KWYN JOU EERSTE LIEFDE?

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het vir die Christene by die kerk van Éfese –  ‘n gemeente gegrondves op die goddelike leerstellinge van die apostel Paulus – gesê dat hulle hul “eerste liefde verlaat het” (sien Openbaring 2:4).

As Jesus die woorde “eerste liefde” hier gebruik, praat Hy nie van die onvolwasse liefde wat ons ervaar wanneer ons pas gered is nie. Liewer, Hy praat van eksklusiewe liefde. Hy sê: “Eens op ‘n tyd het Ek die eerste plek in jou hart beklee, maar nou het julle toegelaat dat ander dinge My plek inneem!"

Dit is veelseggend om op te let dat van al die sondes wat Jesus in die sewe Nuwe Testament kerke in Asië uitwys, die eerste sonde wat Hy noem, die een is wat Hom die meeste seermaak: ‘n verlies aan liefde vir Hom.

Die Christene in Éfese het uitsonderlike lering van Paulus ontvang; trouens, soos ek deur Paulus se briewe aan die Efesiërs lees, staan ek verstom oor die evangelie wat hulle gehoor en uitgeleef het. Hulle het naby die Here gelewe en Paulus komplimenteer hulle breedvoerig in Efesiërs 1:1-5.

Hierdie Christene is “lewend gemaak … saam met Christus … saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus" (sien Efésiërs 2:5-6). Wat ‘n beskrywing van ‘n geseënde, heilige volk! Dit is duidelik dat die Efesiërs nie net ‘n klomp groentjies of louwarm heiliges was nie. Jesus is besig om die harte te ondersoek van mense wat goed gegrond was in die waarheid van die evangelie. Tog wys Jesus nog iets uit wat baie verkeerd was: “Op een of ander manier ten spyte van al julle werke, het julle toegelaat dat julle eerste liefde kwyn.”

Ek glo hierdie waarskuwing aan die Efesiërs is bedoel vir elke Christen wat in hierdie laaste dae lewe. Eenvoudig gestel, die Here sê vir ons, “Dit is nie genoeg om 'n sorgsame, vrygewige, hardwerkende dienskneg te wees wat die morele standaarde handhaaf nie. As jou liefde vir My in die proses nie toeneem nie, dan het jy jou eerste liefde verloor.”

Ek moedig jou aan om jou hart vandag te ondersoek en terug te keer na jou eerste liefde. Vra God vir genade en sterkte om weer te begin om oor jou liefde vir Christus te waak.