Lewe in die Bonatuurlike

David Wilkerson

Ek kan nie die Boek Handelinge lees sonder om baie skaam te voel nie! Die apostels het geleef en bedien in die koninkryk van die bonatuurlike. Selfs die gemeentelede soos Stéfanus en Filippus, manne wat die tafels bedien het, was magtig in die Heilige Gees, het wonderwerke gedoen en hele stede in beroering gebring. Wie kan die Boek Handelinge lees sonder ontsag en verwondering oor al die wonderwerke wat God vir hulle en onder hulle gedoen het? Engele het aan hulle verskyn, hulle boeie oopgesluit, en hulle uit streng sekuriteitstronke vergesel. Petrus was so vol van die Heilige Gees, dat die siekes in die strate uitgedra is op beddens en draagbare sodat sy skaduwee op hulle kon val vir genesing (Handelinge 5:15). Kreupeles was genees en het rondgespring in die tempel; en besondere wonderwerke is opgeteken: “En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het” (Handelinge 19:11-12).

Waarom leef ons nie vandag in so ‘n bonatuurlike realm nie? Waar is die apostoliese krag van Jesus Christus vandag? Ek praat nie van bevrydingsbyeenkomste en ster genesingsevangeliste nie. Ek praat van ‘n bonatuurlike manier van lewe vir elke ware gelowige. God het nie verander nie; ons het. Dieselfde Here is met ons – ons het dieselfde beloftes en God is meer as gewillig om dit weer te doen. Maar ongelukkig, is daar ‘n idee vandag dat ons nie die bonatuurlike nodig het nie. Dit word gesê, “Hierdie geslag het groter openbaring; ons is meer geletterd, kundiger. Ons moenie verwag dat die Here vandag so sou werk nie, want dit was net nodig om die kerk te stig.”

My antwoord daarop is, as die bonatuurlike nodig was om die kerk te stig, is dit selfs nog nodiger tydens die afsluiting van die kerkeeu! Goddelose mense het slegter en slegter geword soos sonde meer en meer geword het. Verleiers het toegeneem, geweld het buite beheer losgebars. En die hel het sy grense verbreed. Satan het met groot toorn neergedaal. Soos leerstellinge van duiwels ingestroom het, het afvalligheid erger geword.

Ons is in die middel van die groot afvalligheid. Satan het sy eie engele wat voorgee om groot evangeliste en leraars te wees. Aborsie het die land met bloedskuld gevul. Ouers molesteer hulle eie kinders – selfs baba’s word misbruik. Ons jeug is buite beheer met kokaïene, crack, heroïene en alkohol wat dwarsdeur skole versprei en verwoes en doodmaak, en tieners verander in siek, waansinnige diewe en moordenaars. Nuwe siektes soos VIGS en herpes versprei dood wêreldwyd.

Ons het meer van Jesus nodig – meer van Sy reddende, genesende krag, meer van die bonatuurlike as enige vorige geslag! Die apostels het die prys van die bonatuurlike geken en dit gretig betaal, maar ons is nie gewillig om die prys te betaal nie.

God het bonatuulik op hulle gereageer, omdat hulle oorgegee was aan gebed.

Die Boek Handelinge is die verhaal van heilige manne en vroue wat die Here se aangesig soek. Van begin tot einde, vertel dit van hoe gebed God beweeg, of dit nou in die bovertrek, in die tronk, of in een of ander geheime huis terwyl hulle weggekruip het vir die owerhede, of in Simon se huis in ‘n straat genaamd Reguit was – hulle het gebid! Hulle het in die oggende gebid, en soms die hele nag – hulle het sonder ophou gebid. Cornelius het voortdurend gebid. Petrus het op dakke gebid. By die strand, in die tempel, of in die woestyn, hulle het voortdurend die Here aangeroep. Hulle het ure en dae afgesonder met God deurgebring, totdat hulle duidelike, gedetailleerde leiding ontvang het. Watter ontsaglike besonderhede het God vir hulle gegee.

Ananias, wat in die bonatuurlike geleef het, was ‘n man van God, oorgegee aan gebed. “En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam van Ananias; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê: Ananias! En hy antwoord: Hier is ek, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananias sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien” (Handelinge 9:10-12). Luister na die gedetailleerde instruksies wat God vir hom gegee het, “Gaan!” Hy het die presiese huis genoem, die huiseienaar se naam, die man vir wie hy moes bid. Toe het God gesê, “Hy weet jy kom. Hy ken selfs jou naam. En hy weet wat jy sal doen wanneer jy sy kamer binneloop, omdat Ek alles vir hom gesê het!” Waarom het die Here hierdie bababekeerling sulke intieme besonderhede gegee? Omdat “...hy bid.” Vir drie dae het Saulus gevas en gebid. Dit was nie, “Here, wat kan U vir my doen?” nie. Maar liewer, “Here, wat wil U hê moet ek vir U doen?” Sy visioen van Jesus het hom so oorgeneem dat hy dadelik alles op die daad gelos het en die Here se slaaf was van daardie oomblik af.

Sou Saulus in ons tyd gered gewees het, sou hy ingesuig gewees het in ons wêreld van bohaai met ‘n mediablits, ‘n topverkoper boek, en uitnodigings om sy getuienis oral aan kerke te bring. Waarom is dit vandag so dat baie bonatuurlik gered word, net soos Saulus; maar in teenstelling met hom, leef hulle so gou in verwarrring, sonder om te weet wat om te doen? God het vir Saulus gesê, “...Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen” (Handelinge 9:6). God het in wese gesê, “Gaan bid! Gaan soek My aangesig en leer om op My te wag. Wys vir My dat jy meer van My wil hê!” Geen aanwysings het gekom, geen visioen het gekom nie, todat hy drie dae in gebed deurgebring het. Maar wat ‘n magtige en bonatuurlike dinge het tydens daardie gebed gebeur – Saulus het die Here se stem leer ken en het geleer om op Sy leiding te vertrou. Hoewel hy net ‘n pasgebore gelowige was, was hy reeds duidelik deur God gelei. Saulus het geen raadgewer of profeet nodig gehad om vir hom te wys wat om te doen nie; hy het niemand nodig gehad om vir hom ‘n woord van kennis te gee nie, omdat die Here gesê het, “...Ek sal hom wys” (Handelinge 9:16).

Ek kan my voorstel ‘n fundamentalistiese prediker kom om Paulus te sien voor Ananias opdaag: hy sien hom op die vloer, wenend en roepend, “Jesus, openbaar Uself in my, nie net aan my nie.” Die fundamentalis sê, “Broer Saulus, jy is wonderbaarlik gered. Wat meer wil jy hê? Neem dit deur geloof. Jy is op die rand daarvan om ‘n fanatikus word! Weet jy nie siele sterf daar buite nie? God het jou geroep om te evangeliseer. Getuig is God se wil, so gaan gou en wen die wêreld vir Jesus!” Saulus het geantwoord, “Broer, ek gaan nêrens nie! Verskoon my asseblief, maar ek wag vir ‘n man genaamd Ananias. Is jy Ananias?” Die fundamentalis is ontsteld, “Is jy mal? Wie het vir jou gesê so en so ‘n man is op pad? Wie het vir jou gesê hy sou hier inloop en hande op jou lê en jou oë genees?” Saulus het geantwoord, “Die Here het my in ‘n visioen gesê! Ek ken sy naam en ek weet wat hy gaan doen. Ek weet ek sal genees word.”

In dieselfde scenario, loop ‘n charismatiese, voorspoed en sukses leraar in. “Broer Saulus, ek het vir jou ‘n getekende kopie van my onlangste boek, Verbondsbeloftes, gebring. Ek is hier om vir jou te sê dat God wil hê die nuwe Saulus moet voorspoedig en altyd in goeie gesondheid wees. As jy my sleutels tot sukses en voorspoed leer ken, sal jy nie hoef te ween en te ly soos jy hierdie laaste paar dae gedoen het nie. Eis jou regte op! Al wat jy nodig het, is geloof! Dit is alles daar om voor te vra!? Hierop antwoord Saulus, “Verskoon my, broer! Die Here wys vir my daar is baie maniere waarop ek moet ly vir Sy Naam. Ek wag vir Ananias. Ek kan niks opeis, niks doen, of êrens heen gaan, totdat hy gekom het en sy hande op my gelê het nie. God sal vir my sê wat om volgende te doen.” Die leraar antwoord, “Maar jy is net ‘n baba in Jesus! Ek loop al ‘n lang pad met Hom en ek het openbaringskennis. Laat ek jou leer!” Saulus se eenvoudige reaksie is, “Al wat ek weet, is dat Hy aan my verskyn het en Hy praat met my!”

Dan is daar Petrus, biddend op die dak. Dertig myl daarvandaan by Cesaréa, bid Cornelius “aanhoudend.” “En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtesnis gekom. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen” (Handelinge 10:1-6). Weereens, gedetailleerde instruksies! Die dorp was Joppe; die huis was Simon s’n; en die man wat die antwoord gehad het, was Petrus.

In die tussentyd, “het Petrus omtrent die sede uur op die dak geklim om te bid” (Handelinge 10:9). Toe “...het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom” (Handelinge 10:10), wat beteken hy het ‘n visioen gehad. “En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek...gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur” (Handeling 10:19-20). Petrus gaan na die huis van Cornelius en ontmoet ‘n biddende man wat praat van engele wat hom besoek, en hom bonatuurlike leiding gee. “En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar ‘n man voor my in ‘n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ‘n leerlooier by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is” (Handelinge 10:30-33). Die Heilige Gees is so spesifiek dat Hy selfs beide name gee: “laat Simon haal wat ook Petrus genoem word” (vers 32). Om seker te maak dat Cornelius die regte man laat kom (aangesien Petrus by ‘n ander man genaamd Simon gebly het), het God vir hom gesê sy naam was Simon Petrus!

Dwarsdeur Handelinge lees ons hierdie woord, “God het vir hulle gesê...,” “Die Here het gesê...,” “Die Heilige Gees het gesê...,” “Die engel het gesê...,” Die hemel was nie geslote nie. Hulle het die duidelike gedagtes van die Here gekry; daar was niks “snaaks” of onduidelik aan wat hulle gehoor het nie. Dit was baie prakties, baie gedetailleerd, en baie duidelik. Maar die woord uit die hemel het slegs na baie gebed gekom, na afsondering alleen saam met God in die geheim. “En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochië sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Simeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúchië en daarvandaan weggevaar na Ciprus” (Handelinge 13:1-4). Hulle het gevas en gebid totdat die woord gekom het; en toe weer gevas en gebid voor hulle hul uitgestuur het!

Paulus het later voor die woedende Joodse skare in Jerusalem gestaan en sy bonatuurlike storie oorvertel. “Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom. En ‘n sekere Ananias, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, het na my gekom  en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het” (Handelinge 22:11-15). Paulus het dit baie duidelik gemaak dat dit meer as ‘n bonatuurlike bekering was – dit was omdat dit ‘n bonatuurlike manier van lewe sou word. Daar was drie dinge wat God vir Paulus wou hê. Hy wou hê Paulus moes Sy wil ken, ‘n visioen van Christus hê, en Sy stem uit Sy mond hoor [wat direk beteken, nie tweedehands nie].

God se kinders vandag kan dieselfde duidelike Woord van God kry as daar dieselfde intensiteit is om Sy aangesig in gebed te soek.

Christene bid selde vandag omdat hulle geleer is om “alles in geloof te neem.” Ons verkondig geloof hier in Times Square Kerk, maar nie met die uitsluiting van gebed nie. Ons leer gehoorsaamheid, bekering, die Woord, geloof, en gebed! Dit word gesê, “Waarom bid? Waarom tot God bid wanneer Hy reeds belowe het? As Hy weet wat ons nodig het voor ons Hom vra, waarom aanhou vra?” Sommige leer selfs, “As jy vra wanneer Hy reeds belowe het, is dit ongeloof. Eis net die belofte op en rus dan; daar is geen nodigheid om daaroor te bid nie.”

Abraham het die belofte van ‘n magtige nasie word, veilig weggesluit gehad; God het reeds aan Hom die belofte gemaak. “Want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee...En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde...” (Génesis 13:15-16). God het belowe om diegene te seën wat hom seën en om diegene te vervloek wat hom vervloek. Abraham het baie geloof gehad, soveel só dat God hom dit as geregtigheid toegereken het: “En Hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Génesis 15:6). Hier is ‘n man van God, verseker van God se beloftes en vol geloof; tog het hy oor en oor na die altaar gegaan om te bid. “En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el...en daar vir die HERE ‘n ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep” (Génesis 12:8). Weereens, nadat hy uit Egipte gekom het, ná die hongersnood, sê die Skrif, “So het Abram dan uit Egipte...opgetrek...En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el...na die plek van die altaar...En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep” (Génesis 13:1-4). So sien ons dat nie sy geloof of God se beloftes, gebed voorafgegaan het nie.

Ook Moses, het sy intimiteit met God van groter waarde geag as enige seën. Kyk na hom waar hy op die top van die berg staan met sy arms wat opgehou word na God deur Aäron en Hur aan elke kant! God het reeds belowe dat die Amalekiete verslaan sou word en Israel oorwinning sou behaal. Tog gaan Moses berg op om God aan te roep met opgehefte hande. “En Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier” (Exodus 17:15).

Ons is ateïste in hierdie saak van gebed in vergelyking met die vroeë kerk. Vandag kyk talle na afgesonderde gebed as harde werk en vervelig. Daarom doen hulle dit net soms – en meestal wanneer hulle beskaam gemaak word om dit te doen. Kan jy jou voorstel dat ‘n man en vrou in dieselfde huis bly, maar skaars ooit met mekaar praat; maar, in die publiek praat sy met hom asof hulle intiem is? Wanneer sy met hom praat, is sy verveeld, rig haar oë op iets anders, en verwaarloos hom dan vir dae aaneen. So behandel sommige ons geseënde Here! Gebed, verborge afgesonderde gebed, is die magtigste wapen wat God vir Sy kinders gegee het; tog word dit verwaarloos, verag en selde gebruik.

God is so gretig om vir ons te wys dat ons ook krag in gebed het. Hy gee vir ons hierdie heerlike herhinnering in Jakobus 5:16-18: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat hulle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag. Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jakobus 5:16-18). Elia was menslik en geaffekteer deur dieselfde dinge as ons en hy was onderwerp aan dieselfde vrese, verlange, hoop, wanhoop en behoeftes – sy gebede het egter resultate opgelewer! God wys vir ons wat om te doen in elke krisis. Hardloop na Hom! Raak ernstig! Bid deure oop en toe! Elia het ernstig gebid, hy het aangehou bid en gewag totdat die Here geantwoord het. Sewe keer het hy sy dienaar gestuur om oor die horison te kyk vir een klein tekentjie.

Vandag, na een of twee sessies, verloor ons moed en word kwaad vir God. Ons sê, “Dit werk nie vir my nie. Ek het gebid en my man en ek het steeds probleme sodat ek steeds nie het wat ek nodig het nie.” Dit is duidelik mense bid nie, omdat hulle dink dit werk nie. Maar hulle weet nie wat volhard in gebed beteken nie – om soos Elia keer op keer terug te gaan met jou kop op teen die grond. Dit word genoem, “van God besit neem.” In die Ou Testament word dit genoem “worstel met God.” Jakob se gebed was, “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën” (Génesis 32:26). Die gewag, die vertragings, is om ‘n rede: om ons te verander om soos Christus te word. Jy kan baie tyd in Sy teenwoordigheid deurbring sonder om Hom te leer ken. Hoe langer die antwoord vertraag word en hoe meer effektief jy in gebed deurdruk, hoe belangriker word Hy en hoe minder belangrik word die antwoord. In beide gevalle wen jy!

God sal ‘n oorblyfsel roep om saam met Hom af te sonder.

Die profete het voorspel dat in die laaste dae, terwyl rampe kom, God ‘n oorblyfsel sal roep om saam met Hom af te sonder. Daniël het God se goddelike horlosie vir sy tyd begryp, omdat hy die profete van die verlede bestudeer het. “...ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.  En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge ty wy” (Daniël 9:2-3). Deur Jeremia te bestudeer, het Daniël ontdek dat die sewentig jaar van ballingskap amper verby was. Jeremia 29:10-11 sê, “Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

Waarom het Daniël nie gejuig nie? Waarom het hy nie die belofte deur geloof en rus aangegryp nie? Waarom het hy begin ween, gebid, en gevas, en in sak en as gesit? Omdat hy ook ‘n voorwaarde gevind het vir al hierdie goeie dinge om te gebeur. Ja, God belowe om te verlos, om goed aan hulle te doen; maar verse 12-14 het in dieselfde hoofstuk gestaan: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander....” Sonde, of om ongeïnteresseerd te wees, kan God se beloftes kniehalter. Daniël het uit Deuteronómium [hoofstuk 4] Moses se waarskuwing ontdek dat Israel verstrooi sou word weens sonde, maar met die belofte dat sy verlos kon word. “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29).

Waar is ons in profesie?

As ons op dieselfde manier die profete ondersoek, kan ons uitvind waar ons in profesie is. Ek glo ons word gevind in Jesaja 26 en ook in Deuteronómium 4:29-31. Deuteronómium 4:30 en 31 lees, “As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.” Hierdie verse was nie vir Daniël se tyd nie. Dit is vir die laaste dae, wat ons tyd is. In Jesaja 26, sê God vir ons dat Sy goedheid wat reeds gewys is, het nie bekering teweeggebring nie. “Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ‘n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie” (Jesaja 26:10).

Amerika was gestig as ‘n land vir die opregtes. God bewys guns aan ons en wys vir ons Sy goedheid om ons tot bekering te lei. Maar ons volk handel goddeloos en wil nie God se krag en Sy werk herken om ons onthalwe nie. So, God gaan vinnige oordele stuur: “Met my siel begeer het u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid” (Jesaja 26:9). ‘n Nag van oordeel het in Jesaja se profetiese visioen ingekom en ‘n volk het hierdie nag van duisternis sien neerdaal. Hulle het na die Here teruggekeer om Hom te soek met alles wat binne-in hulle is.

God rig ‘n oorblyfsel met weë op. “Soos ‘n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp, skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o HERE! Ons was swanger, het weë gehad – dit was asof ons wind gebaar het; ons het die land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewonders gebore nie. U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ‘n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk” (Jesaja 26:17-19). Hier is ‘n vrou wat “skreeu in haar weë.”

Daardie vrou is die kerk wat uit ‘n kerk kom! Daar is honderde van julle. Vir die laaste paar jaar het iets probeer gebore word; daar was groot hongerpyne en ‘n geroep van geestelike pyn. Jy het gesmag daarna om verlos te word, so jy het hierheen en daarheen gegaan en verlossing gesoek maar slegs winde van teenstrydige leerstellinge gevind! Jy was geestelik dood of aan die sterf. Tog was jou hart wakker gemaak en jy was opgewek! “U dode sal herlewe.” Jy het ontwaak en nou sing jy ‘n nuwe lied, “U dou is ‘n dou van die lig.” Daar is heerlikheid van die Here op jou, soos dou uit die hemel, weens die lig. “Dou van lig” word vertaal, “gebore uit bonatuurlike lig.” God het jou in die lig van Sy glorieryke Woord gebring. Jy is wakker en jy sing. Jy is uit die dood opgewek met ‘n nuwe lig van Sy Woord elke dag, soos dou.

“Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, todat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor julle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie” (Jesaja 26:20-21). God het ons gewaarsku dat Sy grimmigheid oor die land sal uitbreek. Grimmigheid beteken “briesende woede, witwarm woede teen sonde.” Die Here bring nou reeds Homself in beroering terwyl Sy woede opgewek word. Hy kom op Sy wit perd en Hy sal oordeel vinnig afhandel (“die aarde sal... die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie”). God gaan die ingewande van die aarde oopmaak en strome van bloed uitstort – die bloed van onskuldige kinders! Elke druppel bloed wat hierdie moorddadige land vergiet het, het in ‘n groot dam ingesyfer, ‘n dam van onskuldige bloed, en elke lewende sel in die stroom van bloed roep uit om wraak. Die aarde sal uit sy grafte die beendere uitbraak en daardie klein ledemate sal nie langer verborge bly nie! Eenhonderd miljoen baba’s, ‘n oseaan van vergote bloed! Wanneer ons ekonomie in duie stort, sal diegene wat geestelik is, die geratel van daardie klein beendere hoor. Wanneer die maan bloed word, sal dit ‘n weerspieëling wees van daardie see van bloed van die onskuldiges.

Waar sal die heilige oorblyfsel wees? Afgesonder met God, verborge in die geheime binnekamer van gebed! Geliefde, daar kom ‘n rivierstroom: “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Openbaring 12:15,17). Daar is ‘n oorlog teen die oorblyfsel! Dit is ‘n stroom van gemors, begeertes en verleidings. Die televisiestel is ‘n sluis wat wawyd oop is en miljoene Christene wegvoer. Hulle word “weggevoer deur die rivier.” Dit is oorlog, maar nie teen vlees en bloed nie. Ons moet op ons knieë veg!

Diegene wat nie bid nie, wat nie gereed is nie, sal nie staande bly in hierdie oordeelsdag nie. Hulle sal oorweldig word deur demoniese hordes! In Openbaring 6:17 word hierdie vraag gevra, “Want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Elke kind van God wat afgesonder is met Hom tydens die grimmigheid, sal staan. “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efésiërs 6:13). “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas v. 24).

“Want Hy sal kom soos ‘n saamgeperste stoom wat die asem van die HERE aandrywe” (Jesaja 59:19). Daar sal ‘n tyd kom wanneer jy onverwags oorweldig sal word. Jy sal die lig geniet, juig, Hom dank, wanneer jy uit die bloute oorweldig sal word. Dit kan jou humeur wees, omdat Satan jou sal uitlok. Dit kan vrees wees, in ‘n skielike, onverwagte stroom. Dit kan siekte wees wat jou tref en jou krag steel. Of dit kan ‘n ou begeerte wees wat jy gedink het jy het oorwin en jy haat dit; jy het dit nie gesoek nie, maar daar is dit, soos ‘n stroom! Dit kan neerslagtigheid wees, depressie. Jy weet nie eens wat dit veroorsaak nie, maar skielik word jy daardeur oorstroom.

Maar saam met Dawid kan ons sê, “Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE. Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak vor sy aangesig my nood bekend. As my gees in my versmag, dan ken U my pad. Op die pad wat ek moet gaan, het hulle ‘n vangnet vir my gespan. Ek sien uit na regs en kyk, maar daar is niemand wat jy ken nie; die toevlug is vir my verlore; niemand vra na my nie. Ek roep U aan, o HERE! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes. Luister na my smeking, want ek is baie swak; red my van my vervolgers, want hulle is vir my te sterk. Lei my siel uit die gevangenis om u Naam te loof. Die regverdiges sal my omring as U aan my goed doen” (Psalm 142).

 

Afrikaans