JESUS IS HERE VAN ALLES

David Wilkerson

Toe Paulus in die hof verskyn het, het hy die verregaande beskuldigings teen hom aangehoor: “Hierdie man is ‘n politieke yweraar. Hy is ‘n moeilikheidmaker, wat die hele Joodse bevolking wêreldwyd verontrus. En Hy is ‘n leier van die Nasareense sekte en hy hits groot skares teen Rome aan. Hy is skuldig aan oproer!”

Dit was alles ‘n lokval wat deur Paulus se teëstanders gestel was, maar Paulus het egter selfs ‘n groter lokval bespeur: Satan self het probeer om Paulus te laat afwyk van sy sentrale boodskap van Jesus.

As ‘n geoefende debateur, kon Paulus maklik met sy teëstanders begin redeneer het. Maar hy het geweier om verstrengel te raak in hulle politieke stryd. Hy het daardie keuse gemaak ter wille van die evangelie wat hy verkondig het.

Uiteindelik was Paulus voor koning Agríppa gebring om homself te verdedig. Maar in die koninklike hof het Paulus gekies om liewer Christus te verkondig. Ten spyte van groot gevaar, het hy het moedig vir koning Agríppa sy dramatiese storie vertel: “Koning, ek het die Here se stem gehoor! Hy het my van my perd afgeslaan en sy Naam vir my genoem. Hy het gesê Hy was Jesus” (sien Handelinge 26:13-14).

Die koning was aangeraak deur Paulus se boodskap. En hy het geweier om uitspraak teen hom te lewer, en in plaas daarvan, het hy beveel dat Paulus na Rome toe gestuur moes word om voor die Keiser se regterstoel te verskyn. Tydens daardie nag voor Paulus se verskuiwing, het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê, “Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook doen” (Handelinge 23:11).

Dit was al die aanmoediging wat Paulus nodig gehad het. Toe hy voor die vernaamste politieke leier van die tyd verskyn het, sou Paulus steeds by sy boodskap bly: “Jesus is Heer van almal!”

Dit is hoe ons ‘n getuienis van hoop word in ‘n wêreld sonder hoop. Wanneer iemand vir ons vra, kan ons met vrymoedigheid en geloof antwoord, “Jesus is my hoop en vrede. Ek het hierdie wêreld nie nodig nie, ek het net Hom nodig.”