Leer die Heilige Gees Ken
Hier, by die Times Square Kerk, sing ons ʼn lied begelei met die geklap van hande, wat so gaan:
Laat hom neerdaal, Here, laat hom neerdaal. Here, laat die Heilige Gees neerdaal. Ons het hom nodig, Here, laat hom neerdaal.
Ons sing ander, soortgelyke liedere en pleit die Heilige Gees om neer te daal
Maar, in der waarheid is die Heilige Gees reeds hier. Hy het met Pinkster vanuit die hemel op die bokamer neergedaal. En hy het nooit weg gegaan nie!
Jesus het belowe, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Johannes 14:16-17).
Dink na oor die frase wat Jesus hier gebruik, “Maar julle ken hom.”
Onlangs, met die lees van hierdie woorde tydens die voorbereiding van hierdie boodskap, het dit my duidelik bygebly. Ek het besef dat ek in werklikheid weining omtrent die Heilige Gees weet.
Die Kerk praat baie oor die Gees. Ons preek die leer van die Heilige Gees. Ons praat van met die Gees vervul te wees, met die Gees saam te leef en wandel, die vrugte van die Gees te hê, om deur die Gees vertroos te word.
Tog is dit moontlik om met al die leerstellings van die Heilige Gees bekend te wees maar hom steeds nie te ken nie. Sou ek jou vra, “Het jy die Heilige Gees ontvang?” Wat sal jou antwoord wees?
Sommige mag sê. “Ja, ek het die Gees ontvang toe Jesus my gered het. Dit was die Heilige Gees wat my na God se koningkryk gelei het. Ander mag antwoord, “Ja, ek het die Gees ontvang want ek het in tale gespreek toe hy in my lewe ingekom het. Ek bid in die Gees, en tale is ʼn bewys dat ek hom ontvang het”.
Desnieteenstaande, om die Gees te ontvang is nie ʼn eenmalige ervaring nie. Die woord “ontvang” beteken, “om besit te neem van dit wat gegee is”. Kortliks, ontvang is die begeerte na ‘n toenemende vermoë om meer kennis van wie die Gees is en waarontrent sy bediening gaan. Tewens, iemand ontvang nie die Heilige Gees nie alvorens die Gees toegelaat word om volle beheer oor daardie persoon se tempel te neem.
Paulus het die Galasiërs gevra, “Hoe het julle die Gees ontvang? Het julle hom nie deur geloof ontvang nie?” Dan verklaar hy, “Julle het in geloof verklaar dat dit wat julle van die Gees ken, julle deur geloof ontvang het. Dus was daar ʼn voortdurende ‘bediening van die Gees’ aan julle deur geloof? Beoefen julle geloof om die Gees dieper te leer ken?”
Hier is ʼn iets wonderlik:
Ons weet die Heilige Gees is hier op aarde en dat hy nooit weggegaan het nie. Ons weet hy woon in ons - hy het ons sy woonplek gemaak, ons liggame sy tempel. Tog, lewe ons meerendeels asof die Gees êrens in die kosmos is, en nie in ons midde of binne in ons nie.
Die waarheid is dat die Vader ons sy Gees gestuur het om ons te wys juis hoe Hy in elke aspek van ons lewe belang stel. Die Heilige Gees is vir ons as vriend, trooster en gids gestuur. In die lig van hierdie wonderlike feit, ontstaan die vraag aan elkeen van ons, “Hoe goed ken jy die Gees?” “Ken ek hom werklik op hierdie wyse?”
Jesus stel dit duidelik dat die Heilige Gees vir ons alles moet wees wat Christus vir sy dissipels was toe Hy hier op aarde was. Dink na:
- Jesus het die Vader aan sy volgelinge openbaar.
- Hy het aan die dissipels al die woorde oorgedra wat God met hom gespreek het.
- Hy het vir sy dissipels gebid, en Hy het hulle bewaar (of beskerm).
- Die heerlikheid wat Jesus gehad het, het Hy ook aan sy dissipels oorgedra (sien Johannes 17).
Jesus sê aan almal wat Hom volg, “Ek sal julle nie troosteloos laat nie.” Met ander woorde, Hy vertel ons, “Ek sal aan julle Een stuur wat julle sal beskerm en bewaar. Ek sal julle nie hulpeloos, magteloos of kwesbaar vir Satan se geslepenheid laat nie. Verbly julle, want Ek stuur vir julle Een wie se mag groter is as alle ander magte in die heelal.”
Jesus sê dat die Gees nie slegs in my woon nie. Hy sê ook dat ek hom ken. Gevolglik, vra ek myself af hoedanig ek die Gees ken? Wat is die tekens, die bewyse wat sal aandui dat ek hom ken, sy ewige teenwoordigheid herken, sy nabyheid ervaar?
Eenvoudig gestel: Ek ken die Heilige Gees aan die veranderinge wat hy in my bewerk. Ek ken nie die Gees deur bloot te kyk na veranderinge wat hy in ander bewerkstellig het nie. Ek mag hom in my broers en susters weerspieël sien, maar ek ken die Gees slegs deur sy werke in my eie lewe.
Jy sien, die werk wat die Heilige Gees in ons doen is besonder persoonlik. My liggaam is sy tempel, en daagliks openbaar hy Christus opnuut in my. Dit is sy werk wat my van sonde laat afwyk, om na geregtigheid te honger en dors, om voortdurend te verlang “Kom, Here Jesus”.
Laat ek nou met jou praat oor twee grondliggende leerstellings van die Gees. Wanneer ons sy bediening ken en glo dat hy dit in ons werk, dan kan ons bo alle beproewinge en vrese uitstyg. Sy bediening stel ons in staat om selfs die dood in die gesig te staar en nog vol hoop en vreugde te bly.
Jesus noem die Heilige Gees “die Trooster”. Dis een ding om die Heilige Gees as ons Trooster te ken. Maar ons moet ook weet hoe hy ons troos, sodat ons tussen die vertroosting van die vlees en dit wat van die Gees is, kan onderskei.
Byvoorbeeld, dink aan ʼn broer of suster wat deur eensaamheid oorstelp is. Hierdie persoon bid vir die vertroosting van die Heilige Gees en verwag dat daardie troos met ʼn gevoel geskied. Hy verbeel hom dit is ʼn soort wind uit die hemel, soos ʼn geestelik kalmeermiddel vir sy siel. In sy denke kom troos soos ʼn soete bedwelming van die verstand, en daarmee ʼn paar uur se verligting.
Maar die volgende oggend het die gevoel van vrede verdwyn. Met die gevolg dat hy begin glo dat die Heilige Gees sy versoek geweier het. Nee, nooit! Die Heilige Gees troos ons nie deur ons gevoel te manipuleer nie. Sy manier van troos is geheel en al anders en word duidelik in die Skrif omskryf. Ongeag die probleem, beproewing of behoefte, sy bediening van vertroosting word bereik deur die waarheid voort te bring: “(die) Trooster …. die Gees van die waarheid“ (Johannes 14:16, 17).
Die feit is, ons troos ontstaan uit dit wat ons weet, nie dit wat ons voel nie. Net waarheid oorstem gevoel. En die vertroostende bedieining van die Heilige Gees begin met hierdie grondliggende waarheid: God is nie vir jou kwaad nie. Hy het jou lief.
“En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5). Die betekenis in Grieks is selfs sterker as wat hierdie vertaling te kenne gee. Dit sê dat die Heilige Gees die oorsaak is dat die liefde van God in ons harte “uitborrel”.
ʼn Ondraaglike las kan deur vrees, skaamte, verdriet, droefheid, versoekings, ontmoediging veroorsaak word. Maar wat ook al die oorsaak, vertroosting is nodig.
Nou, skielik, hoor jy ʼn stem wat deur elke gang van die siel weergalm. Dit is die stem van die Heilige Gees, wat aan jou verklaar, “Niks kan jou van die liefde van God skei nie”.
Hierdie waarheid – wanneer jy dit glo – word vinning ʼn borrelende fontein van lewende water wat elke struikelblok weg vee. “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26).
Op hierdie wyse speel die Heilige Gees ʼn sentrale rol in ons kindskap tot die Vader. Die Gees is ons leermeester in ons daaglikse wandel met Christus, en ons is sy studente. En hy leer ons dat ons aangeneem is. Ons is God se gesin, sy seuns en dogters.
Hoe bring die Gees hierdie waarheid tot ons in herinnering? Hy herinner ons aan die mees roemryke verklaring wat ooit deur Jesus gespreek is: “Ek is die Seun van God. Ek het ʼn Vader in die hemel. En my Vader het my lief”.
Jesus se woorde word ons woorde, want ons is aangeneem in die Vader se gesin deurdat ons broers en susters in Christus gemaak is. “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” (Galasiërs 4:6)
Dit is die Heilige Gees wat in ons uitroep, “Onthou wat Jesus gesê het: jy is ʼn seun, ʼn dogter van die almagtige God.
Jy het ʼn Vader in die hemel wat jou lief het. Dus onthou wie jy is. Jy is nie alleen nie. Hou die woorde van Jesus in gedagte: ‘God het jou lief net soos hy My lief gehad het’”.
Die vyand mag soos ʼn vloedgolf oor my spoel, my oorskadu met vrees, skuldgevoelens of spanning. Maar ek kan onmiddelik hierdie gebed onthou en bid: “Heilige Gees, preek nou vir my, leer my, herinner my. Help my onthou van Jesus se beloftes oor my vastigheid as ʼn seun van God”.
Die Gees roep dan in my uit, “Onthou Abba, jou Vader. Jy is geregverdig en jy kan tot Hom nader. Roep nou in jou siel hierdie proklamasie uit: ‘Ek is ʼn seun van God. Ek wandel nou in die Gees van kindskap!”.
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Johannes 1:12). “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Romeine 8:14).
Net so vertel Paulus ons dat as God se seuns en dogters ontvang ons dieselfde Gees as wat in Christus was: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Romeine 8:11).
Sien jy hoe belangrik hierdie rol van die Gees is? By tye kan ek geestelik dood voel. Dit kan wees dat my hart koud is, leweloos, asof die vuur in my slegs ʼn vonk is, ʼn flikkerende vlam. Maar in werklikheid is daar ʼn lewenskrag deurentyd in my aan die werk.
As ek steeds glo in God se woord en ek vertrou op Christus, maak dit nie saak hoe ek voel nie – ongeag hoe ek my self oordeel of verdoem voel –die Gees van Christus blaas steeds lewe in my siel in. God het my steeds lief, en die Gees bearbei my steeds.
Dink vir ʼn oomblik aan ʼn kosbare geliefde wat jy ken, iemand wat miskien ly of op sy sterfbed lê. Daardie geliefde se liggaam teer uit. Maar ons weet dat almal wie in Christus is, in die proses van opstanding is. Inderdaad, dieselfde Gees wat Christus se tempel in die grafkelder binnegedring het, kom ook om jou geliefde op te wek tot die ewige lewe. Op die punt van diepste lyding, roep die Gees hierdie vertroostende waarheid in hom uit: “Jy gaan na Abba Vader toe”.
“Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Galasiërs 5:17).
In ons woed steeds ʼn siele stryd. Elke Christen kan sê, “Ek weet Christus is lief vir my, ek ken Hom as my Vader, en ek weet ek is sy kind. Ek weet ek is geregverdig in God se oë, en ek het toegang tot my Here. Maar binne my woed ʼn siele stryd voort. Ek veg steeds teen vleeslike gedagtes, teen vreeslike versoekinge. En hierdie siele stryd kry net nie end nie”.
Geliefde, hierdie siele stryd is vir elke Christen ʼn werklikheid. Ons bedink gedagtes wat Christus nie waardig is nie. Ons kyk na dinge waarna ons nie behoort te kyk nie, ons word versoek dinge waardeur ons nie behoort versoek te word nie, ons luister na gesprekke waarna ons nie behoort te luister nie. En dit alles maak dat ons onwaardig en onrein voel.
Hierdie sielsgevegte kan so intens en aanhouend wees dat ons by tye voel ons verloor die stryd. Selfs die apostel Paulus het so gevoel. In groot sielepyn het hy uitgeroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Romeine 7:24).
In antwoord op ons versugtinge kom die Heilige Gees met waarheid wat vertroosting bring: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).
Kortliks sê Paulus jy stry dieselfde stryd wat goddelike heiliges die hele wêreld deur stry. Jou beproewinge is nie eie of spesifiek aan jou nie. Die apostel Petrus verseker ons ook: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Peter 4:12).
“Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4).
Die rede waarom jou vlees in opstand kom – die oorsaak waarom Satan jou in woede laat ontvlam – is omdat jy die Gees genooi het om in jou te woon en om beheer oor te neem. Dis so eenvoudig: jy word versoek want die Gees vermag wonderlike dinge in jou. En sy werk het Satan se weerwraak ontketen.
Dis waar, jou vlees is vyandskap teen die Gees. Maar die Heilige Gees is meer as onwinnaar oor jou vlees. Ons moet net eenvoudig besef dat hierdie stryd nie in ons leeftyd sal eindig nie. Dis waarom Paulus ons hierdie woorde toesê: “God …… sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra“ (1 Korinthiërs 10:13). Hier is weereens ‘n waarheid van die Heilige Gees wat vir ons vertroosting bring. So kan ons ontsnap van enige vrees om verslaan te word.
Hierdie waarheid wys ons op drie belangrike dinge, dinge wat ons die Heilige Gees moet vra om vir ons in herinnering te bring:
- “My siele stryd is ʼn stryd wat almal deel. Derhalwe, weier ek die leuen dat ek ʼn vreemde, onrein kind van God is.”
- “Ek moet altyd bewus wees – ek moet voortdurend besin hieroor – dat God my so lief het dat Hy my sy eie Gees gegee het. Hy is so teer en besorg oor my dat Hy die Heilige Gees gestuur het om my stryd te stry. Die Gees het nie soos een of ander spioen gekom om my te deursoek en ongeregtigheid te vind nie. Hy het net my voordeel en my welstand in gedagte.”
- “Ek moet alle veroordelinge verwerp. Ek moet die Gees versoek om my aan Paulus se woorde te herinner: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Romeine 8:1).
Oorweeg nou ‘n ander aspek van die Heilige Gees se prediking.
“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie werklik wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Romeine 8:26).
Dink na oor wat Paulus hier oor die Heilige Gees se rol in ons gebedslewe sê. Ons raak so verwar omtrent gebed en daardeur maak ons dit so ingewikkeld. Indien jy enige Christelike boekwinkel besoek, sal jy baie boeke oor hierdie onderwerp kry met breedvoerige formules van hoe om te bid.
Hierdie vele teorië kan verwarring meebring en allerhande vrae rondom gebed laat opkom: “Wanneer word gebed voorbidding? Word voorbidding gemeet aan vurigheid of luidrugtigheid of die tyd wat ek op my knieë deurbring? Ek word geleer om volgens God se wil te bid, maar hoe ken ek Sy wil? En hoe pak ek my gebed aan? Tel stilgebed in my gees? Presies waarvoor bid ek?”
Sulke verwarring kan oorweldigend wees en bring mee dat min bid. Tog was daar nog nooit ʼn tyd wat die gebede van God se mense so noodsaaklik is as nou nie. Ons lewe in ʼn wêreld wat van sy sinne af is. Selfs in die outyd het Paulus van die aarde gesê, “Die hele skepping kreun.”
Ekoloë lig ons in dat die ysbedekking smelt, dat vloedwater New York en groot dele van die ooskus sal oorstroom. In die toekoms word ons vertel, sal aardverwarming die plantlewe stelselmatig uitwis. Dit word voorspel dat die aarde verlate en totaal onbewoonbaar sal word.
Die streslas wat sulke beriggewing meebring, oorweldig nou mense wêreldwyd. En Christene is nie van die stres vrygestel nie. Paulus sê, “Selfs ons wat die Gees het, kreun en wag om van hierdie wankelrige aarde verlos te word. Ons verlang nou na ons bevryding”.
Namate wêreldgebeurtenisse versleg en saamsweer om die mense van vrede te beroof, soek gemeenskappe oral na ʼn bron van vertroosting. Maar hulle vind dit nie in psigoterapie nie, nie in dooie godsdiens, nie in beweegredes nie, selfs nie in liefdadigheid nie.
Die bybel vertel ons, “Die wêreld ken Christus nie. En hulle sal Hom nie ontvang nie. Maar jy ken Hom.”
Op hierdie tydstip van my lewe en bediening, moet my grootste belang wees dat ek my gebedslewe volhou. As ek gebed afskeep, bedroef ek die Gees binne my. Ja, dit is moontlik vir ons om die Gees te grief. Paulus beaam dit as hy skryf, “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie” (Efésiërs 4:30)
Inderdaad, die Gees deel God se verdriet oor sy mense se ongeloof en biddeloosheid. Dink net na oor hierdie paar kragtige maniere waarin die Heilige Gees ʼn rol in ons gebede speel:
- Dit is in gebed dat die Heilige Gees die teenwoordigheid van God in ons openbaar.
- Dit is in gebed dat die Gees God se beloftes in ons harte verseël.
- Dit is in gebed dat die Trooster hoop aan ons verkondig.
- Dit is in gebed dat die Gees sy strome van vertroosting, vrede en rus in ons siele loslaat.
In hierdie dae is my gebed dit: “Heilige Gees, hou my in nabye gemeenskap met Jesus. Moet nie dat ek my stiltyd met die Een wat my siel lief het, verwaarloos nie. Hou my op my knieë. Dan sal ek U troos ken.
Ek wil jou aanspoor: maak hierdie ook jou gebed.