Leer Deur Verdrukkinge!
Die Psalmis skryf, “DIt is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer” (Psalm 119:71). Jy mag moontlik wonder, soos ek – watter soort teologie is dit? Is dit werklik vir my goed om verdruk te word?
Die Hebreeuse woord vir verdrukking beteken hier, “oorbluf, gekwel, verneder, getugtig, onteer, skade te ly, verneder, verswak, depressief.” Wanneer jy hierdie betekenis in ‘n vers insit, lees dit skielik: “Dit is goed vir my om oorbluf, gekwel, verneder, getugtig, onteer, skade te ly, verneder, verswak, depressief te word. En dit is alles vir een rede – sodat ek die Here se insettinge kan leer!”
Die woord insettinge in hierdie vers beteken, “ingegraveerde wet.” Die Psalmis sê in wese, “Dit is goed dat ek deur al hierdie probleme gegaan het – omdat God in die proses Sy wette en weë op my hart gegraveer het.”
Dit is waar dat die Here toelaat dat beproewings oor ons pad kom om ons te toets. Maar dit is nie Sy primêre doel deur dit toe te laat nie. Liewer, ons probleme en verdrukking moet ons leer om opreg voor Hom te wandel. Die Bybel sê vir ons: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige...” (Psalm 34:20). En, volgens die Psalmis, is die doel van ons verdrukkinge juis dat ons daardeur sal leer.
Laat my vir jou ‘n voorbeeld gee van wat ek bedoel met leer deur verdrukkinge.
Nie lank gelede nie, het ek ‘n week lank gespandeer om ‘n preek getiteld, “Die Kleingeestigheid van die Amerikaanse Godsdiens” voor te berei. Die woord “kleingeestig” beteken “bekrompe, nietig.” Ek was aan die brand oor hierdie diens, gereed om dit van die kansel af uit te basuin.
Terwyl ek egter aan die boodskap gewerk het, het ek ‘n nuusbrief gelees van een van ons sendingpare, Roland en Heidi Baker. Die Bakers het geskryf oof die situasie in Mosambiek, waarheen hulle van plan is om te trek.
Mosambiek word deur die Verenigde Nasies gelys as een van die armste lande op aarde. Die situasie daar is vererger deur die lang, bloedige burgeroorlog daar. Die land se infrastruktuur is vernietig. Paaie, brûe, dorpies, skole en hospitale is opgeblaas. Mense is wreedaardig gemartel en doodgemaak en verskeie miljoene mense het gesterf in die konflik. Miljoene ander het gevlug as vlugtelinge.
Meer as ‘n miljoen landmyne was geplant tydens die oorlog, wat gelei het tot die wêreld se hoogste persentasie van verminkte en gestremde mense. Kinders en volwassenes trap op die myne en word opgeblaas, baie word agtergelaat met slegs ‘n stompie of twee. Duisende kinders sterf van malaria. En tallose mense word gesien waar hulle strompel deur swart, verbrande dorpies, nakend en sterwend van hongersnood.
Roland het onlangs na hierdie desperate land gery in ‘n vragmotor saam met ‘n groep Christene van Suid-Afrika. Hulle sou ‘n vrag voorrade aflewer en was geskeduleer om ‘n byeenkoms anderkant die grens by te woon daardie aand.
Die span het haastig gery met die wete dat die grenshekke teen vyf-uur sou toemaak. Maar ongeveer 5 myl van die grens af, het hulle vragmotor begin stotter en stadiger ry. Die bestuurder het die pedaal platgetrap, maar die vragmotor se spoed het afgeneem. Tot die groep se misnoeë, het hulle gesien hoe die motor voor hulle uiteindelik in die verte verdwyn het.
Uiteindelik het hulle by die doeanekantoor naby die grens gekom omtrent twee minute voor vyf – en skielik het die enjin doodgegaan. Die vragmotor wou eenvoudig nie beweeg nie. Almal in die span het gewonder, “Here, waarom het U toegelaat dat ons hierdie byeenkoms misloop?”
Skielik het die grenswagte begin rondhardloop en opgewonde geskreeu. ‘n Paar minute later het ‘n helikopter geland en ‘n Suid-Afrikaanse beampte het uitgeklim. Roland het hom genader en gevra wat aan die gang was.
“Daar was ‘n ontploffing oorkant die grens nie ver hiervandaan nie,” het die beampte vir hom gesê. “’n Paar bandiete van een van die oorlogvoerende faksies het ‘n motor opgeblaas wat pas ingery het.”
Roland was vertel dat die gewonde en sterwende mense besig was om deur die helikopter gered te word – en hy het besef daardie mense het gery in die motor reg voor hulle. As sy eie groep se vragmotor behoorlik gery het, sou hulle ook gebom gewees het.
Die volgende oggend het die bestuurder van Roland se groep die sleutel in die aansitter gedraai – en die vragmotor het dadelik aangeskakel. Dit het in werklikheid goed geloop al die pad in en uit Mosambiek.
Nadat ek hierdie ontsaglike verhale gelees het – en die berigte van al die lyding – het ek gewonder, “Hoe kan ons Amerikaanse Christene ons verdrukkinge vergelyk met hierdie mense s’n? Hoe kan ons seergemaakte gevoelens en finansiële probleme opweeg teen hulle verskriklike beproewings? Ons probleme lyk so nietig, so niksbeduidend.”
Dit is waar dat dit vir ons moeilik is wanneer ons ‘n “lelike-hare dag” het by die werk. Ons roep, “Iemand het my belaster!” “Die baas het my uitgetrap!” En ons dink die lewe is verby wanneer ons kredietkaart rekeninge begin ophoop: “Ek werk harder as ooit, maar ek raak steeds agter. Ek kan dit nie maak nie!”
Talle gelowiges praat van hulle verskriklike episodes van depressie – van neerslagtig wees, mistroostigheid, nie in staat wees om verskriklike gevoelens af te skud nie. Nadat ek egter die Bakers se nuusbrief gelees het, het ek gedink, “Hoe kan enigeen depressie met hongersnood, gevangenskap, verminkte liggame, verbrande huise en vermoorde familielede vergelyk?”
Natuurlik is daar geen vergelyking nie. Baie van ons sogenaamde verdrukkinge kan met reg nietig of kleingeestig genoem word. En ek was bereid om op die kansel van ons kerk te staan en hardop te preek teen Christene wat fokus op hulle emosionele probleme en persoonlike lyding. Ek wou Christene, wat daarop aanspraak maak dat hulle verdruk word deur depressie terwyl die res van die wêreld ly op maniere onbekend aan Amerikaners, oor die kole haal.
Maar toe het iets met my gebeur. Ek het een oggend wakker geword en iets beleef wat vir my vreemd is – depressie! ‘n Diep, donker, mistroostige vrees het my getref. Ek het in die woonstel rondgeloop en gewonder, “Wat gaan aan? Daar is geen rede hiervoor nie.” Ek het nog nooit soveel droefheid, hartseer, vrees en selfbejammering beleef nie.
Volgens Webster se woordeboek, beteken ‘n vrees ‘n uiterste bedruktheid. Dit is ‘n vrees so magtig dat dit jou verhoed om enigiets te doen, enige plek te gaan, enigeen in die oë te kyk. Eenvoudig gestel – dit is bloot depressie.
Ek het besluit om dit te probeer weg loop. Toe het ek vyf-en-dertig blokke geloop – maar dit het net erger geword. Ek het vir myself gesê, “Here, wat gebeur hier? Ek is veronderstel om te preek oor hoe nietig en onbeduidend depressie is in vergelyking met die probleme in Mosambiek. En tog loop ek nou rond heeltemal gefokus op my depressie!”
Toe ek teruggegaan het na my woonstel, het ek begin huil en ek kon nie ophou nie. Ek het nie geweet waarom ek gehuil het nie – maar ek het geweet dit was nie nietig nie. Dit was lewe-of-dood! Ek het op die toppunt van my stem uitgeroep tot God, “O, Here, dit is so seer. Dit is glad nie goed nie. Help my – verlos my!”
Maar God het my nie verlos nie. En ek sê vir jou, dit was vir my goed – omdat ek daaruit geleer het!
Eerstens, ek het geleer dat ek nie in die kansel kon staan en iemand roskam oor sy of haar depressie nie – omdat ek geweet het depressie is nie ‘n nietige ding nie. Ek kan in werklikheid myself nie indink in hoe pynlik kliniese depressie moet wees nie. Ek het net vir een dag gesmaak wat baie Christene vir weke, maande en selfs jare moet verduur.
Ek het ook geleer dat ons hemelse Vader aangeraak word deur ons gevoelens van swakheid, ongeag wat ons swakheid mag wees. Of dit honger, haweloosheid of depressie is, dit maak alles vir Hom saak. Hy is ‘n deernisvolle Here wat begaan is oor sy kinders. En Hy is direk betrokke by ons in ons pyn!
Laat my met jou ‘n paar van die ander lesse wat ek deur verdrukkinge geleer het, deel:
1. Jy kan nie jouself uit enige van jou verdrukkinge verlos nie – want dit is God se werk!
Dit maak nie saak watter soort moeilikheid jy in is nie. Jy kan eenvoudig nie jouself daaruit haal in jou eie krag nie.
Die geheim om te verstaan hoe God ons van verdrukkinge te verlos, is om te bestudeer hoe Hy Israel uit hulle slawerny verlos het. Die Bybel sê:
“Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons...” (1 Korinthiërs 10:6).
Alles wat met Israel gebeur het – hulle slawerny, hulle beproewings, hulle verlossing uit Egipte – is getuienisse, patrone en voorbeelde vir ons vandag. Israel se fisiese verlossing verteenwoordig die geestelike verlossing wat ons sou sien.
Het jy al ooit gewonder waarom Israel nie in opstand gekom het, terwyl hulle in slawerny was onder Farao nie? Hy het hulle immers geforseer om stene te maak sonder strooi. Hy het sy slawedrywers opdrag gegee om hulle te slaan. Waarom het Israel nie sake in eie hande geneem nie?
Hulle het sekerlik die mannekrag gehad om dit te doen – veral na die tien plae, toe Egipte verslae, swak en in rou was. Selfs Farao het erken, “...die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons” (Exodus 1:9).
Israel het egter nooit in woede in opstand gekom en uitgeroep, “Dit is nou genoeg – geen slawerny meer nie! Nou verlos ons onsself van hierdie verskriklike boeie” nie. Die rede waarom Israel nooit gerebelleer het nie, is omdat hulle dit nie kon doen nie. Dit was God wat gesê het, “Ek het gekom om julle te verlos.” Dit was Sy werk om vir hulle te doen!
Die Here het vir Moses gesê, “...Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos...” (Exodus 3:7-8).
God se Woord sê duidelik hier, “Ek het hulle ellende gesien...” Geliefde, as dit nou nie vir jou vertroosting in jou verdrukking gee nie, sal niks nie! Die Here sê in wese, “Ek weet waardeur jy gaan, wat jy voel. Maar hierdie is nie jou stryd nie. Jou slawedrywer, die duiwel, is een te veel vir jou. Daarom het Ek gekom om jou te verlos!”
“...Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte.”
“En Ek sal julle as my volk aanneem en vir hulle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars. En Ek sal julle bring in ...” (Exodus 6:5-7).
Jy kan so hard as wat jy wil probeer om jouself te verlos – om te droom, te beplan of te manipuleer. Maar op die ou end, sê God, “Dit is My werk!” “...dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23).
Toe Dawid teen die reus te staan gekom het, het hy gesê, “Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee (1 Samuel 17:47).
Die Skrif voeg dan by: “...alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie” (1 Samuel 17:50). Dawid het nie sake in sy eie hande geneem nie. Hy het nie gesê, “Ek gaan vasbyt en dit in my eie krag doen.” Nee – hy het geweet dit was die Here se stryd!
Ons is bestem vir mislukking in enige stryd, tensy ons glo die stryd is die Here s’n. Dit behoort al die druk van ons af te neem. Beteken dit egter ons het geen aandeel in ons verlossing nie? Glad nie! Ons deel is om God te vertrou om te doen wat Hy beloof het. En hier is die sleutel vir ons vertroue op Hom:
“...en Ek sal...vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid...uit” (Exodus 6:6).
Die Here sê in wese vir ons: “Jy het gelees hoe wonderbaarlik ek Israel verlos het. Ek het Goliat verslaan en gewys Ek was God vir Israel en vir Dawid. Maar Ek wil Almagtige God vir jou wees! Ek wil hê jy moet My wonderbaarlike verlossing beleef, sodat jy net soos hulle kan getuig. Ek is jou God – in jou leeftyd, vir jou vedrukking!”
God weet dat geen van jou verdrukkinge nietig is nie. Ek dink aan ‘n onlangse hoofberig in een van New York se koerante: “Tawwe Liefde – ‘n Pa skiet sy eersgeborene om sy jonger seun te red van dwelmmisbruik.”
‘n Nege-en-dertigjarige vader het ‘n een-en-twintig jaar oue seun gehad wat dwelms misbruik het. Duidelik het die ouer seun sy sestienjarige broer uitgeneem om dagga te rook. Die pa, desperaat oor die situasie, het ‘n geweer geneem en die ouer seun in die bors en mond geskiet.
Die man het homself dadelik in die hangkas opgesluit en van selfmoord gepraat, terwyl sy seun op die grond gelê en bloei het. Die jonger broer het gou in die hangkas ingebreek en sy pa gekeer om homself te skiet.
Later, toe die ouer seun in die hospitaal was, het hy sy pa om verskoning gevra en gesê, “Dit het dít geverg om my te laat wakker skrik.”
Hierdie desperate man het aan verskriklike depressie gely, omdat hy een seun verloor het aan dwelms en bang was dat hy ook die ander een gaan verloor. Sy depressie het hom tot die punt gedryf waar hy gesê het, “Ek kan dit nie meer verdra nie!”
Dit is nie nietig nie. Dit is lewe-of-dood. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: My punt is nie dat dit reg was vir die vader om sy seun te skiet nie. Dit sou malligheid wees.
Liewer, my punt is net die teenoorgestelde: Daar is ware verlossing slegs in die Here! Jy kan nie jouself uit depressie haal nie. Slegs God kan jou daaruit haal. En Hy begeer om dit vir jou te doen!
Hier is les nommer twee van leer uit ons verdrukkinge:
2. Verdrukking kom oor ons, om ons na die Here te dryf!
Verdrukking leer ons om ons knieë te buig – om uit te roep tot die Here in al ons probleme en moeilikhede.
“Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE...” (Psalm 77:3). “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Psalm 119:67). “Maar in sy [Manasse] benoudheid het hy die aangesig van die Here sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig...” (2 Kronieke 33:12). “Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat u my uit getrouheid verdruk het” (Psalm 119:75).
In die laaste vers, sê Dawid, “Here, ek weet waarom U my verdruk het. U het gesien dat toe alles goed gegaan het, het ek weggedwaal en roekeloos geword. Daarom het U toegelaat dat swaarkry oor my kom. U het geweet dit sou my na my knieë dryf en my terugbring na gebrokenheid. My verdrukking was bewys van U getrouheid aan my!”
“...En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God” (Exodus 2:23). Israel se geroep het God se hart aangeraak. Die Here word inderdaad aangeraak wanneer Sy kinders tot Hom roep tydens hulle verdrukking.
Ons moet iets verstaan oor die hart van God – dat God seer het wanneer ons seer het! Hy voel ons verdrukking saam met ons: “In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd” (Jesaja 63:9).
Elke keer wat Israel verdruk was, het God saam met hulle gely. Selfs toe Israel teen die Here gesondig het en ellende oor hulle gekom het, “...toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel” (Rigters 10:16).
Ek ken baie mense wat teen verskriklike verslawings in hulle lewens moes stry – dwelms, alkohol, sigarette. Die versoeking van hulle wrede gewoonte woed elke dag. Ek sê egter vir al sulke mense: God gee om! Hy ken die ellende waardeur jy gaan. En Hy alleen het die mag om jou te verlos. In elke stryd, leer Hy jou om na die Kruis te vlug – om tot Hom uit te roep!
Die Here hang nie heeltyd oor jou en Hy sê nie, “Jy is ellendig oor dit wat jy gedoen het. Jy het My teleurgestel en jou betaal jy die prys. Ek gaan hier sit en wag totdat jy lank genoeg gely het. Dan sal Ek jou kom red” nie.
Nee – jy dien nie ‘n God wat só is nie! Jy dien ‘n liefdevolle Vader wat jou droefheid voel die oomblik toe jy dit die eerste keer gevoel het. Dit maak nie saak hoe jy in verdrukking gekom het nie, God ly saam met jou. Hy is hartseer om jou so gebroke te sien. En meer as enigiets anders, wil Hy jou verlos.
Jy mag dink dat God jou glad nie help nie. Maar Hy het jou geroep gehoor – en op daardie oomblik het Hy tot aksie oorgegaan! Laat my dit aan jou bewys:
“En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken” (Exodus 2:24-25). Die woord geken hier beteken, “Hy het begin optree.” God het hulle geroep gehoor en begin om tot aksie oor te gaan om hulle onthalwe.
Net toe Moses tot God uitgeroep het op Berg Horeb, het God vuur laat neerdaal op die bos. Wat is my punt hier? Dit is eenvoudig dat wanneer jy ook al op jou knieë neerval, gaan God dadelik tot aksie oor!
Israel het dit nie geweet nie – hulle kon dit nog nie sien nie – maar God het beheer oorgeneem. Terwyl hulle steeds in slawerny was – steeds aan die roep en wonder wanneer dit ooit sou eindig – het God reeds hulle verlossing in werking gestel. Hy was aan die werk en het ‘n verlosser vir Israel opgerig en voorberei.
God het jou ook gehoor die eerste keer toe jy tot Hom uitgeroep het. En Hy het dadelik aan jou verlossing begin werk. Sy antwoord was in werklikheid aan jou gestuur, selfs nou: “Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:18).
Hier is les drie:
3. Verdrukkinge word baie erger net voor verlossing kom!
God het vir Moses klinkklare beloftes van verlossing gegee. Daarom het Moses na die volk gegaan met die goeie nuus en het tekens voor hulle verrig. En die Skrif sê hulle het geglo:
“En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom; En Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig” (Exodus 4:29-31).
Dit was ‘n tyd van hoop, gejuig en aanbidding. Almal het uitgeroep, “Halleluja – ons is uiteindelik vry! God het ons geroep gehoor en ons slawerny is verby. Prys God!”
Wat het egter gebeur? Dinge het erger geword! Israel se slawerny het ondraaglik geword. Aan hulle was geen strooi verskaf vir stene maak nie. Hulle het swaar slae verduur van hulle slawedrywers. En Farao was woedend vir Israel se leiers, “Gaan weg van my af. Terug werk toe!”
Moses kon nie hierdie verskriklike nadraai van gebeure glo nie. Hy het uitgeroep, “God, waarom behandel U u volk op hierdie manier? U het ons glad nie verlos nie. Dit is in werklikheid erger as ooit! U het nie U Woord nagekom nie. Niks wat U beloof het, het gebeur nie!”
Jy moet verstaan – die duiwel het geweet Israel se verlossing was voor die deur. So, dink jy hy was van plan om toe te kyk en nie eens te probeer om God se volk in te doen nie? Nee! Satan het vir homself gesê, “Ek het net ‘n klein bietjie tyd oor – daarom gaan ek alles in die hel teen hulle werp! Ek sal Farao woedend maak en swepe vir die slawedrywers gee. Ek sal daardie Israeliete tot in die grond in slaan!”
Hierdie verergering van Israel se toestand was nie God se toedoen nie. Liewer, dit was Satan wat haastig rondgehardloop het – sy werk verhaas het voor die uur van verlossing sou kom. Net so, wanneer die duiwel sien dat jy na jou knieë gedryf word, weet hy dat jou verlossing naby is. En hy gaan nie stil sit in daardie laaste oomblikke voor oorwinning kom nie!
In plaas daarvan, sal hy jou versoekings vererger. Hy sal mense teen jou opsteek. Hy sal leuengeeste stuur om jou valslik te beskuldig. Hy sal vir jou lieg dat God Sy Heilige Gees van jou af weggeneem het, dat jy betaal vir vorige sondes. Hy sal jou oorstroom met allerhande soorte skuldgevoelens en veroordeling.
Jy moet egter verstaan: ‘n Woedende duiwel wat beserk teen jou optree, is die duidelikste bewys dat jou verlossing voor die deur is! So, as jy bid, maar dinge word net erger, begin juig – want jou verlossing is ophande.
Moses het nie geweet dat die Here net die volgende dag, sake in sy eie hande sou neem nie:
“Daarop het die HERE vir Moses geantwoord: Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ‘n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ‘n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe. Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE” (Exodus 5:24-6:1). God het in wese gesê, “Ek sal jou nie teleurstel nie, Moses. Onthou wie Ek is. Ek is die Here.”
Maar Israel was te verpletter, te uitgeput om te glo. “Moses het toe so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens” (Exodus 6:8). Die mense was dood van binne. Hulle het moed verloor en gesê, “Ek het te veel gely om te luister, Moses. Ek kan nie eens ‘n boodskap van verlossing aanhoor nie.”
Beskryf dit jou? Is jy so neergeslaan dat jy aan die einde van jouself gekom het? Wanneer jy by die kerk is, gaan die preek by die een oor in en by die ander een uit?
God verstaan jou situasie, geliefde – en Hy is geduldig. Hy weet dat Israel binnekort sou sien hoe Hy met al hulle vyande afreken. En Hy moedig jou aan deur Sy Woord: “Hou vas! Binnekort sal jy My aan die werk sien. Jy sal geseënd wees en Sy guns geniet, terwyl jou vyande plae sal verduur!”
Daar is ‘n laaste les om te leer uit jou verdrukkinge:
4. Jy word verdruk want God werk aan ‘n juweel!
Luister na hierdie profesie van Jesaja:
“Jy, ellendige, deur storms gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.
“En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie” (Jesaja 54:11-14).
Wat ‘n ontsaglike profesie! Die “edelgesteentes” wat in vers 12 genoem word is juwele. En as jy baie van juwele weet, weet jy dat ‘n diamant eers ‘n stuk houtskool was. Dit was jarelank deur die elemente bewerk.
God se Woord sê vir ons: “Jou verdrukkinge is bedoel om jou te verander in iets pragtigs – iets wat vir My kosbaar is!”
Die “ringmuur [venster] van edelgesteentes” wat hier genoem word, word deurskynend gemaak deur vuur. Die “ringmuur [venster]” aspek het te doen met oë of visie. God sê, dat as jy Hom vertrou deur al jou verdrukkinge heen, sal jy ‘n duidelike visie en onderskeiding ontvang. Dit sal jou toelaat om in die onsienlike in te sien – met kristal helderheid!
Die meeste kenners glo die frase “poorte van karbonkels” lees meer akkuraat as “poorte van pêrel.” Pêrels vorm uit ‘n sandkorrel in die maag van ‘n oester. Die sandkorrel word saam met vloeistof ingespuit, dan geskuur en geïrriteer totdat dit ‘n pêrel word.
Dink nou aan al die geskuur, irritasies en wrywing in jou lewe. Jy word op die verkeerde manier opgevryf. Wat doen God egter? Hy maak ‘n pêrel! Elke pêrel is ‘n herinnering aan lyding, pyn en wrywing.
Ek glo Jesaja praat van die heerlikheid van Jesus Christus in hierdie gedeelte. Met ander woorde: Verdrukking, wanneer toegelaat word dat dit sy werk doen, bring mense voort wat die heerlikheid van Christus se karakter uitstraal. Dit maak ons meer en meer soos Jesus.
In Openbaring 21, beskryf Johannes die heilige stad – dit is, die oorblyfsel kerk – wat die heerlikheid van God het:
“En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes.”
“Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag, die vyfde sardóniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agste beril, die negende topaas, die tiende chrisopraas, die elfde hiasint, die twaalfde ametis.”
“En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas” (Openbaring 21:19-21).
Wat is al hierdie edelgesteentes? Dit is God se verdruktes – rondgegooi deur storms, nie deur mense vertroos nie, maar deur vuur gelouster, gepoleer deur wrywing, verlos deur geloof – ‘n oorblyfsel van ‘n verslae, gebroke-in-gees juwele!
Jesaja het van Christus geprofeteer: “...Kyk, Ek lê in Sion ’n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is...” (Jesaja 28:16). Die Griekse betekenis hier is, “’n steen deur beproewing beproef.”
Die Skrif sê Jesus is ‘n steen wat beproef is. En niks kan op hierdie fondamentsteen gelê word nie, behalwe ander stene wat deur vuur beproef is. Dit praat van die karakter van Christus. Al die helder strale wat uit ons skyn, het te doen met die helder heiligheid van Jesus. En die enigste mense wat ek ken wat die karakter van Jesus toon, is diegene wat gely het.
God se doel is om ons te louter – om ons te verander in kosbare edelgesteentes wat Sy heilige stad wat uit die hemel neerdaal, sal versier. Ons oë moet suiwer en helder wees, ons lewe deursigtig, met geen donker deel nie – geen vertroue op die vlees nie – maar net helder, heilige strale.
So, laat ons weer ons tema vers lees: “Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer” (Psalm 119:71). Kan jy nou saam met my juig oor hierdie woorde? Halleluja!