HULLE AANBID VERNIET

David Wilkerson (1931-2011)

God neem die saak van aanbidding baie ernstig op. Dit is nie ‘n ligtelike saak om te kom na God se huis, ‘n plek wat God geseën het met die salwing van die Heilige Gees nie. Moses het vir Aäron gesê: “Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik...” (Levitikus 10:3).

Die Here het in wese vir Moses gesê, “Jy mag My nie behandel soos ‘n gewone persoon nie! As jy My teenwoordigheid wil binnegaan, moet jy kom met groot omsigtigheid en bedagsaamheid weens My heerlikheid en majesteit!” Daar is soveel dinge wat kan plaasvind om ons gedagtes te laat afdwaal tydens gebed en aanbidding, veral wanneer ons in die huis van God is. Jesus noem werklik mense wat in sy teenwoordigheid kom met woorde van lof, maar wie se gedagtes en harte op ‘n ander plek is, skynheiliges. Hy het direk met hulle gepraat: “Geveindes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer julle My” (Matthéüs 15:7-9).

Wat van jou? Heel waarskynlik kom jy in God se huis vir ten minste ‘n uur elke week. So jou jou liggaam is in die kerk, maar waar is jou gedagtes? Jou lippe sê, “Ek aanbid U, Here!” maar waarheen laat jy jou gedagtes gaan tydens lofsang en aanbidding? Na gesinsprobleme? Besigheidsake?

Jy sal dalk redeneer dat alles waarop jou gedagtes gefokus is, God se saak is – jou familie, jou verpligtinge. Hou egter in gedagte dat die mense met wie Jesus gepraat het, aanbidders was wat tot Hom genader het met hulle lippe, selfs hulle hande opgehef het met luide lofsange. Maar waar was hulle harte, hulle gedagtes terwyl hulle aanbid het? As hulle aandag afgelei was, dan was hulle aanbidding skynheilig – en waardeloos!

Moenie sy heilige teenwoordigheid ligtelik opneem nie! Ons moet ag gee op die heiligheid van God se huis en daar ingaan met ‘n eerbiedige hart.