Moenie U Geestelike Toestand Volgens U Gevoelens Oordeel Nie
Die apostel Paulus het die Thessalonisence verseker dat hulle geleer het hoe om welvallig voor die Here te wandel. Hy skryf, "Soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag." (1 Thessalonisence 4:1) Paulus voeg dan die volgende vermaning by. "Sodat julle nog oorvloediger mag wees" (1 Thessalonisence 4:1).
Om oorvloediger te wees, beteken om toe te neem. Paulus het hiermee gesê, "Julle het onder 'n gesonde evangelie prediking gesit. Julle het dus nou 'n soliede fondament onder julle. Daarom, moet julle in genade toeneem in elke aspek - in jou geloof, jou kennis, jou liefde."
Paulus praat oor sulke oorvloedigheid met die Korintiërs, "Maar soos julle in alles oorvloedig is - in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons - sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is" (2 Korintiërs 8:7). Hy sê met ander woorde, "God se Gees het groot veranderinge in jou lewe gebring. Daarom, moet jy meer van jouself gee in alle aspekte - in jou tyd, jou finansies, jou talente."
Hierdie gedeelte maak dit duidelik: van elkeen wat deur God se woord gevoed word, word verwag om in genade te groei. God het talente aan pastore, onderwysers, profete en evangeliste gegee vir die uitdruklike doel: om Sy kerk te laat groei. Geen gelowige is veronderstel om 'n baba in Christus te bly nie. Daar word van ons verwag om in Hom te groei, sodat ons nie weggevoer sal word deur enige valse leerstelling nie.
Jesus praat self ook oor 'n konstante groei in ons lewens: "Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê." (Johannes 10:10) Christus prys die kerk in Thiatire omdat hulle in genade toegeneem het: "Ek ken julle werke, en liefde "Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste." (Openbaring 2:19) Jesus het met ander woorde gesê, "Julle is nou meer vurig as toe julle begin het. Julle het toegelaat dat My lewe meer oorvloedig in julle gegroei het.
In Spreuke vind ons 'n herhaling hiervan: "Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe" (Spreuke 4:18). En Job verklaar, "Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag" (Job 17:9).
Ons sien dat daar geen plek is vir traagheid, luiheid of dwerggroei in die liggaam van Christus is nie. Hoe voel jy oor jou groei in die Here? Sien jy 'n voortdurende groei in geloof, hoop, liefde, gee? Indien dit so is, hoe kan jy jou groei meet?
Dit is tragies, maar baie Christene beoordeel hulle geestelike groei deur uiterlike omstandighede. Dit is so dat die meeste gelowiges daarop aanspraak maak dat hulle deur geloof leef en nie deur gevoelens nie. Maar in die alledaagse praktyk, is daar baie wat hulle geestelike lewe meet aan hoe hulle voel. En hulle is daarom oortuig dat hulle nie besig is om geestelik te groei nie. Hulle woon gereeld die kerk by, hoor God se woord, lees hulle Bybels, bid vuriglik. Maar hulle voel dat hulle geen vordering maak nie. Een gelowige het vir my gesê, "Ek moet eintlik meer gebroke wees in die Here. Ek was gewoond daaraan om maklik voor Hom te huil, maar nou is ek nie meer so teergevoelig nie. Ek groei eenvoudig nie."
Ander beoordeel hulleself omdat hulle baie preke hoor, maar min van hulle onthou. Hulle is bekommerd omdat hulle nie meer so ywerig is vir God soos hulle eens op 'n tyd was nie. Laat my toe om 'n paar insigte met u te deel oor geestelike groei.
U mag dalk heeltemal onbewus wees oor die geweldige groeiproses wat in u binnekant plaasvind. Paulus vergelyk ons geestelike groei met die groei van ons liggame. Hy sê ons siele word op dieselfde manier gevoed as ons fisiese gewrigte, spiere en vesels. Hy noem dit om, "So met goddelike groei groot word" (Kolossense 2:19).
Sulke groei kom van die hoof af. Eenvoudig gestel, soos wat jy in Christus vertrou en in Hom bly, word 'n nimmereindigende vloei van Sy lewe in jou siel ingepomp. Jesus is 'n konstante lewenskrag in jou wese, 'n lewende stroom wat nooit ophou vloei nie. Dus vloei Sy lewe voortdurend in joune in, selfs wanneer jy slaap. Elke dag voorsien Hy aan u 'n vars voorraad daarvan, dit maak nie saak hoe jy aan die buitekant voel nie.
Hoe dink u het Israel vir 40 jaar in die wildernes oorleef? Hulle het van manna geleef, brood wat uit die hemel gestuur was. Die "engele kos" het al die voedingswaarde gehad wat nodig was om die Israeliete se immuunsisteem te bou. Dit is waarom God se kinders nooit enige van die siektes van Egipte gekry het nie. Rondom hulle het die Kanaaniete, en Filistyne gesterf aan die plae. Tog, het die Israeliete die hele tyd immuun daarteen gebly.
So is dit met Christus, ons manna van vandag. Hy is die brood uit die hemel vir ons gestuur. En Hy bou ons geestelike immuunsisteem op teen allerhande sondes. Ons sien dalk nie uitwendige tekens dat hierdie manna in ons werk nie (net soos ons ook nie ons fisiese liggaam se immuunsisteem sien sterker word nie!). Maar God se woord belowe dat almal wat Jesus liefhet sterker sal groei in hulle geestelike immuniteit.
Dink hieroor na: by tye mag u dalk nog versoek word, maar oor die jare het u groeiende krag gevind om die wêreld se verleidings teen te staan. En u het meer en meer begin walg aan al die vullis wat u rondom u gesien het. U dink en praat nie langer meer soos die wêreld nie. Terwyl u kollegas uitskreeu, "Dis Vrydag, dis partytjie tyd!" dink u, "Nog net twee dae tot Sondag." Dit is omdat u groei.
Dink aan die maan en sterre. Dit wil voorkom asof hulle stil staan, met geen teken van beweging nie. Tog, hierdie hemel liggame is besig om deur die hemelruim te spoed teen honderde myle per uur. So is dit met elke Christen. Ons mag dink ons groei staan stil, met geen voorwaartse beweging nie. Maar God het aan ons 'n verbondsbelofte gegee. "Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God" (Psalm 92:14).
Jesus het jou ontwortel vanuit die koningkryk van die duisternis en jou geplant in die goeie grond van Sy koningkryk. En nou trek jy voedingskrag en lewe vanuit sy hemelse grond. Paulus skryf, "Gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof . terwyl julle daarin oorvloedig is" (Kolossense 2:7). Die apostel sê hier vir ons, "Soos u in Christus bly, sal u bloei en uitbot soos 'n blom bot met lewe. Jesus se lewe sal vanuit u binneste voortkom.
Elke dag, doen u oor en oor dinge wat vervelig raak en herhalend is. Byvoorbeeld, elke weeksdag staan u op dieselfde tyd op, u eet dieselfde ontbyt en u ry dieselfde pad na die kantoor. U gaan na dieselfde restaurant vir middagete, U stop by dieselfde koffie winkel op pad huis toe en u luister na dieselfde radio stasie tydens u rit.
Dieselfde kan waar wees van ons geestelike lewens. Sondag oggend, gaan ons kerk toe en sit ons op dieselfde sitplekke. Ons sing dieselfde koortjies en gesange. Selfs ons gebede kan dieselfde klink. Ons doen dieselfde dinge oor en oor. En ons kom in die versoeking om te dink, "Ek doen niks meer as wat ek maar altyd gedoen het nie. Ek lees my Bybel en ek bid. Ek sing in die koor. Maar daar is nie 'n verskeidenheid daarin nie. Ek doen dieselfde dinge al vir jare. Ek groei hoegenaamd nie."
Watter leuens kan ons gevoelens tog nie vir ons vertel nie. Sulke gedagtes kan ons van God se genade beroof. Die feit is, ons almal staar eindelose herhaling in ons daaglikse roetine in die gesig. Dit is soos die lewe is. Die ware bewys van groei is dat ons nie gestop het nie. Ons gee onsself nog vir God se werk, dag na dag, week na week, jaar na jaar.
U sien, om in genade te groei beteken nie om meer en groter dinge vir God te doen nie. Ware groei beteken om dieselfde dinge oor en oor te doen met meer hartsversekering dat ons alles vir Hom doen. Dit is soos om in graad een te leer skryf. Jy begin met draaie, sirkels en lyne, en die vorming van groot letters. Maar na 'n tyd, raak die letters kleiner en staan dit nader aan mekaar. Mettertyd, leer jy om woorde saam te voeg en sinne te vorm. Alhoewel jy dieselfde dinge herhaardelik gedoen het vir 'n lang tyd, het jy geskryf. Die hele tyd is iets waardevols bereik.
Ek is oortuig dat geestelike groei meer in die herhalende dinge plaasvind, as wanneer u van een bedienings aktiwiteit na die ander spring. Dit kos meer genade om eenvoudig net aan te gaan as ons moeg is, gebroke, terneergedruk of bedroef is, as wanneer alles nuut is. U mag dink dat u geestelik dood is, en nêrens heen oppad is in die Here nie, maar heel moontlik groei u daagliks in Christus.
Bekerings ervarings is dikwels emosioneel, omdat hulle so nuut is en so verskriklik spesiaal is. Die verandering wat in ons siele plaasvind is so skielik, dat dit oorweldigend is. Dit is wonderlik om so skielik van sonde en slawerny omgedraai te word na 'n hele nuwe lewe in Christus.
Ons vroeë geestelike groei is soos 'n kind wat leer om te loop. Dit is wonderlik en 'n groot opgewondenheid wanneer 'n baba sy eerste treë neem. Die Pa en Ma glimlag, moedig hom aan, "Kom na ons toe, jy kan dit doen." Met wankelende treetjies, neem hy twee treë, drie treë, dan gaan sit hy weer. Onmiddelik word hy opgetel en geprys. Sy boeties en sussies prys hom, "Oulike seuntjie!" Hy is die middelpunt van almal se aandag. En eindelik, wanneer hy dit regkry om deur die kamer te stap, prys almal hom. Wat 'n emosionele gebeurtenis is dit nie vir hom nie!
Maar nie lank nie dan is die baba nie meer die middelpunt van belangstelling nie. Nou wanneer hy val, staan hy self op. En hy loop oral oor in die huis, en maak deurmekaar. Hy gooi plante om, haal potte en panne uit, trek kleedjies van die tafels af. En hy word gedissiplineer daarvoor. Skielik is dinge nie meer so opwindend vir hom nie. Sy eerste tree was gelaai met 'n gelag en blydskap. Maar nou dat hy geleer het om te loop is dit nie meer so skouspelagtig of emosioneel nie.
U geestelike groei is soortgelyk. Toe u 'n baba in die Here was, het u gevoel dat God u spesiaal aandag gegee het. Elke keer as u geval het, was Hy daar om u op te tel. Soos Paulus skryf, u is nie veronderstel om vir altyd 'n kind te bly nie. Net soos 'n kleuter geleer word om nie in die straat in te gaan nie, word u ook geleer om nie in geestelike vure in te loop nie. Nou wanneer u val, kyk u rond vir iemand om jou op te tel, maar daar is niemand nie. God leer u om op Sy woord te staan en in geloof te wandel, en om nie soos 'n baba te kruip nie.
Natuurlik is dit moontlik om louwarm en onverskillig te word in u geloof. Baie gelowiges is in so 'n toestand. Maar Jesus se waarskuwing teen die verloor van ons eerste liefde is nie vir u bedoel as u hart nog na God verlang nie. Die bewys dat u nog in genade groei is dat u nog besorgd is daaroor om afvallig te word. Dit is waarom u nog gedurigdeur u hart ondersoek.
Tog het Satan baie Christene gepootjie deurdat hy hulle daarvan oortuig het dat hulle iets verloor het in die Here. Dis 'n feit dat dit 'n verskriklike sonde is om aan God se liefde vir u te twyfel en u posisie in Christus te beoordeel volgens u gevoelens. U dag-tot-dag wandel met Jesus het niks te doen met u ywer, trane of intensiteit nie. Dit rus op geloof alleen.
Stel u voor hoe verlore u sou wees as u verlossing net op u gevoelens moes rus. Paulus moedig ons aan, "Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is" (Fillipense 3:13). U moenie staatmaak op emosionele ervarings van die verlede nie. Wat vandag saak maak is, vertrou u op Sy beloftes aan u? Is u gereed om deel te neem aan Sy goddelike natuur op 'n ware Bybelse manier - nie deur emosionele ervarings of uiterlike bewyse nie, maar deur uself te werp tot sy hemelse beloftes?
"Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is." (2 Petrus 1:4). Petrus maak dit duidelik, ons verkry Christus se natuur deur beslag te lê op God se verbonds beloftes, en op geen ander manier nie.
'n Prediker het eendag by my kom spog, "Ek het uiteindelik weer by die geloof van my jeug uitgekom. Ek bid meer, en die Bybel is weer my vleis. God gee vir my rooi-warm boodskappe vir my gemeente. En weereens het ek 'n groot liefde vir die verlore siele. Ek voel so hernuwe. Maar net 'n paar maande later, was dieselfde man weer in 'n diep donker gat.
God bring vernuwing en vars salwing in ons lewens. Maar dit is nie die kos waarop ons leef nie. Ons moet op 'n konstante geloof leef in Sy verbonds beloftes. Sy woord is onwankelbaar, dit maak nie saak hoe laag ons voel nie. God sal sy beloftes aan ons hou: "Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig" (Judas 24).
Daar is baie bewyse van geestelike groei. Laat ek net drie noem:
'n Sekere teken van geestelike groei is dat u elke probleem en krisis dadelik na Jesus neem. U het geleer dat jy 'n plek het om na toe te gaan.
Sommige Christene is altyd in 'n krisis. Elke keer as jy hulle ontmoet, vertel hulle vir jou van 'n ander verskriklike klagte: "Ek staar die een ding na die ander in die gesig. Ek weet nie wat om te doen nie." Hulle is bereid om hulle probleem met elkeen in die omtrek te bespreek. Maar hulle neem dit nooit na Jesus toe nie, asof Hy niks het om hulle te offer nie.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek verwys nie na Christene wat deur 'n regte probleem gaan nie. Elke dag ontvang ons bediening duisende briewe van gelowiges wat ware lyding deurmaak. Ek praat eerder van die profesionele klaers in die kerk. Hulle is deskundiges waar dit klagtes aangaan. Soos jy na hulle luister, wil jy eintlik vra, "Is jou God dood? Waarom trek jy nie die hulpmiddele wat Hy aan jou voorsien aan nie? Weet jy nie dat Hy jou meer as 'n oorwinnaar maak nie?
Hoe aangenaam is dit nie vir die Here as u eerste na Hom gaan met u sorge nie. Jy weet dat u Iemand spesiaal het wat getrou is om u uit te help.
'n Belangrike teken van volwassenheid is dat u nie langer God uitdaag om Homself aan u te bewys met sigbare bewyse of 'n innerlike stem nie. Dit is so, dat die Here met Sy mense praat. Jesus sê Sy skape ken Sy stem. Maar die stem wat God gebruik met Sy mense vandag word geopenbaar in Sy woord. Hebreërs verklaar: "Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun" (Hebreërs 1:1-2).
Verder, wanneer die Heilige Gees met ons praat, is dit om ons aan Jesus se woorde te herinner: "Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het" (Joh 14:26).
Wanneer ons op 'n innerlike stem of op uiterlike tekens staatmaak om van God te hoor, maak ons onsself oop vir ongelooflike misleiding. Laat ek vir u 'n voorbeeld gee. Nie lank gelede nie, het ek op twee predikante konferensies gepraat, in Detroit en Indiana. Voordat ons vir die byeenkomste vertrek het, het ek vir Gwen gesê, "Ek sien nie veel tekens dat ek geroep is om by sulke soort byeenkomste te gaan praat nie. As God my nie 'n sekere soort teken gee vir die uitstappie nie, sal ek nie daarmee voortgaan nie. Ek hou daarvan om te preek by Times Square Church, en dit is vir my genoeg. Buitendien, haat ek dit om te reis. Die Here sal duidelik met my moet praat."
In Detroit, het God die woord wat ek gepreek het geseën. Na die tyd het 'n hele aantal predikante hulleself op die vloer neergegooi, en na God geroep. Nog steeds was dit nie genoeg bewys vir my nie. Later, in Indianapolis, het ek voor die tyd gebid. "Here, U moet my 'n duidelike teken gee vanaand, anders sal dit my laaste byeenkoms wees. U moet vir my wys dat die woord wat ek vanaand aan hierdie predikante gee hulle harte deurvors."
Raai wie anders het die gebed gehoor, behalwe die Here? Satan het. Skielik het 'n klein, soet stemmetjie vir my gefluister, "David, vanaand gaan jy tekens sien soos nog nooit voorheen nie. Jy sal nie nodig hê om enige iets te doen, behalwe om net daar te staan nie. Die Heilige Gees sal kragtig deur die saal vee en oral oor vir jou tekens." Ek het gejuig, en gedink, "Alle eer aan die Here, dit is wonderlik. Dit is net waarvoor ek gebid het."
Die Here het my die aand weer gesalf. Toe ek klaar gepreek het, het ek net my Bybel toegemaak en gebid, "Goed Here, nou is dit U beurt. Waar is die tekens wat ek veronderstel is om te sien? Ek gaan net hier staan, soos U my gesê het om te doen."
Niks het gebeur nie. Na 'n paar minute, het die gehoor begin wonder wat ek beplan. Ek het hulle verseker, "Asseblief, vriende, verdra my net vir 'n oomblik, ek wag op die Heilige Gees." Steeds het niks gebeur nie. "Eindelik het ek omgekrap begin raak met God. Ek het besluit, "Goed, Here. Ek neem dit as 'n teken dat ek nie meer hierdie soort praatjies moet hou nie."
Op daardie stadium het ek nie geweet wat om te doen nie. Ek het dus aan die gehoor voorgestel, "Waarom hef ons nie almal ons hande op na Jesus en prys Hom nie?" Stil het almal begin om die Here te prys. En die wonderlike, sagte Gees van God het die saal gevul.
Skielik het ek gelei gevoel om die vrouens van die predikante te vra om na die altaar te kom. Ek het vir hulle gesê, "Ek wil hê dat julle vir mekaar moet bid." Hulle het mekaar se hande vasgehou en begin bid. In 'n oomblik, het die soete teenwoordigheid van die Here op die vrouens neergedaal. Hulle het begin huil, met mekaar dinge gedeel, en mekaar vasgehou. God het hulle aangeraak en hulle genees. Tog was daar geen donder en weerlig nie, geen bo-natuurlike bewyse nie. Dit was net 'n stil, mooi werk van die Heilige Gees.
Die volgende oggend, het ek en Gwen 'n pastoor se vrou in die hysbak herken. Sy het gestraal. Sy't vir ons vertel dat haar lewe verander is deur die byeenkomste. Kort daarna het ons ook van ander getuienisse te hore gekom van vrouens wat verander is, en van getroude pare wie se huwelike weer hernu is.
Ek het gesien dat die wonderlike werk nie die kragtige tekens was wat aan my belowe is nie. En ek het vinnig besef wat die duiwel probeer doen het.
Satan het my uitdaging aan God gehoor vir uiterlike bewyse. En hy het probeer om te voorkom dat ek moes voortgaan om predikante in beweging te bring. Hy wou my oortuig, "Sien? God het nie aan jou versoeke voldoen nie. Jy moet dit neem as 'n teken om te stop."
Nee! God het voor my 'n oop deur gestel. En Hy het vir my die boodskap gegee om te preek. Ek moes eenvoudig my God gehoorsaam, Sy woord vertrou en al die resultate by Hom los. Hy volbring alles altyd op Sy eie manier, hard of sag, sigbaar of onsigbaar.
Een van die allerhoogste tekens van 'n volwasse gelowige is liefde vir die verlore mensdom. So 'n Christen wys liefde in gelyke mate aan Jood en Palestyn, aan Bosniërs en Serviërs, vir almal.
Ek glo God is in beheer van alle globale situasies. Hy beweeg dinge volgens Sy ewige planne, selfs bloedige krisisse en oproerigheid. Huidiglik, staan die Midde Ooste op die randjie van 'n oorlog. Die Time tydskrif het 'n storie gepubliseer in Oktober met die naam, "The Bloody Mountain", wat gaan oor die tempel berg in Jerusalem. Die area beslaan 35 hektaar, waarop 'n Arabiese moskee staan, bekend as die "Golden Dome of the Rock". Die Palestyne noem die moskee die "Noble Sanctuary". Maar die Jode glo die land behoort aan Israel. Daarom sien hulle die "Dome of the Rock" as die volgende, "En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie" (Markus 13:14).
Die Jode is daarvan oortuig dat Israel se tempel herbou sal word op presies dieselfde plek waar die moskee nou staan. 'n Prominente rabbi, Haim Richman, wys na die "Dome of the Rock" en sê, "Die tempel sal presies hier herbou word, en nêrens anders nie." Rabbi Richman se navorsers het reeds die priesterlike klere ontwerp en al die benodigdhede wat nodig sal wees om in die tempel te aanbid. Dit sluit 'n silwer "mizrak" in om die bloed van die offerdiere in op te vang, asook 'n miljoen dollar menorah ('n goue kandelaar).
Volgens Time, sê rabbis en mollas dat God vir hulle gesê het dat die berg slegs terug geneem sal word deur bloed. Ander verslae openbaar dat Jode reeds planne gefinaliseer het om die derde tempel te bou. Sommige waarnemers vrees dat militante Ortodokse Jode besig is om ondergrondse tonnels te grawe wat Solomon gebou het, met die doel om die moskee op te blaas.
Intussen, het die Palestyne verklaar dat Jerusalem binnekort hulle hoofstad gaan wees. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek wens vir geen geweld in die Midde Ooste nie, maar die Bybel voorspel baie duidelik dat daar oorlog sal wees in Jerusalem. Daarom, moet ons nie verbaas wees as ons een oggend wakker word en lees, "Arabiese Moskee vernietig: Egipte, Sirië, Iraq, Iran en Jordanië almal verklaar oorlog teen Israel."
Selfs al sien ons nou 'n tydelike kalmte, glo ek dat ons vinnig besig is om so 'n vervulling van 'n bybelse profesie en Jesus se wederkoms te nader. Wêreld spanning sal opduik, met geweldige haat, bittere gevegte, rasse oproerigheid, etniese slagting. Hoe moet ons as Christene reageer? Moet ons die siele van sulke Palestyne liefhê, wie stene van bo van die Klaagmuur in Jerusalem gooi, op die biddende Jode? Moet ons die Israeliete liefhê wat 2000 Palestyne geskiet het? Moet ons die Serviërs liefhê wat duisende in die Balkan vermoor het, en die mense van Kosovo wat teen die Serviërs wraak geneem het?
Alleen 'n uitgegroeide volwasse gelowige kan hierdie woorde van Jesus aanvaar. "Wees lief vir jou vyande. Bid vir die wat jou vervolg en jou kwaadwilliglik gebruik. As jou vyande honger het, gee hom iets om te eet." Ek vra u, kan u u voorstel hoe dit sal wees om vir 'n maand in 'n Palestynse veld hospitaal te wees en die gewonde soldate wat Israel wil vernietig te verpleeg en kos te gee? Kan u u vooroordele in toom hou as jy aanhitsende nuus verslae lees in die komende dae? Sal u dieselfde gees wat in Christus was, wat toe hy gekruisig is gesê het, "Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie" kan behou?
As u wil wandel soos Jesus gewandel het, kan u nie toelaat dat u menslike passies deur hoofopskrifte aangehits word nie. Christus het vir elke verlore siel op hierdie aarde gesterf, insluitende aborsie dokters, moordenaars, verkragters, kinder molesteerders. Huidiglik, is ons tronke vol met beskuldigdes wat kragtige getuienisse van die reddende liefde van Jesus geword het, omdat iemand hulle liefgehad het ten spyte van hulle sondes.
U kan weet dat u in genade groei as u dit regkry om te bid vir die wat deur die wêreld gehaat word. Soos ons hoor van verskillende dinge wat gebeur, moet ons alle vooroordele wat in ons opkom teenstaan, en verklaar. "Ek neem Christus se outoriteit oor hierdie dinge. Ek sal die mensdom liefhê soos die Here."
Hier is die groot belofte wat al ons gevoelens van twyfel en onsekerheid tot rus kan bring. "Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde . Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie . maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie" (Jesaja 40:28-31).