PASSIEVOL VERLIEF OP JESUS

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo die grootste toewyding van die Christen word beoefen in die voorste linies, in die hitte van die stryd, met vure wat oral brand. Trouens, ek ken talle gelowiges wie se toewyding sterker geword het te midde van woeste aktiwiteit en geestelike oorlogvoering. Hulle hoef nie op ‘n bergtop te wees om Hom lief te hê met hulle hele hart nie; hulle hoef nie in een of ander verlate dorpie te bly om te verlang na sy koms nie. Hulle het geleer om Jesus net so passievol lief te hê tydens hulle rit na die werk as in hulle binnekamer.

Geliefde, jou sin van Jesus se nabyheid aan jou mag nie afhang van jou gevoelens nie. Wanneer jy terneergedruk, depressief en bedruk voel en nie tyd het om die Here te soek nie, sal die duiwel jou toegooi onder gevoelens van skuld en onwaardigheid. Jy sal dink Jesus het jou verlaat en sê, “Ek sal terugkom wanneer jy vir My tyd het.” Maar die nabyheid van Jesus word gehandhaaf deur geloof! Dit het niks met jou gevoelens te doen nie.

Wanneer iemand jou stamp en stoot op die duikweg of in ‘n hysbak, fluister net vir Hom, “O God, ek glo deur geloof dat U hier is, dat U naby my is. Beskerm my, Here. Bewaar my en moenie dat hierdie gemors van die wêreld in my sisteem insypel nie!”

Diegene wat Hom waarlik liefhet, smag na Sy geselskap, maak nie saak hoe woes dinge word nie. Toewyding aan Jesus beteken om Hom alleen te vertrou vir elke behoefte – liggaam, siel en gees. Wanneer jy ly in jou siel, hardloop na Jesus toe – moenie antwoorde by enige ander bron soek nie.

Die Bruid van Christus sal bestaan uit diegene wat opgehou het om hulp, vertroosting, verligting of bevrediging uit enigiets op hierdie aarde te vind. Hulle het geleer om totaal te vertrou op die Een wat hulle liefhet om elke honger en dors ten volle te versadig. Bly passievol verlief op Jesus – en vertrou Hom om Homself in Sy volheid aan jou te openbaar.