HARTE AANGEGRYP DEUR DIE SALIGMAKER SE LIEFDE

David Wilkerson (1931-2011)

“Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie” (Jesaja 42:1-3).

Hierdie gedeelte gaan alles oor Jesus. Die Heilige Gees het die profeet Jesaja bearbei om ‘n openbaring te bring van hoe Christus sou wees wanneer Hy kom en die beeld wat uit hierdie verse spruit, is duidelik: Christus sou nie kom met ‘n harde lawaai of geraas nie. Liewer, Hy sou kom as ‘n teer, liefdevolle Saligmaker. 

Ons lees die vervulling van Jesaja se profesie in Matthéüs 12:14 waar ons sien hoe die Fariseërs beplan om Jesus dood te maak omdat Hy ‘n man op die Sabbat genees het. Toe Jesus daarvan uitgevind het, het Hy “daarvandaan weggegaan.” Hy het nie met woede teruggekap of probeer om wraak te neem nie, hoewel Hy ‘n legioen engele kon beveel om op die plek met sy vyande af te reken.

Hierdie sagmoedige gees, sê Matthéüs, openbaar die vervulling van Jesaja se profesie: “Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie” (Matthéüs 12:19). So, wat het Jesus gedoen nadat Hy stil weggegaan het van Jerusalem af? Die Woord sê Hy het dadelik uit die stad uitgegaan en voortgegaan om almal wat om Hom saamgedrom het te genees: “En groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak” (12:15).

Jesus het die mense beveel, “Vertel niemand van die wonderwerke wat julle sien nie.” Selfs nadat Hy twee blinde manne genees het, het Christus hulle beveel om dit vir hulleself te hou (Matthéüs 9:30). Jy sien, Jesus wou nie hê die mense moes Hom volg vir sy wonderwerke nie. Hy wou hulle aanbidding hê omdat sy liefdevolle woord hulle harte aangegryp het.

Jesus wou hê almal, insluitend alle toekomstige geslagte, moes weet Hy het in die wêreld gekom as ‘n Saligmaker: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:17). Fokus vandag op die Saligmaker se liefde en sy groot gawe van verlossing aan die ganse mensdom.