Hel-Skuddende Gebed
Toe die boek Daniël geskryf is, was Israel in ballingskap in Babel. En teen hoofstuk 6, na ‘n lang lewe in diens, was Daniël tagtig jaar oud. Die goddelike profeet en prediker het twee Babeloniese koning oorleef, Nebukadnésar en sy seun Bélsasar. Nou het Daniël onder Koning Darius gedien.
Deur die baie jare van diens, was Daniël altyd ‘n biddende man. En nou in sy ouderdom, het hy nie daaraan gedink om af te tree nie. Die Skrif maak geen melding daarvan dat Daniël uitgebrand of moedeloos was nie. Dit sê niks daarvan dat hy ‘n neseier of ‘n plattelandse kothuis gehad het waar hy sy goue jare sonder enige verantwoordelikhede kon deurbring nie. In teendeel, Daniël het skaars begin. Die Skrif toon aan dat selfs toe hierdie man tagtig jaar oud geword het, het sy gebede die hel geskud en die duiwel woedend gemaak.
Teen hierdie tyd, het Koning Darius Daniël tot die hoogste amp in die land bevorder. Daniël het nou gedien as een van die drie mede-gelyke ministers, wat geheers het oor prinse en goewerneurs van om en by 120 provinsies. Die Bybel sê dat Darius selfs meer van Daniël gehou het as van die ander twee ministers. Hy het Daniël in beheer geplaas van die vorming van regeringsbeleid en opleiding van al die hofaanstellings en intellektuele: “Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt...daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel” (Daniël 6:3).
Dit is duidelik dat Daniël ‘n besige profeet was. Niemand kon sulke veeleisende rolle vervul sonder om vreeslik besig te wees nie. Ek kan my net indink die soort druk wat op hierdie minister geplaas is met sy besige skedule en tydrowende vergaderings.
Tog kon niks Daniël weghou van sy gebedstyd nie. Gebed het sy hoof beroep gebly en dit het voorrang geniet oor alle ander eise. Eenvoudig gestel, Daniël was nooit te besig om te bid nie. Drie keer per dag het hy tyd afgeknyp van al sy verpligtinge, laste en eise as ‘n leier om tyd saam met die Here deur te bring.
Daniël het nie nodig gehad om ander “suksesvolle” leiers te raadpleeg oor hoe om sy roeping te vervul nie. Hy het nie nodig gehad om seminare by te woon om te weet hoe om die menigtes onder sy toesig te bedien nie. Hy het doodeenvoudig van sy aktiwiteite onttrek en gebid. En God het hom geantwoord. Daniël het al sy wysheid, leiding, boodskappe en profesieë ontvang waar hy op sy knieë was.
Ek glo Daniël is ‘n voorbeeld vir ons van hoe belangrik dit is om ‘n biddende bedienaar tydens ‘n krisis te hê. Ons sien dit in sy vroeë jare, toe Nebukadnésar geheers het. Op een stadium, het die koning ‘n onstellende droom gehad en dit het hom verbouereerd, verward en verskrik gelaat. Hy het sy sieners gesmeek om vir hom sy droom te verduidelik, maar niemand kon nie.
Dit het Nebukadnésar woedend gemaak. Hy het vir sy hof gesê, “Julle mense gee vir my niks anders as dwase, leë woorde nie. Julle stotter en probeer tyd koop. Maar ek wil waarheid hê. Ek wil antwoorde op my diepste verlange hê.” Uiteindelik het hy beveel dat alle sieners doodgemaak moes word - astroloë, besweerders, towenaars, selfs “wyse manne,” wat jong Daniël en sy drie goddelike vriende ingesluit het.
Toe Daniël van hierdie doodsvonnis gehoor het, het hy ‘n vergadering met sy drie vriende belê. Jy kan sekerlik weet hierdie vergadering was nie vir “skakeling,” of om moontlike opsies te ondersoek nie, of om ‘n opname onder ander Jode te doen om met ‘n oorlewingsplan te voorskyn te kom nie. Nee, Daniël en die drie jong Hebreeuse manne het geweet hulle moes direk van die Here hoor. So, hulle het na hulle knieë gegaan en tot Hom uitgeroep vir barmhartigheid en openbaring.
Wat ‘n ontsaglike gebed het Daniël aangebied: “Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom” (Daniël 2:20-22).
Teen hierdie tyd was die Ou Testamentiese kerk op sy laagste punt. God se volk het hulle lied in die hart verloor, hulle lofsange was stil en nou het hulle geestelik weggedryf. Die ontsaglike voorspoed in Babel het die harte van talle vasgegryp. En sekerlik het Satan gejuig oor Israel se toestand. Toe, om alles erger te maak, het hy Nebukadnésar gemotiveer om die doodsvonnis vir Daniël uit te reik.
Elke Israeliet in ballingskap het na Daniël gekyk. Hulle toekoms het daarvan afgehang dat hy in aanraking was met die Here. Hulle het gewonder, “Praat God nog met iemand? Is iemand nog in staat om die tye te onderskei en te weet wat aan die gang is? Wie kan die geheime van die Here onderskei?”
Daniël het presies geweet wat aan die gang was. En hy kon op ‘n aantal verskillende maniere optree. Hy kon ‘n groot optog na die hoofstad georganiseer het om geregtigheid vir die Jode te eis. Maar, jy sien, die wêreld en die hel word nie beïndruk met skares, getalle of denominasies nie. Hulle word ook nie beïnvloed deur mega-kerke met massiewe geboue en ledetalle nie. Hulle word nie aangeraak deur intelligente, geleerde jong bedienaars, wat opnames gebruik om resultate te kry en te vra, “Watter onderwerpe wil jy hê moet ons vermy in ons preke? Hoe kan ons jou akkommodeer dat jy kerk toe kom?”
Nee – die enigste manier waarop die wêreld ooit beïnvloed sal word, is deur ‘n woord wat sonde blootstel en dit wat in die hart is, openbaar. Die wêreld het nodig om ‘n suiwer, Heilige Gees waarheid, wat tot op die been sny en die uitroep van die twyfelende hart antwoord, te hoor.
Ek glo Koning Nebukadnésar is ‘n beeld van die moderne mensdom, wat uitroep, “Ek het mag en invloed. Ek het al die materiële besittings wat ek ooit wou hê. Ek het egter geen vrede nie. Ek het vrae en ek het antwoorde daarvoor nodig. Almal van julle wat daarop aanspraak maak om namens God te praat – intellektuele, kultusse, selfs geestelikes – as jy nie die antwoord van my hartsgeroep kan hoor nie, dan het jy geen reg om te bestaan nie. Julle het geen doel nie. Julle is nutteloos vir hierdie samelewing.”
Toe ek onlangs in Dallas was, het ek ‘n gemeente, wat geadverteer was as ‘n “gemeeskapskerk,” besoek. Die diens was so gemaklik dat dit grootliks oneerbiedig was. Mense het gaskoeldrank gedrink en oliebolle geëet, terwyl hulle kinders amok gemaak het.
Die diens het begin met ‘n komiese skets oor hoe om ‘n kar te koop. Toe het die aanbiddingspan ‘n paar “oorgangsliedere” gesing – liefdesliedere wat jy moontlik vir jou beminde sou sing. Uiteindelik het die pastoor, ‘n PhD ingeloop met ‘n klein stukkie papier in sy hand wat sy hele boodskap bevat het. Hy het vir tien minute gepraat oor hoe om jou werk te geniet.
Hierdie bediening het begin deur ‘n opname in die woonbuurt, waarin mense gevra was wat hulle in die kerk sou wou hê. Die gevolg was dat die dienste ontwerp is om glad nie konfronterend te wees nie. Terwyl ek egter rongekyk het in die gemeente, het ek mans en vroue, wat duidelik antwoorde nodig gehad het, gesien. Die tieners het verveeld gelyk. My hart het gebreek vir hierdie mense. Almal daar het ‘n woord uit die hemel nodig gehad, maar al wat hulle gekry het, was strooi. Waarom? Die mans in die preekstoel het gestotter, omdat hulle hul aanraking met God verloor het.
Wanneer hierdie nasie die skrif van oordeel teen die muur sien, sal mense uitroep na biddende leiers.
Wanneer die vinger van God se oordeel sigbaar word in Amerika, sal mense hulle nie meer wend na voorspoedspredikers wat daarop aanspraak, “Alles gaan goed” nie. Hulle sal eerder soos die Israeliete optree – na ‘n Daniël Geselskap soek, goddelike mense wat die tye kan onderskei.
In Daniël 5 was Nebukadnésar se seun Bélsasar op die troon. Hierdie heidense koning het ‘n groot feesmaal gehou vir duisende van sy edeles. Terwyl die dronk feestelikhede voort gewoed het, het die koning sy diensknegte beveel om die goue en silwer bekers wat hulle van die Joodse tempel in Jerusalem geneem het, te bring. Gou het Bélsasar se edeles, vroue en byvroue wild uit hierdie heilige bekers gedrink.
Skielik, in ‘n bonatuurlike oomblik by die feesmaal, het die vingers van ‘n man se hand verskyn en ‘n boodskap op die muur begin skryf. Dit was ‘n waarskuwing dat oordeel voor die deur gestaan het. Die Skrif sê, “Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedates het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan. Die koning het hardop uitgeroep om die besweerders...en die waarseêrs in te bring.
“Daarop het die koning gespreek en aan die wyse manne van Babel gesê: Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy sal met purper beklee word, en ‘n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde in rang sal hy in die koninkryk heers. Toe het koning Bélsasar baie verskrik... ook sy maghebbers was in verwarring” (Daniël 5:6-9).
Wat ‘n vreesgevulde toneel. Ek sê egter vir jou, eendag baie gou, gaan voorspoedige Amerika dieselfde soort skok beleeg. Die Skrif is aan die muur en daar is geen twyfel dat oordeel voor die deur staan nie. Soos Bélsasar, is ons nasie se leiers bekommerd en verskrik, hulle gelaatskleur verander en hulle knieë bewe.
Ten spyte van dit, verkondig bedienaars in Amerika ‘n vals vrede. Regoor die nasie maak gekompromitteerde herders daarop aanspraak dat God nooit Amerika sal neerwerp nie, omdat ons so baie sendelinge in die wêreld in stuur. Hierdie herders noem egter ook nie dat oordeel aan die kom is, omdat ons 40 miljoen baba’s deur aborsie doodgemaak het nie. Wanneer die skrif aan die muur verskyn, sal sulke predikers stom wees. Hulle is reeds onbewus van die ware toedrag van sake – omdat God sy wysheid slegs aan mense van gebed openbaar.
Ek sê vir alle herders: Mag God jou help as jy nie ‘n mens van gebed is nie. In hierdie tye van boosheid en plesier, moet jy afgesonder wees saam met die Here. Wat sal jy doen as God se skrif teen die muur verskyn en jou mense vra vir jou om die tye te onderskei? Hoeveel grappies sal dan van die preekstoel af verkondig word? Hoe sal jy hulle dan antwoord, wanneer hulle jou preke onderbreek en uitroep, “Pastoor, dominee, asseblief, vertel vir ons wat gebeur. Is dit oordeel? Wat kom volgende? Waarom het jy ons nie oor alles gewaarsku nie? Jy het vir ons gesê alles gaan goed – maar ons het alles verloor.”
Ek word voortdurend geskok oor wat marknavorsers ons vertel mense wil hê om hulle te oortuig om kerk by te woon. “Kontemporêre” dienste mag lyk of dit nou, in voorspoedige tye, werk. Maar kyk wat gebeur wanneer God se vinger verskyn en mense se banksaldo’s begin kwyn, hul kinders hulle na dwelms wend en hul families opbreek. Die skape sal nie dan soetsappige gepreek wil hoor nie. Hulle sal waarheid, suiwer en onvervals wil hoor.
Bélsasar se hof het gebewe oor hierdie skielike nadraai van sake. Niemand het geweet wat aan die gang was nie. Skielik het die drinkery gestop. En, terwyl die koning gebewe het, het iemand gesê, “Daar is ‘n man in u koninkryk in wie se gees van die heilige gode is...omdat in hom ‘n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak – in Daniël” (Daniël 5:11-12).
Toe het Bélsasar Daniël ontbied. Hy het vir die profeet gesê, “Al hierdie wyse manne kan my niks vertel nie. Hulle kan nie skrif teen die muur interpreteer nie. Maar ek het gehoor jy kan die tye onderskei. Vertel vir my asseblief die waarheid en los my vrae op” (sien Daniël 5:16).
Toe Daniël gepraat het, het hy nie die waarheid verbloem nie. Hy was op sy knieë en het presies geweet wat hierdie mense moes hoor. So, hy het dit prontuit gesê: “Maar u, Bélsasar...het u hart nie verneder nie...maar u het u verhef teen die Here van die hemel...God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak...u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind” (Daniël 5:22-23,26-27).
Dit was die soort van onbesoedelde waarheid wat Bélsasar en sy edeles wou hoor. Dit was waarheid wat hulle onsekerhede sou oplos, want dit het vir hulle presies gesê waar hulle gestaan het. Trouens, Bélsasar was so dankbaar, dat hy Daniël as die koninkryk se hoofheerser aangestel het.
So, moet my asseblief nie vertel dat die onbekeerdes nie reguit preke van oortuiging van sonde wil hê nie. Dit is nie so nie!
Daar is gevare wat elke biddende persoon beleef.
Enige biddende persoon is ‘n sweep vir die hel. Satan sal alles in sy vermoë doen om daardie persoon se gebede te staak. Daniël het reeds die doeltreffendheid van sy gebede bewys onder Nebukadnésar en Bélsasar. Nou, onder Darius se heerskappy, het Satan ‘n groot sameswering teen Daniël begin om sy gebede stil te maak. Die profeet se se gebede het die hel so geskud, dat ‘n ontstoke duiwel Babel se hele regering teen hom georganiseer het.
Onthou Daniël was aangestel oor elke ander leier in die land. Daardie politici het in Daniël wysheid, eerbied en guns gesien en dit het hulle jaloers gemaak. En nou het hulle teen hom saamgesweer: “Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om ‘n grond vir ‘n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ‘n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie” (Daniël 6:5).
Daniël was sonder blaam, so die Babeloniese leiers kon hom nie met een sonde betrap nie. Hulle het uiteindelik besluit die enigste manier om Daniël by te kom, was deur sy wandel met God. Hulle het gesê, “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ‘n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Daniël 6:6). As dit maar van ons gesê kon word vandag.
Hierdie leiers het geweet Daniël het drie keer per dag in die rigting van Jerusalem gebid. En hulle het sy guns toegeskryf aan sy gebede. Daarom het hulle ‘n plan geïmplimenteer om sy gebede te stop. Hoe? Ek glo hulle het probeer om Daniël se tyd in beslag te neem met besigwees. Sy mede ministers het probeer om hom met belangrike werkverbonde besigwees betrokke te maak, sodat hy nie tyd gehad het om te bid nie.
Geliefde, dit is een van die primêre planne wat Satan teen alle gelowiges gebruik. En dit is ‘n veral algemene sameswering onder bedienaars. As jy vir ‘n bedienaar vra waarom hy nie bid nie, sal hy waarskynlik vir jou vertel hy het nie tyd nie. Die eise van sy herdersrol is so tydrowend, dat hy al die tyd wat hy oor het moet gebruik om sy preke voor te berei.
Die meeste Christene val in dieselfde versoeking. Hulle sê, “Ek het te min tyd om te bid. My werk neem al my tyd in beslag.” Selfs huisvroue maak daarop aanspraak, “Ek het nie ‘n oomblik in die dag om te bid nie. Teen die tyd dat ek my kinders aangetrek gekry, die huis skoongemaak en die maaltye gekook het, het ek nie tyd oor nie.”
Die filosoof, Soren Kierkegaard, het na Christene se besigwees verwys as narkoties. Hy het waargeneem dat dit lei tot dubbelhartigheid. Hy sê, dat as mense dieper in besigwees verval, glip hulle liefde vir waarheid in vergetelheid in. Dan, met die massas stimuli van hulle aktiwiteite en toenemende eise op hulle tyd, word it onmoontlik vir hulle om die gevaar waarin hulle is te verstaan. Hulle het die spieël van God se woord, maar hulle kan nie lank genoeg stil staan om te sien wat dit weerspieël nie.
Ek glo ‘n besige persoon wat selde bid, het ‘n erger toestand as iemand met ‘n dodelike siekte. Waarom? Hy word toenemend gemaklik met sy toestand. En die hele tyd, word hy minder biddend en bewus van God. Met verloop van tyd, taan sy oortuigings totdat hy dit heeltemal verloor.
Daniël het geweet hy kon nie ‘n dag sonder gebed deurbring nie. Daarom het hy aangehou bid, selfs toe sy kollega’s meer werk vir hom gemaak het. Jy ken die storie – hulle het uiteindelik ‘n bevel, wat gevra het vir ‘n dertig-dae moratorium op gebed, uitgereik. Dit was ‘n wet wat enkel en alleen op Daniël gemik was. Selfs toe, sou Daniël egter nie sy helskuddende gebede stopsit nie – en hy het in die leeukuil beland.
Jy mag wonder wat Daniël gemotiveer het om so intens te bid? Wat het veroorsaak dat hy aangehou bid het, selfs met ‘n doodsvonnis wat oor sy kop gehang het? Waarom sou hierdie tagtigjarige man aanhou om sy hart so vurig voor die Here uit te stort, terwyl die res van die kerk God nie meer gesoek het nie?
Kyk na die ontsaglike moeite wat dit vir Daniël geverg het om homself aan gebed te wy. Hy het immers in die New York Stad van sy tyd gebly – groot, majestieuse, welgestelde Babel. En hy het geleef in ‘n tyd van geestelike apatie – van dronkenskap, plesiersoek en gierigheid onder God se volk. Daarbenewens was hy ‘n besige leier met dinge van oral wat sy aandag afgelei het.
Ek sê vir jou, gebed kom vir niemand natuurlik nie en dit sluit Daniël in. Gedissiplineerde gebed is maklik om te begin, maar moeilik om vol te hou. Beide ons vlees en die duiwel sweer daarteen saam. So, hoe word ons mense van gebed?
In tye van geestelike agteruitgang en dreigende oordeel, soek God ‘n sekere soort biddende persoon.
In Jeremia 5, het God gepleit, “Swerf rond in die strate van Jerusalem...soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek – dan sal Ek daaraan vergifnis skenk” (Jeremia 5:1). Die Here het in wese gesê, “Ek sal barmhartig wees as ek net een mens, wat my sal soek, kan kry.”
God het hierdie mense ten volle geseën en beskerm. Hulle het egter aangehou om alle grense van moraliteit te oorskry, owerspel gepleeg en met hoere omgegaan. Hulle het immers nie meer getreur oor sonde nie en hulle het teregwysing geweier. Daarom het God na ‘n enkele biddende man met ‘n gebroke hart gesoek om in gebed in te tree – maar Hy kon nie eers een vind nie.
Esegiël 23 beskryf ‘n soortgelyke tragedie. Israel se profete en priesters het roofsugtige wolwe geword. Hulle het ryk geword deur onskuldige siele en gesteel van die armes en weduwee’s. Hulle het God se heiligheid ontheilig en geen verskil gesien tussen dit wat rein en onrein is nie. Hulle het hulle oë gesluit vir sonde, leuens verkondig en valslik beweer, “So sê die Here.”
God het verniet gepleit vir ‘n enkele man om stand in te neem teenoor dit alles: “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie” (Esegiël 22:30).
Gedurende die Babiloniese ballingskap, het God so ‘n man in Daniël gevind. En vandag, meer as ooit in die geskiedenis, soek die Here na dieselfde soort goddelike manne en vroue. Hy soek getroue dienaars wat gewillig is om die “muur te bou” en “in die bresse te tree,” werk wat net deur gebed bewerkstellig kan word.
Soos Daniël, sal so ‘n persoon gevind word met God se woord in sy hand. Toe die Heilige Gees na Daniël gekom het, was die profeet besig om die boek Jeremia te lees. Dit was toe dat die Heilige Gees geopenbaar het dat God se tyd van verlossing vir Israel gekom het. Toe die openbaring kom, was Daniël gedring om te bid: “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En Ek het tot die Here my God gebid” (Daniël 9:3-4).
God se Gees soek deur die nasies se kerke en herders se studeerkamers na diegene wat ywerig die woord bestudeer. Sulke diensknegte soek nie bloot na Bybelse kennis nie. Hulle soek geestelike krag, die afsterf van sonde en waarheid wat vrymaak. Hulle sien duidelik wat in die land gebeur, omdat hulle dit vanuit God se woord herken. Wanneer die Here sulke mense vind, seën Hy hulle met ‘n gees van gebed.
‘n Biddende dienaar sien die kerk se toestand – en hy identifiseer homself met die skuldiges.
Daniël moes so opgewonde gewees het toe hy besef het dat God se tyd aangebreek het om herlewing na sy mense te bring. Toe Hy egter Israel se geestelike toestand gesien het, was die profeet bedroef. Die mense het versadig geword van die sonde van Babel – en hulle het plesier en voorspoed gesoek, terwyl hulle ver weggedryf het van die morele standaarde wat hulle eens gehad het.
Daniël het geweet God se mense was nie gereed om sy herstel te ontvang nie. Het die profeet egter sy tydgenote skerp bestraf vir al hulle sondes? Nee – Daniël het homself geïdentifiseer met die morele verval rondom hom. Hy het verklaar, “Ons het gesondig...aan ons kom toe beskaming van die aangesig...omdat ons teen U gesondig het” (Daniël 9:5,8).
Ek glo dieselfde is waar van die kerk van Jesus Christus vandag. Ons is in geen toestand om te reageer op God se begeerte om ‘n groot herlewing in ons te begin nie. Net soos Israel, het ons besoedel geword met die sondes van ons bose samelewing. Beskou:
‘n Kalifornië prokureur het dit verpligtend gemaak in primêre skole om te leer dat homoseksualiteit ‘n goedgekeurde alternatiewe leefstyl is. Alkoholiese drinkpartye het versprei van kollege kampusse na hoërskole en junior hoërskole toe. En die Internet het ‘n superhoofweg na pornografie geword. Amper dertig jaar gelede, het ek in my boek The Vision voorspel dat ‘n elektroniese toestel onrein vorms van pornografie in ons huise sal inbring (VCR’s). Vandag is 90 persent van aktiwiteit op die internet te wyte aan pornografie.
Eenvoudig gestel, ons leef in ’n hedendaagse Babel. En dit is tragies dat Christene die sondige samelewing se maniere aangeneem het. Ons bediening ontvang gereeld briewe van Christen vroue wat skryf, “Ek voel my man dryf van my af weg en ek kon nie agterkom waarom nie. Toe het ek die deur van sy studeerkamer oopgemaak en hom gevang waar hy na pornografie op die internet gekyk het.
Jongmense is veral maklike prooi vir die Satan se skelmstreke. Menigtes van Christen tieners laai bose musiek af deur die Napster webwerf. Ek ken een Christen moeder wat ‘n rekenaarklas geneem het om te leer hoe om toegang te kry tot dit wat haar tiener afgelaai het. Toe sy sy rekenaar lêer oopmaak, het wat sy gesien het, haar met afgryse vervul: liedere deur die moordenaar Charles Manson; liedere oor die doodmaak van polisielede; liedere oor die dood, selfmoord en elke soort losbandige seks.
God begeer sterk om sy mense te seën vandag – maar as ons gedagtes besoedel word met die gees van hierdie wêreld, is ons in geen posisie om sy seën te ontvang nie. Daniël het hierdie kragtige verklaring gemaak: “Al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig vandi HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie. Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring” (Daniël 9:13-14).
Daniël het in wese gesê, “Ons het al die morele verval in ons land gesien. En ons sien ons herders net omsien na hulle eie belange. Ons hele samelewing was vinning op pad na verwoesting. Tog het ons ons nie na gebed gewend nie. As ons maar net gebid het, sou God ons van ons sondes laat wegdraai het. Hy het selfs vir ons gewag en heerlike beloftes gemaak om ons te herstel. Maar ons het nie vir Hom tyd gemaak nie. In plaas daarvan, het ons net stadig aangehou om van Hom af weg te dryf en versadig geword met die sondes van hierdie bose samelewing. Dit is waarom sy oordele oor ons gekom het.”
Jy mag vra – wat is die gebed wat die hel skud? Dit kom van die getroue, ywerige dienaar, wat sien hoe sy nasie en kerk dieper in sonde verval. Hierdie persoon val op sy knieë en roep uit, “Here, ek wil nie deel wees van wat aangaan nie. Laat my ‘n voorbeeld van u bewarende krag wees te midde van hierdie bose geslag. Dit maak nie saak of niemand anders bid nie. Ek gaan bid.”
Daniël het afgesluit deur te sê, “Terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël...my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee...jy is ‘n geliefde man” (Daniël 9:21-23).
Waar is die biddende mense in God se huis vandag? Waar is die getroue herders, wat die Here dag en nag soek? Hulle is diegene aan wie vaardigheid en begrip gegee sal word, omdat hulle baie geliefd is.
Soos Daniël, identifiseer hierdie dienaars met en bely die sondes van die nasie en die kerk. En hulle roep uit in nederigheid, “O, Here, wys vir my waar ek weggedryf het, waarin ek groot gebrek het. Help my dan om dit in die oë te kyk en daarmee te deel. Wat dit ook al verg, God, hou my op my knieë. Ek verlang om te sien dat U u kerk herstel.”