HOE HANDHAAF ONS BLYDSKAP?
“Die blydskap in die Here - dit is jul beskutting” (Nehemía 8:11). Toe hierdie woorde verkondig is, het die Israeliete pas uit Babel teruggekeer waar hulle in ballingskap was. Onder die leierskap van Esra en Nehemía het die volk die bouvallige mure van Jerusalem herbou, en nou het hulle beplan om die tempel te herbou en die volk te herstel.
Die volk was uitgehonger om die Wet van God te hoor verkondig word en hulle was ten volle gereed om hulle te onderwerp aan die gesag van God. Esra die priester “het daaruit voorgelees voor die plein...vandat dit lig geword het tot die middag...en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig, ” (Nehemía 8:4). Wat ‘n ontsaglike toneel. Esra het vir vyf of ses uur vir die volk gepreek en niemand het gelet op die tyd nie want hulle aandag was vasgevang deur God se Woord.
Soms was Esra so oorweldig deur dit wat hy gelees het, dat hy eers moes ophou lees om “die grote God te loof” (Nehemía 8:7). Die heerlikheid van die Here het kragtig neergedaal en almal het hul hande met lofprysing na die Here opgehef: “Die hele volk het geantwoord: Amen, Amen! met opheffing van hulle hande” (8:7).
Die gevolg van hierdie kragtige prediking was ‘n voortdurende vlaag van gebrokenheid onder die hoorders. Soos hulle God se Wet verstaan het, het hulle berou gehad (8:10). Die meeste Christene assosieer nooit blydskap met berou nie, maar berou is eintlik die moeder van alle blydskap in Jesus. Ek glo die Here begeer om onder sy kinders te werk op dieselfde manier vandag. Maar dit verg mense wat gretig is om God se Woord te hoor en te gehoorsaam.
Wanneer ons ons harte daarop instel om God se Woord te gehoorsaam en sy Gees toelaat om alle sonde in ons lewens te openbaar en dood te maak, veroorsaak die Here self dat ons juig. “God het hulle groot vreugde verskaf” (12:43). Hoe handhaaf ons blydskap in die Here? Ons doen dit op dieselfde manier as wat ons sy blydskap aan die begin gekry het: Eerstens, ons het lief, eer en smag opgewonde na God se Woord. Tweedens, ons lewe voortdurend in bekering. En derdens, ons sonder ons af van alle wêreldse invloede.