Honderde Gered van Selfmoord
Ons het oorlog verklaar teen selfmoord en reeds sien ons baie groot oorwinnings. ‘n Paar maande gelede, in ‘n nuusbrief, het ek vertel hoe God my gedring het om te preek oor selfmoord in elke veldtog wat ons gehou het.
Toe God my aanvanklik gedring het om te praat oor die onderwerp van selfmoord, was ek skepties. Ek het gestry, “Hoe kan ek preek oor so ‘n morbiede onderwerp in stadswye veldtogte? Slegs ‘n klein persentasie van die gehoor sou hulle met so ‘n boodskap kon vereenselwig! Mense mag dink ek oordryf die probleem.
Maar ek was gehoorsaam. Ongeveer vyf maande gelede, het ek die eerste keer gepreek oor “Selfmoord” – in Spokane, Washington. Ek het sedertdien in elke veldtog daaroor gepraat en die resultate was beide tragies en wonderlik. Tragies omdat daar ten minste 35 mense op enige gegewe aand bely het dat hulle op die rand van selfmoord was. In Reno, Nevada, het 72 mense bely dat hulle aan selfmoord gedink het. In elke diens, het tussen 15 tot 35 mense erken hulle het al ten minste een keer selfmoord probeer pleeg.
Is dit net ‘n klomp valse belydenisse van tieners wat simpatie soek? Nooit! Nie as hulle ‘n mou oprol en vir jou letsels van meswonde wys nie. Hulle reik af na hulle sakke en oorhandig aan my hulle houertjies slaappille. Ander huil gedetailleerde belydenisse uit oor hoe hulle dit alles beplan het. Meisies gebruik meestal slaappille. Seuns gebruik vuurwapens en messe. Baie pleeg selfmoord met ‘n motor wat spoed – doelbewus buite beheer bestuur.
Dit is tragies omdat selfs tien- en elfjarige kinders hulle gebroke belydenisse met ons deel.
Verlede week, het een tienjarige meisie regtig my hart gebreek. Ek het voor ‘n groot gehoor in trane uitgebars toe sy na my opkyk en sê, “Sekerlik – ek weet wat u bedoel met selfmoord! Ek dink al die hele week daaraan. Pa is ‘n alkoholis; hy slaan my. Ma hardloop rond – sy is nooit by die huis nie. Sy haat my! Niemand het my lief nie. Dit is so maklik om jouself dood te maak as jy niks het om te verloor nie.” Honderde wat daardie belydenis gehoor het, het saam met my gehuil.
In ‘n onlangse veldtog, het ‘n oorgewig tienermeisie gestaan en dit uitgeblaker, “Ek sal vir u sê waarom ek myself probeer doodmaak het – twee keer! Kyk na my! Ek weeg 90 kilogram, en ek is net 15 jaar oud. Die kinders by die skool noem my ‘n frats. Hulle lag vir my. Ek het geen maats nie. Hulle weet dit nie, maar binne-in my, is daar ‘n meisie net soos al die ander, wat liefde nodig het. Ek wil nie so lewe nie. Ek is eerder dood as om ‘n byvertoning te wees vir mense om oor te lag.”
Hoe het my hart uitgegaan na daardie arme meisie. Ons ontmoet so baie oorgewig kinders wat hulleself haat. Dank God, hierdie spesifieke meisie is gehelp om van plan te verander en sy hou hopelik by die dieet wat ons opvolgmense met haar gedeel het.
Belydenisbriewe
In reaksie op my laaste nuusbrief oor selfmoord, was ‘n paar baie skokkende antwoorde in my kantoor ontvang. Hier is net ‘n paar:
1.“Na tien en ‘n half jaar van ‘n stormagtige huwelik, egskeiding, versoening met mekaar, het my man homself uiteindelik deur die kop geskiet. U brief is die beste ding wat ek oor selfmoord gelees het. Ek wens net iemand het dit al vroeër gesê. Ek weet dit sal ander help. A.L.”
2.“Hierdie boodskap oor selfmoord kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie want tien minute voor my broer die pos gebring het, het ek gedink aan hoe ek dit sou doen. Ek het myself hierdie somer probeer doodmaak maar my vriend het op my afgekom. U het gesê dit sou nie die einde wees nie – oordeel en duisternis, maar wat van ‘n afvallige Christen. Ek is nuuskierig, sou God my hel toe stuur daarvoor? Mooi bly en antwoord my vraag, as u ‘n minuut of twee het een of ander tyd. B.F.”
3.“U laaste boodskap oor selfmoord het my regtig aangeraak. Ek kom uit ‘n gebroke huis, het weggeloop en dwelms gebruik vir die grootste deel van my tienerjare. Toe het ek opgehou met dwelms, getrou en het ‘n pragtige baba-dogtertjie gekry, maar is op die ou end geskei. Ek is nuut in Christus en ek probeer, maar ek het op een of ander manier myself laat dink aan selfmoord. Ek het gedink ek sal vergewe word. Prys die Here vir u boodskap! Ek haal selfmoord uit my gedagtes uit, en ek gaan konsentreer op die Here en om my dogter groot te maak in Jesus. J.K.”
4.“U boodskap oor selfmoord het Woensdag hier aangekom, net min of meer ‘n uur nadat ek ingelig is dat ‘n hoërskool junior wat ek ken, wil selfmoord pleeg. Ek was dankbaar vir die brief, nie net omdat dit my bewus gemaak het van die situasie nie, maar omdat ek glo dat dit deur God gebruik kan word. As ‘n plaasvervanger-onderwyser, het ek opgelet dat baie, baie kinders kwartaalopstelle skryf met selfmoord as ‘n tema. Môre sal ek u brief in die biblioteek sit by die verwysingsboeke wat gebruik word om hierdie opstelle te skryf. Ek weet die Here sal u nuusbrief gebruik om met die regte kinders te praat. S.C.L.”
5.“Ja, ek ken die hartseer van selfmoord maar al te goed. Ek het gestaan oor die sterwende liggaam van ‘n geliefde kleindogter wat ‘n liter petrol oor haar liggaam uitgegooi het en haarself aan die brand gesteek het. Sy het lank genoeg gelewe om vir my die versekering te gee dat sy gered was. Dit was ‘n belewenis wat ek nooit sal vergeet nie. Haar woorde weergalm nog in my ore, ‘Ouma, hoe lank sal dit vat voor ek sterf? Ek het nie vir haar gebid om te lewe nie; sy wou so graag sterf. En hoewel sy nie met my kon praat nie, het ek geweet sy het die Saligmaker gevind in daardie sterwensdae. Nou het ek nog ‘n kleindogter op dieselfde pad. Bid asseblief vir haar! Ek bid heeltyd en so ook haar ouers. C.O.”
6.“Ek het u boodskap oor selfmoord vandag ontvang. Dit is iets – vir alle tye. My seun het net gister vir my gesê hy gaan homself doodmaak. Ek het met hom gepraat en vir hom gesê dat dit niks sal laat ophou nie. Dat hy nie hemel toe sou gaan en by God wees nie. Dit is die duiwel se werk. Dit is wat hy wil hê mense moet doen – hulleself vernietig. Ek laat hierdie boodskap op my tafel lê sodat hy dit ook kan lees. Bid asseblief vir my gesin. S.E.U.”
7.“My dogter het selfmoord oorweeg. Sy het selfs ‘n brief as haar laaste testament geskryf en boonop die pryse van begrafnisse nagegaan; ek het dit by haar vriendinne verneem. Een aand het ek by die huis gekom, en dit was deur haar toegesluit, en al die gasbranders en oond was aan sonder vlamme. Dit het my geskok. Ek het ‘n bedienaar laat kom om te help, en sy het uit haar kamer gekom asof dit ‘n grap was – maar dit was vir my geen grap nie! Sedert daar gebid is vir genesing tussen ons, kan ons ten minste nou op die natuurlike vlak kommunikeer. Vir een van haar kwartaalopstelle, het my dogter selfmoord nagevors en daaroor berig – maar dit was slegs op die wêreldse vlak, nie wat die Bybel sê oor selfmoord en moord nie. Nou is sy getroud en het self ‘n dogtertjie. Kort nadat die dogtertjie gebore is, het ek vir haar gesê dat ek haar liefhet net soos sy haar dogtertjie liefhet, en sy het vir my gesê sy weet dit. Ek bid vir die dag van haar bekering. A.A.G.”
Dank God vir die wonderwerke van verlossing!
Elke aand nadat ek oor selfmoord gepreek het, het ek teruggekeer na my motelkamer met gemengde gevoelens. Ek kan nooit die spookagtige gesigte en tragiese belydenisse van so baie jongmense wat amper hulle lewens geneem het uit my gedagtes haal nie. Ek sien hulle, in my gedagtes, waar hulle dood lê as gevolg van ‘n selftoegediende wond of oordosis pille – en dan breek ek uit in ‘n koue sweet. Ek sidder aan die gedagte dat dit nou betaaldag is vir die afgelope tien jaar se permissiwiteit, egskeiding, onsedelikheid en geestelike leegheid. Nou het die rekening betaalbaar geword. Gevolglik, is daar ‘n hele geslag van eensame kinders met emosionele probleme wat spot met die dood – en wat wanhopig is oor die lewe. Hulle is glad nie in die meerderheid nie! Maar hulle getalle neem toe. En enige ware Christen wat nie kan ween oor hierdie tragedies nie, is nie werklik bewus van wat in die wêreld van die jeug gebeur nie.
Maar my hart juig van blydskap oor almal wat uit Satan se greep geruk word! Jesus red nie net siele nie – hy red liggame! Jong liggame wat eens selfveroordelend tot selfmoord en dood was, is nou heeltemal genees en verander.
Hulle kom dapper na vore. Hulle volg ons tot agter die verhoog na die “wonderwerk nagloed” diens – en ons deel met hulle die eenvoudige stappe van hoe om Jesus aan te raak met kinderlike geloof. Om te sien hoe hulle bekommerde fronse verander na glimlagte van oorwinning en innerlike vrede is die hele wêreld vir my werd. Wat ‘n vreugde om te sien hoe hulle opstaan en vir almal vertel, “Jesus het my las afgehaal. Die gedagtes van selfmoord is alles weg! Ek sal nooit weer toelaat dat selfbejammering my vernietig nie! Ek is vry!”
Briewe van danksegging kom daagliks ons kantoor binne. Hulle is getuienisse van wonderbaarlik veranderde lewens. Hulle vertel van hoe Jesus hulle gevoel van mislukking weggeneem het – hoe Hy hulle lewens met liefde gevul het – hoe nuutgevonde vriende ontdek was – hoe die Heilige Gees hulle help om ‘n hopelose huislewe genadiglik te verdra – hoe Jesus vir hulle ‘n hernude sin van selfbelang gegee het – en hoe dankbaar hulle is dat ek God gehoorsaam was en ‘n boodskap oor selfmoord, wat die vrees van die Here in hulle harte geplaas het, verkondig het.