NIE ALLEEN IN JOU PROBLEME NIE

David Wilkerson

“Dat ek die kwaad vermy het en met 'n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie” (Psalm 73:13).

Die skrywer van hierdie Psalm, Asaf, was verward as gevolg van sy lyding, veral toe hy die gemaklike lewe van die goddelose mense om hom raakgesien het. Hy het amper in ‘n put van ongeloof beland, reg om God te beskuldig dat Hy hom verlaat het en ook van onbetrokkendheid. Hy het in werklikheid amper die stryd heeltemal gewonne gegee.

Hierdie goddelike man moes gedink het, “Ek het verniet al die tyd reg gelewe en ontberings beleef. Al my ywer was tevergeefs. Ek was getrou om Hom te prys en Sy Woord te bestudeer en daarom maak al hierdie plae en hartseer geen sin nie. Wat is die nut daarvan om voort te gaan?”

Geliefdes, wanneer al hierdie ellendes en beproewings oor ons kom, moet ons baie versigtig wees. Wanneer jy treur, dan moet jy jou hart bewaar teen gly.

As jy nie persoonlik in Asaf se posisie is nie, mag jy miskien weet van iemand wat is. Miskien is dit ‘n familielid of ‘n vriend of ‘n gemeentelid wat ‘n groot probleem het. Wanneer jy daardie regverdige persoon se lyding sien, dan vra jy, “Hoekom God? Hoe kon U toelaat dat dit gebeur?”

Asaf het na die tempel toe gegaan en gebid. Net so, wanneer jou tyd van droefheid en lyding kom, dan moet jy na jou binnekamer van gebed toe gaan. Wees alleen met God en huil jou hart uit voor Hom. Hy sal verstaan.

Die Heilige Gees het met Asaf gepraat, “U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei” (vers18). Asaf besef, “Ek is nie die een wat gly nie, dit is die goddelose wat gly, reguit in vernietiging in.”

Toe Asaf die totale prentjie begin sien, het hy bly uitgeroep: “God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd” (vers 26). Hy kon sê, “Ja, my krag faal my en ek verduur ‘n groot aanslag, maar ek is nie alleen in my stryd nie. Ek het ‘n liefdevolle Vader in die hemel wat oor my waak!”