Middelgronders
Diegene wat kies om op middelgrond te leef, het sekere eienskappe in gemeen. Die eienskappe van die twee en ‘n halwe stamme (Ruben, Gad en die helfte van Manasse) kan ook vandag gevind word in diegene wat weier om hulle afgode te vernietig en te sterf vir die wêreld. Hulle Hebreeuse name stel hulle aan die kaak.
Ruben beteken, “’n Seun wat sien!” Hy was Jakob se eersgeborene, maar hy het sy geboortereg verloor omdat hy deur wellus gedryf was. Jakob het sy seun Ruben beskryf as “...opbruising soos water – jy sal die vernaamste nie wees nie...” Ruben het by sy vader sy byvrou ingegaan en Jakob het in sy sterwensuur van hom gesê: “Toe het jy dit ontheilig. Jy het my bed beklim” (sien Génesis 49:4).
Ruben het slegs oë vir hierdie wêreld gehad – sy begeertes, sy dinge, sy plesiere. Hy was onstabiel omdat sy hart altyd verdeeld was, en hierdie gees was oorgedra aan sy nasate. Hier was ‘n hele stam wat aan die wêreld verknog en geneig was om hulle eie ding te doen.
Gad beteken, “Geluk of troepe” Eenvoudig gestel, beteken dit soldate van geluk of huursoldate. Moses het van Gad gesê, “Hy het vir hom ‘n eerstelingsaandeel uitgekies...” (Deuteronómium 33:21). Hierdie stam was uiterlik gehoorsaam, en “het die geregtigheid van die HERE uitgevoer,” maar die oorwegende eienskap was eiebelang. Gad was behep met sy eie probleme en die behoefte om “dit te maak.”
Manasse beteken, “Om te vergeet, te verwaarloos.” Dit was Josef se eersgebore seun en hy sou die eersgeboortereg ontvang. Maar selfs in sy kinderdae, het daar ‘n hartseer eienskap ontwikkel en Jakob het dit in die Gees gesien. Manasse sou eendag die weë van sy vader vergeet en die gebod van die Here verwaarloos.
Beskou hierdie gekombineerde middelgrond Christene: Onstabiel soos water in geestelike oortuigings; nooit die vernaamste in die dinge van God nie; louwarm, swak van begeerte; beheer deur selfsugtige behoeftes; verwaarloos die Woord; neem die Here se gebooie nie ernstig op nie; maak hulle eie keuses in plaas van God te vertrou; vergeet vorige seëninge en handelinge; onwillig om sekere afgode te laat staan; regverdig hulle eie besluite; nie gewillig om te sterf vir alles wat hulle kan terugneem na middelgrond nie.
Laat ons besluit om die Here se volheid te wil hê. God se begeerte vir jou is om in ‘n plek van rus, blydskap en vrede in die Heilige Gees te gaan. Dit vra dat ons Hom volg “met ons hele hart en al ons krag.”