JOU VYANDE LAAT VLUG
Sonde veroorsaak dat Christene lafaards word en in nederlaag leef. Sommiges het eens op ‘n tyd geweet hoe dit was om in oorwinning te leef en die krag, moed en seën te beleef wat kom deur gehoorsaamheid aan die Here. Maar ‘n boesemsonde het hulle beroof van hulle geestelike lewenskrag en die vyand val aan met een stryd na ‘n ander.
Dit is moontlik om ‘n sonde te oorwin wat ‘n gewoonte geword het. Paulus het ‘n stryd gestry tussen die vlees en die Gees en het bely, “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Romeine 7:19). Die vrees van God teen sonde is die basis van alle vryheid. God kan nie sonde goedpraat nie en Hy kan nie ‘n uitsondering maak nie.
Hoewel God sonde haat met ‘n volkome haat, het Hy elkeen van ons lief met ‘n oneindige deernis. Sy liefde sal nooit met sonde ‘n kompromie maak nie, maar Hy hou sy kind wat sonde doen vas met een doel in gedagte – om hom weer op te eis. Die wete dat Hy jou liefhet ten spyte van jou sonde, behoort genoeg te wees om daardie liefde te aanvaar. En God het medelye met jou! Hy ken die lyding van jou stryd en Hy is altyd daar, besig om jou te verseker dat niks jou ooit van sy liefde kan skei nie.
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:37-39).
Oorwinning oor boesemsonde veroorsaak dat alle vyande vlug. Bekommernis, vrees, skuld, angs, depressie, rusteloosheid, eensaamheid – alles is jou vyande. Maar die regverdige is so dapper soos ‘n leeu en hulle skoon gewetes maak hulle ‘n fort wat hierdie vyande nie kan oorrompel nie.
Wil jy oorwinning hê oor al jou vyande? Reken dan vurig af met jou boesemsonde. “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1).