Moenie met Krummels Tevrede Wees Nie

David Wilkerson (1931-2011)

Die evangelie van Matthéüs vertel ‘n storie wat sommige gelowiges kan ontstel: Die heidense vrou met die duiwelbesete dogter.

Hierdie vrou het Jesus so lastig geval dat die dissipels gesê het: “Here, stuur haar weg. Raak ontslae van haar. Sy gaan nie ophou om ons te pla nie.” Let op Jesus se reaksie op die vrou se smekinge: “Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie” (Matthéüs 15:23, AFR53). Dit was duidelik dat Christus die hele situasie geïgnoreer het. Waarom sou Hy dit doen? Jesus het geweet dat hierdie vrou se storie vertel sou word aan alle toekomstige geslagte, en Hy wou ‘n waarheid openbaar teenoor almal wat dit sou lees. Daarom het Hy die vrou se geloof getoets deur te sê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel” (Matthéüs 15:24). Christus het in wese gesê: “Ek het vir die verlossing van die Jode gekom. Waarom sou Ek die evangelie op ‘n heiden vermors?”

Nou, hierdie stelling sou die meeste van ons die aftog laat blaas het, maar hierdie vrou het nie toegegee nie. Ek vra jou, hoe dikwels verloor jy moed in gebed? Hoeveel keer raak jy moeg en redeneer: “Ek het die Here gesoek. Ek het gebid en gevra. Ek kry net geen resultate nie”?

Dink aan hoe hierdie vrou gereageer het. Sy het nie geantwoord met ‘n klagte of beskuldigende vinger en gesê: “Waarom weier U my, Jesus?” nie. Nee, die Skrif sê net die teenoorgestelde. “Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my” (Matthéüs 15:25).

Wat nou volg, is moeilik om te lees. Weereens het Jesus die vrou geweier. Hierdie keer was sy antwoord nog harder. Hy het vir haar gesê: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie” (Matthéüs 15:26). Weereens het Hy haar getoets.

Toe het die moeder Hom geantwoord: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval” (Matthéüs 15:27). Wat ‘n fenomenale antwoord. Hierdie vasberade vrou was nie van plan om af te wyk daarvan om Jesus na te jaag nie en die Here het haar daarvoor geprys. Jesus het vir haar gesê: “o Vrou, groot is jou geloof: laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af” (Matthéüs 15:28).

Geliefde, ons moenie tevrede wees met krummels nie. Ons is al die genade en barmhartigheid belowe wat ons nodig het vir ons krisisse. Dit sluit in elke krisis rakende ons families, gered of ongered. Ons is uitgenooi om met vrymoedigheid na Christus se troon van genade te gaan met vertroue.

Tags