Lewe in die Volmaakte Wil van God

David Wilkerson

Ons Christene sukkel so hard om die wil van God in ons lewens te vind. Wanneer ons glo dat ons sy wil vir ons gevind het, werk ons hard daaraan om dit in ons lewens vervul te sien.

Ek is oortuig dat hierdie stryd om God se wil te vind — om daarin te lewe, te wandel en die vervulling daarvan te sien — ons grootste stryd kan word. En die stryd word erger wanneer ons omstandighede benard is.

Baie Christene kan eenvoudig nie aanvaar waar hulle op hierdie oomblik is nie. Hulle lewens word swaar belas met ernstige probleme. Vir sommige is die las ‘n voortslepende siekte. Vir ander is dit ‘n ongeredde geliefde. En nou vir ‘n toenemende aantal Christene is dit ‘n finansiële krisis. Baie min Christene aanvaar dat sulke laste moontlik ‘n deel van God se volmaakte wil vir hulle lewens is.

Onlangs het verskeie mense aan my geskryf en gevra waarom ek so baie boodskappe oor die swaarkry en verdrukkinge van hulle in die liggaam van Christus preek. Dit is duidelik dat hierdie skrywers nie deel is van hulle, wat ‘n genesende woord van die Here nodig het nie.

In der waarheid, is daar talle van God se kosbare kinders wat moeilike tye beleef. En hulle is verskrik, want hulle kan nie verstaan waarom die Here toelaat dat sulke verskriklike beproewings voortsleep nie. Baie van hierdie heiliges vererger net hulle lyding deur hulself te oortuig dat hulle iets gedoen het wat hulself buite God se wil geplaas het.

Amerika en ander nasies is huidiglik onder die toorn van God Almagtig.

Niemand, wat vandag leef, kan twyfel dat ons swaarkry en rampe beleef soos nog nooit tevore op hierdie aarde nie. As Christene, glo ons dat die kerk van Jesus Christus in sulke tye verrys tot sy beste oomblikke. Ons preek dat ons lewens veronderstel is om bakens van hoop te wees te midde van groot onrus en daardeur Christus se vermoë om sy mense in alle omstandighede te bewaar, bewys. En ons vermaan mekaar om te glo, te hoop en God se beloftes in besit te neem.

Van my kant af, het ek boodskap na boodskap uitgestuur waarin ek mense aangemoedig het om geloof, standvastigheid en geduld te midde van moeilike tye te behou. En ek het gewaarsku oor die gevolge van ongeloof tydens sulke tye. Baie Christene het gereageer en geskryf dat hulle daardeur gehelp en bemoedig is in hulle geloof.

As ‘n prediker van die evangelie, weet ek dat alle volhoubare geloof en hoop ‘n fundamentele waarheid moet hê waarop dit kan groei. Wat is hierdie fundamentele waarheid? Eenvoudig dit: Ek moet weet en glo dat ek in God se volmaakte wil is – nou, op hierdie oomblik, waar ek nou is, op hierdie tyd en plek.

Eenvoudig gestel, dit maak nie saak in watter toestand ek myself vind nie — wanneer ek in die sonskyn wandel of ly, of ek ryk of arm is, siek of gesond, in die tronk of vry — ek moet glo dat ek in die middel van God se volmaakte wil vir my lewe is. Ek omhels die feit dat my treë deur God gerig is.

Persoonlik kan ek met Paulus identifiseer: In watter toestand ek my ookal bevind, ek is tevrede.

Ek dank God vir die voorbeeld van Paulus. Hierdie getroue apostel het geweet hoe om in oorvloedige seën te lewe, maar ook om hom te verbly in tye van teëspoed. Dit maak nie saak wat sy uiterlike toestand was nie, of hoe neerdrukkend sy omstandighede was nie, Paulus het altyd geweet dat hy in die middel van God se volmaakte wil was.

Paulus het baie van sy sendbriewe aan die gemeentes geskryf terwyl hy opgesluit was in ‘n beknopte tronksel, vasgebind, verafsku, afgesny van gelowiges en skynbaar van alle bediening. Tog het Paulus nooit daarvan gepraat dat hy ‘n gevangene van sy omstandighede was nie. In plaas daarvan, het hy homself ‘n “gevangene van Christus” genoem.

In sy sendbrief aan die Kolossense, het Paulus hierdie begeerte vir al die heiliges wat ly, uitgespreek:

“Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap” (Kolossense 1:9–11).

Dit is verbasend dat Paulus hierdie woorde van hoop en bemoediging geskryf het, terwyl hy in die tronk was. Inderdaad, dit was ‘n produk van sy langste gevangenskap, waarskynlik in Cesaréa. Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, het hy geen hoop gehad dat hy vrygelaat sou word nie. So ver hy geweet het, kon hy daar vir jare wees, moontlik vir die res van sy lewe.

Dit is duidelik dat Paulus vrede gemaak het met sy pynlike omstandighede.

Nêrens in hierdie brief vind ons dat Paulus die Here bevraagteken nie. Die apostel het ‘n volle geestelike kennis van God se wil betree. En hy het sy omstandighede omhels as die Here se wil vir sy lewe vir daardie tydperk. Daarom het Paulus triomfantlik aan die Kolossense geskryf, “O, dat julle mag kom tot alle wysheid en geestelike insig en kennis van God se wil vir jou.”

Kan jy jouself dit indink? Hier was Paulus in verskriklike gevangenskap, met geen vryheid hoegenaamd nie. Tog het hy gepraat van “waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei.”

Op daardie stadium, het baie in die kerk, wat van Paulus se situasie geweet het, hom bejammer. Hulle het gedink dat sy bruikbaarheid vir die Here tot ‘n einde gekom het. Hulle het Paulus gesien asof hy in sy beste jare afgesny was en hulpeloos gelaat is om enigiets te doen om die koninkryk van God uit te brei. In werklikheid, het Paulus egter gegroei in geestelike kennis, lewe en waarheid.

Nie lank gelede nie, het ‘n wonderlike jong Christen sy groot angs aan my geopenbaar. Hy het gesê, “Ek voel ‘n roeping van die Here om met jongmense en kinders te werk. Maar alle deure in die bediening word net voor my toegemaak. Ek bid vir deure om oop te gaan, maar dit lyk nie of God my gebede hoor nie. Ek voel so nutteloos en ingeperk deur my omstandighede.

“Die enigste bediening wat ek nou het, is een keer per week. Ek help met ‘n uitreik in een van ons krotbuurte. Ek dien as ‘n ouboet vir ‘n prediker se seun omdat sy pa baie siek is. Maar dit is al wat ek doen. Ek moet glo dat God meer vir my het.”

Toe ek dit hoor, het ek aan die jongman gesê, “Ek wil hê jy moet iets mooi verstaan. Wat jy op hierdie oomblik doen, is kosbaarder vir die Here as wat jy voor duisende mense in ‘n stadion preek. Bruikbaarheid vir Hom het niks met getalle te doen nie.

“Jy speel ‘n rol om daardie prediker se seun te red. Gaan en wees ‘n vriend vir ‘n paar krotbuurtkinders wat God vir jou gegee het. Wees tevrede met hierdie tyd en plek. En weet dat jy in God se volmaakte wil lewe, omdat jy getrou in die klein dingetjies is.”

Sê vir my, Christen: Het jy vrede gemaak met jou huidige situasie? Kan jy vertrou dat God sy volmaakte werk in jou doen deur al jou omstandighede heen? As jy nie kan nie, sal jy rusteloos, wanhopig en uiteindelik vir God kwaad word. Jy sal hard en bitter word.

Petrus skryf, “So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade” (1 Petrus 4:19). Net so, het Paulus beveel, “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle” (1 Thessalonicense 5:18).

Om in die volmaakte wil van God te wandel, kan lei tot “verdrukking in alles.”

Paulus skryf, “In alles word ons verdruk...verleë...vervolg...neergewerp, maar nie terneergedruk nie...nie radeloos nie...nie verlate nie...nie vernietig nie” (sien 2 Korinthiërs 4:8–9).

“In alles word ons verdruk” — kan jy jouself met hiermee identifiseer? Dit mag wees dat jy dit huidiglik ervaar. Miskien beleef jy fisieke pyn, huweliksprobleme, finansiële probleme of bekommernis oor jou kinders. Die lewe kan soms totaal oorweldigend wees.

In werklikheid, is dit moontlik is om binne God se volmaakte wil te wees en steeds soms neerslagtig te wees. Ons kan in die middel van sy wil wees en steeds verleë, beswaard en vervolg wees.

Sommige Christene word vir so lank al in alles verdruk dat hulle dink, “Dit kan nie van God wees nie. Dit is te veel om te verduur. My lyding en beproewing het al vir te lank aangegaan. Ek voel heeltemal verlaat in my beproewing. Die Here moet besig wees om my te straf oor vorige sondes. Daar is geen ander verduideliking nie.”

Paulus gee vir ons drie wonderlike waarhede waaraan hy vasgehou het, om te keer dat hy wanhopig raak:

1. “Maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe” (2 Korinthiërs 4:16).

Hoor die waarheid wat Paulus aan ons verkondig:

“Ja, al hierdie baie moeilikheid en beproewinge put ons uiterlike liggame uit. My vlees word inderdaad stadiger. Maar, terselftertyd, gebeur iets wonderliks in my siel. Al hierdie dinge werk ten goede in my mee. Ek groei in my kennis van die Here en sy weë.”

Paulus het geweet dat Hy in God se volmaakte wil gewandel het. Hy het besef dat al sy beproewinge nie gebeur het, omdat God toornig op hom was nie. In teendeel, Paulus het meer as ooit geweet dat die Here hom baie liefgehad het.

Kortliks, Paulus het sy huidige toestand omhels. En hy was besig om geduld te leer: “Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry” (Hebreërs 10:36).

2. Paulus het sy oë afgehaal van die tydelike en op die ewige gefokus.

Bepeins Paulus se woorde:

“Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid...Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:17,19).

Paulus sê vir ons, “Haal jou oë af van jou probleme. Moenie fokus op die dinge wat oor die aarde gaan kom nie. Dit alles sal verbygaan. Jou probleme en swaarkry beteken niks in die lig van die ewige heerlikheid wat op God se mense wag nie. Een oomblik in die paradys en jy sal niks daarvan onthou nie.”

Dit is van Christus geskryf, “Jesus...wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het...” (Hebreërs 12:2). Jesus self het gesê, “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

3. Volgens Paulus, wanneer ons “in alles verdruk word” — wanneer duisternis en onsekerheid ons oorval — dan beveel God ‘n wonderlike lig om in ons harte te skyn.

Paulus praat hier van ‘n heerlike openbaring van die kennis van die heerlikheid van Christus wat na ons toe kom in ons beproewings:

Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:6). Paulus beskryf vir ons niks minder nie as ‘n nuwe openbaring van die heerlikheid van God in die persoon van Christus.

Toe Paulus hierdie openbaring gekry het, was hy in die tronk sonder ‘n sent. Tog, het sy lewe skielik verander. Selfs al het hy bestaan op nederige tronkkos, is hy lewend gemaak deur die nuwe openbaring van die heerlikheid van Christus wat hy daagliks ontvang het.

Paulus het God nie daarvan beskuldig dat hy hom in hierdie tyd getugtig het nie. Hy het nooit God se wil betwyfel nie. Waarom? Die hemel het vir hom oopgegaan. Paulus het die heerlikheid van Christus gesien en hy was daagliks verander deur dit wat hy gesien het, “van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Korinthiërs 3:18).

Wat is die heerlikheid van Christus, en hoe kan ons dit sien?

Net die gedagte aan die heerlikheid van Christus is oorweldigend. Dit is beskryf as die krag en majesteit van die Here, sy gesag en grootheid, die groot Ek IS.

Die probleem is dat ek nie een van hierdie dinge kan verstaan nie. My menslike verstand is eenvoudig nie in staat om so ‘n grootsheid te verstaan nie.

Die afgelope weke het ek die Here gevra om my hart te anker in hierdie tyd van slegte tydings. Ek soek hom vir ‘n woord wat my vrede sou gee tussen al die ontstellende, slegte nuus.

Ek hoor die Heilige Gees fluister, “David, sien die heerlikheid van Christus. Dit sal jou geanker hou in vrede.”

“Dankie, Here,” het ek gebid. “Maar wat is regtig die heerlikheid van Christus?”

Vir my, bestaan sy heerlikheid uit iets wat ek nodig het en verstaan: goedertierenheid. Dit is meer as net Christus se goedheid. Dit is sy liefdevolle goedheid — dan is dit sy teer liefdevolle goedheid.

Dit mag een faset van sy heerlikheid wees. Maar dit is hoe ons nodig het om Christus te sien — die eksakte gestalte van die hemelse Vader, wat omgee, teer, liefdevol en goed is vir sy kinders.

Paulus het Christus se heerlikheid elke oggend gesien.

Hierdie erg geteisterde dienaar van God het baie dae wakker geword met diepe ontsteltenis. Daar was talle kere wat hy neerslagtig en verleë was. Maar Paulus het sy siel in beroering gebring om op te kyk, sodat hy die heerlikheid van Christus kon sien — wat beteken, die genade en goedertierenheid van die persoon van Christus. Toe Paulus dit gedoen het, het die Heilige Gees hom met krag vernuwe om elke dag te trotseer.

Jeremia het die volgende profesie geskryf: “Maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE” (Jeremia 9:24).

Let op die eerste ding in hierdie lys van dinge waarin die Here ‘n behae het: goedertierenheid. Sy boodskap aan ons is duidelik: Ons is geroep om ons in sy goedertierenheid te verbly.

Dawid het in die Psalms getuig, “Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ‘n gebed tot die God van my lewe” (Psalm 42:8–9, kursief myne).

As Jesus Christus jou Here is, het Hy die lig van sy goedertierenheid beveel om in jou siel in te skyn.

Hierdie heerlikheid van Christus — hierdie teer, goedertierenheid wat in ons harte skyn terwyl ons bid en sy Woord ondersoek — verander ons, “van heerlikheid tot heerlikheid,” na die beeld van Christus. En die openbaring van liefde, medelye en besorgdheid wat ons van Hom ontvang, moet uit ons na ander skyn.

Hierdie openbaring neem daagliks in ons toe “deur die Here wat die Gees is.” Inderdaad, dit is die Heilige Gees wat ons in die heerlikheid van Christus inlei. Die Gees doen die werk om ons te laat skyn en ons te verander deur elke omstandigheid heen. Ten slotte, Hy wys ons hoe om sy besorgde, goedertierenheid op ander wat in nood is, te laat skyn.

Ek vra jou: Wat doen jou huidige omstandighede aan jou en in jou? Is daar ‘n lieflikheid van Christus wat uit jou skyn? Vra jy die Heilige Gees om jou oë oop te maak vir die pyn en nood van ander? Dit is verandering waarvan Paulus praat wat in ons plaasvind deur die Gees van God.

Net hulle, wat rus in die volmaakte wil van God, kan vertrou dat “alle dinge ten goede meewerk” in die slegste omstandighede. So, liewe heilige, lig jou kop op en verklaar aan jouself, aan die hemel en aan jou omstandighede: “Ek leef in die volmaakte wil van God, kom wat wil.” Amen!