Hulle Het Hom Sonder Oorsaak Gehaat

David Wilkerson

“Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat” (Johannes 15:25, kursief myne).

Jesus het gesê dat Hy gekom het om die verlorenes te soek en te red. Dit was dieselfde man wat die mag gehad het om die winde en die golwe stil te maak. Christus kon te enige tyd vuur uit die hemel bring om die goddeloses te vernietig. Tog, in plaas daarvan, het Jesus as ‘n nederige dienaar gekom.

Die evangelies vertel vir ons dat Hy geduldig na die mense se hartverskeurende hulpgeroep geluister het. Menigtes het gepleit dat Christus hulle van hulle verdrukkinge moet verlos. En Hy het hulle behoeftes aangespreek: Hy het die siekes gesond gemaak, blinde oë en dowe ore oopgemaak, stommes se tonge losgemaak en kreupeles laat loop. Jesus het gevangenes vrygemaak van elke vorm van slawerny. Hy het selfs hulle dooies opgewek.

Self sommige nie-gelowiges stem saam: Niemand het ooit die mensdom liewer gehad as Jesus nie. Hy was bedroef oor die menigtes om Hom, omdat Hy hulle as verlore skape sonder ‘n herder gesien het.

In der waarheid, is daar niemand in die geskiedenis wat meer geëerd, gerespekteerd en geliefd as Jesus Christus moet wees nie. Hy moet meer vereer en gerespekteer word deur die hele wêreld. Hy het deernisvolle dade gedoen aan die mense wat Hy teëgekom het, Hy het oor die wêreld se geestelike blindheid geween en Hy het sy lewe vir almal uitgestort.

Ten spyte van die goeie wat Jesus gedoen het, het die wêreld Hom sonder oorsaak gehaat.

Daar was tienduisend of meer redes vir mense om Jesus lief te hê en nie een rede om Hom te haat nie. Die vier Evangelies skets Hom as  vriendelik, geduldig, lankmoedig, vol deernis, vergewensgesind en onwillig dat enigiemand verlore moet gaan. Hy word ‘n herder, ‘n leermeester, ‘n broer, ‘n lig in die duisternis, ‘n geneesheer, ‘n advokaat en ‘n versoener genoem. Jesus het geen aanleiding daartoe gegee dat Hy deur enigiemand gehaat moes word nie.

So, wat het Christus gedoen dat Hy so geminag moes word, beide in sy eie tyd en vandag? Eenvoudig gestel, die wêreld het Hom gehaat omdat Hy gekom het as ‘n lig om hulle van die duisternis te verlos.

Jesus het verklaar dat Hy die lig van die wêreld is: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). Tog vertel Christus ook vir ons: “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Johannes 3:20).

Christus se evangelie sluit die oproep in dat “ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Romeine 13:12).

Die die rede waarom die wêreld Christus haat, toe en nou, is as volg. Jesus het belowe om mense van die kettings van die duisternis te verlos. Hy het belowe om mense oral vry te maak van alle sataniese magte.

Wat ons as Christene egter as ‘n heilige gawe van verlossing en vryheid sien, sien die wêreld as ‘n vorm van slawerny. Hulle het hulle sonde lief en het geen begeerte om daarvan vry te word nie.

“Noem jy dit vryheid?” vra die nie-gelowiges. “Nee, die volgende is vryheid. Ons kan doen wat ons wil met ons liggame en ons gedagtes. Ons verklaar onsself vry van alle beperkinge. Ons is reeds vry — vry van die slawerny van die Bybel, vry van alle seksuele taboes, vry om ‘n god van my eie keuse te dien, insluitende geen god hoegenaamd nie.”

Eenvoudig gestel, die wêreld het die dinge van die wêreld lief. Die goddelose geniet die plesiere van sonde. Jesus het gesê hulle verkies die duisternis bo die lig.

“En dit is die oordeel [die rede waarom hulle Hom haat]: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Johannes 3:19).

Jesus het sy dissipels duidelik gewaarsku, “Omdat ek julle uit die wêreld uitverkies het, gaan die wêreld julle haat net soos wat hy My gehaat het.”

Christus het vir sy volgelinge gesê, “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19).

In dieselfde gedeelte voeg Jesus by, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het” (Johannes 15:18).

Kortliks, as jy van Christus is — as God jou uit ‘n wêreldse lewe uitverkies het om sy Seun, Jesus te volg — sal jy nooit deur die wêreld liefgehê of aanvaar word nie. Waarom?

Net soos Christus gesê het dat Hy die lig van die wêreld is, het Hy verklaar dat ons ook die lig van die wêreld is: “Julle is die lig van die wêreld” (Matthéüs 5:14).

Dink vir ‘n oomblik terug aan die tyd toe jy pas in Christus weergebore is. Toe jy die eerste keer die Lig gesien het — dit is, Jesus — het jy op Hom verlief geraak. Die dinge van die wêreld wat jy eens liefgehad het, het nou vir jou afskuwelik geword. En die heilige dinge wat jy gehaat het, het jy nou liefgekry. Jy het die Lig geglo.

As Jesus sulke lig bring, waarom word Hy so vreeslik verwerp? Waarom word sy Woord soveel gespot en sy kerk geminag? Waarom doen die samelewing soveel moeite om alles wat met Jesus te doen het, uit te wis? Vir jare probeer howe om die noem van sy Naam te verbied. Waarom is daar soveel weersin teen Jesus en diegene wat aanspraak maak dat die Bybel hulle morele kompas is?

Dink aan hoe vreemd hierdie haat is. Mense haat nie gewoonlik diegene wat hulle liefhet nie. En ware Christene toon liefde aan die wêreld. Diegene wat heelhartig met Jesus wandel is nederig, vriendelik, vergewensgesind, vol goedheid en selfopoffering. Hulle reageer op die menslike nood oral rondom hulle.

Inderdaad, Christen groepe is gewoonlik die eerste wat reageer op ‘n ramp. Ons seën die wêreld, beide met ons helpende hande en met ons gebede van vertroosting. Tog, word ons steeds gehaat. Ons wat onsself vernoem na die naam van Christus, is seuns van vrede, tog word ons gehaat deur die wêreld vir wie ons hulp aanbied.

Hierdie haat teenoor Jesus se volgelinge het te doen met ons sending as sy ligdraers.

As Christus se getuies, word ons geroep om ‘n skynbaar onmoontlike taak te verrig. Dink daaraan: Ons vra die wêreld om die dinge wat die kosbaarste vir hulle is, neer te lê. In hulle oë, lyk die Christelike wandel — ‘n lewe van reinheid en heiligheid — vir hulle soos ‘n vorm van slawerny. Ons idee van hemel lyk vir hulle meer soos hel.

Dink aan wat ons geroep word om te doen in ons getuienis aan die wêreld:

Ons vra mense om hulle te bekeer en die sondes wat hulle liefhet te laat staan.

Ons roep mense om te berou te hê omdat hulle die liefde en genade van God verwerp het. God, wat sy liefde aan ons gedemonstreer het deur sy Seun prys te gee aan die kruis. Hierdie mense  sukkel vir jare om hulle gewetens, waarop ons ‘n beroep doen, stil te maak. Hulle wil nie ‘n boodskap oor skuld hoor nie. Hulle spandeer hulle lewe lank deur te probeer om enige aanduiding dat daar ‘n dag van afrekening kom, te smoor.

Ons word geroep om sondige mans en vroue te vertel dat hulle eie persoonlike goedheid — hulle morele opregtheid en goeie werke — nie geregtigheid voor God kan verdien nie.

Ons word geroep om die self-gemaakte mens te oortuig om vir homself en sy ambisies te sterf en sy lewe vir ander te gee.

Ons word geroep om die wêreldse persoon te vertel dat sy eie sin van integriteit soos ‘n besoedelde kleed in God se oë is. Om hom daarvan te vertel, ontneem ons van hom sy waardevolle pêrel, die dinge waaraan hy lank en hard gewerk het om te verkry. En as ons vir hom sê dat geen hoeveelheid van sy selfverdiende geregtigheid verlossing kan bereik nie, sal hy ons verag.

Sommige sê dat die prediking van die kruis te onverdraagsaam is, terwyl sogenaamde “nuwe evangeliese kerke” mense se vlees wil akkommodeer.

Baie stemme in die kerk van vadag sê Christene moet ‘n nuwe soort liefde aanvaar en wys. Hulle praat van ‘n liefde waarin Bybelse waarhede moet buig met die tye.

Volgens hierdie evangelie, is daar geen persoonlike veranderinge nodig wanneer mens Christus aanvaar nie. Inderdaad, geen berou en bekering is meer nodig nie. Eerder, die doel daarvan om hierdie evangelie aan te bied, is eenvoudig: om enige hindernis wat beskou kan word as ‘n struikelblok vir daardie persoon om Christus te aanvaar, af te breek.

Ek vra jou: Is dit moontlik dat ons toegelaat het dat die volheid van Christus se lig gedeeltelik verduister word?

Jesus het gewaarsku teen die gevaar wat kom wanneer ons lig duisternis word. “Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie” (Lukas 11:35). Hy sê, met ander woorde, “Laat geen gedeelte duister word nie.”

Sê vir my, het ons lig verduister toe die meningspeilings gewys het dat 20 persent van evangeliese jeug huwelike van dieselfde geslag aanvaar? Het ons lig verduister toe meer en meer Christene deur die wêreld aanvaar wil word? Volgens Jesus, sal enige begeerte vir wêreldse aanvaarding, veroorsaak dat ons lig verduister word.

Ek wil ‘n vraag vra aan alle Christene wat hier lees.

Sê vir my, is jy moeg vir die smaad van die kruis? Is jy moeg om geterg, verstoot, en die afsaksel van die wêreld te wees? Is jy moeg daarvoor om verwerp en bespot te word?

Jy kan maklik aanvaarding vind. Jy kan dat die wêreld jou sy vriend noem en met jou assosieer, jou bewonder, en selfs die soort evangelie wat jy verkondig, liefhê. Hoe? Dit gebeur wanneer jy toelaat dat die wêreld in jou siel insluip. Jy gooi die smaad van Jesus af en oortuig jouself dat jy met die duisternis kan meng en steeds ‘n lig vir die wêreld kan wees.

Nee, dit werk nie! As jy swig voor so ‘n vriendskap met die wêreld, sal jou lig duisternis word. Jesus beskryf die proses:

“Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Matthéüs 6:23). So lyk die toestand van jou siel as iets in die wêreld daarvan besit geneem het.

By die Nagmaal het Jesus gesê, “Sommige van julle sal doodgemaak word, sommige sal in die tronk gooi word, almal sal vervolg word.”

Op hierdie tydstip, het Jesus ook vir hulle ‘n woord van leiding gegee. Dit was bedoel om hulle te leer hoe om hulle geslag te bereik nadat Hy weg was. Hy het vir hulle gesê, “’n Nuwe gebod gee ek julle” (Johannes 13:34).

Hierdie woord van leiding het niks te doen gehad met metodes van evangelisasie nie. Jesus het reeds aan die dissipels gesê dat hulle die hele wêreld sou ingaan en die evangelie verkondig, en dat hulle die krag van die Heilige Gees nodig sou hê om dit te doen. Hy het vir hulle ‘n totaal nuwe gebod gegee, ‘n gebod wat hulle nog nooit tevore gehoor het nie.

Jesus het eenvoudig aan hulle gesê:

“As julle hierdie nuwe gebod gehoorsaam, sal alle mense weet wie julle is. En hulle sal presies weet waar julle staan. Hulle mag julle miskien haat. Hulle mag julle dalk fanaties noem en julle van dwepery beskuldig. Hulle mag julle uit hulle sinagoges ban. Maar hulle sal weet dat julle Myne is.”

Wat was hierdie nuwe gebod? Jesus het hulle vertel: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34, kursief myne).

Let op dat hierdie gebod nie ‘n keuse is nie, maar dit is gerig aan elke volgeling van Christus.

Hierdie enkele gebod is waar elke evangelisasie poging begin. Ja, ons moet die armes voed, baie goeie werke doen en Christus vrymoedig verkondig. Maar as ons deur hierdie “groot duisternis,” wat die wêreld toenemend bedek, wil dring, moet ons hierdie nuwe gebod vasgryp. Daardeur sal ons heeltemal geïdentifiseer word as “van die lig.”

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35).

Ons liefde vir mekaar in die kerk moenie net in woord alleen wees nie, maar dit moet in daad gewys word. Net liefde in aksie sal die aandag van ‘n verlore geslag trek. Dit sal veroorsaak dat die wêreld dit herken as dieselfde liefde wat Jesus teenoor sy mense gehad het.

Hierdie liefde is die enigste manier om deur die duisternis te dring. En dit is ons enigste reaksie op die wêreld se haat. “Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34).

Ons het nie ‘n boek nodig om ons te wys hoe om soos Christus lief te hê nie. Ek kan dit alles opsom in een sin: Dit beteken om jou lewe af te lê vir hulle met dieselfde geloof. In werklikheid, ek kan dit met een woord noem: martelaarskap.

“Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13).

Die outeur van Hebreërs vertel vir ons, “Ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie” (Hebreërs 11:35, kursief myne).

Toe sy getuienis opgeteken was, was die kerk van Jesus Christus meestal ‘n ondergrondse beweging. Die vervolgers wat hierdie Christene gemartel het, het geëis het om te weet, “Wie is julle pastore? Waar kom julle bymekaar? Vertel vir ons die name van die mense saam met wie julle aanbid.”

Maar hierdie gelowiges het hulle broeders liefgehad soos Christus hulle liefgehad het. Daarom het hulle ter wille van hulle mede heiliges gely tot op die punt waar hulle hulle eie lewens vir hulle neergelê het. “Hulle is gestenig, in stukke gesaag...deur die swaard vermoor” (Hebreërs 11:37).

Laat my jou vertel van hedendaagse martelare. Ek ken sommige van hulle name. Hierdie mense is behoeftig, verdruk en gemartel. Baie verduur marteling van verstand, siel en liggaam op ‘n daaglikse basis. Sommige ly soveel pyn en angs dat hulle die dood sal verwelkom.

Hierdie kosbare gelowiges lê elke dag hulle lewens neer deur hulle geloof te behou in hulle tyd van angs en beproewing. Hulle oorleef, gaan voort en hou aan die geloof vas, een dag op ‘n slag.

Ons wat in vry nasies bly, “lê ook ons lewens neer” op ‘n manier. Dit gebeur elke keer wat ons God deur nog ‘n dag vertrou en Hom prys in ons teenspoed. Die hele tyd, hou baie mense ons dop. Nie-gelowiges, wat ons gehoor getuig het van God se bewarende krag, hou ons lewens fyn dop. En baba gelowiges monitor ons geloof terwyl hulle deur hulle eie vertwyfeling stry.

Die feit bly staan, daar is geen ander soort liefde wat die aandag van “alle mense” kry soos die opofferende liefde vir ons broeders nie.

Waarom is hierdie “nuwe gebod” van Jesus so belangrik vandag?

Dit is uiters belangrik omdat die Heilige Gees ‘n groot bewustheid van hulle nood aan hierdie geslag gebring het. Dink hieraan: Waarom is drankmisbruik en alkoholisme aan die toeneem? Waarom gebruik ‘n toenemende aantal mense dwelms? Waarom is daar soveel selfmoorde?

Die antwoord is eenvoudig: Orals is mense gebroke. Daar is “sonde-siekte” oral in die wêreld, met menigtes wat leë dae en beangste nagte trotseer. Hulle het bitter min om op te vertrou. Waarheen kan hulle gaan? Waar sal hulle iemand vind wat vir hulle hoop kan wys? Waar is daar ‘n bron van ware deernis, iemand wat self pyn en lyding verduur het?

Die hartseer en verbystering van die wêreld gaan hulle nie beroep op mense wat hulle eie geloof bevraagteken nie. Hulle gaan nie mense soek wat dink dat God meer op hulle gelaai het as wat hulle kan verdra nie.

Natuurlik is dit waar dat alle gelowiges hulle hartseer dae het. Selfs die goddelikste Christen kan oorweldig word deur hartseer en beproewings. Vir baie heiliges, het persoonlike pyn so erg geword dat hulle geswig het onder moegheid en ‘n gevoel van totale hulpeloosheid.

Tog, te midde van hulle hartseer, hou hulle aan om na die Here uit te roep. In hulle droefheid, gryp hulle die Vader se vertroostende beloftes vas. En daagliks staan hulle weer op en stry voort met hernude geloof.

Hierdie gelowiges gee eenvoudig net nie op nie. Hulle vertrou die Heilige Gees om, ter wille van Christus en sy kerk, die lig van hulle geloof aan die brand te hou.

Liewe heilige, dit is waar ware liefde begin: deur ons eie drome, hoop en planne neer te lê, in die lyding van Christus te deel en gewillig ons kruis op te neem. Dit is die liefde wat alle mense kan sien. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35).