Helpers in Gebed
Dikwels is gebed een van die selfsugtigste gebiede van Christene se lewens. As jy daaraan dink, fokus die meeste van ons gebede op ons eie behoeftes. Die twee belangrikste onderwerpe van ons voorbidding is ons eie geestelike groei en die behoeftes van ons families en vriende.
Soms sal ons gebede verder strek as ons eie eng belange en ander mense insluit. Tog, wanneer ons vir iemand sê, “Ek sal vir jou bid,” doen ons dit nie, of ons bid een keer gou daarvoor en vergeet daarna van daardie persoon se behoeftes.
Onlangs het ek my eie gebedslewe in die lig van die Skrif ondersoek. En ek was oortuig van die engheid en beperkinge van my eie gebede. Soos die meeste gelowiges, bring ek baie van my gebedstyd deur om die Here te soek oor my wandel met Hom. Ek roep uit tot Hom om my heilig te maak, om sonde te oorwin, om soos Christus te word, om leiding vir my lewe te kry en om sy salwing op my bediening te hê. En ek geniet heerlike gemeenskap met Hom, aanbid Hom stil en word verkwik in sy teenwoordigheid.
Ek doen ook daagliks voorbidding vir my familie. Ek vra die Here om my kinders te bewaar van die planne van die duiwel – om my seuns te maak soos eikebome, wat by die rivier van God geplant is, om my dogters te maak soos gepoleerde hoekpilare in sy paleis en om al my kleinkinders liefhebbers van Jesus te maak. Ek bid ook vir die belange van ons kerkliggaam. Ek doen ook voorbidding vir mense wat in ‘n krisis is en vir die baie sendelinge en bedienings wat ons ondersteun.
Jy mag sê, “Dit is baie prysenswaardig, Broer Dave. Dit is ‘n troos om te weet dat jy jouself met die Here afsonder, met Hom gemeeskap het en vir al daardie behoeftes bid.”
Maar volgens God se woord, is soete gemeenskap nie genoeg nie. Ja, dit is die geheim van geestelike groei, maar as ons net na die troon toe gaan vir ons eie opbou en behoeftes, dan is ons selfsugtig. Ons kan dit doodeenvoudig nie verwaarloos om ernstig te bid vir die dringende behoeftes rondom ons nie.
Ons bediening het onlangs gehoor van ‘n kosbare bejaarde man in San Diego. Hierdie dierbare man het gesê, dat God hom gedring het om daagliks vir my te bid en hy het my gevra of hy my op sy gebedslys kon plaas. Blykbaar is die ontvangers van hierdie man se voorbidding ‘n lang lys van weduwees, arm mense, bedienaars en ongeredde persone. Hy bid nou al jarelank vir hulle.
Hierdie man is ‘n afgetrede poswerker en hy lei ‘n baie eenvoudige lewe en leef van net een maaltyd per dag. Hy spandeer sy tyd om goeie dade vir ander te doen en gemeenskap met die Here te hou die hele dag lank. Hy ry deur die stad rond en laai ou meubels en ander items wat weggegooi is op, maak dit heel en gee dit aan die weduwees en armes. Hy doen inkopies en sleurwerk vir hulle wat nie kan uitgaan nie, maak hulle loodgieterswerk reg en help om ander behoeftes aan te spreek.
Terwyl hy hierdie goeie dade doen, bid hy sonder ophou en doen getrou voorbidding vir almal op sy lys. Trouens, hy trek net hulle name dood wanneer hulle sterf.
Sedert ek geroep is om te preek op die ouderdom van agt, was ek nog altyd ‘n biddende man. Maar selfs met al die vurige gebede, wat ek deur die jare gedoen het, steek hierdie goddelike man my in die skande. Ek het geen lys van behoeftige mense soos hy vir wie ek daagliks bid nie. Gewoonlik bid ek een of twee keer vir iemand en beweeg aan – maar hy hou net aan met bid.
Ek glo hierdie man se beloning in die heerlikheid sal baie groter wees as myne. Hy is soos die desperate weduwee wat twee koper geldstukkies gegee het, maar wie se offer baie meer werd was as die groot gawes van ander. As ek dink aan al die siele wat God toegelaat het vir evangeliste om te in te win vir die koninkryk, dink ek dadelik aan die ontsaglike helpende gebede van mense soos hierdie man.
Hierdie boodskap gaan daaroor hoe om daardie soort geseënde gebedslewe te ontwikkel – om waarlik ‘n “helper in gebed” te word.
Paulus sê emfaties hy was verlos van “amper dood” swaarkry – nie deur sy geloof nie, maar deur die gebede van “helpers.”
“Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (2 Korinthiërs 1:8). Die Griekse woord vir “swaar,” hier beteken “swaar belas, erg verdruk.” Paulus het in wese vir hierdie gelowiges gesê, “Ons krisis was so ernstig dat dit my amper vernietig het. Dit het my uithouvermoë oorskry. Ek het gedink dit was my einde.”
As Paulus sê hy het so swaargekry, dat hy selfs aan die lewe gewanhoop het, kan ons weet dat hy werklik op sy laagste punt was. In ander gedeeltes, maak hy asof sy lyding nie ernstig was nie. Jy kan dalk onthou die keer toe hy eenvoudig net ‘n giftige slang, wat hom aan sy hand gebyt het, afgeskud het. Hy het ook drie keer skipbreuk gely – hy het egter hierdie feite net in die verbygaan genoem om ‘n stelling te maak. Paulus was geslaan, beroof, gestenig, in die tronk gegooi – maar deur dit alles heen, het hy nooit gekla nie.
In hierdie gedeelte, was die apostel op een of ander punt van algehele uitputting. Ek glo hierdie “verdrukking” wat hy verduur het, was geestelike angs. Ons kan nie presies sê wat Paulus se moeilikheid was nie – maar 2 Korinthiërs 7:5 gee vir ons ‘n leidraad: “Want ook toe ons in Macedónië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge.”
Ek glo Paulus het verwys na pyn wat veroorsaak is deur die gelowiges wat hy bedien het. Valse leermeesters het in Korinthe opgestaan en probeer om die mense teen hom te draai. Nou het Paulus gevrees dat sy skape sy boodskap sou verwerp en mense, wat nie hulle belange op die hart gedra het nie, sou volg.
Hy was getroos deur die koms van Titus wat hom goeie nuus oor sy “geliefde kinders” in Korinthe gebring het. Paulus skryf, “God het ons getroos deur die koms van Titus; en nie deur sy koms alleen nie, maar ook deur die troos waarmee hy oor julle getroos is, deurdat hy aan ons berig gebring het van julle verlange, julle verdriet, julle ywer vir my, sodat ek my nog meer verbly het” (2 Korinthiërs 7:6-7).
Vandag ly talle gelowiges soos Paulus. Hulle grootste angs is geestelik en word veroorsaak deur swak behandeling van diegene, wat hulle liefhet en die meeste gehelp het. Ons sien dit weerspieël in baie van Dawid se Psalms. Hy het getreur oor vriende wat sonder oorsaak teen hom gedraai het, mense wat hy gevoed en versorg het op sy eie onkoste.
Ek ondervind ook soms hierdie soort angs in my lewe. Soms voel die woorde van mense wat ek liefhet en gehelp het, soos messe in my rug. Ek kan saam met Dawid sê, “Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde” (Psalm 55:22). In sulke moeilike tye, het ek die “helpende gebede” die nodigste gehad.
Te midde van sy probleme, het Paulus groot lesse geleer.
Die belangrikste les wat Paulus in sy angs geleer het, was dat hy hom na die Here en sy verbondsbeloftes moes wend. Hy het geweet hy kon nie meer op sy eie vlees, vermoëns of wilskrag staatmaak nie. Hy het geskryf, “Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2 Korinthiërs 1:9).
Paulus se beproewing het hom by die einde van sy uithouvermoë gebring. Hy het geweet dat hy nie meer krag oorgehad het om die magte van die duisternis te beveg nie. Daarom het hy sy eie vlees tot die dood veroordeel. En God het hom wonderbaarlik verlos: “Wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos” (2 Korinthiërs 1:10).
Hoe was Paulus verlos? Verskeie dinge was betrokke: Eerstens was hy ‘n magtige man van gebed. En tweedens het hy groot vertroue in die Here gehad. Paulus het geweet God sou sy verbondsbeloftes nakom. Hy kon sê, “Net soos die Here my in die verlede verlos het, is Hy nou aan die werk om my van my huidige beproewing te red. Van nou af tot die dag wat ek sterf, sal ek lewe onder sy verlossende krag.”
Soos Paulus, word ons ook toegelaat om moeilike tye te beleef, sodat ons sal sterf aan ons vertroue op menslike vermoë. Die Here laat toe dat ons gebreek word, hulpeloos en swak gemaak word in ‘n poging om ons te oortuig, dat ons nie die vyand deur vleeslike pogings kan oorwin nie.
As ons egter ons lewens vergelyk met Paulus s’n, mag ons versoek word om te dink, “Ek sal nooit die soort verlossing beleef wat hierdie man geniet het nie. Hy was goed opgelei in die Skrifte. Hy het groot openbarings van die Here oor Jesus, die evangelie en die Nuwe Verbond ontvang. Hy het selfs die hemel besoek.
“En Paulus het in die krag en demonstrasie van die Heilige Gees bedien. Hy het man alleen stede en nasies geskud. Hy kon nie deur die duiwel doodgemaak word nie, selfs na stenigings, bende aanvalle en drie skipbreuke nie. God het hom selfs gebruik om die dooies op te wek. Hierdie man was een van God se mees gesalfde dienaars in die hele geskiedenis. Hy was geestelik agtermekaar.”
Volgens Paulus was dit nie so nie. Paulus sê daar was een ander belangrike faktor in sy verlossing betrokke: die kragtige voorbidding van biddende helpers. “Terwyl julle ook vir ons saamwerk deur die gebed” (2 Korinthiërs 1:11). Paulus het in wese gesê, “Ja, ek is vol vertroue dat God my sal verlos. Dit is omdat julle help om dit te laat plaasvind deur gebed.”
Jy mag wonder, “Waarom sou Paulus iemand se hulp deur gebed nodig hê? Hy het so ‘n sterk geloof gehad, so ‘n ontsaglike krag by die Here, dat sy eie gebede genoeg sou wees om hom deur te dra.”
Nee, glad nie. Paulus het sy desperate behoefte aan “helpers in gebed” besef. Hier was ‘n man wat ten volle geweet het, dat sy verlossing heeltemal van die Here af was...dat God getrou was om sy verbondsbeloftes na te kom...dat die Here, God vir hom sou wees, sy skild van beskerming, sy verlosser van alle vyande. Paulus het egter ook geweet dat God gebed bestem het as sy “ondergeskikte middel tot verlossing.”
Volgens die Bybel, is gebed en verlossing onafskeidbaar. God sê vir ons. “Roep My aan die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer” (Psalm 50:15). “Hy sal my aanroep, ek Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee” (Psalm 91:15).
Paulus het geweet dat dit deur gebed was – sy eie en dié van daardie biddende helpers – dat hy uit die “bek van leeus verlos” was. Hy het geroem, “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan...” (2 Timótheüs 4:18). Hy sê in wese vir ons, “Ek is verlos – en ek sal aanhou bewaar word, todat Jesus kom – omdat die kerk van Jesus Christus vir my bid.”
Vandag is een van die grootste behoeftes in die kerk, die bediening van helpers in gebed.
As toegewyde dienaars van die Here is ons voortdurend in gevaar van die vyand. Ons ononderhandelbare liefde vir Jesus is ‘n bedreiging vir die hele hel. Ons kan nie enige heilige werk onderneem sonder dat Satan allerhande lokvalle en strikke vir ons stel nie.
Een so ‘n gevaar word baie ligtelik in die kerk opgeneem. Daardie gevaar is die egskeiding van Christelike paartjies. Ek is geskok deur talle briewe wat ons bediening ontvang en vertel van huwelike wat aan skerwe lê.
‘n Huweliksberader in die suide wat ek ken, het my onlangs uit moedeloosheid gebel. Sy het gesê, “Oral waar ek gaan in ons kerk, breek paartjies op. Amper elke vriendin van my is geskei of praat daarvan. Dit is tans ‘n letterlike plaag in die liggaam van Christus.”
Ek hoor elke soort rede gegee word vir die onrus in Christelike huise: onaanpasbaarheid, gebrek aan kommunikasie, verlies van toegeneëndheid en ontrouheid. Dit gaan in der waarheid oor baie meer as dit. Agter dit alles is ‘n aanval van die hel teen God se heiliges.
Gebroke huise onder nie-Christene is nie vreemd nie. Maar onder die regverdiges, het alle soortgelyke onrus ‘n oorsaak. Dink daaraan – hoe kan toegewyde Christene, wat vir jare onder goddelike prediking sit, skielik geen gesag in hulle huise hê nie? Hulle weet goed dat God se verbondsbelofte hulle krag moet wees. Hulle weet Hy belowe om elke sataniese mag wat teen hulle kom, te vernietig. So, waarom heers die duiwel dan nog? Waarom word hulle huwelike gedurig bedreig?
Ek glo dit is omdat een of albei maats die deur vir sataniese misleiding oopgemaak het. Hulle het een of ander kompromie in hulle lewens toegelaat, of hulle het geestelik lui geword. En nou het ‘n woedende duiwel ‘n vesting in hulle harte en huis gekry.
As jy ly onder so ‘n aanval, moet jy vra wat die dissipels gevra het: “Meester, waarom kan ons nie hierdie duiwels uitdryf nie?” Jesus het geantwoord dat sekere demoniese bindings nie op handoplegging of op ‘n halfhartige, eenmalige gebed sal reageer nie. Die enigste manier om sulke kragtige, diepgewortelde vestings uit te dryf, is deur aanhoudende gebed en vas.
Vandag is die kerk egter in ‘n beswyming insake die krag van gebed. ‘n Sluier het oor die oë van miljoene geval. En nou, wanneer hulle ook al swaarkry beleef, is Jesus die laaste plek waarna hulle hul wend. Hulle het die binnekamer verlaat. En in plaas daarvan, gaan hulle na sielkundiges, beraders, boeke en vriende toe – oral behalwe na die Here toe.
As jy sê dat jou huwelik op die rotse is en dat jy dit wil herstel, vra ek vir jou - hoeveel tyd bring jy deur in afsondering saam met God? Hoeveel keer het jy jou TV afgeskakel vir ‘n uur net om voor Jesus te sit en jou siel te laste af te laai? Hoeveel maaltye het jy gemis sodat jy kon vas vir jou huwelik? Hoe dikwels het jy uitgeroep, “Vader, ek kan hierdie dinge nie hanteer nie. U moet namens ons optree. Doen wat dit ookal verg om ons te herstel.”
Sommige Bybelleermeesters sê dat dit ‘n teken van ongeloof is om dieselfde versoek oor en oor te rig. Nee – dit is verdoemende kettery. En dit verswak die geloof van menigtes. God beveel ons om te vra, te soek, te vas – om uit te roep in doeltreffende, vurige, ernstige smekinge.
Van die begin af, het ware dienaars van God sy beloftes in gebede verander:
-
Jesus het geweet dat sy Vader voor die grondlegging van die wêreld vir Hom alle dinge belowe het – tog het Christus ure in gebed deurgebring, sodat God se wil op hierdie aarde gedoen sal word. Hy het selfs ‘n gelykenis vertel waarin volharding in gebed geïllustreer word. Dit gaan oor ‘n lastige weduwee, wat by ‘n regter aangehou het om geregtigheid te eis, totdat sy dit gekry het.
-
Esegiël het wonderlike profesië uitgespreek oor Israel se herstel en het belowe dat die volk se bouvalle soos die Tuin van Eden sou word. Tog het die Here gesê, dat sy woord nie sonder gebed vervul sou word nie: “So sê die Here: “Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen” (Esegiël 36:37). Met ander woorde, “Ek het aan jou ‘n belofte gemaak, maar ek wil hê dat jy dit in vervulling moet bid. Soek My met jou hele hart, totdat jy my woord vervul sien. Ek sal verlos, maar eers moet jy vra.”
-
God het vir Daniël belowe, dat Israel na sewentig jaar herstel sou word. Toe Daniël die aangewese jaar sien aankom, kon hy in geloof op God gewag het, todat dit in vervulling gekom het. In plaas daarvan, het Daniël op sy aangesig geval en vir twee weke gebid, totdat hy gesien het dat die Here alles in vervulling gebring het.
God beveel dat ons vir mekaar moet bid (Sien Jakobus 5:14-16).
In die Ou Testament het Israel se hoëpriester die name van al die stamme van Israel op sy borsplaat gedra. Dit dui daarop dat die mense se nood voortdurend in gebed op die priester se hart was. Vir Christene vandag, verskaf dit ‘n wonderlike toonbeeld van Christus, wat ons op sy hart dra en ons behoeftes voor die Vader bring. Trouens, elke Christen vandag, is ‘n priester vir die Here. En ons moet altyd die behoeftes van ander op ons harte dra.
Paulus was so bewus van sy behoefte vir die gebede van die heiliges, dat hy oral vir gebedshelpers gepleit het. Hy het die Romeine gesmeek, “Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God, dat ek verlos mag word” (Romeine 15:30-31). So het hy ook aan die Thessalonisense gevra, “Broeders, bid vir ons” (1 Thessalonicense 5:25).
Die Griekse woord vir “stry” hier beteken “stry saam met my as ‘n medewerker in gebed; stoei vir my in gebed.” Paulus vra nie vir ‘n vinnige opnoem voor die troon nie. Hy het gepleit, “Stry vir my in gebed. Doen geestelike oorlogvoering vir my en vir die evangelie.”
Toe Paulus in die tronk gereed was om sy lewe af te lê, het hy by die Filippense gepleit vir hulle gebede: “Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek” (Filippense 1:19). Paulus het geweet dat hy ‘n gemerkte man was en dat Satan se hordes vasbeslote was om hom te vernietig. So gaan dit met elke ware bedienaar van die evangelie. Elke pastoor, prediker en evangelis benodig helpers in gebed wat voortdurend vir hulle voorbidding sal doen.
Ek kan jou verseker, ek sou nie hierdie boodskap kon geskryf het, as dit nie was vir die helpers in gebed wat my deur die jare bygestaan het nie. Ek was in Europa om ‘n konferensie en aanddienste te lei toe ek daaraan herinner is. Die hele tyd, het God se Gees my daarvan bewus gemaak, dat ek gedra word deur die gebede van ‘n menigte van mense.
In Nice, Frankryk, hou hulle nie baie van Amerikaanse evangeliste nie. Almal was bekommerd oor die aanddienste en het gewonder, “Kan dit gedoen word?” Frankryk is oortrek met skeptisisme, ateïsme, agnostisisme en ongeloof. Die soort byeenkoms wat ons beplan het om te hou, was nog nooit tevore probeer nie.
Toe die tyd egter aanbreek, het daar duisende bymekaargekom. Dit was egter tóé dat ek hulpeloos begin voel het. Ek het nie geweet wat om te preek nie. Geen boodskap wat ek saamgebring het, het gelyk of dit pas nie. My tolk en ek het vooraf sommige van die notas deurgegaan, maar ek was nie seker dat dit reg was vir die byeenkoms nie. Ek het hom gewaarsku, “Ek is nie seker wat ek gaan sê nie.”
Toe ek egter op die podium klim, het die Gees kragtig op my neergedaal. Ek het ervaar dat die gebede van duisende heiliges my ondersteun. En toe ek begin praat het, het die Heilige Gees my mond gevul. Ek het vir veertig minute gepreek en die hele tyd kon jy ‘n speld hoor val. Toe ek klaar was, het ek eenvoudig gesê, “As jy Jesus nodig het, kom asseblief vorentoe.” Honderde mense het daarop gereageer en op hulle voete gespring om vorentoe te kom.”
Dieselfde ding het gebeur in ander lande waar ons bedien het: Kroasië, Romenië en Pole. Ek het vooraf gebid, “Here, wat moet ek sê?” Elke keer het die Gees aan my gefluister, “Mense bid.” Ek is oortuig dat die krag van gebed, die krag was agter die baie bekerings wat ons op daardie reis gesien het.
Hier is hoe die krag van gebed onlangs heerlike verlossing gebring het in ons gemeente: Teresa Conlon, die vrou van ons mede-pastoor, het onlangs saam met haar ouers in Maine gery, toe daar skielik ‘n eland oor die pad geloop het. Die kar het die dier getref en dit het deur die windskerm gevlieg. Die kar was afgeskryf – maar, prys God, al drie insittendes het sonder ‘n skrapie daar uitgekom.
Toe ek hierdie nuus by ons volgende aanbiddingsdiens genoem het, was ek genader deur ‘n toegewyde voorbiddder van ons gemeente. Die vrou het gebewe toe sy vir my vertel, “Pastoor, die nag voor die ongeluk, het die Heilige Gees my gedring om voorbidding te doen vir Broer Conlon se vrou. Ek was gelei om te bid vir haar beskerming en verlossing van die vuilspel van Satan. Ek het niks geweet van die ongeluk nie, totdat jy dit pas genoem het.”
As jy die bediening om te help in gebed opneem, sal God jou letterlik wakker maak vir die laste van ander. En Hy sal jou wonderbaarlik lei in gebed vir hulle.
Hoeveel predikante kon ondergang vermy het as hulle helpers in gebed gehad het?
Onlangs het ek geskryf oor ‘n pastoor se vrou wat ‘n treurige boodskap op ons bediening se antwoordmasjien gelaat het. Sy het in ‘n verwarde stem gesê, “Broer David, duisende predikantsvroue daar buite drink in die geheim om hulle hartseer te verlig. Dit is wat ek doen. Ek doen dit om die pyn te stil.” Ander predikantsvroue skryf van hulle huwelike wat misluk of van hulle man se verslawing aan internet pornografie.
Geliefde, hierdie mense is diegene wat ek tans in gebed help. Ek bid vir predikante en hulle families, omdat ek weet dat hulle dit meer nodig het as ander. Ek skryf niemand se versoek meer af nie. Ek het eerstehands geleer dat helpende gebed werk! Die Skrif sê toe Petrus in die tronk was, het daar “‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan” (Handelinge 12:5). God het Petrus verlos met ‘n wonderwerk.
Paulus het nie net vir gebedshelpers gevra nie, maar was self ‘n helper. Hy het geweet dat dit deel van sy roeping was as ‘n bedienaar van die evangelie. Hy het aan die Filippense geskryf, “Aan al die heiliges...saam met die opsieners en diakens...Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap...omdat ek julle in my hart dra” (Filippense 1:1-7).
Net so, het Paulus aan die Romeine geskryf, “Aan al die geliefdes...wat in Rome is...want God...is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink” (Romeine 1:7,9). Die woord “dink” beteken, “Ek herhaal julle name en behoeftes voor die Here.” Kortliks, Paulus het nie van ander gevra wat hy nie gewillig was om self te doen nie.
Is jy bewus van ‘n broer of suster wie se huwelik in gedrang is? As dit so is, wat doen jy daaromtrent? Vertel jy net vir ander daarvan, “Wat ‘n jammerte - hulle is op die punt om op te skei”? Of noem jy hulle name voor God en stry jy in gebed vir hulle?
Net soos die kosbare bejaarde heilige in San Diego, is ‘n ware gebedshelper een wat sonder ophou bid vir die behoeftes van ander. Hy bid nie net eenmalig vir hulle en hou dan op nie. Nee, hy doen dag na dag vir hulle voorbidding. En soos Daniël hou hy nie op, totdat God hulle nood sien en optree nie.
Begeer jy die bediening van ‘n helper in gebed? As jy nie weet van iemand met ‘n nood nie, begin deur te bid vir al die Christen huwelike en vir al God se heiliges. Jou gebede hoef nie lank te wees nie. Stel eenvoudig net jou versoek en vertrou dat God jou hoor.
Dit was eens vir my geïllustreer toe ek siek in die bed was. Een van my kleinseuns het ingekom en aangekondig, “Oupa, ek gaan vir jou bid.” My helpertjie het sy hande op my hoof gelê en gebid, “Jesus, maak hom heeltemal gesond.” Ek het geglimlag en hom bedank. Maar hy het aangehou om na my te kyk. Uiteindelik het hy gesê, “Jy is gesond. Staan op!” So ek het opgestaan – en ek was gesond. Sy gebed van geloof het my op my voete gebring.
Magtige verlossings vind plaas wanneer God se heiliges Hom ywerig met kinderlike geloof soek vir hulle broers en suster se behoeftes. Ek eindig hier deur Paulus se roerende getuienis aan te haal.
“Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; want ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ons nog sal verlos, terwyl julle ook vir ons saamwerk deur gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word” (2 Korinthiërs 1:9-11).