Luister na God
Ons is nie ons eie nie, maar Syne! Dit het begin toe ons ‘n nuwe skepsel geword het in Christus en nie meer vir onsself begin leef het nie. Ons getuienis het geword, “Ek was verlore, maar nou is ek gevind. Ek onderwerp my lewe voortdurend aan Hom.”
In Johannes 7 lees ons dat Jesus nie buite Galiléa gereis het nie, omdat die Jode Hom wou doodmaak. Die Joodse tyd van die Loofhuttefees het egter amper aangebreek en Sy broers wou hê Hy moet saam met hulle na Judéa gaan, sodat Hy erkenning kon kry en Homself aan die wêreld kon bekend maak. Jesus het hulle geantwoord, “Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie” (verse 8).
Maar toe het iets merkwaardig gebeur in hierdie toneel van Jesus se lewe. Net die volgende vers sê, “Maar nadat sy broers opgegaan het, toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar in die geheim” (7:10) Waarom het Jesus gesê Hy sou nie gaan nie – en toe wel besluit om te gaan? Dit is duidelik Hy het van die Vader gehoor. Een oomblik het Hy vir Sy broers gesê, “Dit is nie My tyd nie” en toe, binne ‘n dag of uur of selfs ‘n oomblik later, het die Vader vir Hom gesê, “Dit is die regte tyd, die regte seisoen, die regte geleentheid. Gaan!”
Ek wil dikwels my eie besluite maak in die lewe, in plaas daarvan om my te onderwerp aan God se weë. Ons is geroep om van Hom afhanklik te wees, om Sy leiding te soek, om op Sy leiding te wag tydens belangrike besluite in die lewe. Maar om dit te doen, kan ons laat voel dat ons lewens gebottelnek is. Met tye oor die jare het ek vir my vrou gesê, “Soms wens ek ek het nie nodig gehad om dinge met God uit te klaar nie.” Ek beny in werklikheid diegene wat vir werk aansoek doen as hulle dit wil hê of net oppak en trek as hulle êrens anders wil gaan woon.
Ek dink nie ek alleen het hierdie gedagtes nie. Om ons lewens aan God se wil en leiding te onderwerp, is ‘n opoffering, maar die voordele is talloos. As ons harte eenstemmig is met Syne, bemagtig dit ons vir alles.