JOU GOEIE DADE SAL JOU NIE RED NIE

David Wilkerson

Jesus is opgewek as ons geregtigheid – ons enigste manier om God te behaag.

Die Vader het van Jesus gesê, “Dit is my geliefde Seun in Wie Ek ‘n welbehae het” (Matthéüs 3:17). Die apostel Paulus herinner ons keer op keer hieraan in al sy sendbriewe en onderrig dat Jesus Christus alleen ons geregtigheid in God se oë is.

“Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie, want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Romeine 3:21-24).

Die apostel sê in wese, “My eie geregtigheid is uit die wet. Maar die geregtigheid wat van Christus kom, kom op die basis van geloof.”

Ons kan aan die armes en behoeftiges gee; ons kan goeie dinge doen, ons kan goeie en eerbare gedagtes dink. En ons kan onsself oortuig dat hierdie goeie werke ons sal help op die Oordeelsdag. Dis nie so nie! Selfs as ons jarelank geleef het sonder om God se Woord in gedagte en in daad te oortree, sal dit vir ons geen voordeel inhou nie. “Nie op grond van die werke van die geregtigheid...nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered” (Titus 3:5).

Ek sê dit nie ligtelik nie. Dit is verpletterend vir enige mens om te hoor, “Jou goeie dade sal jou nie red nie.” Trouens, ons kan niemand hiervan oortuig nie. So ‘n  oortuiging het ‘n wonderwerk van God se genade nodig; dit is ‘n daad wat deur die Heilige Gees gedoen moet word.