Ons het vergeet hoe om te bloos
“Want van hulle kleinste tot hulle grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog… Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie, hulle weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val, in die tyd dat Ek aan hulle besoeking sal doen, sal hulle struikel, sê die Here” (Jeremia 6:13, 15).
Die profeet Jeremia het ‘n vreeslike toestand onder God se volk raakgesien. Om hulle sondes te bedek het hulle begin om onder ‘n valse voorwendsel van vrede en sekuriteit weg te kruip. Hebsugtigheid en inhaligheid het hulle harte so verhard dat hulle agter ‘n masker van gemaakte gebrokenheid geskuil het. Hulle hele lewe het oppervlakkig geraak – gemaakte trane, skyn bekering, selfs nagemaakte genesing.
God se volk het hulle aanvoeling van skande en berou oor sonde – sonde in die samelewing, sonde in die kerk, sonde in hulle eie lewe – verloor. Hulle het God se haat en oordeel oor sonde vergeet. Sonde het net “een van daardie dinge” geword.
Jeremia roep uit: “Was hulle skaam oor hulle sonde? Nee! Hulle was glad nie skaam nie – hulle kon nie meer bloos nie!”
Dit is nie net rooi wange en natuurlike beskeidenheid nie. Dit is om noodlottig gewond, en beskaamd te wees – hartseer dat die naam en reinheid van Jesus ons Heer onder die voete vertrap is, dat sy reputasie besmeer is.
Jeremia gee vir ons ‘n skildering van die vreeslike morele afbreek wat in Israel en die huis van Juda plaasgevind het:
“Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of hulle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek – dan sal Ek daaraan vergifnis skenk. En of hulle al sê: So waar as die Here leef, sekerlik sweer hulle vals. O Here, is u oë nie op opregtigheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem; hulle het hulle aangesig harder gemaak as ‘n rots, geweier om hulle te bekeer” (Jeremia 5:1-3).
God se kinders het onder hierdie felle aantyging gesit – maar, hulle rug daarop gedraai. Hulle het daarteen gerebelleer! Lees dit weer: “Hulle koppe was harder as klip, hulle het geweier om hulle te bekeer!” Hulle het owerspel gepleeg deur in bordele saam te drom, en agter hulle bure se vroue aan te hardloop. In vers 11 noem Jeremia dit “ontrou aan My, sê die Here.”
Ondanks Jeremia se profetiese waarskuwings gaan hulle lustig voort, terwyl hulle sê, “daar sal geen kwaad oor ons kom nie, en ons sal geen oorlog of Hongersnood beleef nie” (vers 12). “Oordeel is nie God se boodskap vir ons nie,” het hulle gesê.
Hulle vrees vir God was aan die afneem. Daar het ‘n opstandige, rebelse gees opgestaan in die harte van God se volk: “Hierdie volk is rebels en opstandig … Hulle het vir hulleself gesê: Ons moet die Here onse God dien” (verse 23-24).
Hulle het groot voorspoed geniet, maar dit het ‘n valstrik geword. Dit het tot bedrog gelei, en uiteindelik word hulle huise, hole van bedrog. Hulle het gelag oor sonde – sonde wat hulle diep bedroef moes maak.
“Soos ‘n hok vol voëls, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword. Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie” (Jeremia 5:27-28).
God waarsku sy volk om te luister na die opdragte van sy Woord, anders sal Hy van hulle wyk. “Jerusalem, neem my waarskuwing ter harte, sodat ek nie my rug vir jou draai nie” (Jeremia 6:8). Weer sê God: “Ek praat duidelik! Ek waarsku! Maar wie luister?”
“Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die Here is vir hulle ‘n smaad, hulle het daar geen behae in nie” (vers 10).
Die oorspronklike Hebreeus sê die mense het moeg geword van teregwysing. Hulle wou die ontblotings van hulle sonde deur die Woord van God nie meer hoor nie. Eers het dit aan hulle vreugde verskaf. Dit was vir hulle soet soos heuning. Maar nou was dit nie meer ‘n vreugde nie. Waarom?
“En hulle het versterkte stede en ‘n vet land ingeneem, en hulle in besit geneem vol allerhande goeie dinge, uitgekapte putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in menigte, en hulle het geëet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u grote goedheid. Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profeet wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen” (Nehemia 9:25-26).
Waarom het hulle, hul rug gedraai op die waarskuwings van die wagter? Want daar is op hulle tone getrap. Hulle afgodediens, hebsug en gulsigheid is ontbloot, hulle het in die geheim gesondig. “Want van hulle kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog” (Jeremia 6:13).
In die preekstoel, sowel as in die banke, is God se volk korrup gemaak deur hebsug en gulsigheid. Maar hulle het hulself verontskuldig! Hulle was skaamteloos! Hulle het nie gebloos nie! Niemand wou glo dat die profeet met hom persoonlik gepraat het nie.
Die Here het gesê: “Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie” (Jeremia 6:17).
God se volk het hulle rug gedraai op die profeet en wagters en hulle eie begeertes en voorstellings begin navolg.
Hoekom het hulle hul afgekeer van die profeet as hulle geweet het dat God self hierdie mense oor hulle aangestel het? Hulle betwyfel nie dat God hulle gesalf en gestuur het nie. Waarom wou hulle dan nie luister nie? Waarom het hulle hul eie planne gemaak en hulle eie kop gevolg?
Die antwoord op die vrae vind ons in Numeri 16, wat die verhaal van Korag, Datan en Abiram se rebellie, vertel. Hierdie mans het in opstand gekom saam met 250 ampsdraers van die gemeente en Moses se outoriteit bevraagteken.
“En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die Here is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die Here? Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval” (Numeri 16:3-4)
Hierdie gees skuil agter elke rebellie en verwerping van opregte waarskuwings uit die preekstoel. Die opstandige mens sê in sy hart: “Pastoor – profeet – wagter – jy is nie die enigste een met wie God spreek nie. Ons hoor Hom ook. Ons is ook heilig. Ons verstaan God se bedoeling. Julle eien julleself te veel toe. Julle verhef julleself bo die gemeente.”
Toe Moses hoor wat hierdie mense sê, val hy, bedroefd en geskok op sy aangesig. ‘n Heilige toorn het hom oorval. Hy was nie kwaad omdat sy woord en outoriteit bevraagteken is nie, dit kon hom nie raak nie. Hy het geweet dat hulle nie hom of sy woord verwerp nie, want God het hom aangestel. Moses was bedroef, omdat hulle God verwerp het! Moses het vir Korag gesê: “Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die Here is,” (Numeri 16:16).
Moses kon sê: “O God, dit is nie my volk nie. Dit is nie my werk nie. U het my hier geplaas en U het vir my gesê wat om te sê. Al my woorde en al hierdie werke – het ek nie uit myself gedoen nie (vers 28). Ek het gesê wat U gesê het.”
Die Here verdedig altyd die wat waarlik gesalf is, en Hy vernietig altyd, vinnig, alles wat uit die vlees ontstaan het. “En maak die aarde sy mond oop en sluk hulle met hulle gesinne in … Hulle en alles wat aan hulle behoort het lewend in die doderyk afgegaan … Toe het die Here ‘n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierook wou bring, verteer” (Numeri 16:32-35).
Ek het geen begeerte om enige outoriteit oor God se volk te hê nie. Ek kan saam met Moses sê, “Ek het nie ‘n enkele donkie van hulle gevat, en nie een van hulle benadeel nie” (vers 15).
Maar een ding weet ek: God het my hier na New York gestuur. Hy het my as sy wagter gestuur om mense te waarsku, om uit te roep en nie stil te bly nie. Ek wil niemand bang maak nie, of vrees aanjaag deur my salwing nie.
Nogtans, is ek en die ander pastore van Times Square Church – sowel as ander wagters – deur die Here aangestel. Saam met my is hulle verantwoordelik vir jou siel.
Jou gehoorsame reaksie teenoor die Here beteken nie dat jy na jou binnekamer moet gaan en dit wat jy gehoor het na harte lus mag uitsoek en vergelyk met wat jy van die Here hoor, nie. As ek na ander gesalfde profeet luister, seën hulle woorde my nie net nie, maar dit verontrus my siel! Ek meet hulle woorde nie aan wat ek dink wat reg is nie. Ek ontvang dit as ek weet dit is gegrond op God se heilige Woord en as dit deur ‘n regverdige man gebring word.
Hoekom is ons hier in New York City? Waarom het Times Square Church tot stand gekom op hierdie plek in hierdie tyd? Ons is hier om die liggaam van Christus op te bou na sy ware beeld. Ons moet elke afgod afbreek wat probeer om ons met die wêreld gelyk te stel. Ons is hier om oor julle te ween, om julle siele te bewaak en om julle uit hierdie wêreld te roep. Ons is hier om die waardigheid van die Kruis hoog te hou!
Daar is ‘n waardigheid om in heiligheid en reinheid te leef. ‘n Kerk wat die aanloklikheid van die wêreld oorkom, besit so ‘n waardigheid. Ons is hier om julle heilig te laat bloos, as gevolg van God se verdriet oor die sonde.
Esra was so ‘n wagter wat geskud was deur die sonde van God se volk, tot so ‘n mate dat Hy God nie kon aankyk nie. “Maar op die tyd van die aandoffer het ek opgestaan uit my verootmoediging: en terwyl ek my kleed en my mantel skeur, het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die Here my God en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog” (Ezra 9:5-6).
Esra was so skaam dat hy voor die Here gebloos het oor die sonde wat ingekruip het onder die Here se enigste oorblywende kinders. Die oorblywende groepie wat na Jerusalem toe teruggekeer het, net 42,337 mense. Dit is maar min as ‘n mens dit vergelyk met die naastenby 3 miljoen wat uit Egipte gekom het. Hierdie geringe oorblywendes was minder as twee persent wat God se ewige wil vir die aarde ten uitvoer kon bring. Ongelukkig het hulle die sonde lig geag … sonder om skuldig te voel daaroor.
Meteens het Ezra in hulle midde verskyn. Hier was ‘n godsman met ‘n diepe weersin teen sonde, ‘n man wat van skaamte gebloos het. Hulle het in werklikheid so sleg geraak, dat Esra gesê het, “As gevolg hiervan kan ons nie voor God staan nie.”
Geliefdes as ons in hierdie dae van kompromie met die sonde, voor God wil staan, sal dit baie meer verg as wat ons tans gee. Dit sal ons kos wat dit Esra gekos het.
As God iets nuuts wil doen, stort Hy ‘n gees van intensiteit uit oor sy kinders. Ons kan dus nie langer geestelik lui of onverskillig, ongeërg, selfgenoegsaam en gerus wees nie. Ons moet intens, vurig, vol van passie vir Christus, met ‘n diepe, ernstige gevoel vir God se werk, word. Vandag is God besig om mense op te wek, wat sonde haat en bewe voor God se Woord. Sy oorblywendes moet luister en glo as sy profeet praat. Hulle moet nie lou warm word nie, en sonde, oogluikend, toelaat nie. In teendeel, hulle moet intenser, ernstiger en vuriger vir God raak soos die tyd aangaan.
Kyk na Esra se intensiteit. Kyk hoe sy passie teen alles wat God bedroef toeneem. Kyk, en jy sal sy absolute haat teen die vermenging met die wêreld sien. “En toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae gaan sit. En by my het byeengekom almal wat gebeef het vir die woorde van die God van Israel, oor die ontrou van die ballinge; maar ek het verslae bly sit tot die aandoffer toe” Esra 9:3-4.
Gelowiges, hier is die blosende heiliges! Hulle versamel rondom ‘n gebroke profeet – en hulle raak ook aangevuur vir God se eer. Hulle weet dat iets baie gevaarliks, besig is om te gebeur en hulle deel in God se droefheid. Volle families van God se kinders skuif nader na die wêreld toe. Vreemde vroue staan by die altare. Heilige saad word vermeng. Die gelowiges wat nog bloos, weet dat die duiwel besig is om hulle te verlei; om God se getuies wat heilig en eenkant gesit behoort te wees te probeer vernietig.
Wat ‘n skouspel! Esra wat verslae daar sit, heilig ontsteld, besig om sy hare en baard uit te pluk “weens die oortredinge van hulle wat saamgesleep is” (vers 4). Almal wat vreesbevange was oor die troueloosheid het by hom kom sit. God het net een man nodig, wat nog bloos, oor sonde – en deur hom bring Hy ‘n liggaam van beskaamdes voort:
“En terwyl Esra bid en hy wenende neerval en belydenis doen voor die huis van God, kom daar uit Israel ‘n baie groot vergadering van manne en vroue en kinders by hom bymekaar; want die volk het geween met ‘n groot geween” (Esra 10:1).
Dit is wat baie mense na hierdie bediening aangetrek het – ‘n oproep tot heiligheid en afgesonderdheid! Julle het God se droefheid oor sonde aangevoel en julle het in skaamte gebloos. Julle wou ernstig raak, in julle wandel met God.
Nehemia het hierdie selfde erns teenoor die dinge van God gevoel: “het Hanani, een van my broers, gekom, hy en manne uit Juda; en ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem. En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand. En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel” (Nehemia 1:2-4).
‘n Oorblyfsel het teruggekom na die heilige plek, maar verwyte en sufheid het ingekruip. Dinge was nog in ‘n vervalle toestand. Geen geestelike vooruitgang kon gesien word nie.
Die Skrif sê Nehemia het gaan sit en huil, en dae lank getreur, en dag en nag gebid. Dit was nie ‘n geval dat God hom in die middel van die nag wakker gemaak het en ‘n las op hom gelê het nie. Nee! “Ek het by hulle navraag gedoen” (vers 2). Hy het daarna uitgevra! Hy het die las gesoek!
So het Daniël ook ure, dae en weke God se Woord, bestudeer. God het nie ‘n bomenslike las op hom gewerp nie. Daniël het sy eie hart belas. Hy het ‘n ware las vir God se volk gesoek, deur nougeset God se Woord oor sy volk na te lees en te bestudeer. “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy” (Daniël 9:3).
As ons van intensiteit, skaamte, treurigheid wil weet, lees, “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spyse het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was … en ek het geen krag oorgehou nie” (Daniël 10:2-3,8).
Toe God se hand Daniël aanraak, kom hierdie woorde van die Troon: “Van die eerste oomblik af wat jy jou ingespan het om insig te verkry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede” (vers 12). In Hebreeus beteken die woord “ingespan” om jou vlees te kasty sodat dit onderwerp sal word. Paulus praat ook daarvan “om my liggaam te onderwerp!”
Baie van ons is soos klein kindertjies, met ‘n kort konsentrasie vermoë, ons kan nie lank konsentreer nie. Ons val gedurig terug in geestelike luiheid.
Noag het met die intensiteit van ‘n oordeels boodskap saamgeleef. Vir 120 jaar was hy deur vrees gedryf. Hy het nooit daaronder probeer uitkom nie. Hy was ernstig want hy het geweet dat God bedoel het, wat Hy gesê het.
Noag het gesê: “Laat die wêreld lag. Laat ander maar sê, ‘Dit is te swaar. Ek kan nie so leef nie! Dit is te neerdrukkend!’ Noag het daardie las gekoester. Vir 120 jaar het dit vars in sy hart gebly en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het – tot die laaste uur.
God het aan my, my gebrek aan intensiteit getoon. In elkeen van ons is daar sekere neigings wat ons wegdryf van God of wat Hom besteel van ons tyd, geld en toewyding. Dikwels is hierdie dinge, in sigself nie sleg nie. Selfs stokperdjies het ‘n manier om instrumente in Satan se hande te word, wat ons tyd en harte van God af wegtrek.
Maar God skud almal wat dwaas raak en hule geloftes aan Hom, verbreek! Die Here soek na ‘n volk wat geheel en al toegewy is aan sy werk. Hy wil ‘n volk hê wat intens, toegewy, gebroke is – wat elke beskikbare uur of dollar gee vir dit wat God se belange op aarde verteenwoordig.
Al hierdie treurende, blosende, gebroke manne van God, van wie ons gepraat het, het een ding in gemeen: hulle identifiseer almal met die sonde van die oorgeblewenes!
Hulle bid nooit soos die Fariseër, “Dank die Here, ek is nie soos die ander nie.” Hulle bloos oor vermenging wat owerspel, kompromie en verraad ten gevolg het. Maar nederig bid hulle, “God, ek is ook skuldig.” Nie skuldig aan hierdie growwe sondes nie, maar ek skiet te kort aan die verheerliking van U naam.
Esra bid, “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog … Wat oor ons gekom het, het gekom deur ons slegte dade en ons baie oortredings teen U … Hier is ons voor U met ons oortredinge, maar so kan niemand voor U staan nie” (Esra 9:6, 13, 15). “Terwyl Esra voor die tempel gekniel en gebid en belydenis gedoen het…” (Esra 10:1).
Nehemia het gebid, “Ons het teen U gesondig: ook ek en my familie het gesondig. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U” (Nehemia 1:6-7).
Daniël het ook geïdentifiseer met die sonde van God se volk. Hy het gebid, “Ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profeet, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie … terwyl ek nog spreek en bid, en my sonde en die sonde van my volk Israel bely” (Daniël 9:5-6, 20).
Hierdie manne was almal heilig, blaamloos voor God. Hulle het nie met die wêreld gemeng nie. Tog tree hulle in die bres, en bely die volk se sonde, sowel as hulle eie.
As julle op dieselfde pad loop as hierdie manne en in julle hart die voorneme het om die Here te soek – deur gebed, vas, ween en skaamte oor die sonde – sal dit dieselfde uitwerking op julle hê. God se hand sal jou aanraak, en Hy sal sy Woord aan jou gee. Jy sal God se hart verstaan. Jy sal in sy heerlikheid ingaan. En as jy eenmaal daar is, sal jy verstaan, hoe ver ons almal te kort skiet aan sy Heerlikheid, ons het almal geval.
Laat ek vir u die sleutel gee, wat God aan ons almal wil openbaar:
Esra het op sy knieë geval voor die huis van God. Hy het nie begin deur op te staan voor die mense, met ‘n Woord van God, nie. Hy het homself eers verneder voor die mense.
Toe Daniël God hoor spreek, het hy gesê: “ek het bewusteloos vooroor op die grond geval” (Daniël 10:9). Johannes het gesê: “Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is” (Openbaring 1:17).
Gelowiges, wat is die gevolg van julle gebed en soeke na God? Gooi dit jou op jou aangesig voor die huis van God, soos een wat dood is?
Ek wil hierdie soort gelowiges sien: die wat kreun, uitroep en bloos – nie die sensasie-soekers, die pret-en-speletjies Christene nie – die stilles en volkomes. Ek wil hulle sien wat toegee, “Ek het dit nog nie bereik nie. Ek het God gefaal. Ek treur oor my mislukking, maar ek glo dat God my kan aanraak en oorwinning kan gee.”
God, stuur asseblief, meer misluktes na U kerk! Stuur mense wat weet dat hulle U nodig het.
Toe Israel weer gebloos het, word met die sonde gedeel en die vermenging kom tot ‘n einde. Daar was sondebelydenis en ware bekering. Nou het die tyd aangebreek om saam te staan en die vyand te verslaan.
Gebed en nederigheid, ‘n haat vir sonde, het ‘n gees wat werk ten gevolg. “Maar ons het die muur opgebou, en die hele muur is tot op sy helfte herstel; en die volk was met hulle hart in die werk” (Nehemia 4:6). Ware herlewings bring altyd gewillige werkers. Boeke en lesings en werksessies doen dit nie – herlewing doen dit!
As God ‘n werk onder sy volk doen, werk Satan daarteen. “Maar toe Sanballat en Tobia en die Arabiere en die Amoniete en die Asdodiete hoor dat die verbetering aan die mure van Jerusalem vorder, dat die skeure begin toeraak, het hulle baie kwaad geword. En hulle het almal met mekaar ‘n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig” (Nehemia 4:7-8).
Die vyand het baie kwaad geword en beplan om teen hulle op te trek en hulle te beveg en te hinder. Sy taktiek was om hulle in die geheim binne te dring en onverwags aan te val. “En ons teëstanders het gesê: Hulle mag niks weet en sien nie totdat ons tussen hulle inkom en hulle doodslaan en ‘n einde maak aan die werk” (vers 11).
Hulle het beplan om in die geheim ‘n leër van sogenaamde helpers in te bring. Die vyand val nie openlik aan nie, maar sê: “Ons sal hulle geledere binnedring.”
Die taktiek was onopgemerkte sabotasie! Die vyand het gesê: “Hulle sal dit nie raaksien nie.”
Satan se strategie het nog nie verander nie. Selfs nou stuur hy sy “engele van die lig” in byeenkomste wêreldwyd met leerstellings, sabotasie en verleidings.
Hoe kan ons hulle raaksien? Wat sal ons beveilig? “Maar ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil ‘n wag teen hulle uitgesit, dag en nag” (Nehemia 4:9). Die sleutel is hier: ‘n haat vir sonde, ware gebrokenheid, ernstige gebed, volgehoue waaksaamheid – te same met ‘n volgehoue bestudering van God se Woord.
Geliefdes, God moet ons weer in staat stel om te bloos! Laat die Heilige Gees toe om jou hart deeglik te deursoek, dat jy volkome onberispelik voor God kan staan in hierdie laat uur.