JESUS REAGEER OP ‘N EENVOUDIGE AANRAKING

David Wilkerson

Terwyl Jesus saam met Jaïrus, ‘n owerste van die sinagoge in Kapernaum, na sy huis gestap het om sy dogter te genees, het ‘n vrou wat gely het aan kroniese bloeding, hulle tegemoet gegaan. Vir twaalf jaar lank het hierdie vrou sonder ophou gebloei en was besig om ‘n stadige dood te sterf. Lukas, ‘n geneesheer, het geskryf dat sy “haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie” (Lukas 8:43).

Die Joodse wet het so ‘n vrou “seremonieel onrein” verklaar. Hierdie vrou het baie dokters gespreek en almal het haar geld gevat en beloftes aan haar gemaak om haar te genees, maar ná elke afspraak, het sy moedeloos huistoe gegaan en haar siekte het erger geword. Op een stadium moes hierdie vrou gedink het, “Dit help nie. My toestand is hopeloos. Ek gaan aanhou ly totdat ek stadig doodgaan.”

Dit is jammer dat menigtes Christene presies dieselfde doen as wat hierdie vrou gedoen het. Hulle hardloop na enige plek wat ‘n antwoord bied en lewe onder ‘n wolk van vrees weens hulle “onreinheid.” Miskien beskryf dit jou. Jy lewe al so lank met ‘n boesemsonde dat jy dink, “Wat van my verskriklike geskiedenis van sonde? As Jesus volkome genees, dan is daar sekerlik iets verkeerd met my. Ek hoort nie in die kerk nie. Dit is ‘n heilige plek en ek is nie rein nie.”

In Markus 5 sien ons hierdie lydende vrou een laaste keer uitreik vol vasberadenheid en hoop. Maar hierdie keer, het sy in plaas daarvan om ‘n geneesheer te spreek wat haar nie kon genees nie, die soom van Jesus se kleed aangeraak. Toe sy Hom aangeraak het, het die Here en Skepper van hemel en aarde vir ‘n oomblik geaarsel en haar oombliklik genees! Hy wou daardie oomblik gebruik om haar skande in die openbaar te weg neem en vir haar te wys dat geloof haar genees het. Jesus wou hierdie vrou verlos van haar gevoel van onreinheid.

Druk deur met geloof en raak Jesus self aan, net soos hierdie vrou. Hy wil jou genees. As jy swaar belas is met ‘n bedroefde hart, werp jou las op Jesus. Gee dan alles in Sy hande oor. Moenie vrees nie, glo net!