Hulle het Weggedoen met die Kruis!
“Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Galatians 6:14).
In hierdie gesofistikeerde eeu, vind ons dit moeilik om die afgodery van die Ou Testament te verstaan. Dit is ongelooflik om te lees van intelligente mense wat so verblind was om handgesnede beelde van hout, klip of edele metale te aanbid.
Die Skrif sê vir ons dat mense na die woud gegaan het en ‘n hardehoutboom gekies het, dit afgekap het, in twee gesaag het en daarna die helfte daarvan in hulle oonde verbrand het vir kosmaak en die ander helfte vir ‘n beeldhouer gegee het om ‘n klein afgodjie daar uit te sny. Die hele familie sou voor daardie gesnede beeld buig en sê, “Dit is my god, my verlosser, wat my red.” Sulke afgodery is vir ons onbegryplik!
Dit was egter die sonde van afgodery wat God se verskriklike toorn oor sy mense gebring het. Dit het Hom meer gepla as enige ander sonde in die Ou Testament – soveel so, dat Hy verklaar het: “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg.
“En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal jou na jou nie luister nie. En Ek sal julle van my aangesig wegwerp...” (Jeremia 7:18,16,15).
Dit is God se verklaring teen alle afgodery in die Ou Testament. En tog haat Hy afgodery net soveel vandag. Dit bring sy toorn op enige geslag – insluitende hierdie hedendaagse een!
Daar is ‘n afgodery in hierdie laaste dae baie meer goddeloos as dié van die Ou Testament!
‘n Nuwe afgodery versprei tans dwarsdeur Amerika. Nee, ons sien nie meer mense op ‘n ongesofistikeerde manier kniel voor gesnede beelde nie. In plaas daarvan, verlei hierdie hedendaagse afgodery menigtes deur subtiliteit en slimheid. Dit maak God egter kwater as alle Ou Testamentiese afgodery!
Die Nuwe Testament waarsku ons dat daar bedienaars in die laaste dae sal kom wat sal voorkom as engele van die lig, maar eintlik dienaars van Satan is. Hierdie mense sal intens, welsprekend, aangenaam en baie vindingryk wees. Maar hulle sal gemanipuleer word deur ‘n gees wat nie van God af is nie!
“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:13-15).
Paulus waarsku dat hierdie demoniese bedienaars sou kom “...en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig...of...’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het...” (2 Korinthiërs 11:4).
Dink aan wat Paulus hier sê. In die laaste dae sal predikers te voorskyn kom wat lyk asof hulle manne van eerlikheid en geregtigheid is – maar wat eintlik bedienaars onder die invloed van Satan self is! Hulle sal van ‘n heeltemal ander gees wees, ‘n ander Christus bekendstel, ‘n ander gees, ‘n ander evangelie.
Dit klink skokkend – maar dit is iets waarvoor ek en jy onsself moet voorberei. As jy ‘n Christen is wat in Amerika woon en jy hoor berigte van die Heilige Gees wat in verskillende dele van die land werk, moet jy versigtig wees waarheen jy gaan en na watter gees jy luister. As jy nie onderskeiding het nie, kan jy vasgevang word in afgodery wat jou sal wegkeer van die kruis van Christus.
Ek glo menigtes van Christene is vandag besig met afgodery sonder dat hulle dit weet, nadat hulle deur engele van die lig verlei is. Paulus het dit sien gebeur selfs in sy eie tyd:
“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees” (Galásiërs 1:6-8).
Hierdie “Ander Evangelie” wat Paulus noem, is ‘n boodskap van verlossing sonder die kruis!
Dit is die groot afgodery van ons dag. Daar is ‘n groot leër van predikers wat letterlik die boodskap van die kruis van Jesus Christus opsy geskuif het!
Wees gewaarsku: Dit maak nie saak wat iemand vir jou sê oor ‘n groot “herlewing” of ‘n beweging van die Gees wat plaasvind nie; dit maak nie saak hoeveel menigtes betrokke is nie, of hoe luid hulle lofsange is nie; dit maak nie saak hoe “suksesvol” ‘n seker bediening mag voorkom nie. As die kruis van Jesus Christus nie die deur is waardeur mense kom nie, kan jy verseker wees – dit is nie ‘n werk van God nie!
Die kruis – insluitend sy vereistes en hoop – is aan die hart van die evangelie. En enige aanbidding – enige gemeenskap, enigiets wat homself ‘n kerk noem – is blatante afgodery as die kruis nie sentraal is nie. Sulke aanbidding is heeltemal van ‘n ander gees – en God wil niks daarmee te doen hê nie. Sonder die kruis, is kaf al wat oorbly – ‘n verdraaide evangelie, iets uit die put van die hel. Dit is ‘n afgodery meer beledigend vir die Here as die afgodery van Israel!
In die meeste kerke waar hierdie “ander evangelie” verkondig word, is die kerkbanke volgepak. Die teologiese terme, soos heiligheid, die Heilige Gees en die kruis word genoem. Alles lyk goed en klink reg. Maar die werklikheid van die kruis word nie voorgelê nie! Die krisis van die kruis, die konfronterende aspekte, word heeltemal vermy. En as ‘n preek or die kruis nie die konfrontering van sonde insluit nie – as dit jou nie bring by die krisis van die kruis nie – is dit nie die ware prediking van die kruis nie!
As ek moes preek oor die vereistes van die kruis in baie kerke vandag – met sy dood vir alle begeertes en wêreldse plesiere – sou die skares vlug, net soos hulle gedoen het toe Jesus vir hulle vertel het van die prys om Hom te volg. As ek vir die gemaklike menigtes moes sê, “God vereis dat julle jul sonde vierkantig in die oë kyk, by die kruis kniel en afreken met julle goddeloosheid” – sal twee derdes van die gemeente aanstoot neem en nooit terugkom nie.
Sulke kerke noem nooit eens die kruis nie. In plaas daarvan, mors hulle al hul energie op slim byeenkomste vol vertoon, dramatiese illustrasies, preke oor hoe om die lewe se probleme te hanteer. Tans sien ons ‘n heel nuwe geslag slim, jong bedienaars – intelligente, ywerige, bekwame manne – wat groot komplekse bou en mense alles bied, van dagsorg tot spa’s tot liggaamsbouklasse. Gemeentelede kan nou hulle betrokkenheid in die kerk sentreer rondom ontspanning, vermaak, familie-geleenthede en musiekblyspele. Dit is alles hoogs tegnologies, hedendaags en bedreig nie.
Ek glo God moet hierdie flou pogings om siele met moderne aanloklikhede te trek, oorsien. Hy het blykbaar baie geduld met sulke goedbedoelde, vleeslike pogings om die evangelie te bevorder. Maar mag God die bedienaars van hierdie kerke genadig wees as hulle weier om hulle mense te waarsku om hulle sonde te laat staan!
Jeremia het gekla,
“...hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie...” (Jeremia 23:14). “Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hulle handelinge” (Jeremia 23:22). Ek sê vir sulke bedienaars, “Bring terug die kruis – of die mense se bloed sal op julle hande wees!”
Die een ding wat God nooit sal verdra nie, is die opsy skuif van die verkondiging van die kruis!
Jesus het gesê, “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek” (Johannes 12:32). Hierdie “van die aarde verhoog word” wat Jesus noem, is sy kruisiging. Hy was verhoog voor die hele wêreld aan die kruis – ‘n beeld van sy groot offer vir ons sonde.
God het afgekyk na ‘n sondesiek wêreld van mense in slawerny in tronkgeboue van vrees en wanhoop – vol twyfel, sonder vrede, hoop of rus en wat rondtas in duisternis en verwarring – en Hy het sy eie Seun gestuur. So het Jesus na die aarde gekom en die swakheid van menslike vlees op Hom geneem en vir almal wat wou luister gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28)
Dit is die uitnodiging van die kruis: Dit is ‘n oproep tot elke siel wat siek is vir sonde! Jesus het uitgeroep tot almal wat vermoeid was deur boeie van slawerny, kragtige gewoontes, boesemsondes – almal wat moeg was van die leuens, die bedrog, die owerspel, die depressie. Hy het in wese gesê, “Ek weet julle is moeg daarvoor om julle boeie saam te sleep, moeg van die slapelose nagte. Ja, sonde is ‘n harde slawedrywer. Kom na My toe met al julle swaar laste. Daar is geen ander weg daaruit nie, behalwe deur my kruis!” Jesus het aan die kruis gesterf, nie net om sonde te vergewe nie, maar om die uitputtende krag daarvan oor ons te verbreek!
Sonde maak die vlees moeg. Dit maak ons swak en siek. Dit tap alles wat goed en vriendelik en kosbaar is. En dit verhard die hard, vernietig vrede en veroorsaak skuld, smart en skande. Dit verteer die gedagtes, verswak en verduister die siel. Dit jaag vrees aan. Dit lei tot skandale, breek families op, verhard die kinders. En dit lei tot die dood. Die ergste van alles, sonde sluit alle kommunikasie met God af.
Omtrent vyf blokke van Time Square Church, is daar ‘n lang laan van pornografiese winkels. As jy kyk na die mans, wat in en uit hierdie winkels gaan, sien jy dat hulle skouers hang en daars is droefheid in hulle oë. Hulle is slawe, gedryf deur hulle wellus. Hulle kry nie meer plesier uit hulle sonde nie. Hulle is moeg, sondesiek, desperaat, met geen hoop nie.
Geliefde, die kerk van Jesus Christus is nie ‘n restaurantklub nie, ook nie ‘n vermaaklikheidskompleks nie. Dit is ‘n hospitaal vir sondesiek siele! Maar wanneer sondesiek mense binnekom en vertroos word in hulle sonde – wanneer hulle nie geforseer word om die kruis te konfronteer nie – dit is laster.
Ek besef ek maak ‘n paar baie ernstige beskuldigings deur te sê dat baie bedienaars weggedoen het met die kruis; dat menigtes Christene in kerke van bose afgodery aanbid; dat talle kansels gevul word met mans wat slim verteenwoordigers is van die vyand. Op hierdie punt moet jy wonder, “Wat presies bedoel jy deur te sê hulle het ‘weggedoen met die kruis’?”
Ek bedoel nie dat hierdie bedienaars nie meer verwys na die historiese Jesus en sy werklike kruisiging nie. Maar die feit bly staan, dit is moontlik om meesterlike preke te preek oor Christus se kruis in duidelike besonderhede – om te praat van sy lyding, van die bloed wat uit sy deursteekte sy gevloei het en om dit in trane te doen, teer en liefdevol – en steeds nie die kruis te verkondig nie. Al hierdie ontsaglike, wonderlike dinge, kan gesê word deur engele van die lig!
Jare gelede het ek na ‘n preek geluister deur ‘n agnostiese man wat een van die grootste kerke hier in New York Stad gelei het. Hy het ‘n aantal boeke oor Jesus geskryf. Niemand het méér oor die menslikheid, vriendelikheid en goedheid van “hierdie profeet Jesus,” soos hy Hom genoem het, gepraat nie. Maar hy het Jesus nie geken nie! Jesus was nie vir hom God nie.
As daar geen konfrontasie met die kruis is nie – as die vereistes daarvan nie genoem word nie, as die krisis daarvan nie verkondig word nie – dan is dit nie die verkondiging van die kruis nie!
Jy sien, die kruis is essensieel ‘n konfrontasie met die mens se sondige lewenstyl. Dit is waarom dit aanstoot gee vir elke persoon wat vrede gemaak het met sy sonde. Daardie persoon wil Jesus en sy sonde hê. Daarom sê hy, “Jesus het vir alles betaal. Nou het ek vrede, hoewel ek in die hardnekkigheid van my eie hart wandel. Ek kan myself geniet!” Nee! Dit is valse vrede – ‘n verdoemende vrede. Hy is mislei om te glo sy sonde bedek is deur die bloed, hoewel hy weier om dit te laat staan!
Ek het amper gehuil toe ek onlangs die woorde van een welbekende TV bedienaar gehoor het. Hy het gesê, “Moenie te gepla raak oor jou sonde nie. Die Bybel sê in elk geval nie veel oor sonde nie.” En hierdie Christen leermeester is elke week op televisie!
As Jesus sê, “Ek is die weg” en “Ek is die deur,” praat Hy van die kruis. Hy sê, “Jy kan nie gered word nie – jy kan nie die hemel binnegaan nie – tensy jy deur die kruis binnegaan nie!” “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower” (Johannes 10:1).
Die dief en die rower sal vir jou sê, “Bekering is nie nodig nie. Glo net! Goddelike berou is nie belangrik nie. Om jou naaste lief te hê, sal genoeg wees! Moenie bekommerd wees oor jou sonde nie. God het jou lief net soos jy is!”
‘n Onlangse radioberig het gesê dat ‘n kerk in Los Angeles pas twee homoseksuele as pastore aangestel het. Die pastore het gesê, “Almal wat hier inkom, betree ‘n wonderlike gemeenskap van liefde.” Nee – dit is ‘n “liefdestrik”! Die liefdestrik sê, “So lank as jy liefhet, kan jy jou oorgee aan enigiets wat jou behaag – homoseksualiteit, dwelms, alkohol, owerspel. Hê net lief!”
Jesus sê, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Lukas 9:23). “En elkeen wat sy kruis nie dre en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:27).
Dit maak nie saak hoeveel of hoe diep jou teologie jou beveel om lief te hê nie. Jesus sê dat tensy jy jouself verloën en deur die kruis ingaan, kan jy sy volgeling nie wees nie!
Laat my jou wys wat ek bedoel met die konfrontasie van die kruis.
Beskou ‘n man wat moeg is vir sy sondige gewoonte, maar hy val voortdurend dieper in die kloue daarvan vas. Hy het homself ‘n honderd keer belowe om dit nooit weer te doen nie – en vir ‘n rukkie het hy die versoeking onderdruk en ‘n mate van vryheid beleef. Maar ‘n rukkie later het dit teruggekom met ‘n groter drang.
Nou het hierdie man sy sonde verskans, daaroor gelieg, bedrog gepleeg as gevolg daarvan – en dit het groot smart vir hom gebring. Hy geniet dit nie meer nie, maar hy kan nie ophou nie. Hy gaan elke keer net weer terug.
Die man weet hy sal eendag voor die oordeelstroon staan en hy gaan deur die lewe bevrees vir openbaring en skandaal. Sy sonde het hom getap, hom geboei, hom mislei. Dit het hom gebring tot by ‘n moegheid waarin hy skaars kan bestaan. Hy is aan die einde van homself.
In hierdie treurige, afgematte toestand, bring die Heilige Gees vir hom hierdie woord: “Daar is ‘n uitweg vir jou. Daar is ‘n plek van oorwinning, vrede, blydskap, nuwigheid van lewe. Aanvaar Christus se roepstem en hardloop na Hom en vind rus. Gaan na die kruis van Jesus Christus!”
Geliefde, wanneer jy by die kruis kniel, sal jy nie ‘n maklike, sagte woord hoor nie – nie aanvanklik nie. Selfs al is die kruis die enigste deur na die lewe, gaan jy hoor van die dood – die dood vir elke sonde!
By die kruis beleef jy die krisis van jou lewe. En dit is wat kortkom in so baie kerke. Die verkondiging van die kruis bring ‘n krisis van sonde en eie wil teweeg. Dit sal tot jou spreek met liefdevolle, maar ferm woorde oor die gevolge van om voort te gaan in jou sonde: “Verloën jouself, omhels die dood van die kruis. Volg My!”
Laat my met jou praat oor die betekenis van selfverloëning en ware bekering
Bekering beteken meer as om te sê, “Here, ek is verkeerd.” Dit beteken ook om te sê, “Here, U is reg!”
Bekering is om die gevolge van om voort te gaan in sonde te konfronteer. Dit beteken, om vir eens en vir altyd die waarheid oor jou sonde te erken – dat dit nóú moet eindig. Dit is ‘n krisis oomblik van waarheid – ‘n plek van herkenning waar jy erken, “Ek kan nie voortgaan met my sonde terwyl die Heilige Gees in my leef nie. Ek gaan alles verloor. Here, U is reg dat sonde die dood oor my bring. Ek sien dat as ek daarmee voortgaan, sal dit my en my familie vernietig. Ek weet ek is verkeerd. O, God – ek verloën al my verskonings vir my sonde!”
In eenvoudige taal is bekering ‘n konfrontasie met jou sonde. Die stryd word gestry voor jy by die kruis kom. Dit gebeur terwyl die Heilige Gees met jou werk!
Dieselfde is waar van selfverloëning. Kortliks, selfverloëning is ‘n konfrontasie wat sê, “Sonde eindig vandag – nóú, onmiddellik!” In teenstelling met wat talle “vertroostingspredikers” sê, is selfverloëning nie een of ander hartseer wat jy moet verdra, of een of ander ongesteldheid in jou vlees nie. As Paulus sê, “Ek sterf daagliks,” bedoel hy eenvoudig, “Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ek moet erken dat ek nie kan voortgaan met sonde en steeds Christus se guns hê nie. Ek het nie ‘n spesiale vrystelling van God omdat ek goeie werke doen en daarom word ek toegelaat om aan ‘n troetelsonde vas te hou nie. Nee! Ek stem saam met die woord van God. En ek verloën al my regte om voort te gaan in sonde!”
Die heerlike waarheid van die evangelie is dat as ons saam met Jesus sterf, dan sal ons ook kom in die heerlikheid van sy opstanding en in die nuwigheid van die lewe. Sy kruis is ons kruis, sy dood is ons dood, en sy opstanding is ons opstanding, deur ons identifisering en gemeenskap met Hom. Dit is die ware kruis wat ons dra.
Hierdie kruis is die egter die kruis waarmee talle sogenaamde bedienaars van die evangelie weggedoen het. Die ware kruis gaan nie oor die lieflike woorde wat ons Verlosser se lyding en bloed op Gólgota beskryf nie. Nee – die ware betekenis van die kruis is dat Jesus gebloei en gesterf het om ons sondesiek siele na heerlike vryheid te bring – om elke boei van die sonde wat ons verslaaf te verbreek!
Ek sou nie wou preek vir ‘n massa mense, wat nog nooit met hulle sonde gekonfronteer was en wat probeer om die koninkryk binne te kom op enige ander manier nie. Dit is egter die toestand van menigtes van sogenaamde Christene vandag. Sonde word nooit aan hulle verkondig as uitermate sondig nie. Dit is bloot ‘n woord met geen krag of oortuiging daaragter nie.
Jesus self is die woord van God. En wanneer iemand hom bekeer, stem hy saam met Jesus se woorde oor sonde. So, as die Bybel sê, “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spreuke 28:13) stem die ware bekeerde hart saam met daardie woord: “Dit is waar Here. As ek probeer om my sonde weg te steek of daaraan vas te hou, sal dit my alles kos.” Net so, as God se woord sê, “Die loon van die sonde is die dood,” stem die bekeerde hart saam: “Here, as ek in my sonde voortgaan, sal dit my vernietig!”
Laat my hier terugkeer na die sondesiek man wat ek vroeër beskryf het. Hierdie man val nou gebroke en verwond neer aan die voet van die kruis. Hy haat sy sonde, stem saam met die woord dat hy nie ‘n dag langer daarmee kan voortgaan nie. Maar hy voel magteloos. En hy vrees dat hy op enige oomblik sal terugval in sy gewoonte.
Jesus, ons sondedraer, kniel egter langs hom en vra hom om te kyk na die leë kruis. Jesus sê vir hom, “Vriend, jy het met my woord saamgestem oor die noodsaaklikheid om jou sonde te bely en te laat staan. Nou moet jy saamstem met my woord oor my kruis wat jou kruis is. Ja, dit beteken my dood is jou dood. Maar dit beteken ook my opstanding word jou opstanding. My oorwinning oor sonde se heerskappy word jou oorwinning oor sonde!”
Soos hierdie man, staan ons ook by die kruis – sondesiek, moeg van ons las. Ons is met ons sonde gekonfronteer en ons weet ons kan nie voortgaan om onsself daaraan oor te gee nie. En nou lees ons in Romeinde 6, oor om “in Jesus se dood gedoop” te wees en dat ons “met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood.” Ons lees ook Paulus se woorde in Galásiërs: “Ek is met Christus gekruisig...” (Galásiërs 20:20). “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Galásiërs 5:24).
Ons roep uit, “Dit is wat ek wil hê! Ek wil sterf vir sonde – om al my vleeslike begeertes te kruisig. Maar, Here, hoe kan ek dit doen? Hoe kan ek Jesus se oorwinning in my lewe kry? Wat sal my verlos van hierdie mallemeule van sondig en bely, sondig en bely?”
As jy soos ek is, is jou eerste impuls waarskynlik om vas te byt en jouself te probeer verlos. Toe Ek ‘n jong bedienaar in Pennsylvanië was, het ek die lewensverhale gelees van goddelike mense wat baie eenvoudige lewenstyle geleef het – en dit het vir my soos die antwoord geklink. Op daardie tydstip, het ek ‘n bedienaar geken wat waarlik ‘n held vir my was, ‘n man wat met groot gesag gepraat het. Hy het ‘n lewe van totale eenvoud geleef en in ‘n klein kamertjie gewoon en slegs een pak klere besit.
Dit is wat ek gedink het selfverloëning beteken. Ek het gedink, “Here, dit is wat ek wil hê. Ek kan vir U ‘n kragtige werktuig wees as ek my kaste leegmaak en alles weggegee, behalwe een of twee stelle klere. Ek kan my kar verkoop en ‘n goedkoop een kry. Ek kan ‘n ou, onaantreklike huis koop. Ek kan biefstuk prysgee en hamburger in plaas daarvan eet. Ek kan ‘n groot voorbeeld stel deur geen begeerte te hê vir enige materiële ding op aarde nie!”
Wat ek eintlik gesê het, “As ek net genoeg kon ly – as ek net my vlees kon onderkry en ‘n askeet wees – sou ek die Here kon dien met ware krag.
Maar kort daarna het my held begin om valse leerstellinge te verkondig – en hy het baie lewens daardeur vernietig. Dit is toe dat die Here vir my gesê het, “Dit is nie waaroor oorwinning gaan nie, David. Die oorwinning is nie joune nie – dit is Myne!”
Geliefde, dit is op hierdie punt dat Jesus na ons toe kom en sê, “Neem nou my hand en volg My – tot in my dood, my begrafnis en my opstanding. Kyk na die kruis. Omhels dit. En hou aan my oorwinning vas! Dit is waar jou kruisiging van die vlees plaasvind. Jy is reeds aan my kruis gekruisig, deur geloof!”
Ja, om in Christus te sterf, is ‘n daad van geloof. Ons moet onsself beskou as dood vir sonde en lewend vir God deur ons Here Jesus Christus. Toe Paulus gesê het hy wil Christus ken in die krag van sy opstanding en in die gemeenskap van sy lyding, praat hy van Christus se opstanding en lyding – nie sy eie of iemand anders s’n nie!
By die kruis, het Jesus die beherende krag van sonde verbreek!
Hoe kry ons Jesus se oorwinning en krag in ons eie lewens? Hoe eien ons hierdie opstanding en nuwigheid van lewe toe?
Eerstens, laat my toe om jou te vra: Hoe weet jy jy is gered? Dit is deur geloof alleen, natuurlik. Die woord verklaar dat ons onsself lewend vir God moet beskou. Die kennis van ons verlossing kom alleen deur ons geloof in God se woord.
Net so moet ons die kruis opneem, dit omhels en oorwinning kry deur geloof in die oorwinnende krag van Jesus se gestorte bloed. Ons moet erken, “God, ek het geen krag nie. Ek verloën my vermoë om myself te verlos. Ek verloën dat ek myself kan kruisig of enige krag oor sonde kan hê. Ek gee al my eie pogings om te sterf aan sonde prys!”
Deur geloof, is ons “in Christus” – en nou kan ons die voordele geniet van alles wat Hy bewerkstellig het. Jy sien, van die presiese oomblik wat ons weergebore was, was ons in Christus – en dit beteken ons het ingetree in alles wat met Christus gebeur het, insluitende al sy oorwinnings, sowel as sy kruisiging. So, as ons saamstem met God se woord dat ons sonde uitermate boos is, moet ons ook saamstem met die goeie dinge wat die kruis bied. Dit is ons s’n – omdat Jesus dit vir ons bewerkstellig het!
Byvoorbeeld, God se woord sê dat wanneer ons die kruis omhels, word ons saam met Christus gekruisig – en ons word saam met Hom opgewek in die nuwigheid van die lewe. Sonde het nie langer heerskappy oor ons nie. Ons is tot alles in staat deur Christus se krag. Ons is vrygemaak. Ons kan ons liggame onderwerp aan die diens van die Here en ons lede opoffer as instrumente van geregtigheid.
Soms mag jy deur dit alles heen struikel, weens ongeloof. Maar jy kan vashou aan die waarheid dat oorwinning uiteindelik joune is – omdat jy uitroep, “Here, ek gaan U vertrou tot die oorwinning kom!”
Ek dank God vir die kruis van Christus – en ek dank God vir die krisis daarvan. Deur ondervinding weet ek dat die grootste “verkondiging van genade” in die wêreld, die verkondiging van die kruis is!
En daarom vra ek jou: Het jy jou krisis van die kruis gehad? Wat van jou huidige sondige toestand? Wat van die een vesting waarvan jy verlang om verlos te word?
Daar is verlossing vir jou vandag. Maar dit sal nie kom totdat jy voor Jesus kniel en jou krisis by die kruis het nie. Slegs by die kruis is daar finaliteit oor sonde. Dit is daar waar jy met sy woord moet saamstem: “Ek kan nie langer voortgaan in my sonde nie, nie vir nog ‘n uur nie. O, God, ek is moeg daarvoor. Ek bring dit nou alles na U toe!”
Geliefde, eendag, omdat jy hierdie boodskap oor die kruis ontvang het, sal ons mekaar op die opstandingsdag sien en juig. Ons sal mekaar omhels en sê, “Dank God vir die kruis! Dank God ons was gekonfronteer met ons sondes en gesê ons sal nie daarmee wegkom nie. Jesus het ons lief genoeg om ons in sy dood, begrafnis en opstanding in te neem en ons in die nuwigheid van die lewe in te bring – tot in ewigheid. Halleluja!”
Laastens dank ek God vir al die ware bedienaars van Christus wat steeds moedig die evangelie van die kruis verkondig. Hulle is die Here se skans teen die afgodery van sonde in hierdie laaste dae!