Jesus Verander Jou
Dit was die Paasfees seisoen en Christus het in die tempel gepreek. ‘n Groot skare het bymekaargekom omdat Jesus ‘n reputasie gehad het om diepgaande woorde van liefde te spreek en om magtige werke van God te doen. Net so gou as wat die skare gewone mense vergader het, het die godsdienstige leiers ook opgedaag.
“En die skrifgeleerdes en Fariseërs het ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring” (Johannes 8:3). Hierdie leiers het Jesus as ‘n bedreiging vir hulle gesag gesien. Hy het ‘n nuwe verskynsel verteenwoordig wat hulle rigiede, selfregverdigende praktyke bloot gelê het. “En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig” (Johannes 8:6). Hulle het aan Hom gevra of die vrou gestenig moes word volgens hulle wet.
Die toneel het dramaties ontvou: “Maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskryf. Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskryf. En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen in gestaan het. En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Johannes 8:6-11).
Wat ‘n magtige oomblik. Nie net het Jesus die spanningsbelaaide situasie ontlaai nie, maar hy het letterlik iemand se lewe gered. Almal op die toneel was verander deur wat gebeur het — nie net die beskuldigde, nie, maar ook die aanklaers en selfs die toeskouers.
Jesus het die oomblik gebruik om een van sy beroemdste leerstellinge te gee: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). God se lig in daardie oomblik, het alles verander.
Jesus het meer as net ‘n dodelike situasie verander; hy het elke teenwoordige hart verander.
Die eerste groep wat in hierdie toneel verander het, was die toeskouers. Hierdie skare het bestaan uit die gemeenskapsleiers van Israel wat vir die Paasfees na die tempel in Jerusalem gereis het. Watter rol het hulle in die toneel gespeel? Te oordeel aan hulle passiwiteit, het hulle toeskouers gebly. Hulle het nie die vrou soos die godsdienstige leiers veroordeel nie, maar hulle het ook nie namens haar ingetree nie. Hulle was tevrede om op die draad te sit terwyl ‘n baie belangrike saak op die spel was — ‘n persoon se lewe! Ek sou hierdie skare identifiseer as “die gemaklike middel.”
As die familie van God kom ons in die kerk bymekaar om te aanbid, te sing, te luister en te gee. Maar as ons nie versigtig is nie, kan ons bloot net toeskouers word wanneer dit kom by om te lewe soos Jesus wil. Dikwels sien ons mense in sonde en in plaas daarvan om hulle uit te help, koester ons ‘n geheime hoop dat hulle uitgevang moet word. En wanneer hulle uitgevang word, voel ons geregverdig en dink, “Ek het dit geweet. Daardie persoon se lewe het ‘n bietjie vreemd voorgekom.”
Hoekom doen ons dit? Dit kan wees omdat ons skuldig voel oor ons eie sonde. Ons het ook iets in ons lewens waarna ander ‘n klip kan gooi. In der waarheid kon daardie Fariseërs in die toneel enigiemand uit die skare uitgesleep het en gestenig het. Deesdae doen mense dieselfde ding op die sosiale media. Ek ken ‘n hardwerkende jong pastoor wat ‘n vakansie geneem het en op Instagram ‘n foto van homself geplaas het, waar hy op die strand ontspan. Dadelik het sy plasing ‘n vloed van haatlike kommentare laat instroom soos, “Dit is aaklig wanneer pastore hulle gemeentes se geld neem en op ‘n luukse lewe spandeer.”
Jesus se weg was anders. “En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Johannes 8:10-11).
As prediker van die evangelie, hou ek baie van hierdie woorde: “Ek veroordeel jou ook nie.” Jesus het haar nie veroordeel nie en dit was ‘n radikale ding vir Hom om te doen. Dit is steeds vandag wanneer Hy enigeen van ons wat ons bekeer, vertel, “Ek veroordeel jou ook nie.” Tog het Jesus selfs meer radikaal geword toe Hy die godsdienstige leiers vertel het, “Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel” (Johannes 8:26). Sjoe! Dit klink soos ‘n belediging, maar in werklikheid het hulle ‘n hele klomp vuil wasgoed gehad waaroor Jesus hulle kon veroordeel. Vandag het Hy ‘n soortgelyke lys oor ons lewens. Maar in plaas van te veroordeel, sê Hy, “Ek veroordeel jou ook nie.”
Wat ‘n wonderlike oomblik. Dit openbaar die kragtige liefde agter God se genade — “dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8).
In die skare se oë was dit ‘n wonderwerk. Niemand het ooit daaraan gedink nie en dit het hulle dadelik verander. Hulle het begin sien waaroor Jesus se bediening gegaan het — oorweldigende genade — en dit het die manier waarop hulle God sien, verander. Dit het ook die manier waarop hulle hulle eie sonde gesien het — as genadiglik vergewe deur ‘n liefdevolle, genadige God!
esus het daardie wonderlike oomblik gebruik om oor die kruis te onderrig: “En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is. Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo” (Johannes 8:28-30, kursief myne). Skielik het Jesus ‘n hele weermag gereed gehad om Hom te volg — soldate van die kruis se genade!
Dit is die aansteeklike liefde wat bevat word in die evangelie wat ons verkondig. Dit verander ‘n selfvoldane gemeente van toeskouers tot aktiviste. Mense oral oor is moeg vir dooie godsdiens. En wanneer hulle Christus se radikale genade in aksie sien, dan sê hulle, “Ek is heeltemal in! Ek wil deel wees van ‘n beweging soos hierdie. Nie net sal ek myself ten volle daarvoor gee nie, maar ek sal elkeen wat ek ontmoet ook uitnooi. Waar moet ek inskakel?”
Die tweede groep wat in hierdie toneel verander is, was die beskuldigde.
Jesus het die beskuldigde verander na iemand wat aanvaar was. In plaas daarvan om die owerspelige vrou, wie se lewe op die spel was, te verwerp, het Hy haar aanvaar. En Hy doen dieselfde vir ons vandag. Hy neem elkeen wat tot by die uiterste van hulle eie sonde gedryf is en vertel vir hulle, “Jy is myne. Jy is reg in die middel van die Vader se liefde.”
Hierdie gebaar deur Jesus was vir die owerspelige vrou deurslaggewend. Waarom? Sy moes steeds in haar gemeenskap lewe met die realiteit van wat sy gedoen het. Jy sien, wanneer daar nie langer enige veroordeling vir hulle wat in Christus Jesus is nie, is daar steeds gevolge van sonde in die werklike lewe. Vra enige verslaafde wat deur ‘n rehabilitasie program was. Daar is gebroke bande wat met familielede, vriende, kinders en medewerkers herstel moet word. In die geval van owerspel, kan daar ongewenste swangerskappe, gebroke liefde met ‘n gade, stremmende verhoudings met kinders en verbreking van vertroue in ‘n gemeenskap wees — kwessies wat jare kan neem om te herstel.
Dit is waarom daar ware genade in Jesus se twee afsonderlike verklarings oor die owerspelige vrou is: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Ek sal nie ‘n getroue dienaar van God wees as ek nie sê dat hoewel Jesus jou lief het, jou aanvaar en vergewe het, is daar nog die werklike gevolge van sonde. As ‘n pastoor sien ek dit die heeltyd. Dit is waarom God grootliks besorgd is oor ons sonde, meer as net oor morele redes van wetteloosheid. Paulus sê, “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korinthiërs 6:18). Dit is genoeg rede om alle sonde na Jesus toe te bring. Slegs sy magtige, reddende genade kan ten volle genees en herstel.
Daar is ‘n derde groep wat deur God se genade verander word: die aanklaers. Die Fariseërs se hartelose, beskuldigende plan het teruggeslaan op hulleself. Uiteindelik was die sondige vrou nie veroordeel nie, maar in plaas daarvan, was sy gered en genees. En wanneer daardie soort radikale genade te voorskyn kom, word die bose geforseer om in skaamte huistoe te gaan. “Het hulle...een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het” (Johannes 8:9).
Watter van hierdie veranderings beskryf jou geloofsgemeenskap?
Is jou kerk van dié soort wat passief staan en kyk hoe sondaars self-vernietigende lewens leef? Of miskien is dit die soort wat sondaars uitwys om hulle slegte optrede te openbaar. Hopelik is dit die soort wat red en mense van hulle sonde verlos.
Regdeur sy bediening, het die mense wat Jesus ontmoet het twee soorte vrae aan Hom gevra en hierdie vrae het alles wat in hulle harte was, geopenbaar. Die eerste soort vraag was beskuldigend. Keer op keer het godsdienstige leiers vir Christus gevra, “Waarom eet en drink jy saam met sondaars? Hoe kon jy deur God gestuur wees met ‘n reputasie soos dit?”
Die tweede soort vraag het van die mense gekom wat probleme in die lewe gehad het: “Sal jy my siek dogter genees?” “Sal jy my seun verlos wat deur duiwels in die vuur gegooi word?” “Sal jy my lewenslange bloedvloeiing genees?” “Jesus, sal jy my help?”
Sien jy die verskil tussen die twee soorte vrae? Beide soek ‘n antwoord oor die natuur van God. Die eerste vra, “Verdien sondaars God se liefde?” terwyl die tweede vra, “Wil God my help?”
Jesus het beide vrae met sy dade beantwoord. Eerstens het hy die uitgeworpenes verander en hulle van die buitenste grense van die gemeenskap gebring tot in die middelpunt van God se liefde. Hy het vir hulle vertel, “Julle is nou die fokuspunt. Julle is by die hart van my Vader se koninkryk.” Tweedens het Christus geopenbaar dat die aanklaers nie by die middelpunt van God se koninkryk is nie. Hy het baie duidelik aan hulle gesê, “Julle het geen sê in my Vader se koninkryk nie.”
Wil jy ‘n betekenisvolle, waardevolle rol in God se koninkryk speel? Wees dan gewillig om jou klippe neer te lê en die kruis van sy genade op te neem. Elke keer wat jy soos Jesus optree, verleng jy genade aan hulle wat deur sonde ingeperk word en jy neem deel aan ‘n groot verandering. Jy sal verander word deur jou optrede, die beskuldigdes sal verander word en hulle wat aankla, sal verander word. In die tussentyd, sal passiewe gelowiges aangeraak word deur die openbaring van God se genade.
Mag ons almal deel word van hierdie weermag van genade — om almal na die koninkryk van God te trek: die verslaafdes en dié met skoon lewens, die treurendes en die sorgvryes, die stukkendes en die geseëndes, die armes en die rykes, die eensames en die lewenslustiges, die pronkeriges en die naïewes, die getattoëerdes en die konvensioneles. Laat elke siel geliefd wees en behoort. En mag ons almal verander word deur die genade van ons Verlosser.