Om Christus te Voed

David Wilkerson

Terwyl Jesus op pad was na Galiléa, het Hy by Jakob se put in Samaría gekom. Moeg van die reis, het Hy gestop om daar te rus terwyl sy dissipels gaan kos koop het. In die tussentyd het ‘n Samaritaanse vrou na die put gekom om water te haal. Jesus het ‘n eenvoudige versoek aan haar gerig: “Gee vir My water om te drink” (Johannes 4:7).

Christus se woorde aan hierdie vrou het ‘n lang gesprek tot gevolg gehad. Sy het op die ou end lank en breedvoering gepraat en so ook Jesus. Tydens hulle gesprek, was sy verwonderd oor die dinge wat Hy vir haar vertel het. Uiteindelik het sy gesê, “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!” (Johannes 4:25-26).

Net toe Christus sy identiteit aan haar geopenbaar het, het die dissipels teruggekeer. Hulle was verbaas om hulle Meester so diep in gesprek met hierdie Samaritaanse vrou te vind. Toe hulle gaan sit om die maaltyd voor te berei, het die vrou groot-oog haar terug gehaas dorp toe. Uiteindelik toe die kos reg was, het hulle gesê, “Rabbi, eet” (Johannes 4:31).

Jesus het met hierdie verwarrende stelling geantwoord, “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie” (Johannes 4:32). Hy het haar in wese vertel, “Ek is reeds gevoed. Iets het gebeur terwyl julle weg was en Ek is heeltemal versadig. Sien, daar is iets wat julle nie van My weet nie. My voedsel is nie van hierdie wêreld nie.”

Christus het verduidelik, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Ons almal weet God se werk is om die evangelie te saai en te maai en ‘n oes van siele te versamel. Jesus sê in net die volgende vers, “Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie...slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Johannes 4:35).

Kortliks, ons lewe moet daaroor gaan om God se koninkrykswerk van getuig en siele-wen te doen. Jesus het hierdie werk met die Samaritaanse vrou gedoen. Die Bybel sê sy het geglo Hy was die Messias en het getuig, “Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” (Johannes 4:29).

Daar is ‘n doel agter al ons arbeid in die koninkryk. En daardie doel strek verder as ‘n groot oes van siele. Die Vader se wil vanaf die skepping – sy hele doel agter die geboorte van die mensdom – was om ‘n liggaam van gemeenskap vir sy Seun te skep. En hier, in hierdie toneel by Jakob se Put, sien ons Christus se behoefte vir gemeenskap vervul word.

Jesus het vir sy dissipels in wese vertel, “My honger is versadig deur hierdie vrou. Al waarvoor Ek gevra het, was ‘n slukkie water. Maar sy het my gevoed. Sy het my ‘n eerlike, soekende hart gegee. Terwyl Ek met haar gepraat het, het sy aandagtig geluister. Sy het op My gewag en elke woord gehoor wat Ek vir haar gesê het. En sy het na my woorde geluister, geglo en daarop gereageer. Julle moet verstaan, hierdie soort gemeenskap is My voedsel.”

Die Skrif sê Christus was gebore voor die wêreld geskep was: “Die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Hebreërs 1:2). “Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:2-3).

Van die heel begin af, sien ons dat die Here gemeenskap met die mens soek. Sy Gees het met Adam in die Tuin van Eden gewandel en in die koelte van die dag met hom gesels. Hierdie intieme tye was voedsel vir die Here en dit het Hom behaag en verheug. Sulke gemeenskap was sy plan van die begin af. Maar toe Adam gesondig het, was die gemeenskap verbreek.

Later in Génesis, lees ons van ‘n man genaamd Henog wat in die hemel opgeneem is: “En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem” (Génesis 5:24). Henog het gemeenskap met God gehad vir 365 jaar. Tog het hy slegs die helfte van die normale lewensduur gedurende daardie tyd geleef. Terwyl ek hieroor gepeins het, het ek ervaar dat God se Gees vra, “Waarom dink jy is Henog sou gou na heerlikheid gebring? Sy eweknieë het geleef om sewe- of agthonderd jaar oud te word. Waarom sou Ek hom wegneem in sy middeljare?”

Ek het geen antwoord gehad nie. Die Gees het gefluister, “Gemeenskap is my voedsel, David. My Woord sê Henog het met My gewandel. Dit beteken hy het met My gekommunikeer, op My gewag en my stem leer ken. Hy het geluister terwyl Ek my hart vir hom oopgemaak het. Ons gemeenskap het so intiem geword, dat Ek hom hier in die ewigheid saam met My wou hê, waar daar geen nag is nie. So, daarom het Ek hom aan my sy gebring het vir eindelose, ononderbroke gemeenskap.”

Die Here het my dieselfde vraag oor Moses gevra: “Waarom het Ek my geliefde dienaar na My geroep toe hy ook in die fleur van sy lewe was?” Jy mag dink, “Dit is omdat Moses nie veronderstel was om in die Beloofde Land in te gaan nie.” Maar in werklikheid het Israel Kanaän nie dadelik binne gegaan nie. Moses kon heelwat langer geleef het.

Ek het die Here hoor sê, “Moses het met My gekommunikeer soos geen ander mens nie. Waarom dink jy het hy teruggekom van die berg af met ‘n bonatuulike gloed op sy gesig. Die wet kon nie daardie gloed vorm nie. Dit was die effek daarvan om in my teenwoordigheid te wees vir veertig dae en nagte. Toe ons van aangesig tot aangesig ontmoet het, het hy My gevoed. Ja, Ek het hom bevele gegee gedurende daardie tyd. Maar ons het ook soete gemeenskap gehad. Ek het met Moses gepraat en hy het na My geluister. Ek het hom gewys hoe die Tabernakel ‘n toonbeeld van My was, vol heerlikheid. So, uiteindelik, toe ek Moses weggeneem het, was dit om hom aan my sy te hê, saam met Henog."

Volgende het die vraag gekom, “Wat van Elia? Waarom dink jy het Ek ‘n wa gestuur om hom te kom haal? Hierdie vurige profeet kon baie langer geleef het as ‘n getroue getuie vir My. Ek het hom pas ‘n visioen gegee van wat ware bediening is. Maar in plaas daarvan, wou ek Elia in my teenwoordigheid inbring. Hy het voor my gebid soos min ander mense. En Ek wou hom aan my sy hê vir ononderbroke gemeenskap deur die ewigheid heen.”

Daar was nou drie intieme dienaars by die Here versamel. Dit bring ‘n groter betekenis aan Jesus se woorde: “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde” (Matthéüs 18:20). Met ander woorde: “Wanneer twee of drie van julle saam in gemeenskap is, is Ek daar met julle, in gesprek en besig om te kommunikeer. En dit voed My. Dit verheug My dat julle op My wag. Julle bedien diep aan My deur te wag om my stem te hoor. Julle vervul die Vader se doel van die heel begin af.”

Laat my jou nou neem na die Berg van Verheerliking. Jesus het drie van sy dissipels daarheen geneem, Petrus, Jakobus en Johannes. Skielik, voor die mans se oë het Christus in die hemelse realm inbeweeg: “En sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig” (Matthéüs 17:2). Volgende lees ons, “En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elia in gesprek met Hom” (Matthéüs 17:3). Die Griekse woord vir gesprek is hier “soon,” wat eenheid of gemeenskap beteken. Moses en Elia het met Jesus gemeenskap gehad en oor en weer gesels.

Waaroor het hierdie toneel gegaan? Ek glo dit het niks met Jesus se bediening op die aarde te doen gehad nie. Dit het ook niks met sy dissipels te doen gehad nie. Christus het hulle immers opdrag gegee, “Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mense uit die dode opgestaan het nie” (Matthéüs 17:9).

Nee, ek glo Jesus, in sy verheerlikte liggaam, het gesmag na een laaste maaltyd. Hy het geweet wat vir Hom gewag het en Hy het gesmag na voedsel waar die mens “nie van weet nie.” Hy was op die punt om die kruis te trotseer, om die prys waarop Hy ooreengekom het, te betaal en om die mensdom van sonde te verlos. En nou wou Hy ‘n feesmaal hou met intieme vriende om sy geloof te versterk vir die komende beproewing. Volgens my, was Christus se ontmoeting met Moses en Elia ‘n gawe van die Vader. God wou sy Seun herinner aan sy heerlikheid deur te sê, “Hier is die hemelse voedsel wat vir Jou wag.”

Die volgende gelykenis behoort die wyse waarop elke Christen gemeenskap sien te verander:

“En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Lukas 17:7-10).

Ons weet die meester in hierdie gelykenis is Jesus. En die diensknegte hier verteenwoordig elke gelowige. Dit is duidelik dat hierdie gelykenis daaroor gaan om Christus te voed. En duidelik sien ons Here hierdie daad as ons hoogste roeping.

Jy mag beswaar aanteken, “Ek dag ons hoogste moontlike roeping is om in die oesvelde in te gaan om te arbei.” Dit is waarlik ‘n hoë roeping. Maar Jesus sê dit is nie die hoogste nie. Die “hoë roeping van God in Christus Jesus,” soos Paulus daarna verwys, is om Hom te voed. Alle dienswerk moet gebore word uit gemeenskap en intimiteit met Christus. Ek het dit nie verstaan nie, totdat ek myself in die dienskneg se skoene geplaas het.

Skielik was ek die een op die lande, wat geploeg het en die skape gevoed het. Wanneer die werksdag verby was, was ek moeg, natgesweet en honger. Ek het hard en getrou gewerk en nou het ek voedsel nodig gehad. Daarom gaan ek na die meester se etenstafel om gevoed te word. Wanneer ek inloop, verwag ek om my meester te hoor sê, “Gaan sit asseblief. Jy moet verfris word.” Dus staan ek naby die tafel, lyk ek doodhonger met pleitende oë, “Ek het behoefte.” Maar die meester sê nie, “Sit en eet” nie. In plaas daarvan, beveel Hy, “Sit jou voorskoot aan. Ek is gereed om te eet, so bedien My eerste. Dan, nadat jy My bedien het, mag jy eet en drink.”

Hier is die positiewe bewyse dat ons geroep is om Christus te voed. Met die eerste oogopslag, klink hierdie bevel hard en veeleisend. Maar niks kan verder van die waarheid af wees nie. Die goddelike profeet Elia het ‘n soortgelyke bevel gegee toe hy gevoed was deur ‘n weduwee. Elia het vir haar gesê, “Maak eers vir my ‘n broodkoek. Dan mag jy eet.” Wat eintlik in beide gedeeltes gesê word, is, “Plaas God se koninkryk eerste. Dan sal al die ander dinge vir jou bygevoeg word.”

As ek sien wat Jesus werklik hier sê, smelt my hart. Hy het reeds vir sy dissipels gesê, “Ek noem julle vriende” (Johannes 15:15). En nou sê Hy in wese, “Julle is my diensknegte, maar Ek noem julle vriende. En daar is ‘n behoefte in My wat net julle vriendskap kan vervul. Julle was heeldag in die lande om vir My te werk en julle is moeg en honger. Maar, voor Ek julle voed, wil Ek hê dat julle iets vir My doen. Ek wil hê julle moet by my tafel kom sit en My met julle laat gesels. Daar is soveel op my hart wat Ek vir julle wil vertel. Ek sien elke dag uit na hierdie tyd wanneer Ek met julle gemeenskap kan hê. Omgord julleself nou en bedien My.”

Ons moenie hierdie dienskneg sien as ‘n kelner wat waansinnig van die kombuis na die tafel draf nie. Nee, die dienskneg waarvan Christus hier praat, is die beeld van ‘n vriend, iemand wat genooi is om eenvoudig te sit en te luister. Die meester vertel vir hom. “Ek het na jou verlang. Voed My nou deur toe te laat dat Ek die las van my hart met jou deel. Laat My in jou lewe inspraak maak. Ek wil vir jou dinge van die toekoms wys.”

So, jy sien om Christus te voed is nie ‘n eenrigting verhouding met ons wat al die praatwerk doen nie. Liewer, ons voed ons Meester deur ons daarin te verbly om sy stem te hoor. Ons bedien voedsel aan Hom deur geduldig te wag. Die Here beskryf dit as volg aan Esegiël: “Die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het...hulle moet na My toe nader kom om My te dien...Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien” (Esegiël 44:15-16). Die priesters van Sadok het die hoogste roeping onder God se volk gehad. Wat het die Here van hulle gevra? Hy wou hê moes by sy tafel bedien. Ons doen dit vandag deur ons Here ‘n oor te gee om sy stem te hoor.

Jesus praat van dieselfde tafel van intimiteit: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met Hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20). Christus sê in wese, “Ek is hier en wil inkom en by die etenstafel met jou praat. Ek wil jou voed en jou My laat voed.”

Jy mag dink, “Maar Jesus gebruik sulke koue woorde in hierdie gelykenis, soos ‘plig’ en ‘onverdienstelike dienskneg.’ Dit klink so onbarmhartig. Dit strook nie met God se karakter nie.” In werklikheid beteken die Griekse woord vir onverdienstelik hier sonder meriete. En die woord vir plig beteken voordeel. Kortliks, elke getroue dienaar moet erken, “Daar is geen meriete in dit wat ek gedoen het nie. Ek het net gedoen wat tot my voordeel strek.”

Jesus sê met ander woorde: “Moenie my teenwoordigheid verlaat deur die volgende te dink nie, ‘My meester moet baie dankbaar teenoor my wees. Ek het vandag kwaliteit tyd aan Hom gegee. Nou skuld Hy my.’ Jy weet my genade kan nie verdien word nie. Dit is ‘n gawe wat gratis aan jou gegee is. En my gebooie is nie moeilik nie. In teenstelling, dit is tot jou voordeel. So, wanneer jy My ook al voed, moenie dit as ‘n goeie daad ag nie. Sulke dade bou nie krediet op teen sonde nie.”

Hierdie saak van om Jesus te voed behoort ons diep nederig te maak. Ons moet onsself eerlik afvra, “Waarom sou Jesus my naby Hom wou hê? Waarom vra Hy my om in sy teenwoordigheid te vertoef? Ek is so swak in geloof, so geneig tot mislukking. Tog sê Hy wanneer ek op Hom wag en na sy stem luister, voed dit Hom. Hy sê dit is voedsel vir Hom wanneer ek honger daarna om Hom te hoor praat. Hoe kan dit wees?” Vele sulke gedagtes hou ons altyd nederig voor die Here.

Wanneer ek bid, begin ek deur God se voorhof met lof en danksegging binne te gaan. Dan spandeer ek tyd om te aanbid. Dan het ek ‘n tyd van petisie, waartydens ek bid vir versoeke wat aan ons bediening gestuur word. Ek bied ook smeking vir weduwees, sowel as die wese, haweloses, armes, bejaardes, siekes en verdruktes. Uiteindelik bid ek vir my familie en vir leiding vir hierdie bediening. Dan sit ek stil en wag op die Here Jesus om te spreek.

Onlangs na my gebedstyd, was ek op die punt om op te staan en te gaan. Maar ek het ‘n rustige, sagte stem gehoor fluister, “David, moet asseblief nie gaan nie. Moet My nog nie verlaat nie. Ek het soveel meer om met jou te deel. Daar is so baie op my hart wat Ek graag vir jou wil wys insake die behoeftes van die wêreld en die toestand van my kerk. Jy voed My deur te luister.”

In Lukas 24, vind ons ‘n treffende toneel aangaande Christus se begeerte om gevoed te word. Op hierdie stadium was Jesus opgewek nadat Hy sy verlossingswerk afgehandel het. Nou is Hy in sy verheerlikte liggaam. Hy is steeds ‘n man, aangeraak deur menslike gevoelens, maar Hy word nie beperk deur materiële grense nie. Hy kan verskyn en verdwyn soos wat Hy wil en geen deur of muur kan Hom keer nie.

Waarheen het die Here eerste gegaan? So gou na sy opstanding, het iets in sy verheerlikte wese geroer. Hy was honger en het gesmag na “voedsel...waar julle nie van weet nie” (Johannes 4:32). Ons sien Hom eerste op die pad van Jerusalem na die nabygeleë Émmaüs. Skielik het Hy verskyn aan twee van sy dissipels, wat bedroef en terneergedruk was oor sy dood. Die Skrif sê, “En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie” (Lukas 24:15-16).

Net soos Hy met die Samaritaanse vrou gedoen het, het Hy met hierdie manne begin gesels. Hy het gevra, “Waaroor praat julle twee? En waarom is julle so treurig?” Hulle was verbaas en het gesê, “Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?” (Lukas 24:18).

Het Jesus met hierdie mans se gevoelens gespeel? Nee, beslis nie. In werklikheid het Hy net die teenoorgestelde gedoen en die dieptes van hulle harte blootgelê. Hy het hulle toegelaat om aan hulle opgekropte gevoelens uiting te gee, selfs tot op die punt van die uitspreek van hulle ongeloof. En Hy het hulle ongeloof aangespreek: “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Lukas 24:27). Praat van ‘n kweekskool opleiding. Hierdie manne het dit alles gekry: profesië van Christus se koms en die betekenisvolheid van sy dood, begrafnis en opstanding.

Wat was Jesus se plan hier? Waarom het Hy gekies om met hierdie twee mans te loop en gesels? Hy wou eenvoudig kwaliteit tyd met sy vriende hê. Hy het die ongejaagde gemeenskap met hulle geniet en Hy het sy hart en sy Woord vir hulle oopgemaak in soete gemeenskap. En die twee mans se horende ore en brandende harte het Hom gevoed.

Daardie aand het die twee mans by die herberg gestop vir die nag. Op daardie stadium het Jesus gemaak “of Hy verder wou gaan” (Lukas 24:28). Miskien het die Here gesê, “Broeders, julle het My baie van julle tyd gegee. En julle het goed geluister terwyl Ek my hart gedeel het. Julle is sonder twyfel moeg. Ek sal julle nie langer pla nie. Ek sal aanbeweeg en julle met rus laat.”

Dit kon die einde van die storie gewees het. In werklikheid is dit die einde van die saak vir baie gelowiges. Hulle is tevrede met ‘n eenmalige ontmoeting wat hulle met Jesus gehad het jare gelede. Nou is al wat hulle soek Bybelkennis. Hulle gee nie om oor intimiteit met Hom nie. Hulle getuig, “Ja, ek ken Christus. Ek het ‘n diep kennis van Hom.” Maar hulle wag nie op die Here om Hom te voed nie. Hulle ken nie sy stem nie. En hulle mis die persoonlike openbaring van wie Hy is.

Maar die dissipels op die Émmaüs pad het nie toegelaat dat dit gebeur nie. Toe Jesus wou aanbeweeg, het hulle “by Hom aangedring en gesê: Bly by ons” (Lukas 24:29). Die Griekse woord vir aangedring hier beteken geforseer. Eenvoudig gestel, hulle wou Hom nie laat gaan nie. Onthou, hulle het steeds nie hulle Meester herken nie. Maar hulle harte het gebrand met die woorde wat Hy tot hulle gespreek het (sien Lukas 24:32). Nou het hulle by Hom aangedring. “U moet by ons bly.”

Dit was die reaksie wat Jesus wou hê, want Hy het nog soveel gehad om vir hierdie twee te vertel. En volgende lees ons van die heel soetste woorde in die hele Skrif, “En Hy het ingegaan om by hulle te bly” (Lukas 24:29). Hierdie twee mans het Christus gevoed deur na sy hart te luister. En nou het Hy hulle na sy tafel geneem, waar Hy hulle gevoed het: “En toe Hy het hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle. Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn” (Lukas 24:30-31).

Dank die Here dat hierdie dissipels Jesus gedwing het om by hulle te bly. Andersins sou hulle oë nooit oopgemaak gewees het vir die lewende Christus nie. Hulle sou na Jerusalem teruggekeer het met ‘n dooie letter getuienis: “Op pad na Émmaüs het ons iemand ontmoet wat ons diep uit die Woord geleer het. Dit het ons harte aan die brand gesteek en ons het Christus verstaan soos nog nooit voorheen nie.” Die ander dissipels sou by hulle aangedring en gevra het, “Maar het julle die Here gesien? Het julle Hom aangeraak? Het julle uitgevind waar Hy is? Julle sê julle harte was aan die brand. Maar, sê vir ons, lewe Jesus?” Ongelukkig sou hulle nie kon antwoord nie.

In plaas daarvan, het hierdie getroue manne teruggejaag na hulle broers in Jerusalem en was in staat om hierdie lewendige getuienis te gee: “Die Here het aan ons verskyn! Ons het met Hom gepraat en saam met Hom geëet. Ons sê vir julle, ons het Hom lewend gesien. En Hy het ons gevoed met God se Woord uit sy eie mond. Ja, Hy leef werklik en dit gaan goed met Hom!” (sien Lukas 24:33-35). Toe, op daardie presiese oomblik, het Jesus in hulle midde verskyn.

Nie baie mense sal die tyd neem om op die Here te wag nie. Die meeste sal tevrede wees om kerk toe te gaan om te hoor hoe die Woord verkondig word en net te groei in die kennis van Jesus. Soms mag hulle harte in hulle brand wanneer hulle God se Woord hoor. Maar hulle sal nie die prys vir intimiteit met Christus betaal nie.

Petrus vertel vir ons, “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18). Dit is presies wat hierdie twee dissipels op die pad na Émmaüs beleef het. Hulle het in hulle kennis van die Here uit die Skrif gegroei. Maar dit was slegs die fondament; dit was nie die voltooide werk nie. Paulus het dit geweet en geskryf, “In alles in Hom sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efésiërs 4:15, beklemtoning myne).

Hier is die saak, duidelik en eenvoudig: Jesus Christus wil die belangrikste skat in jou lewe wees. Hy wil vir jou meer beteken as jou werk, jou loopbaan en selfs jou familie. En Hy wil kosbaarder en kosbaarder vir jou word soos die dae verbygaan.

So, hoe kosbaar is Jesus vir jou? Jy mag sê, “Hy is die kosbaarste ding in my lewe. Christus is vir my alles.” As dit waar is, sal jy nie tevrede wees met blote kopkennis van Hom nie. Jy sal daarna smag om Hom met jou te hoor praat. En jou begeerte om op Hom te wag, sal groei. Om sy rustige, sagte stem te hoor sal jou grootste blydskap word. En jy sal nie toelaat dat enigiets in die pad staan om aan Hom jou tyd te gee nie. Inderdaad, hoe meer tyd jy deurbring deur op Hom te wag, hoe minder besorgd sal jy wees oor die probleme van hierdie lewe.

Het jy daardie wandeling met Christus na Émmaüs geneem? Is jy goed onderrig in sy Woord en verheug jou hart homself in waarheid? Nog belangriker, verheug jy jouself daarin om Hom te dien en te voed. Luister: daar is ‘n gevaar om weg te val van gemeenskap met Hom. Paulus praat van “die afval” wat oor die kerk sal kom (2 Thessalonicense 2:3). Die Griekse woord hier dui op verlaat of ‘n egskeiding. Kortliks, baie sal die Here verlaat, alle liefde vir Hom laat vaar en hulleself van gemeenskap met Hom afskei.

Laat my jou egter ‘n woord van hoop gee. Ek het iets geleer wat die Here selfs nog kosbaarder vir my gemaak het. Ek glo hierdie sleutel verbreed my openbaring van Hom en kan my daarvan bewaar om weg te val in die komende dae. Wat is hierdie sleutel? Dit is iets wat ek by my tyd van gebed gevoeg het. Laat my verduidelik.

Ek bid soos gewoonlik op die manier wat ek vroeër beskryf het. Nadat ek my bidtyd afgesluit het, wag ek egter in my binnekamer van gebed. Dan buig ek voor die Here en sê, “Jesus, hier is ek net vir U. Ek bring nie enige versoeke of petisies nie. Dit is U tyd en U s’n alleen. Ek is hier om na U hart te luister.” Ek bly eenvoudig in sy teenwoordigheid deur Hom lief te hê en op Hom te wag. Ek weet Hy sal kom en sy gedagtes met my deel.

Inderdaad, Hy het die volgende tot my hart gespreek: “Nou weet Ek dat jy My die skat van jou lewe gemaak het, David. Ek weet Ek is kosbaarder vir jou as jou familie, bediening en werk. Jy wil My meer as enigiets anders hê. En dit is voedsel vir My. Ek wil hê jy moet voortgaan om so na My te kom en My toelaat om my hart vir jou te openbaar. As jy dit doen, sal Ek altyd hier wees om met jou te praat.”

Toe het die Here my een laaste woord vir sy kerk gegee. Ek sê dit nou vir julle in alle liefde: Jesus vra jou om Hom te voed deur Hom daagliks kwaliteit tyd te gee. Ek praat nie van die tyd wat jy deurbring om die Bybel te lees of vir behoeftes te bid nie. Dit moet alles in jou eie tyd gedoen word.

Maar wanneer jy jou arbeid vir die dag voltooi het, kom na die Meester se tafel om Hom te bedien. Hy vra jou om eenvoudig in sy teenwoordigheid te wag totdat jy sy stem hoor. Hy wil tyd hê om sy hart vir jou oop te maak. So, maak jou tyd van bediening aan Hom ‘n ongeklokte tyd. Elke keer wat jy op Hom wag, beloof Hy om met jou te praat.

Wat ‘n voorreg om ons kosbare Here en Verlosser te voed.