Jesus Kan Dit Steeds Doen
Staar jy ‘n krisis in die gesig wat jou tot jou knieë gedryf het? Miskien het jy fisieke genesing nodig. Miskien is jy in finansiële moeilikheid. Jou huwelik mag op die rotse wees. Het jou beproewing so lank geduur dat jou gees in neerslagtigheid ingesink het?
Talle Christene kom te staan teen situasies buite hulle beheer en nou lyk alles hopeloos. Hulle het al hulle bronne en emosies uitgeput in ‘n poging om die krisis te oorkom, maar dit was verniet. Hulle het vorentoe gebeur terwyl hulle geglo het dat God hulle behoefte tegemoet sal kom, maar hulle situasie het van kwaad tot erger gegaan. Hoe meer hulle gebid het, hoe verder blyk God te wees. Nou dink hulle dat Hy nie meer omgee nie.
As dit jou beskryf, wil ek jou bemoedig: Moenie opgee nie — Jesus is naby jou. Hy wil nie net jou behoefte tegemoet kom nie, maar jou ook ‘n deurbraak in geloof gee. Dit maak nie saak hoe desperaat jou omstandighede is nie, Hy wil jou gees met sy waarheid besiel: “Jesus kan dit steeds doen.”
‘n Toneel in Markus se evangelie spreek vier tipes vure wat ons geloof kan konfronteer aan. Die eerste is wanneer ‘n skielike onheil ons oorval. Die tweede is wanneer ons beproewing vir ‘n lank tyd duur met geen einde in sig nie. Die derde is wanneer ons omstandighede aanhoudend erger word. En vierde is wanneer ons heeltemal ophou glo.
1. Jesus kan dit doen.
Jaïrus was ‘n toegewyde God-vreser in ‘n skielike krisis. “En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal leef” (Markus 5:22-23).
Ons kan onsself indink in Jaïrus se desperaatheid. Sy jong dogter was tot die dood toe siek. Toe hy hoor dat Jesus, die geneesheer, naby was, het hy besluit, “Ek sal my geloof in Hom plaas.” Hy het na die Messias toe gehardloop, op sy aangesig geval en om ‘n wonderwerk gesmeek: “Here, as U dit nie doen nie, het ek geen hoop nie. Dokters kan my nie help nie. U moet my wonderwerk laat gebeur.”
Let op die presiese woorde wat Jaïrus in die vers hierbo gebruik het: “...en sy sal leef” (Markus 5:23). Die woord “sal” dui op Jaïrus se geloof in Christus se bekwaamheid. Hy het die Here vir die onmoontlike geglo, terwyl hy verklaar het, “Jesus, U kan.” Hy het geweet dat as Christus net sy dogter sou aanraak, sy genees sou word.
2. Jesus wil dit doen.
Wat volgende gebeur, openbaar nog ‘n vlak van geloof. “En Hy het saam met hom gegaan. En ‘n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring. En ‘n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het” (Markus 5:24-26).
Dink aan hierdie vrou se desperate toestand. Met tyd het haar bloeiende toestand net erger geword. Toe sy egter hoor dat Jesus daar verbygaan, “Want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word” (Markus 5:28).
Diep in haar hart was ‘n mosterdsaad van geloof weggesteek — die tipe wat groei tot ‘n groot, vrugbare plant. Hierdie vrou se geloof was so sterk dat sy nie nodig gehad het dat Jesus na haar toe kom nie; al wat sy nodig gehad het, was om na Hom toe uit te reik en Hom aan te raak. Let op die laaste woorde wat sy gedink het: “...ek sal gesond word” (Markus 5:28). Sy het nie net gedink, “Jesus kan dit doen as Hy wil nie.” Sy was oortuig, “Dit gaan gebeur omdat Hy God is.” Dit was ‘n rots-vaste, konkrete geloof — die tipe wat God vir wonderwerke glo, gebaseer op sy goedheid.
Hierdie vrou se toestand weerspieël die toestand van baie Christene vandag. Vir sommige sukkelende paartjies, is dit nie genoeg om te glo, “Hierdie huwelik kan steeds werk” nie. Hulle het ‘n geloof nodig wat sê, “Ten spyte van alles, sal God dit maak werk.” Dieselfde is waar vir baie in gesondheidskrisisse. Dit is nie genoeg vir hulle om te sê, “God kan my verlos nie,” maar, “God sal my verlos.”
Dink jouself in wat hierdie vrou se toestand aan haar lewe gedoen het. Oor twaalf jaar het sy van swak tot verswak tot kragteloos gegaan. Miskien beskryf dit jou lewe. Probleme het vermenigvuldig, rekeninge het opgestapel en jou bekommernisse het toegeneem. Jy het ander mense se gebede beantwoord gesien, maar joune val op dowe ore. Nou is jou hart se uitroep, “Hoe lank, Here? Waarom moet ek aanhou hoop dat U my sal hoor?”
Ek hou van die bloeiende vrou se geloof. Sy het geen rede gehad om vir enigiets te glo nie, want tot sover het niks vir haar gewerk nie. Sy het egter in geloof na Jesus toe uitgereik met geloof, “Ek gaan of hiervan sterwe, of my genesing gaan kom vandag.” Haar geloof was nie net “Jesus kan” nie, maar “Jesus wil.”
Ek het hierdie tipe geloof raakgeloop op ‘n reis na Brasilië. Ek het vir ‘n lokale pastoor gevra om my op ‘n toer deur ‘n arm gemeenskap te neem om te sien hoe World Challenge kan help met sommige van die behoeftes. Brasilië se favela’s is die ekwivalent van Amerika se mees desperate voorstedelike ghetto’s, net erger — baie erger. Daar is geen elektrisiteit of lopende water nie. Die strate dien as riole en dit vloei van menslike afval. Hawelose weeskinders swerf rond op soek na kos en skuiling. Die favela’s het geen regerende liggame of polisie nie en in plaas daarvan, word dit deur die dwelmbase beheer.
Die pastoor wat my na die favela geneem het, was ‘n vorige dwelmverslaafde. Hy wou hê dat ek die getroue ou dame wat hom na Christus gelei het, moet ontmoet. Sy was oor die honderd jaar oud en het steeds in ‘n nederige skuiling gelewe. Jare tevore het sy die jong man geëvangeliseer en hom dag na dag vertel, “Daar is hoop vir jou. Jesus sal jou lewe verander.”
Toe die pastoor my aan haar voorgestel het, het hierdie heilige vrou begin bid: “Here, U het hierdie man na my gebring. Ek het tot U gebid vandat ek agtien jaar oud was en ingetree vir hierdie gemeenskap, waar bendes en dwelmbase aanhou om te moor. Maar nou kan ek huistoe gaan omdat U hierdie man gestuur het om vir ons gemeenskap te sorg.”
Terwyl sy my hande gegryp het, het sy gebid vir wat ons bediening sou doen — ‘n skool begin, ‘n weeshuis, ‘n mediese kliniek en ‘n voedselskema — alles wat ons in staat gestel was om te doen. Dit het gebeur omdat sy in geloof gebid het. “Here, U sal” — en die krag van haar geloof het my eie aan die brand gesteek. Ek het God begin vertrou om al hierdie dinge deur ons bediening te laat gebeur.
Moenie verkeerd verstaan nie: Hierdie vrou se geloof was nie die noem-en-neem-dit tipe nie. Haar gebed was nie gebaseer op een of ander wens of na willekeur nie, maar op ‘n begeerte wat in haar hart gesaai is deur die Heilige Gees. Dit was in ooreenstemming met God se eie begeerte om sy koninkryk op aarde te laat kom.
Ek glo dat die bloeiende vrou in Markus se evangelie dieselfde geloof gehad het. Sy het Jesus se kleed aangeraak, “En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was. En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak?” (Markus 5:29-30).
Let op dat Jesus nie die genesing geïnisieer het nie. Die vrou se geloof het dit gedoen. Jesus het self gesê, “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees” (Markus 5:34). Haar geloof was gebaseer op God se goedheid. Sy het verklaar, “Here, selfs as U my behoefte vergeet het, het ek nie U getrouheid vergeet nie.” Haar storie is bedoel om ons te leer dat ons dieselfde tipe geloof kan hê — die tipe geloof wat sê, “Here, U sal.”
3. Die derde tipe geloof wat in hierdie gedeelte aangespreek word, is die moeilikste om te hê.
“Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood, Waarom van u die Meester nog lastig?” (Markus 5:35).
Hierdie nuus moes in Jaïrus se hart soos ‘n mes gesny het. Hy het gehoor dat Hy aan die bloeiende vrou gesê het dat haar lyding verby was. Nou word Jaïrus vertel dat sy lyding nou eers begin het. Ek sien hierdie goddelike man dink, “My geloof was nie sterk genoeg soos daardie vrou s’n nie. Dit is my gebrek aan geloof wat my dogter laat sterwe het.”
Hierdie gedeelte bevat ‘n belangrike boodskap vir almal wie se situasie heeltemal in duie gestort het. Miskien het jou genesing nie gebeur nie of jou huwelik is beïndig. Miskien het jy ‘n geliefde verloor wat nooit by Jesus uitgekom het nie. Ons verstaan nie waarom God sommige tragedies toelaat nie.
Ons mag reageer deur God te bevraagteken of te blameer. Ek kan my indink dat Jaïrus wonder, “As Jesus nie gestop het en met daardie vrou gepraat het nie, kon ons dalk betyds by my huis aangekom het.” Hoeveel kere het jy al te midde van jou beproewing gewonder, “As...”?
In sulke tye, is sommige Christene in die versoeking om op te gee om te glo dat God enige van hulle gebede sal antwoord. Dink aan Jaïrus: Waarom sou hy op daardie tydstip geloof gehad het? Iemand het nou-net vir hom gesê, “U dogter is dood, Waarom van u die Meester nog lastig?” (Markus 5:35).
Die tipe geloof wat Jesus in hierdie toneel wil hê, is die moeilikste om te hê. Elke omstandigheid vertel ons dat dit te laat is vir God om in te gryp. Daarom kan ons maar net sowel ophou met bid.
Jesus soek egter na ‘n baie spesifieke geloof in hierdie omstandighede. Dit is ‘n geloof wat sê, “Ja, my situasie is hopeloos. Maar Jesus kan dit steeds doen.” Dit is die tipe geloof wat van Abraham verwag is. Sy seun Isak was al as dood gereken toe Abraham die mes opgelig het om hom in gehoorsaamheid aan God, dood te maak. Net wanneer die beloftes van God egter blyk om onwaar te wees, dan gryp die Almagtig in.
Dit was presies die manier waarop Jesus vir Jaïrus ingegryp het. Hy het aan hom gesê, “Moenie, vrees nie. Glo net” (Markus 5:36). Ek glo nie dat Christus hier van Jaïrus geloof vereis het nie, maar Hy het geloof in hom ingespreek. Net soos Jesus by die Skepping gesê het, “Laat daar lig wees,” so het Hy vir Jaïrus hier gesê, “Laat daar geloof wees.”
Vriend, as Jesus vandag hoorbaar met jou gepraat het, glo ek dat Hy dieselfde aan jou sou gesê het in jou situasie: “Glo net.” Hy blaas sy lewende woord in jou hart in en skep geloof in jou. Hy weet jy is aan die einde van jouself en ver verby jou eie krag en vermoëns. En nou profeteer Hy oor jou en sê, “Glo net vir jou huwelik, vir jou kinders, vir jou fisieke beproewing, vir jou finansies, vir jou werk in bediening — vir elke area van jou lewe wat erger word, nie beter nie, en selfs nou op die sterfbed lê.”
Ons ken die res van Jaïrus se storie. Jesus het aan die hele huishouding gesê, “Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap” (Markus 5:39). Jou situasie mag lyk of dit ook hopeloos is — maar dit is nie vir Jesus nie. Hy het Jaïrus se dogter uit die dood uit opgewek, en Hy is gereed om jou situasie met dieselfde opstandingskrag te hanteer.
4. Die laaste tipe geloof wat Jesus aanspreek, is wanneer ons, ons geloof laat vaar.
In die volgende hoofstuk, gaan Jesus na ‘n sekere dorp waar hy volstrekte ongeloof teëkom. Ek was altyd verbaas oor die volgende vers: “En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof” (Markus 6:5-6).
Hierdie vers verwar my teologie heeltemal. Hoe kan ‘n soewereine God sy hande afgekap hê deur ‘n menslike wese se ongeloof? Die waarheid is dat Jesus aan hierdie dorp ‘n boodskap oorgedra het, terwyl Hy in der waarheid gesê het, “Jammer ouens. Ander het soveel geloof gehad dat hulle ‘n gat in die dak gemaak het om ‘n siek man na my te laat afsak sodat Ek hom kon gesond maak. Julle glo nie eers dat Ek kan gesond maak nie.”
Die gedeelte eindig met die ongelooflike verklaring: “En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof” (Markus 6:6). Laat dit vir ons ‘n waarskuwing wees. Mag jy as jy hierdie boodskap klaar gelees het, nie gaan met ongeloof in jou hart nie.
Natuurlik is daar tye in ons lewens wanneer God mag kies om teenoorgesteld op te tree as wat ons begeertes is. Ons mag bid en pleit en die Here glo om in te gryp — en dan beweeg Hy eenvoudig in ‘n ander rigting. Maar dit beteken nie dat God wil hê ons moet ons geloof laat vaar nie — nooit vra nie, nooit hoop nie en lewe sonder begeertes.
Glo jy steeds dat Jesus kan? Glo jy dat Hy sal? Dit maak nie saak wat jou beproewing is nie, dit maak nie saak hoe hopeloos dit lyk nie, Hy is gereed om in te gryp. Vra Hom om geloof in jou in te blaas.