Haat Vir Sonde

Is jou haat vir sonde getemper met barmhartigheid?
David Wilkerson

Ek wil jou vertel van ‘n gesalfde dienaar van God wat sonde so gehaat het soos min ander mense ooit dit gehaat het. Sy haat vir goddeloosheid was so passievol, so intens, dat hy gereed was om alle oortreders dood te maak.

Ek praat van Saul, die eerste koning van Israel! Geen mens in die Ou Testament het ‘n groter haat vir sonde gehad as Saul nie.

Die Filistyne het Israel binnegeval, miskien om die vasbeslotenheid van die nuut aangestelde koning te toets. Hulle het na Israel gekom met drie verskillende afdelings, en het op drie verskillende fronte aangeval. ‘n Lafhartigheid het onder die Israelitiese soldate versprei – en hulle het begin vlug na grotte, lêplekke van diere en rotse om vir die vyand weg te kruip.

Saul was agtergelaat met slegs seshonderd krygers. En ‘n groot oormag was teen hulle en hulle was swak bewapen: “So het dit gekom dat daar in oorlogstyd geen swaard of spies te vinde was in die hand van al die manskappe wat by Saul en Jónatan was nie; maar by Saul en Jónatan was dit wel te vinde” (1 Samuel 13:22).

Saul en sy deurmekaar leër het onder bome gesit en gewonder wat om te doen. In die tussentyd, het Jonatan en sy wapendraer weggeglip van die kamp af om hulle eie strategie te beplan. Hierdie jong seun van Saul was ‘n goddelike man, vol geloof. Hy het vir sy helper gesê: “...want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie” (1 Samuel 14:6).

Die twee het weggeglip na ‘n plek naby Migmas, waar hulle ‘n afdeling van Filistyne soldate gesien het op ‘n spits rots bokant hulle. Jónatan het opgestaan, homself aan die soldate geopenbaar en hulle het hom uitgedaag om boontoe te kom. Op een of ander manier het hy en sy wapendraer teen die steil rotswand opgeklim en die vyandige soldate verras. Amper onmiddellik het hulle twintig Filistyne verslaan!

Toe die slagting afgehandel was, het die Filistynse soldate paniekerig geword. Duidelik was daar ‘n nou deurgang uit daardie slagveld en die soldate het daarin opgedam geraak. Die Skrif sê hulle het gesidder en gebewe en het selfs met mekaar begin baklei: “Toe kom daar skrik in die laer...dat die menigte daar heen en weer golf” (1 Samuel 14:15-16).

Een van Saul se skildwagte het die beweging gehoor. Toe hy afkyk na die vallei, het hy twee manne gesien wat die Filistyne op loop laat sit het. Hy het uitgeroep na Saul, wat gekom het om die toneel gade te slaan. Saul kon nie uitpluis wie die twee soldate was nie. Daarom het hy sy offisiere beveel, “Kyk onder ons wie is weg.” Koppe is getel en ‘n soldaat het aan Saul teruggerapporteer: Jónatan het sy wapendraer is weg!”

Toe Saul dit hoor, het hy en sy leër by die stryd aangesluit. Skielik het al die drostende Israeliete uitgekom uit die lêplekke, rotse en grotte waar hulle weggekruip het. En hulle het op die ou end die Filistyne verdryf!

In die hitte van stryd, het Saul egter ‘n streng bevel gegee. Hy het vir sy soldate gesê:

“...Vervloek is die man wat wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie” (1 Samuel 14:24). Hy het beveel, “Laat niemand rus om te eet totdat hierdie oorlog verby is nie!” Dit was ‘n dwase opdrag om te gee.

Jónatan het natuurlik nie hierdie bevel gehoor nie. En, terwyl hy in ‘n beboste gebied geveg het, het hy by ‘n paar bome gekom waar ‘n klomp heuning op die grond gedrup het. Hy het sy stok in een van die heuningputte gesteek en ‘n verkwikkende mondvol geniet. Onmiddellik het sy oë geskyn en hy het energie gekry vir die stryd.

Daardie aand, na die oorlog, het die Israelitiese leër rasend van die honger in die buit ingeduik. Hulle het skape en osse op die grond geslag, en hulle het vleis wat steeds bloed in gehad het, verorber. Albei hierdie dade was teen die wet.

Iemand het dit gesien en dit aan Saul gerapporteer. Die koning was met afgryse vervul. Hy het geweet dat die wet vereis het dat diere nie op die grond doodgemaak moes word nie en dat hulle bloed moes uitloop. Skielik het aanstoot en woede hom gevul. Hy het beveel dat almal rondom hom moes vergader en hy het gebulder: “...Julle  handel troueloos; rol nou ‘n groot klip na my toe” (1 Samuel 14:33). (Die frase “hierdie dag” in Hebreërs beteken eintlik “Hierdie einste oomblik – onmiddellik!”)

Saul het in wese gesê, “God is aanstoot gegee! Julle het Hom bedroef! Dit is openlike, blatante sonde. Gou – daar is geen tyd om te verspil nie! Bring vir my ‘n groot klip. En, almal van julle, bring julle beeste en slag dit hier op die klip. Laat die bloed uit die diere loop en moenie vleis eet met bloed daarin nie. Doen dit reg!”

Ek kan die toneel visualiseer: Saul staan verontwaardig by die altaar wat hy opgerig het, terwyl die Israeliete skaam en verleë vorentoe gekom het. Hy het sy kop geskud en vir sy kapteins gesê, “Hoe kon hulle so ‘n ding doen? Is hulle regtig so dom? Ek kan nie toelaat dat die die toorn van God oor hierdie volk kom nie. Dit moet reggemaak word!” Hy was woedend!

Daardie nag was die soldate moeg en getraumatiseerd van die oorlog. Hulle wou huistoe gaan. Maar hulle het nie ‘n groot oorwinning oor die Filistyne behaal nie. Hulle het slegs gedeeltelik oorwin.

Saul het daarop aangedring dat hulle terugkeer na die stryd en die Filistyne die heel nag lank agternasit. Hy het gesê, “Ons slaap nie vannag nie! Ons gaan veg totdat ek gewreek is op my vyande!”

Maar die priester het voorgestel, “Laat ons eers die Here raadpleeg.” Die Bybel sê, “Toe het Saul God geraadpleeg: Sal ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in Israel se hand gee? Maar Hy het hom dié dag nie geantwoord nie” (1 Samuel 14:37).

Weereens was Saul se haat vir sonde aangehits. Hy het geraas, “God praat nie met my nie, omdat Hy kwaad is vir ons! Iemand het gesondig – en ek gaan uitvind wie dit is. Ek sal nie toelaat dat sonde gepleeg word onder God se volk nie. Staan in rye, almal – Israel aan die een kant, en ek en my seun aan die ander kant.”

Die Skrif sê hulle het lootjies getrek, en die lot is op Saul en Jónatan gewerp. “En Jónatan en Saul is aangewys...” (1 Samuel 14:41). Die koning en sy seun is afgeskei. Toe het Saul na Jónatan gedraai en gesê, “So, dit is jy!” “...Gee my tog te kenne wat jy gedoen het...” (1 Samuel 14:3). “Wat het jy gedoen, Jónatan? Het jy gesondig?”

Saul het nou al reeds vir die volk gesê, “So help my God, selfs as die skuldige party my eie seun is, sal hy sterf!” Ek vra vir jou – hoe klink dit vir haat teen sonde?

Jónatan het ongelowig na sy pa gekyk en gevra, “U meen u wil my doodmaak omdat ek ‘n bietjie heuning geproe het?” Maar Saul was onverbiddelik. Hy het in sy groot haat vir sonde opgestaan en uitgeroep, “...jy moet sekerlik sterwe, Jónatan!” (1 Samuel 14:44). Hy het sy offisiere beveel om Jónatan weg te neem en hom dood te maak. Maar die soldate het tussen beide getree en hom gered!

Geliefde, hier is ‘n beeld van ‘n gesalfde dienaar van God, wat ‘n ongekompromitteerde haat vir sonde uitspreek. Maar hier is iets tragies verkeerd! Jy sien? Saul het sonde gehaat in die gemeente. En hy het sonde gehaat in sy familie. Maar hy het die verskriklike sonde in sy eie hart verskoon! Hy het slegs die sonde van ander gehaat!

Saul moes getreur het oor sy eie sondes. Hy het pas ‘n ontmoeting met die profeet, Samuel gehad. Die profeet het hom bestraf vir sy dwaasheid, ongehoorsaamheid, ongeduld en rebellie. Op hierdie stadium, moes Saul gesê het, “As enigeen geoordeel moet word, is dit ek!” Maar hy het steeds ‘n ywer gehad vir die heiligheid van God – en teen die ongeregtigheid van die volk!

Ek wil vir jou sê wat agter die “koninkryk heerskappy” evangelie in Amerika is vandag. Die dryfveer agter die leerstellinge van hierdie “Rekonstruksioniste” – diegene wat wil terugkeer na Ou Testament wette – is ‘n intense haat vir die verenigde sondes van Amerika!

Die sleutelleiers van Rekonstruksionisme sê ons samelewing is verrot, verderf, buite beheer – en die enigste pad terug na gesonde verstand, is om terug te keer na die wet. Hulle wil letterlik Moses se bevele terugbring: “Stenig aborsioniste! En stenig alle meisies wat aborsies ondergaan! Doen soos die Moslems doen – sny af die hande van diegene wat steel! Veertig houe op die rug vir mishandelaars! Die doodstraf vir alle dwelmsmouse en verkragters! Geen barmhartigheid – geen medelye vir oortreders nie!

Praat van woede teen sonde. Dit is egter treffend dat straf vir eie persoonlike sondes glad nie genoem word nie!

Een van die Rekonstruksionisme se belangrikste skrywers, neem aanstoot teen die profesieë wat ek geskryf het in my boek Set the Trumpet to Thy Mouth. Hy het vir my verskeie giftige briewe daaroor geskryf. Toe ek dit lees, kon ek skaars glo dat hy ‘n Christen was.

Hierdie man skryf boek na boek terwyl hy woed teen sonde in Amerika – en hy drink en rook egter steeds! Hy sê hy voel die “las om die hedendaagse samelewing te reinig” maar sy wil homself nie reinig van sy eie sondige gewoontes nie!

Ek noem dit die Saul Sindroom. Dit word gekenmerk deur ‘n haat vir die sondes van die samelewing, die sondes van die kerk, die sondes van ander – maar geen berou oor jou eie sondes nie!

Selfs die mees regverdige onder ons het ‘n geneigdheid om ander se sondes te haat, tewyl jy blind is vir jou eie!

Dawid was ‘n man van God wat sonde gehaat het met alles wat binne-in hom was. Hy het gesê, “...haat ek elke leuenpad” (Psalm 119:04). “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad...” (Psalm 97:10). Dieselfde man het egter owerspel met Batséba gepleeg. En hy het haar man na sy dood gestuur in die oorlog!

Die Bybel sê Batséba het “...gerouklaag oor haar heer” (2 Samuel 11:26). Dink aan die seer en skande wat hierdie arme vrou moes verduur het. Sy het haar man verneuk, en nou was sy sonder hom. Ek dink nie sy het enige idee gehad dat haar geheime minnaar, Dawid, haar man se dood beplan het nie!

Dawid se sonde “was verkeerd in die oë van die HERE” (1 Samuel 11:27). Hy het Batséba verlei, haar man se dood beplan, en haar toe mislei en gemaak asof hy die regte ding doen (dit is, om met haar te trou nadat hy haar bevrug het). So, tien maande na die verhouding, het God Natan die profeet gestuur om met Dawid se sonde af te reken (sien 2 Samuel 12).

Natan het na Dawid se hofsaal gekom en voorgegee hy was ‘n arm man wat verskriklik misbruik was. Hy het vir die koning vertel, “Daar is ‘n man in hierdie koninkryk wat baie ryk is. En ‘n vriend van hom het hom eendag besoek. Die vriend was honger na sy lang reis en moes iets te ete kry.

“Hierdie ryk man het baie skape gehad. Sy buurman, aan die ander kant, het slegs ‘n klein lammetjie gehad. En dit was die gesin se troeteldier. Daardie klein lammetjie het saam met die familie geëet en geslaap. Hulle was lief daarvoor.

“Maar, eerder as om een van sy dienaars te stuur om een van sy eie skape te gaan haal, het hierdie ryk man sy buurman se troetellam gaan steel. En hy het dit doodgemaak en gevoer vir sy besoekende vriend.”

Dawid was woedend. Hy het vir Natan gesê, “So waar as die Here leef, daardie man is dood! Hy sal sterf.” (Die Hebreeus hier lees, “Hy verdien die dood.”) Toe het Dawid bygevoeg, “Daardie man moet ook die lam vierdubbel teruggee!” Hy het uitgevaar teen hierdie verskriklike sonde. O, hoe het hy sonde gehaat!

Geliefde, sien jy egter hoe onbelyde sonde in ‘n kind van God  ‘n onregverdige, onheilige afsku teen sonde in ander veroorsaak? As jy verborge sonde het soos Dawid, voel jy ‘n afsku teen ander se sondes. Verborge sonde gee geboorte aan ‘n “godsdienstige gees” -  dit is, ‘n veroordelende gees!

Jare gelede, tydens ‘n bekeringskonferensie wat ons bediening gehou het, het ‘n pastoor se vrou na ons gekom. Sy het vertroulik gesê, “My man is heel bekend in heiligheidskerke as ‘n kragtige heiligheidsprediker. Hy vaar uit teen grimerig op vroue, gaan fliek kyk en onbehoorlike kleredrag. Maar hy is ‘n groot skynheilige – hy is verslaaf aan pornografie! Hy kyk nooit sy eie sonde in die oë nie!” Hierdie man preek wettiesheid om sy eie wrede, verborge sonde weg te steek!

Jesus sê, “...En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal” (Matthéüs 7:3-5).

Paulus het geskryf, “Jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy nie jouself nie? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ‘n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?” (Romeine 2:21-22).

Ek glo alle goddelike heiliges moet ‘n ware haat vir sonde hê. En alle ware herders moet uitroep teen sonde en kompromie. Maar ‘n rein haat vir sonde moet kom uit ‘n hart wat homself ondersoek, deurvors en beoordeel!

Dawid het uitgeroep teen sonde en kompromie: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my” (Psalm 139:21-22).

Hierdie dapper verklaring kom uit ‘n berouvolle, gebroke gees – omdat Dawid reeds sy eie hart ondersoek het! In die volgende vers sê hy, “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart...” (Psalm 139:23-24).

Ons is so anders as Jesus wanneer ons ons haat teen sonde in ander uitspreek. Ons wil oordeel op hulle laat neerkom, maar God wil barmhartigheid hê. Ons wil vuur uit die hemel op oortreders laat neerdaal – maar God wil alle sondaars vergewe en versoen.

Ek kon nooit ‘n profeet wees wat barmhartigheid verkondig aan Koning Manasse nie. Hy het Jerusalem met bloed bedek deurdat hy derduisende skreeuende baba’s na die buik van Molog gestuur het. As God my gestuur het na daardie verdoemde man om hom te bemoedig en te versoen, sou ek teen hom uitgevaar het!

Die Bybel sê Manasse het hom bekeer. Nogtans sou ek nie sy trane geglo het nie. Al wat ek sou hoor, sou die geskreeu van die baba’s wees. En al waaraan ek sou gedink het, was aan wat hy gedoen het om daardie samelewing te verdorwe het.

Maar ek sou nie geweet het van al sy slapelose nagte nie. Ek sou nie die vrees in sy oë gesien het of gehoor het hoe hy geskree het oor sy gedagtes wat by hom gespook het nie. Ek sou nie geglo het dat God daardie sondaar steeds liefgehad het nie. Maar Hy het. En die Skrif sê Hy was Manasse barmhartig gewees.

Natan die profeet wys vir ons God se manier om gevalle, sondige gelowiges te hanteer

Natan het geweet Dawid het gesondig. Hy het geweet Dawid was betrokke by moord, leuens, bedrog en misleiding. Natan het Dawid egter liefgehad. Hy was nie haastig om hom te openbaar nie. Hy wou hom red!

Natan het nie rondgegaan in Dawid se hofsaal en vir sy genote en dienaars gefluister, “Ons moet vir die koning bid. ‘n Vrou probeer hom verlei, en hy is vasgevang in haar strik. Ek het so ‘n las vir Dawid!” nie.

Moenie mislei word nie: Hierdie soort praatjies is eenvoudig openlike geskinder! En dit word erger gemaak deur dit te klee met vroom woorde soos “gebed,” “besorgdheid” en “liefde.” Mag God barmhartig wees teenoor diegene wat hierdie soort praatjies versprei. Ek sal nie in hulle skoene wil staan nie!

Ek glo Natan het maande deurgebring om vir Dawid te bid. Hy het Dawid se sonde werklik gehaat. Hy het geweet die Here sien nie sonde oor nie en dat sonde gevolge het. En hy het geweet Dawid het ‘n leuen geleef – dat hy die Naam van die Here geminag het.

Natan het ook geweet van Dawid se vrees. Dawid het geweier om oorlog toe te gaan; in plaas daarvan hy het in die paleis weggekruip. Hy het sy veglus verloor. Hy was bang dat ‘n vyandige pyl hom sou tref – en dat hy God met onbelyde sonde in die oë sou moes kyk!

Ek wil hier ‘n belangrike punt maak: God het die eerste tree na Dawid gegee! Hy het die eerste stap tot versoening getree. Jy sien, wanneer gelowiges teen die Here sondig, is ons geneig om vir Hom weg te kruip. Ons voel onwaardig, asof ons nooit sal opweeg teen Sy heilige standaarde nie. Daarom kruip ons weg, net soos Adam en Eva weggekruip het toe hulle gesondig het.

Maar God het agter Adam en Eva aangegaan. Hy het liefderyk vir hulle gevra, “Waarom kruip julle vir My weg?” Met ander woorde, “Waarom probeer julle ons gemeenskap vernietig?”

Net so, het God vir Natan na Dawid gestuur. Hy het die intieme gemeenskap wat Hy met Sy dienaar gehad het, gemis. Maar Dawid het vir God weggekruip weens skuld, vrees en veroordeling. Daarom het God gewag en gewag – totdat Hy uiteindelik gesê het, “As Hy nie na My wil kom nie, sal Ek na hom toe gaan.” Daarom het Hy vir Natan gestuur. En dit is in God se benadering tot Dawid waarin ons Sy hart teenoor gevalle heiliges ontdek!

Ek was gewoond om oor Natan se openbaring van Dawid te preek op ‘n heel ander manier. Ek het die preek op band – maar ek krimp ineen as ek nou daarna luister, omdat ek dit in die verkeerde gees verkondig het. Ek het ‘n woede teen sonde gehad wat nie getemper was deur die barmhartigheid van God nie!

Ek het gewoonlik gebulder, “Daar sit Dawid en hy dink hy het weggekom met sonde. Hy gaan voort soos gewoonlik – speel rond met sy gesteelde vrou, asof niks verkeerd is nie.

Maar hier kom daardie magtige man van God, Natan, vol heilige ywer! Hy het ingemars en vir Dawid die storie van die gesteelde lam vertel. Toe het hy Dawid in die oë gekyk, ‘n benerige vinger in sy gesig gedruk en gebulder, “Jy is die man! Jy het God se wet oortree en skande oor Sy Naam gebring. Dit is alles verby – jou sonde het jou uitgevang. Skaam jou! Bekeer jou!”

Is dit nie die manier waarop jy Dawid sou openbaar nie? “Prys God – sonde moet geopenbaar word! Ons leier moet rein en vlekkeloos wees!”

Maar dit is nie hoe dit met Dawid gebeur het nie – omdat dit nie is hoe God Sy gevalle, geliefde dienaars hanteer nie! Liewer, God het reeds vir Natan gesê dat Dawid vergewe was. Hy het vir die profeet gesê om na hom te gaan met ‘n boodskap van versoening: “Wanneer jy vir Dawid gaan vertel wat ek vir jou gesê het, sal hy dink hy gaan op die daad sterf. Maar jy moet vir hom sê hy is vergewe – dat hy nie gaan sterf nie! Sê ook vir hom dat Ek met hom sal wees deur alles wat oor hom gaan kom weens sy sonde.”

Ek glo Natan het met Dawid in ‘n gees van versoening gepraat – sag en eerbiedig – toe hy die storie van die gesteelde lam vertel het. Hy het gehoop Dawid sou homself sien as die man in die storie, sy hoof buig en erken, “O, Natan, jy praat van my.”

In plaas daarvan, het Dawid met afsku te kere gegaan! En nou sien ek Natan stadig na ‘n venster loop, sy hart gebroke. Hy het treurig omgedraai en met droefheid in sy bewende stem gesê, “Dawid – jy is die man. Jy is die een wat ‘n ander man se troetellam geneem het.

“Kyk na wat God alles vir jou gedoen het – al die seëninge wat Hy vir jou gegee het. Die Here was gereed om vir jou die begeertes van jou hart te gee. Maar jy het ‘n onskuldige man doodgemaak – en jy het sy vrou as jou eie geneem. Jy het die Here verag, Dawid. En die vyande van God juig oor dit wat jy gedoen het.

“Ek is jammer om dit vir jou te së – maar die swaard sal jou huis nie verlaat nie. Jou vroue sal van jou af weggeneem word. En God sal dit alles doen voor Israel se oë. Jy sal in die publiek geoordeel word. Daar is gevolge vir jou sonde.”

God, in Sy liefde, moes vir Dawid die uiterste verskriklikheid van sy sonde laat sien het. Toe, skielik, het al Dawid se opgekropte gevoelens uit hom uitgestroom. Hy het al die skuld, vrese en sorge van daardie tien lang maande uitgebid:
“O, Natan, ek het teen God gesondig!” Dit was nie die profeet wat uitgeroep het nie – dit was Dawid. Hy het toorn oor hom voel neerdaal – omdat God alles geopenbaar het!

Dawid het nooit gedink hy het weggekom met sy sonde nie. In teendeel, hy was ‘n baie beswaarde man met ernstige skuldgevoelens. As jy Psalm 51 lees, hoor jy hom al die vrese wat hy in sy hart gedra het, uitbid. Hy het gesien wat sonde aan Saul gedoen het – en hy was bang dit sou met hom gebeur!

  • “...neem u Heilige Gees nie van my af weg nie” (Psalm 51:13). Dawid was bang God het hom verlaat – net soos Hy Saul verlaat het!
  • “...gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees” (vers 10). Hy het geweet ‘n bose gees het oor Saul gekom en hy wou nie hê dat dieselfde met hom gebeur nie.
  • “Verwerp my nie van u aangesig nie...” (vers 11). Hy het weggekruip, bang om in die Here se teenwoordigheid te kom. Hy het heeltemal verwerp gevoel!

Dawid het al sy vrese in die oë gekyk. En nou het Natan vir hom die boodskap uit God se hart gebring: “...So het die Here dan ook u sonde vergewe; u sal nie sterf nie” (2 Samuel 12:13). Dit was tyd om versoen te word. Die Here het Dawid se gemeenskap gemis en wou hom terughê!

God sien die verskriklike pyn wat sonde vir gevalle mense meebring.  Hy is bedroef oor die manier waarop ons van Hom af weghardloop wanneer ons onder sonde se skuldgevoelens ly. Hy weet alles van ons vrees om verwerp te word – om verlore te wees, om nooit weer reg te wees nie. En Hy kry geen plesier daaruit om ons in pyn te sien wroeg oor ons sonde nie. Hy sit nie opsy en sê, “Laat hom nog ‘n bietjie ly. Wanneer hy regtig die pyn voel, dan sal hy terughardloop” nie.

Nee! Die Here wag die hele tyd vir jou om na Hom toe terug te kom en vergewe te word! En na so ‘n lang tyd, kan Hy nie langer wag nie – Hy sal die eerste tree gee. Hy sal iemand agter jou aanstuur wat nie sal kom om jou te bestraf nie, maar om jou met God se hart te versoen. Die Here sal vir jou sê, “Ja, jy het My seergemaak, jy het My verag. Jy was ongeduldig en ondankbaar. Maar Ek wil jou vergewe.” Dawid moes gewonder het, “Maar – hoe kan ek voor ‘n heilige God staan?” Die profeet het geantwoord, “Jy sal nie sterf nie – jy sal lewe.”

“Want U, o HERE, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5).

Ek gee nie voor ek verstaan die barmhartigheid en genade van God nie. Dit is heeltemal bo my verstand. Dawid was vergewe en herstel – en Batséba het vir hom ‘n seun gebaar, wat God Salomo genoem het. “...en die HERE het hom liefgehad” (2 Samuel 12:24). Ek vra jou: Hoe kan dit wees? Wie kan sulke barmhartigheid verstaan?

Die volgende ding wat ons sien, is dat Dawid sy verloorde dapperheid teruggekry het. Hy het sy veglus teruggekry! Hy het gereageer op Joab se oproep om teen die stad Rabba te kom en Israel sou ‘n groot oorwinning daar behaal. Koning Dawid het teruggekeer na Jerusalem met groot eer. God het hom heeltemal herstel!

Moenie verkeerd verstaan nie: Dawid het grootliks gely. Hy het inderdaad ‘n gruwelike prys betaal. Jy sien, hy het op die ou end daardie vier lammetjies betaal wat hy self as restitusie beveel het. Daardie lammetjies was Batséba se baba en drie ander seuns – Ammon, Absalom, en Adonia. Hulle almal het gesterf.

Selfs al het Dawid hierdie oordele gely as gevolg van sy sondes, het die Here hom vertroos in sy droefheid. Toe hy gemaai het wat hy gesaai het, het die Gees van God hom deur dit alles gehelp. Na elke beproewing, was hy vertroos.

Wanneer jy jou sonde bely het en gebroke was voor die Here, dra Hy jou deur elke stap van die pynlike gevolge. Sy barmhartigheid, genade en goedheid het jou in staat gestel om alles met hoop te verdra.

Ek het ‘n laaste paar vrae vir jou:

  1. Hoe haat jy sonde? In watter stemtoon druk jy jou haat vir sonde uit?  En is daardie haat getemper met barmhartigheid?
  2. Is jy so erg op jouself as wat jy op ander is?

“Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel” (Jakobus 2:13). As jy geen barmhartigheid aan ander bewys het, sal geen barmhartigheid aan jou bewys word nie!

Ek besef dat Jesus die Fariseërs slange en adders genoem het. En, ja, Johannes die Doper het Herodus se sonde uitgewys en hom ‘n jakkals genoem. Die apostel Paulus het openlik waarsêers bestraf en hy het trotse sondaars by die naam genoem. En ek stem saam dat profete hardop moet uitroep, God se mense nie moet spaar nie, maar hulle ongeregtighede moet uitwys.

Maar hierdie woord was gespreek teenoor mense wat nie berouvolle harte gehad het nie – wat farisieëragtige gesindhede en ernstige hoogmoed gehad het. Hierdie boodskap, aan die ander kant, gaan oor hoe God sonde en mislukking hanteer in diegene wat jammer, gebroke en vol berou is: “...Julle...het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.” (Jakobus 5:11).

As jy misluk het, maar tog ‘n berouvolle, gebroke gees het – maak dit nie saak hoe erg jy God teleurgestel het nie. Hy sal agter jou aankom en jou met Hom versoen, omdat Hy jou gebroke hart sien. “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (Psalm 51:19). Dit is die verskil!

Hemelse Vader, help ons almal om te besef wanneer die hart van ‘n gevalle broer of suster vol berou is. En help ons om te vergewe soos U – om volle versoening en herstel te soek vir al U heiliges. Amen!

Afrikaans