Kussingprofete
Eségiël het alleen gestaan teen al die valse profete van Israel. Hierdie profete wou niks te doen gehad het met die boodskap van geregtigheid en naderende oordeel nie. In plaas daarvan, het hulle ‘n era van vrede, gemak en voorspoed verkondig.
Eségiël 13 is die ware woord van Jehova teen predikers en profete wat mense akkommodeer met woorde wat die vlees behaag en wat hulle gesê het van die Here af was. Hulle woorde was ontwerp om God se volk gemaklik te maak ondanks dreigende oordeel.
Trouens, hulle was nie net tevrede om goeie tye wat voorlê te voorspel vanaf hulle groot huise en gemaklike ivoorbeddens nie – hulle wou ook ‘n kussing vir elke elmboog verskaf (Eségiël 13:18). “Wee vir diegene wat kussings vir alle elmboë verskaf” (Oorspronklike Hebreeus deur Spurrell) “...Kyk, Ek het dit teen julle bande [kussings] waarmee julle die siele vang...” (Eségiël 13:20).
Eségiël was gewalg deur die aanskoue van profete wat ‘n kuns daarvan ontwikkel het om God se kinders gemaklik te maak. Die Here het gesê, “Mensekind, hierdie manne het drekgode in hulle harte opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit...omdat hulle almal deur hulle drekgode hul van My afgewend het” (Eségiël 14:1-5).
Die ware boodskap van die Here was, “Die HERE...sê...jy moet jou brood met bewing eet en jou water met siddering en kommer drink. En jy moet aan die mense...sê...[dat] hulle land, van sy volheid beroof, woes sal lê vanweë die geweldpleging...En die stede...sal woes word, en die land sal ‘n wildernis wees...daar sal geen bedrieglike gesig of vleiende waarsêery in die huis van Israel meer wees nie” (Eségiël 12:17-24).
Terwyl Eségiël rondgegaan het en die volk geroep het tot nederigheid en bekering, om God se volk te probeer voorberei vir die naderende oordele, het hierdie kussingprofete rondgegaan en die drome en verbeeldings van hulle eie harte geprofeteer. God het nie met hulle gepraat nie, selfs al het hulle hulle voorspellings begin met, “Hoor die Woord van die Here.” God het gesê, “Ek het hulle nie gestuur nie: hulle praat nie namens My nie.”
Hulle het spoggerige kussings saam met hulle gedra om onder elke elmboog te plaas vir almal wat saamgedrom het om hulle valse profesieë te hoor. Hulle het sakdoeke op die koppe van al hulle dissipels geplaas, ‘n verklaring teenoor ander wat beteken, “Daar is niks anders as goeie tye wat voorlê nie. Ek sien niks anders as vrede en luuksheid wat voorlê nie.” Hulle het onder die armes en siekes geloop, met ‘n sakdoek op die kop, as ‘n teken van hulle vertroue in die boodskap van die profete van selfverlustiging en gemak.
Eségiël het die Woord van God teen hulle uitgebulder, terwyl die massas saamgedrom het om hulle mooi woorde te hoor.
“Naamlik die profete van Israel wat profeteer aangaande Jerusalem en vir hom gesigte van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie, spreek die Here, HERE” (Eségiël 13:16)
“Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie” (Eségiël 13:3).
Die kussingprofete is steeds met ons! Hulle praat oor die Woord van God, oor profesie, en hulle sout hulle gerusstellende boodskappe met baie Skrif. Maar daar is ‘n valsheid in wat hulle verkondig. Hulle verkondig nie die Kruis of heiligheid en afsondering nie. Hulle stel geen eise vir hulle volgelinge nie. Hulle praat selde oor sonde en oordeel. Hulle haat die noem van lyding en pyn. Vir hulle, was die helde van Hebreërrs ongelowige lafhartiges en brandarm verloorders wat bang was om hulle regte op te eis.
Soos die kussingprofete van Israel, was hulle een groot begeerte om luukse lewenstyle te bevorder en mense gerus te stel in hulle strewe na die goeie lewe. Hulle praat nie namens God nie. Al wat hulle doen, is om kussings uit te deel. Een vir elke elmboog van elke volgeling. Geen wonder die skares het saamgedrom om na hulle boodskap te luister nie – dit is pynloos. Daar is nie die oproep van Christus om die self te verloën en die kruis op te neem nie.
Wat is die verskil tussen kussingprofete en Jehova se ware profete? Die prediker of leraar wat nie die verskil ken nie, is op gevaarlike grond. Met so baie wat groot skares trek, is dit noodsaaklik om Heilige Gees onderskeiding te hê. Die verwarde profete moet aan die kaak gestel word deur waarheid. Die meeste van hulle klink na opregte Bybelliefhebbende manne van God. Maar die Here het Sy kinders onfeilbare toetse gegee om te bewys wat waar en wat vals is. Ons moet elke man en elke boodskap toets – met die hele Woord van God.
Laat my onder jou aandag bring drie eienskappe van ‘n ware profeet van God.
1. ’n Ware man van God word verteer met ‘n visioen van die Here Jesus Christus.
Hy word so oorweldig, so oorkom deur daardie heerlike visioen, dat hy oor niks anders kan praat nie. Hy verkondig die hele raad van God – soos dit betrekking het op Christus.
God het die volgende oor die valse profete gesê, “Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie” (Eségiël 13:3).
Maar van Moses, was dit gesê, “Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een van die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:27).
Jesus het van Abraham gesê, “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly” (Johannes 8:56).
Stéfanus het ‘n heerlike visioen van Hom gehad. “En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Handelinge 7:56).
Ananías het vir Paulus gesê, “Die God van ons Vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor” (Handelinge 22:14).
Vir Sy eie dissipels, het Jesus gesê, “Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe” (Johannes 14:17).
Die een ding wat elkeen van hierdie manne van God in gemeen gehad het, was hulle lewensbeherende visioen van Christus die Here. Christus was die grootste en enigste saak in hulle lewe. Hulle sien Hom deur die oë van geloof.
Moses het gewillig die gemak en voorspoed van Egipte verlaat om gebrek in ‘n woestyn te ly omdat hy oorweldig was deur ‘n visioen van Christus. Niks anders het nou saak gemaak nie, nie eens sy droom om ‘n groot verlosser te word nie. Hy het verder gekyk as alle menslike ambisie. Hy was gespeen van alles wat aards was, omdat hy Christus gesien het. Hy kon enigiets verdra, want niks op aarde kon vergelyk met wat sy geestelike oë gesien het nie.
Abraham het totaal los van hierdie wêreld geword en gewillig ‘n vreemdeling geword op aarde, want sy oë was gevestig op ‘n stad waarvan die bouer en maker God was. Maar die beste van alles was, hy het ‘n visioen van Christus op Sy troon in daardie heilige stad gesien. Nooit weer sou hy tevrede wees met tydelike of aardse dinge nie. Sy geloof was gebou op sy voortdurende visie van Christus. Hy het gejuig en was bly, want hy het oë gehad om die onsigbare, ewige Christus te sien!
Die oomblik waarop Paulus Hom gesien het, het alle ander dinge op aarde vir hom drek geword. Die presiese oomblik toe Christus in hom geopenbaar was, was hy vasbeslote om niks anders te ken onder die mense as sy Here nie. Hy het met blydskap swaarkry, skipbreuk, steniging, gebrek en gevangenskap verdra; nie een van hierdie dinge het hom ontstel nie, omdat hy hom verlustig het in sy visie van die Here.
Enige kind van God wat vas is aan hierdie aarde of die dinge van die aarde, het niks gesien nie. As hy ‘n visioen van Christus gehad het, as hy in voortdurende gemeenskap met Christus was, sou hy niks anders kon verkondig nie, en het gesê, “Ek reken dit alles skade – dit is alles drek! Dit is Christus en Hom alleen. Hy is alles; Hy vul alles. Hy is my hele lewe.”
Soos Jesaja, sal die ware man van God wat die Here hoog en verhewe sien, op sy aangesig val en ween oor sy sondes en die sondes van God se kinders. Dan sal hy gereinig word en voortgaan in die krag van sy ontsagwekkende visie om Christus te verkondig.
God het Israel gewaarsku, “Die profete is soos jakkalse...” Met ander woorde, sommige is glad nie gefokus op Christus alleen nie, maar hulle oë is vol gierigheid. Hulle bederf die wingerd, neem die beste vir hulleself. Hulle loop hulle eie pad en voed hulle eie ego’s!
Hierdie selfsugtige profete het daarop aanspraak gemaak dat hulle van God hoor. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle profetiese boodskap direk uit die hemel kom. “Hulle wat daar sê: Die HERE het gespreek – terwyl die HERE hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord!” (Eségiël 13:6).
Die menigtes van God se kinders wat rondhardloop om slegs paaiende boodskappe te hoor, moet weer eerlik kyk na wat hulle hoor en glo.
“Het julle nie ’n bedrieglike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deurdat julle sê: Die HERE spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie?” (Eségiël 13:7).
“Omdat, ja, omdat hulle my volk verlei het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie; en as die volk ’n muur bou, kyk, dan bepleister hulle dit met los kalk” (Eségiël 13:10).
Hulle boodskap was, “God het vir my gesê alles is reg. Geen swaarkry wat voorlê nie. Goeie tye! Geen beproewing of vervolging nie. God se begeerte is dat almal gelukkig, voorspoedig en rustig is...” Jehova noem dit misleiding! Ek dink nie bedienaars neem die tragedie van die verkeerde boodskap verkondig nie ernstig genoeg op nie. Hoe durf ons vrede en eindelose goeie tye verkondig aan ‘n land en ‘n volk op die rand van oordeel!
Israel se sonde was op die punt om te ontplof in ontsaglike vure van goddelike toorn. Eségiël wou nie so ‘n onstellende boodskap verkondig nie, veral nie aan ‘n volk wat vir hulleself kussingprofete bymekaargemaak het en rondgegaan het en vir God se volk vertel het dat alles reg was nie.
Luister na wat God probeer sê het vir sy volk, “Daarom, so sê die Here HERE: Soos die hout van die wingerdstok is onder die hout van die bos, wat Ek aan die vuur oorgegee het om verteer te word, so het Ek die inwoners van Jerusalem oorgegee: Ek sal my aangesig teen hulle rig: uit die vuur het hulle voortgekom, en die vuur sal hulle verteer; en julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek my aangesig teen hulle rig en die land ’n wildernis maak, omdat hulle troubreuk begaan het, spreek die Here HERE” (Eségiël 15:6-8).
Die volk het die ware Woord van God verwerp. Die massas het agter hulle gunsteling leraars aangehardloop om die misleidende boodskap te hoor – “God is nie daardie soort God nie. Hy begeer slegs die beste vir ons almal. Groot vrede en goeie tye lê voor. Moenie luister na die ou profete van oordeel nie. God het vir my gesê, reguit van Sy troonkamer af dat die beste nog voorlê.”
Ek vra jou, wat sal daardie kussingprofete doen wanneer God die sondes van hierdie land begin oordeel en sy brood en sy volheid afsny? Dink aan die onvoorbereide menigtes van opregte Christene wat hulle behoort te bekeer van louwarmheid; wat behoort te ween weens kompromie en gierigheid; wat alles behoort te laat vaar liewer as om op te gaar.
Dank God die Heilige Gees rig ‘n heilige volk op wat siek is van al die selfgesentreerde bedienings en hulle roepstem is, “Ons will Jesus sien.” Die mensgesentreerde evangelie kan nie baie langer voortgaan nie. ‘n Tyd van reiniging lê voor. Ons is op pad na die louterende vure. Terwyl die gieriges op hulle gemaklike beddens lê en hulleself troos met luukshede, sal ‘n oorblyfsel wegbreek en uitgaan en die Bruidegom soek. Christus gaan Homself openbaar aan die nederige, die armes van gees, en die ware Woord van die Here sal voortvloei met salwing en krag. Eenheid met Christus sal die pêrel van ‘n groot prys word.
2. Die ware man van God verkondig en beoefen selfverloëning.
Vergelyk dit met waarop die kussingprofete fokus! God het van hulle gesê. “En julle ontheilig My by my volk vir ’n paar hande vol gars en vir ’n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister” (Eségiël 13:19). ‘n Moderne vertaling is, “Hierdie kussingprofete dink net aan geld. Dit het leuenaars van hulle gemaak.” Hier is die volle prentjie van ‘n kussingprofeet. Hy laat sy verbeelding op hol raak. Hy werk op die idee dat voorspoed vir altyd sal hou. Hy bou op drome en planne. Om dit te doen, het hy geld nodig – baie daarvan. Sy behoefte vir geld word die fokus van sy bediening. Op die ou end vertel hy leuens aan God se kinders om dit in die hande te kry. Dan besoedel hy dit alles deur te sê, “God het dit vir my gesê.”
Die boodskap van Jesus Christus is pynlik eerlik – verloën jouself en neem jou kruis op.
“TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matthéüs 16:24).
Selfverloëning – wat ‘n vreemd klinkende konsep in hierdie dag van selfvertroeteling en gemak. Die kussingprofete het dit alles heeltemal verwerp. Selfverloëning is die prysgee en verlaat van almal en alles wat die konstante teenwoordigheid van Christus verhinder.
Daar is geen lof in selfverloëning nie. Ons word gered en verseker deur genade alleen. Dit moenie gebruik word om voordele van God te kry nie. Maar selfverloëning verwyder hindernisse van konstante gemeenskap met Christus. Paulus het gesê, “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27).
Ons bring nie ons liggame onder beheer nie; ons passies en aptyte is nie onder onderwerping nie. Sensuele televisie programme wakker nou die aptyt van Christene vir pornografie aan. Wellus is amper buite beheer, selfs in die bediening. Amper daagliks hoor ek van bedienaars wat ure lank deurbring deur te kyk na X-gegradeerde films en kassette.
Menigtes van God se kinders, insluitende predikers van die evangelie, mors kosbare ure om voor die TV afgod te lê. Soos Lot, word ons gedagtes ontstel deur dinge wat ons sien en hoor.
Kos word die dwelm van gelowiges. Ons het nie kokaïen of alkohol nodig nie – ons het ‘n wettige kalmeermiddel – kos. Nog nooit in my hele bediening het ek so baie Christene gesien met aptyte buite beheer nie.
Die diepste waarheid oor selfverloëning handel oor meer as om materiële dinge prys te gee. Jy kan jou TV verkoop, alle erotiese tonele en klanke uitsluit, en al jou aptyte onder beheer bring, en steeds nie die self verloën nie.
Wat Christus vra, is ‘n soort toewyding aan Hom wat alles in die hart uitwerp wat verhinder. Dit is ‘n toewyding om absoluut niks voor God en mens te word nie. Dit is om saam met Paulus te kan sê, “Ek leef nie meer nie – dit is Chritsus wat in my leef.”
Die wêreld moet sy bekoring vir ons verloor. Ons moet sterf aan alle eie ambisie – aan alle vashouplekke aan aardse dinge, totdat ons eerlik kan sê, “Ek is dood vir hierdie wêreld en alles wat dit verteenwoordig. Ek leef nie meer nie.”
Fisies lewend, ja! Maar ek moet sterf aan alles wat my visie en liefde vir Christus verhinder. Wat dit ook al is – dit moet weg. Begeertes? Selfgemaakte planne? Bitterheid, wrokke? Erkenning, selfbeeld? Ek moet sterf aan dit alles. Ek moet dit alles na die kruis bring en selfveroordeling doen.
Waarom is dit dat Christene wat op die punt is om te sterf, so los van die wêreld en materiële en fisiese dinge word? Omdat die ewigheid in sig is. Dit alles vervaag in vergelyking met die blydskap wat voorlê. Waarom kan ons nie altyd so lewe nie? Waarom nie ons gedagtes gevestig hou op Christus te alle tye nie?
3. ’n Ware man van God het ‘n heilige vrymoedigheid teenoor sonde – hy praat goddeloosheid nooit goed nie.
Die kussingprofete het geen fondament van heiligheid om op te bou nie. Eségiël het gesê, “Sodat sy fondament blootgelê sal word” (Eségiël 13:14).
Die kussingprofete het mure gebou met ongetemperde beton en het oor die foute geverf met wit verf. Die ergste van alles, hulle boodskap en maniere “Omdat julle met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het” (Eségiël 13:22).
En hulle “die hande van die goddelose versterk het.” God het hulle beskuldig dat hulle siele verdoem het deur sonde te ignoreer. Dit het God bedroef dat kompromie-makende kinders van God bemoedig was eerder as ontbloot. Lighartigheid oor sonde versterk hulle slegs in hulle kompromieë.
God sal nie dat enige bedienaar van die evangelie Sy uitverkore en toegewydes bedroef of moeite aandoen sonder Sy uitdruklike toestemming nie. Maar ook sal Hy nie profete van gemak toelaat om kwaad goed te noem en afvallige Christene te pamperlang as hulle hul moet bekeer nie.
Ons is sekerlik geroep om die evangelie van genade, barmhartigheid en vergifnis te verkondig. Maar die man van God word ook beveel om “Sy stem te verhef, hardop uit te roep, en nie te spaar nie – en my kinders hulle sondes uit te wys.”
Kan dit wees dat ons nie ‘n heilige maatstaf kan oprig nie weens verdorwenheid in ons eie harte? Het ons eie sondes ons beroof van heilige vrymoedigheid? Sien ons sondes van ander oor omdat daar boesemsondes in ons eie harte is?
Ken jy ‘n man van God wat met vrymoedigheid uitvaar teen sonde? Is daar ‘n klank, nie van wettiesheid nie, maar van diepe persoonlike reinheid in sy boodskap?
Hardloop dan tot by sy voete – luister na sy boodskap, want hy het die waarheid wat jou sal vrymaak. Hy is die ware profeet van God, en hy laat alle ander profete sidder en vrees. Die kussingprofete verag hom, omdat hy met die waarheid in sy innerlike wese wandel.
Soek ‘n man van God wat Christus ‘n werklikheid maak! Een wat jou laat regop sit en kennis neem dat hy by Jesus was. Een wat jou oortuig dat jy tyd mors en jou gedagtes aards is. Een wat ‘n vinge in jou gesig sal druk, sonde onderskei en sal uitroep, “Jy is die man!” Hy is die een wat jou werklik liefhet en oor jou siel wag hou.
Die kussingprofete bou hulle groot mure. Hulle lyk baie suksesvol en geseënd. Maar Jehova sê, “Daar val die muur...Ek sal ‘n stormwind in my grimmigheid laat losbreek...En Ek sal die muur afbreek...en dit op die grond gooi” (Eségiël 13:11-14).
God het vir ons gesê dat in hierdie laaste dae, sal ons jongmense gesigte siel. Nie van sukses, of voorspoed of groot prestasies nie. Daar sal net een visie vir almal wees – CHRISTUS!