HARDLOOP OM TE WEN!

Gary Wilkerson

Jisreël was ‘n stad wat uitgeblink het in oorlogvoering as gevolg van sy groot vloot strydwaens. Strydwaens verteenwoordig die krag van ‘n man en dui op die vermoë om met groot ratsheid en krag voort te spoed.

Vandag bestaan daar ‘n sekere “strydwa-lewenstyl” – een van gemak, waarin al ons behoeftes voorsien word. As ons iets wil doen, gaan ons bloot voort en doen dit.

Die strydwa-lewenstyl kan vir Christene baie aantreklik wees met sy standaarde vir sukses – materiële rykdom, sekuriteit, gemak. Maar die ware dienaar van God soek nie primêr daardie dinge nie; in plaas daarvan, soek hy om sy Meester se stem te gehoorsaam en die belang van die koninkryk te soek. Hierdie volgeling leer vroeg in sy geloofslewe om die Here eerste na te strewe “en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Elía het van beter geweet as om na die wêreld se hulpbronne te kyk. Stel jou voor die toneel waar hy praat met Koning Agab, wat hoog verhewe op sy glansende strydwa uittroon bokant die nederige profeet. Ja, Elía  het vrymoedig met Agab gepraat: “Span in en trek af” (1 Konings 18:44). Maar volgende lees ons, “Maar die hand van die Here was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het...na Jisreël” (1 Konings 18:46). God se man het vir ‘n strydwa weggehardloop! En dit was oor ‘n afstand van vele myle. Hoe het Elía dit reggekry? Die frase “sy heupe omgord” beteken, dat hy homself voorberei het vir die resies.

As Petrus vir ons sê, “omgord die lendene van julle verstand” in 1 Petrus 1:13, sê hy in wese vir ons om onsself vir die stryd voor te berei deur ons geloof en vertroue in die Here te versterk. En die apostel Paulus gebruik die hardloop van ‘n resies as ‘n uitbeelding van ons Christelike lewe. In sy laaste sendbrief sê hy, “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Timótheüs 4:7).

Ons kan ook die resies met krag hardoop en die prys wen as ons behoorlik vir die resies voorberei.