Nouer Gemeenskap met God
Henog het intieme gemeenskap met die Here geniet. Trouens, sy gemeenskap met God was so intiem dat die Here hom in die hemel opgeneem het lank voor sy lewe op aarde geëindig het. “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het” (Hebreërs 11:5).
Waarom het die Here verkies om Henog in die hemel op te neem? Die openingswoord van hierdie vers sê vir ons baie duidelik dat dit as gevolg van sy geloof was. Die slotvers sê verder vir ons dat Henog se geloof God behaag het. Die Griekse stamwoord vir “behaag” hier, beteken volkome verenig, heeltemal in ooreenstemming, in totale eenheid. Kortom, Henog het die nouste moontlike gemeenskap met die Here gehad wat enige mens na die sondeval kon geniet en hierdie intieme gemeenskap het God behaag.
Die Bybel sê vir ons dat Henog met die Here begin wandel het nadat sy seun Metusalag gebore is. Henog was toe vyf-en-sestig. Hy het die volgende 300 jaar deurgebring deur intieme gemeenskap met God te hê. Sover ons weet, het hierdie man nooit ‘n wonderwerk gedoen nie, nooit ‘n deurslaggewende teologie ontwikkel nie, nooit enige groot dade gedoen wat waardig is om in die Skrif te noem nie.
In plaas daarvan, lees ons hierdie baie eenvoudige beskrywing van ‘n getroue man se lewe: “Henog het met God gewandel.”
Hebreërs maak dit duidelik dat Henog so in aanraking met die Vader was, so naby Hom met uurlikse gemeenskap, dat God gekies het om hom na Homself in die hemel te neem. Die Here het in wese vir Henog gesê: “Ek kan jou nie verder in die vlees neem nie. Om my intimiteit met jou te vergroot, moet Ek jou na my kant toe bring.” Daarom het Hy Henog in die hemel opgeneem.
Hoe dikwels bid ons vir daardie vlak van dieper gemeenskap met God? Hoe dikwels smag ons om met God te ontmoet? Henog se lewe is ‘n wonderlike getuienis van wat dit beteken om werklik in geloof te wandel en dit behoort ons te inspireer tot gebed en verlange.