HOEKOM IS ONS GESEËND?

Gary Wilkerson

God wil jou seën en aan jou Sy guns bewys. Hy wil graag jou lewe, jou huwelik en jou geestelike lewe verryk. Hy wil vir jou wysheid, begrip en onderskeiding gee sodat jou besluite sal lei tot seën in jou lewe.

Wanneer ons die seën van God ontvang, moet ons versigtig wees dat ons dit nie in iets selfsugtig verander nie.

Lukas 12:16 vertel ons van ‘n man wat geseënd was. “Toe vertel [Jesus] hulle 'n gelykenis: ‘'n Ryk man se grond het goed gedra.’”

God is vrygewig en hou daarvan om geskenke aan Sy kinders te gee. Maar hierdie storie het vining ‘n verkeerde wending aangeneem, want ons sien hierdie man “het toe by homself gedink: ‘wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie?’” (vers 17).

Wie se oes was dit regtig? Alles behoort tog aan God, so hierdie man het sy selfsugtige natuur geopenbaar. Hy het begin om al sy talente, sy verhoudings, sy menigte gawes van God as dinge te sien om tot sy eie voordeel te gebruik. Daardie selfsugtigheid het begin om die hele wese van wie hy was te vul.

“Toe besluit hy: ‘…Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare’” (verse 18-19).

God is lief daarvoor om Sy kinders te seën maar Hy is begaan oor wat ons met daardie seëninge doen. Wat is Sy doel daarmee om jou te seën? Is dit net om jou toe te gooi met besittings en so ‘n perfekte klein kokon van gemak vir jou te skep soos jy nog altyd wou gehad het? Nee! Soos wat ons van die begin van Sy verbond met die mensdom kan sien, jy word geseën sodat jy ‘n seën vir ander kan wees!