil hê jy moet op hulle gemeenheid reageer soos ‘n kind. Maar jy moenie hulle antwoord met kinderagtigheid nie.”
Het jy al ooit gesien hoe kinders hulle op die speelgrond gedra? Binne minute gaan hulle te kere soos bedorwe brokkies. Hulle hardloop gedurig na enige volwassene in die omtrek om te kla oor een of ander klein einatjie. En hulle begin argumente met ander kinders, ‘n aanhoudende op-en-af stryd van beskuldig-en-ontken: “Is nie!” “Is!” “Is nie!” “Is so!”
Dit is jammer dat baie Christene in dieselfde soort kinderagtige, gemene speletjies betrokke raak. Ek ken sommiges wat briewe of e-pos gebruik om hierdie soort beskuldigende toutrek verder te voer. ‘n Christen broer aan die ander kant van die wêreld, stuur ‘n e-pos aan sy vriend en beskuldig hom, “My broer in Christus, jy het my valslik beskuldig en my karakter beswadder. Jy het nie net teen my gesondig nie, maar teen die Here. Besef jy dat jy God se gesalfde aangeraak het? Ek bid dat die Here vir jou sal wys hoe gevaarlik dit is om gerugte oor my te versprei.”
Terug kom die e-pos van die ontvanger: “Geliefde vriend, ek kon nie glo wat ek lees in jou onlangse e-pos aan my nie. Jy het my beskuldig van skinder en laster. Ek ontken alles wat jy sê ek het gesê. Jy het my woorde heeltemal uit verband geruk. Jy skuld my ‘n verskoning.”
Hier kom die antwoord: “Liewe Bill, hoe durf jy ontken dat jy gesê het, wat ek weet jy gesê het? ‘n Vriend van my het vir my elke woord herhaal wat jy gesê het – tog ontken jy dat jy dit gesê het. Ek is oortuig dat jy dit gesê het. So, moenie vir my sê, dat jy nie gesê het, wat my vriend gesê het, jy het gesê nie, want jy het dit regtig gesê.”
Terug kom die antwoord op die antwoord op die antwoord op die oorspronklike e-pos: “Luister Jim. Ek gaan jou nog net een keer sê: Ek het dit nie gesê nie – punt. Mag God jou seën. Dit sal my laaste korrespondensie aan jou wees. Mag die vrede van die Here Jesus met jou wees.”
Hulle word vasgevang in dieselfde kinderagtige speelgrond speletjies van, “Is nie!” “Is!”
In die volgende vers, dring Paulus by ons aan om voort te beweeg na volwassendheid: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die hoof is, naamlik Christus” (Efesiërs 4:15). Hy sê, “Jy kan nie help vir die beledigings wat jy ontvang, die skade wat jou aangedoen word, die skinderstories teen jou, die bedrog en misleiding wat teen jou gemik is nie. Jy kan egter hierdie dinge gebruik om in genade te groei. Beskou dit as geleenthede om meer soos Christus te word. Reageer sag, met ‘n sagmoedige gees. Vergewe diegene wat jou kwaadwillig gebruik.”
Ek ken ‘n kosbare jong bedienaar wat bedroef was deur ‘n ouer herder. Die ouer man het hom ‘n groot onreg aangedoen – en toe die jong prediker daarvan gehoor het, het hy ‘n striemende e-pos vir hom gestuur. Die twee mans het verskeie rooiwarm e-posse uitgeruil voor die jongman uiteindelik verdwaas na my gekom het. Hy het kopieë van die e-posse op my lessenaar neergelê en gesê, “Broer Dave, ek is nie wraaksugtig nie. Maar as ek sien wat hierdie man gedoen het, het dit my regtig seergemaak. Daarom ek het hom ernstig aangevat. Wat moet ek nou doen? Sal jy hierna kyk en vir my raad gee?”
Ek het vlugtig na ‘n paar van die boonste kopieë gekyk en gesien dat die twee mans soos kinders gereageer het. Die Heilige Gees het vir my gesê presies wat nodig was – en ek het die kopieë eenkant toe geskuif. Ek het vir die jongman gesê, “Seun, gaan sien hierdie herder persoonlik. Vergewe hom, bewys aan hom barmhartigheid en bemoedig hom. Gee hom liefde.”
Die jong bedienaar het dit presies so gedoen – en God het hulle vriendskap genees. Die blydskap van die Here het albei se harte gevul en hulle wonde genees. En al wat dit gekos het, was een foonoproep: “Broer, dit is verkeerd. Ek het jou lief. Laat ons dit alles onder die bloed en in die genesende krag van Christus plaas.”
Ons Groei in genade kan eksplosief wees as ons probeer om diegene, wat ons probeer vernietig, op te bou.
“Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodig stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef die Heilige Gees van God nie (Efesiërs 4:29-30). Die basis woord wat Paulus vir “stigting” beteken hier “huisbouer.” Daardie woord, op sy beurt, kom van ‘n woord wat beteken “om op te bou.” Kortliks, almal wat stig, bou God se huis, die kerk, op.
Paulus vertel vir ons drie belangrike dinge oor die woorde wat ons spreek: 1. Ons moet ons woorde gebruik om God se mense op te bou. 2. Ons moet ons woorde gebruik om genade aan ander te bedien. 3. Dit is moontlik om die Heilige Gees te bedroef met ons woorde.
Ek word diep oortuig van sonde as ek die lewensverhale lees van sommige van die geestelike reuse van die verlede. Hierdie goddelike mans en vroue het die hemelse dinge bedink – God se woord bestudeer, dikwels gebid en was daaroor begaan om in genade te groei. Andrew Bonar, een van die groot biddende siele van die negentiende eeu, het elke dag 4 a.m. opgestaan om die Here te soek langs sy bed. Toe hy gesterf het, het sy leiers twee diep holtes in die houtvloere gekry waar hy gekniel en gebid het. Ander goddelike mans en vroue soos hy – mense vol genade, liefde en reinheid – het veroorsaak dat sondaars in hulle teenwoordigheid sag geword het. Terwyl hierdie gelowiges bloot in die strate geloop het, het Heilige Gees oortuiging op die mense by wie hulle verbygeloop het, geval.
Tog, wat my die meeste tref oor hierdie mense se lewens is nie net hulle toewyding aan Christus of die intensiteit van hulle gebede nie. Dit is ook die goddelike vrug wat hierdie dinge in hulle lewens voortgebring het. Trouens, ek het ‘n gemeenskaplike element tussen hierdie geestelike reuse ontdek: hulle hoofsaak was om te groei in die genade van ‘n suiwer hart, waaruit heilige gesprekke sou vloei. “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Matthéüs 12:34).
Of dit nou in hulle huis, in hulle publieke diens, of met hulle vriende of medewerkers was – te alle tye en op alle plekke, het hierdie mense gesoek om in hierdie een genade te groei: om heilige gesprekke sonder bedrog te hê. Hulle een doel was om gesprekke waardig van Christus te hê, met geen verdorwe kommunikasie wat uit hulle monde uitgekom het nie.
Ek sien baie gewone Christene wat magtig geword het in die Here doodeenvoudig om God se Gees te vra om hulle daaglikse gesprekke te reinig. Eens het hierdie mense daarvan gehou om op skinder te teer, maar nou bedroef dit hulle net om dit te hoor. Jy hoor hulle nie meer brom, kritiek gee of ander afbreek nie. Die enigste dinge wat jy hulle nou hoor spreek, is woorde van stigting. Hulle praat die taal van goedertierenheid – van goeie, opbouende, genadige en aangename dinge. Vir my het hierdie mense ook geestelike reuse geword. As ‘n bedienaar van die evangelie, wou ek desperaat in God se guns en seën bly. En, op ‘n stadium in my bediening, het ek die Here gesmeek om my te wys wat ek kon doen om Hom die meeste te seën en te behaag. Die Heilige Gees plaas twee dinge op my hart: 1. Maak geen voorsiening vir die vlees om sy begeertes te vervul nie. 2. Laat jou kommunikasie te alle tye Christus waardig wees.
Ek glo die mees toegewyde liefhebbers van Jesus is pligsgetrou in die eerste punt. Maar is ons begaan oor die tweede een? Volgens Paulus moet ons alles oordeel wat ons sê – al ons gesprekke, kommunikasies en reaksies – met een enkele maatstaf: “Bou my woorde God se huis op, of breek dit dit af?”
Hierdie vraag is veral van toepassing wanneer ons deur iemand seergemaak word. Reageer ons op seerkry deur die liggaam van Christus op te bou of af te breek? Reageer ons met woorde wat herstel, genees en bemoedig – of woorde wat God se huis verder vernietig?
Dawid was nie “’n man na God se hart” genoem van die begin af nie.
Dawid het nie oombliklik sy status as ‘n man na God se hart gekry nie. Nee – hy moes daarin groei. En een van die maniere waarop hy dit verkry het, was om sy grootste vyand op te bou. Saul het elke moontlike manier probeer om Dawid te vernietig. Niks wat Saul egter gedoen het, kon Dawid keer om hom te eer en te respekteer nie.
Saul was jaloers op Dawid. Hy het oor hom gelieg en hom van sy reputasie beroof. Hy het probeer om Dawid te diskrediteer voor sy naaste vriende. Uiteindelik het hy Dawid uit Israel gejaag. En hy het diegene wat Dawid probeer verdedig het, vernietig. Eenvoudig gestel, Saul het Dawid geen rus gegee nie.
Soms het Saul berou gehad en sy misdade teen Dawid bely. Dan sou hy soos ‘n baba huil, “Ek is so jammer, Dawid – vergewe my asseblief.” Maar dit was nie lank nie of hy het Dawid weer agtervolg met selfs groter haat.
Ek glo dat van al die mense wat in die Skrif genoem word, het Dawid meer onregverdige, veragtelike mishandeling beleef as enige ander persoon behalwe Christus. En dit het alles gekom van ‘n man, wat Dawid eens baie liefgehad het – Saul. Elke keer het Dawid egter gereageer deur Saul lief te hê en hom te eer.
Op een stadium het Saul vyf-en-tagtig goddelike priesters in die stad Nob doodgemaak. Abjatar, die seun van een van hierdie vermoorde priesters, het ontsnap en skuiling by Dawid gesoek. Toe die jongman van die grusame slagting vertel het, moes Dawid se dienaars smoorkwaad geword het. Hulle het waarskynlik gedink, “Nou kan Dawid Saul se kamp bestorm en hom doodmaak met goeie rede. Ons kaptein het die wet agter hom. Hy het elke skriftuurlike reg om die koninkryk van hierdie moordenaar af terug te neem. Die hele Israel sal sekerlik met afgryse vervul wees as hulle hoor dat Saul vyf-en-tagtig priesters koelbloedig doodgemaak het.”
Toe Dawid egter die storie hoor, het hy net sy kop laat hang en geween. Hy het in werklikheid persoonlik die skuld geneem vir die slagting. Hy het vir Abjatar gesê, “Ek is die oorsaak van die dood van al die lede van u familie” (1 Samuel 22:22). Dawid was onskuldig – tog was hy gewillig om ‘n ander man se skuld te dra. Ek glo in daardie oomblik, het Dawid in genade begin groei. Dit was ‘n reuse stap in die rigting om ‘n man na God se hart te word.
Op ‘n ander geleentheid, het Saul Dawid agterna gejaag en probeer om hom dood te maak. Hy en sy manskappe het gestop om in ‘n grot te rus, sonder die wete dat Dawid en sy bende dieper in dieselfde grot weggekruip het. Toe Saul en sy manne aan die slaap geraak het, het Dawid se bende begin saamweer, “Nou is jou kans – jou dag van oorwinning en wraak. God het Saul in jou hande oorgelewer. Laat ons hom nou doodmaak terwyl ons kan. Jy kan koning wees voor die dag verby is.”
Maar Dawid het geweier. In plaas daarvan, het hy ‘n punt van Saul se kleed afgesny voor hulle ontsnap het. Hy wou dit as bewys hê om later aan Saul te bewys dat hy hom kon doodmaak. Maar die Skrif sê, “Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy die slip van Saul afgesny het” (1 Samuel 24:6).
Van ‘n veilige afstand af, het Dawid hartseer na Saul geroep. Toe Saul uit die grot gekom het, het Dawid homself voor die koning verneder, na die grond gebuig en hom selfs “vader” genoem (1 Samuel 24:12). Toe het Dawid verklaar, “My hand sal nie teen u wees nie” (1 Samuel 24:13). Hy het in wese gesê, “Jy kan met my doen wat jy ook al wil, Saul. Jy kan my agterna jaag, my vervolg en selfs probeer om my dood te maak. Maar ek sal nooit my hand teen jou oplig nie. As ek gewreek gaan word, sal die Here dit moet doen.”
Later, toe Dawid van Saul se dood te hore gekom het, het hy nie gejuig of verklaar dat God se geregtigheid geskied het nie. Hy het nooit geuiter, “Dank God, ek is gewreek. Saul het gekry wat hy verdien het” nie. Nee – Dawid het sy klere geskeur en gehuil. “En hulle het gerouklaag en geween en gevas tot die aand toe oor Saul” (2 Samuel 1:12). “Toe het Dawid hierdie klaaglied aangehef oor Saul...Die sieraad, o Israel – op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval!” (2 Samuel 1:17,19).
Soms dink ek aan my eie moeilike tye, waar mede bedienaars my so beswadder het dat dit my tot trane gedryf het. As ek vandag my dagboeke lees, dink ek, “Here, wat ‘n nagmerrie. Ek het gedink my droefheid sal nooit eindig nie.”
Gedurende sulke tye, het ek gewoonlik nie gereageer soos Dawid, met genade en vergifnis nie. In plaas daarvan, het ek gedurig my stories van ellende en mishandeling van my eweknieë in herinnering geroep. Ek het die mense wat my seergemaak het, opgenoem en al die verskriklike dinge wat hulle aan my gedoen het, oorvertel. Ek het soos ‘n buierige kind gereageer – en ek het net so skuldig geword soos diegene wat my beswadder het.
My gesprekke was nie waardig van Christus in daardie dae nie. In onlangse jare, het ek my daarop ingestel om vergifnis te soek van al die mense teenoor wie ek gereageer het met ‘n gebrek aan genade. En ek het probeer om in vrede te lewe met almal wat ek ken.
Paulus spesifiseer ses hindernisse van groei en genade.
Paulus noem ses dinge, wat ons uit ons lewens moet verwyder as ons in die genade van Christus wil groei: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Efésiërs 4:31).
Baie Christene dink ‘n lewe van heiligheid bestaan uit ywerige gebed, intense Bybelstudie en om ander selfopofferend te dien. Al hierdie dinge kan inderdaad bydra tot heiligheid. Ons mag egter nie waag om hierdie ses kwessies op Paulus se lys oor te sien nie. Die apostel sê ons moet beslis aandag gee aan hierdie dinge as ons in genade wil groei. Jy kan ‘n sendeling wees, jou lewe opoffer, geen besittings hê nie en al jou tyd deurbring in diens aan ander. Maar as jy die hartskwessies wat Paulus hier noem, ignoreer, dan sal jy die Heilige Gees bedroef. Jou groei sal belemmer word en jy sal ‘n geestelike zombie word.
Die eerste drie items op Paulus se lys – bitterheid, toorn en woede – is selfverduidelikend. Bitterheid is ‘n weiering om ‘n ou wond te laat gaan of ‘n voormalige onreg te vergewe. Toorn is ‘n vesting van veragting wat gekoppel is aan ‘n hoop om wraak te neem. Woede is ergernis – of ‘n vinnige, eksplosiewe uitbarsting, of ‘n stadig brandende verontwaardiging teenoor iemand.
Ons het reeds gepraat oor “lastering,” of afbrekende woorde. So, laat ons kyk na die oorblywende twee items – geskree en boosheid. Wat bedoel Paulus hiermee?
Terwyl ek aan hierdie boodskap gewerk het, het ek ‘n ruskans geneem en na ons slaapkamer geloop waar my vrou besig was om skoon te maak. Ek het opgemerk dat ons groot swaar laaikas tot in die middel van die kamer geskuif was. Dit was duidelik dat Gwen dit geskuif het, sodat sy daaragter kon skoonmaak. Niks maak my meer vies as my vrou probeer om swaar meubels te skuif sonder my hulp nie. Ek is altyd bang sy sal haarself seermaak. Regdeur ons huwelik het ek haar gesmeek, “Moenie dit op jou eie doen nie. Roep my net en ek sal jou help.”
Toe ek sien wat sy gedoen het, het ek haar gepeper: “Hoe dom kan dit wees? Jy kon jouself seergemaak het. Waarom het jy my nie geroep nie. Jy weet hoe ek hieroor voel.” Ek het die laaikas terug op sy plek geskuif terwyl ek die heeltyd gebrom het, “Van al die dom, onnadenkende dinge. Moenie dit weer probeer nie. Jy is nie Superwoman nie.”
Toe ek teruggekeer het na my studeer kamer, het ek dadelik by die woord “geskree” gekom. Ek het die Heilige Gees gevra om vir my te wys wat dit beteken. Hy het gou geantwoord: “Geskree is wat jy pas teenoor jou vrou gedoen het.” ‘n Geskreeu is ‘n skielike uitbarsting oor niks – ‘n onnodige kabaal, ‘n harde geluid gemaak vir geen rede nie. Ons veroorsaak ‘n geskreeu wanneer ons ‘n groot kwessie maak van iets nietigs, of ‘n kabaal opskop eerder as om te probeer help of genees.
Ek het dadelik besef wat ek gedoen het. Ek het na Gwen gegaan en verskoning gemaak, “Liefling, vergewe my. Ek het niks anders as ‘n groot geskree hier veroorsaak nie.”
Die laaste item op Paulus se lys is boosheid. Boosheid is die kwaadwillige begeerte om iemand anders te sien ly. Vir baie Christene beteken boosheid die hoop dat God iemand anders wat hulle skade aangedoen het, sal straf. Dit is ‘n duiwelse gees en dit word gewoonlik diep in die hart weggesteek. Die meeste gelowiges uiter nooit hulle boosheid nie. Maar dit kom gewoonlik aan die lig wanneer hulle hoor dat hulle vyand getref is. Hulle mag dalk net ‘n kort oomblik van bevrediging hê, of selfs hartseer vir die beseerde persoon uitdruk – maar hulle het steeds ‘n gees van boosheid.
Wanneer Paulus sê, alle euwels “moet van julle verwyder word,” praat hy nie net van ‘n vinnige regmaak nie. Hy beskryf ‘n proses – ‘n saak van groei wat tyd in beslag neem. Soms mag ons misluk om onsself van hierdie euwels te reinig. Maar as ons vinnig bely en ons daaraan toewy om dinge reg te maak met die ander persoon, sal hierdie kwessies met verloop van tyd verdwyn.
Jesus het dit duidelik gemaak: Ons kan nie vashou aan onvergifnis, woede, of boosheid nie. As ons nie ontslae raak van hierdie dodelike kwessies in ons lewens nie, sal ons onvergewe in ons eie sonde bly. Dan sal ons ongeregtighede teen ons ophoop, ten spyte van ons toewyding en goeie werke (sien Matthéüs 6:14-15).
So, ondersoek jouself versigtig. En herinnner jouself aan hierdie definisies: Genade is Heilige Gees bemagtiging om meer soos Jesus te word. En om in genade te groei is om in die gelykenis van Christus te groei deur die krag van die Gees. Ten slotte, hou aan om die vraag te vra: “Groei ek meer soos Jesus deur op die krag van die Heilige Gees te vertrou?”