AS JY TOG MAAR!

David Wilkerson

As Christene weet ons dat Jesus die enigste hoop van die wêreld is.

Paulus praat van hierdie hoop wanneer hy skryf: “Daarom onthou... dat julle in die tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, SONDER HOOP en sonder God in die wêreld. Maar nou...het julle...naby gekom deur die bloed van Christus. WANT HY IS ONS VREDE” (Efésiërs 2:11-14, hoofletters myne).

Die verlore geslag vandag is soos die menigte in Jerusalem waaroor Jesus geween het. Die mense in Christus se dae het verloor wat Hy aan hulle wou gee. Hulle het ware vryheid misgeloop. Hulle het die vrede wat van die versekering kom dat alle sondes vergewe is, verloor. Hulle het die genesende aanraking van Jesus misgeloop. Hulle het ‘n skuilplek teen die storm verloor. Hulle het die inwoning, vertroosting en leiding van die Heilige Gees, misgeloop.

Dit was oor hierdie verlore massas wat Jesus gehuil het en uitgeroep het, “As jy tog maar!” As jy tog maar net geweet het wat Ek vir jou lewe wou hê. As jy tog maar net wou neem wat Ek vir jou gebied het. Ek wou jou beskerm, my vlerke oor jou uitsprei en jou troos. As jy tog maar net geluister het. As jy tog maar net geweet het van my liefde en genade vir jou” (Lukas 19:41-42, my parafrase).

Christus het in wese gesê, “As jy tog maar net geweet het watter voorsiening my Hemelse Vader vir jou gemaak het, sou jy die vrede ken wat alle verstand te bowe gaan.” Die Bybel bied dieselfde geroep, “As jy tog maar!” van voor tot agter. Vandag het ons wat glo, hierdie toevlug, Een om na gaan in ons diepste stryd. Ons is verseker dat dieselfde krag, wat prysgegee is deur die wat Hom verwerp het, vrylik geskenk word aan ons wat Jesus se offer deur geloof ontvang het.