Raak My Gesalfdes Nie Aan Nie
"Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie” (Psalm 105:15). Hierdie kort vers bevat ‘n kragtige waarskuwing van ons Here. En Hy bedoel elke woord daarvan: ellende wag vir elke nasie of individu wat ‘n hand slaan aan diegene wat deur God uitverkies is. En ellende wag vir almal wat sy profete skade doen.
Hierdie ernstige waarskuwing het ‘n tweeledige toepassing. Eerstens, verwys die “gesalfdes” en “profete” hier na die natuurlike Israel, God se volk van die Ou Testament. God se waarskuwing om sy uitverkorenes nie kwaad aan te doen nie, is egter ook op vandag van toepassing. Dit sluit sy geestelike Israel, dit is, sy kerk in.
Ons dink hoofsaaklik aan hierdie waarskuwing in terme van Ou Testamentiese profete of huidige bedienaars wat vir die waarheid staan. Dit blyk om ‘n verklaring van God se beskerming van sy dienaars te wees. Maar die konteks van die waarskuwing openbaar ‘n verdere betekenis. Dit het ook te doen met ‘n verbond wat God met Abraham gemaak het. In die verbond, het God belowe om vir Abraham die titelakte vir die land Kanaän te gee:
“Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte – die verbond wat Hy met Abraham gesluit het...vir Israel as ‘n ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk, het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie” (Psalm 105:8-15).
Psalm 78 verwys ook na hierdie land verbond wat God met Abraham gemaak het: “En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand gewerf het” (Psalm 78:54). Ons word vertel dat God Kanaän met sy eie hand gekoop het. “En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in tente laat woon” (Psalm 78:55).
Die Here self het die grense van sy volk se land afgemerk. Hy het “afgemete erfdeel” gegrondves en die grense van die “Jordaan tot by die see” gestel. Met ander woorde, God het die kaart geteken. Dit was asof Hy op ‘n berg gestaan het en Kanaän se grense deur sy Gees afgemeet en gesê het, “Soveel myle noord, soveel suid, soveel oos en wes.”
Kortliks het die Here sy volk ‘n permanente grondskenking gegee, deur sy verbond met Abraham. En die Israeliete is na hierdie erfenis gelei deur Moses. Deur God se bevel het hulle al die goddelose nasies uitgedryf en die land in besit geneem. En terwyl hulle hul in die land van belofte gevestig het, het God onderskeid getref tussen hulle en die ander nasies. Hulle het bekend geword as sy “uitverkorenes,” ‘n geheiligde, gesalfde volk. Die Here het “geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie” (Psalm 105:14-15).
Moses, God se profeet, het verklaar, “Die Allerhoogste...het...die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel” (Deuteronómium 32:8). Dit beteken die grense wat God vir sy mense gestel het, sou die setel van sy kerk word. En uit hierdie Ou Testamentiese nasie, sou sy Nuwe Testamentiese kerk kom.
Toe God sy waarskuwing uitgereik het, het Hy die mensdom in kennis gestel: “Ek het hierdie mense gekies om my deel te wees. En Ek het hulle gesalf om afgesonder te wees vir My. Sedert daardie tyd, het Ek nooit toegelaat dat enige persoon of nasie hulle kwaad aandoen nie.”
Jy mag beswaar maak, “Maar die Jode het verskriklik deur die geskiedenis gely. Wat van Hitler en die Joodse volksmoord?” Ja, Israel het groot skade gely. Maar diegene wat hulle laat skade ly het, het altyd ernstige gevolge gely. God se waarskuwing sê vir ons, “As jy my gesalfdes aanraak, sal jy dit doen tot jou eie nadeel. Jy sal jou alles kos.”
Duitsland het ‘n verskriklike prys betaal vir sy boosheid. Nie net was daardie nasie gebom en sy stede tot op die grond afgebrand nie, maar die mense het vir jare swaargekry. Uit Duistland se geskiedenis hoor ek God se Woord duidelik sê: “Moenie my gesalfdes aanraak nie.”
Sedert die tyd van Abraham, was die hele wêreld inderdaad onderwerp aan God se waarskuwing: “Moenie my volk, Israel, skade aandoen nie. En moenie hulle grense, wat Ek self vir hulle afgemeet het, skuif of verwyder nie.” Dit maak nie saak wat ons politiek mag wees, of wat ons van Israel dink nie. God sal enige volk wat daardie nasie se grense aanraak, oordeel. As enige land dit waag, sal hulle dit doen ten koste van hulle eie toekoms.
Ek wil praat oor ‘n saak wat my koue rillings gee.
Amerika was Israel se beste vriend en beskermer sedert dit weer ‘n nasie geword het in 1948. Net soos alle ander lande, het ons geluister na God se waarskuwing om nie sy mense skade te doen nie. Ons President se verklaring oor Israel maak my egter bang.
Sedert die September 11 aanvalle, het Amerika die poging gelei om ‘n koalisie van nasies teen die terroriste op te bou. Die koalisie wil Arabiese lande insluit, maar baie is geswore vyande van Israel. Nou soek die die V.S. President die stigting van ‘n Palestynse staat as ‘n toegewing vir Arabiese steun.
Die voorgestelde Palestynse staat sou gebiede wat God aan Israel deur sy verbond gegee het, wegsny. Verder eis die Palestyne dat ‘n deel van Jerusalem aan hulle gegee word as hulle hoofstad. So ‘n skuif sou direk teen God se waarskuwing ingaan. Dit wou sy uitverkorenes skade laat lei deur hulle grense te verander. En dit sou ‘n bespotting maak van Moses, God se profeet, wat gesê het, “Die Allerhoogste het vir ons hierdie land gegee.”
Moet asseblief nie dink dat ek in politiek betrokke raak nie. As ‘n wag van God, is ek geroep om sy Woord te verkondig. Trouens, ek is nie teen ‘n Palestynse staat nie. Ek glo egter as daar so ‘n staat moet wees, moet dit uit Jordanië geneem word eerder as Israel. Die Skrif maak dit duidelik: Israel se grense is ‘n geestelike saak, nie net ‘n politieke een nie.
Op die oomblik, is daar wêreldwyd ‘n wrok teen Israel aan die ontwikkel. Die Palestynse saak is besig om groter steun te kry. Israel se leiers voel in die steek gelaat. Die Eerste Minister het vir die meeste Israeli’s gepraat toe hy gesê het, “Ons is verraai. As ons moet, sal ons alleen teen ons bure staan. Maar ons weet God sal met ons wees.”
Dit is duidelik ons President se personeel sluit Arabiese simpatiseerders in. Hulle mag dit dalk nie besef nie, maar hulle gee vir hom gevaarlike advies. So ‘n skuif kan slegs ‘n vloek oor Amerika bring. Jarelank was ons nasie grootliks geseën, deels weens God se belofte aan Abraham: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Génesis 12:3). Maar die Skrif maak dit duidelik: “As hulle ook die aanval begin – dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val” (Jesaja 54:15). God sê vir ons, “Indien nasies bymekaar kom in ‘n saak, wat Israel skade aandoen, sal dit nie deur My leiding wees nie.” Die Here sal niks met so ‘n saak te doen hê nie.
Veronderstel ons President soek raad oor Israel se grense van sekere Christen leiers of teoloë. Ek glo hulle sal vir hom sê, “Die Here het opgegee op Israel van die Ou Testament. Sedertdien, is die Jode nie meer sy uitverkorenes nie. Hulle het die verbond verwerp, so God het hulle aan ‘n vloek oorgegee. Vandag is die enigste Israel die geestelike Sion, die kerk van Jesus Christus. Christene is nou sy nuwe gesalfdes.”
Hierdie kenners baseer hulle teologie op verskeie Bybelse gedeeltes. Op een stadium, het God gesê Israel se sonde was ongeneeslik: “Want so sê die HERE: Jou verbreking is ongeneeslik, jou wond is smartlik” (Jeremia 30:12). Hy het ook verklaar, “Weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie...My God sal hulle verwerp, omdat hulle na Hom nie geluister het nie, en hulle sal rondswerwe onder die nasies” (Hoséa 9:15-17). “En die HERE...sal...’n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel...want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie” (Hoséa 1:4,9).
Volgens hierdie gedeeltes, het God klaarblyklik sy volk onterf. Later in Hoséa lees ons egter, “Want my volk dwing om van My afvallig te word...Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel...my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelye opgewek. Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie ‘n mens nie, die Heilige in jou midde...Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend...Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind” (Hoséa 11:7-9, 14:5,9).
Hierdie gedeeltes maak dit duidelik dat God sy verbond met natuurlike Israel in stand gehou het. En dit sluit hierdie eiendomskontrak met hulle in. Die Here het ook gesê Hy sou Israel beskerm tot sy wederkoms, wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal plaas (sien Sagaria 14:4). Wanneer Hy dit doen, sal Israel in beheer wees van daardie land.
As jy steeds dink God het opgegee op Israel, beskou die apostel Paulus se woorde: “Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie” (Romeine 11:1-2). Paulus praat duidelik van natuurlike Israel.
As Amerika op enige manier skade aan Israel doen, selfs deur sy grense te skuif, sal God ons vyand word. En ons nasie sal op die ou end in uiterste verwarring beland. Ek bid dat nie ‘n enkele duim van Israel se grond weggegee sal word nie. Sagaria het voorspel dat Jerusalem in twee gedeel sou word. Maar wanneer dit gebeur, sal “die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies” (Sagaria 14:3).
Wanneer die Here hierdie waarskuwing uitreik, het Hy ook na ‘n geestelik Sion verwys.
Jesaja noem God se kerk “die Sion van die Heilige.” Deur hierdie frase te gebruik, verbind die profeet Sion aan Christus, die Verlosser. Kortliks, Sion verteenwoordig die liggaam van Christus, die hemelse Jerusalem, die geroepe, afgesonderde kerk in hierdie laaste dae.
Ek vra jou, wat is God se hoofsaak in die wêreld vandag? Waarop fokus Hy in hierdie tye? Ons Here se een groot belang en fokus is Sion, sy kerk. Ek verwys nie na die afvallige, institusionele kerk nie. Ek praat van die onsigbare liggaam van Christus, wat bestaan uit gesalfde, geheiligde gelowiges.
Jy mag wonder, “Maar is God nie begaan oor die oorlog teen terrorisme nie? Gee Hy nie om oor Amerika se ekonomie en toekoms nie?” Ja, Hy is begaan, maar net as hierdie dinge sy kerk beïnvloed. Hy fokus op sulke sake slegs as hulle sy ewige planne vir sy mense beïnvloed.
“Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie...Al die nasies is voor Hom soos niks; as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken” (Jesaja 40:15,17). Dink daaraan: Engeland is ‘n eiland. Manhattan is ‘n eiland. Volgens Jesaja is beide klein in God se oë. In werklikheid is alle nasies, insluitend Amerika, minder as niks in God se oë. God sê vir ons in wese, “My ewige belang is vir ‘n verlore wêreld. En my fokus is op hoe my kerk daardie verlorenes sal bereik.”
Bíleam het geprofeteer, “(God se) volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie” (Númeri 23:9). Dit vertel vir ons God se kinders bestaan uit ‘n ander soort nasie, ‘n afgesonderde nasie. Ons word nie onder die nasies van die wêreld getel nie. Trouens, die onderskeie lede van Christus se liggaam maak ‘n geestelike nasie uit binne-in elke nasie. God beklemtoon dit vir ons, “Julle belang moenie bloot wees wat in die wêreld aan die gang is nie. Dit moet wees om my ewige doel te ken en dit op die aarde te vervul.”
Trouens, God seën ‘n nasie of werp dit neer ooreenkomstig hoe dit teen sy kerk optree. Dink daaraan: sy enigste saak met Egipte onder Farao was hoe daardie nasie sy uitverkorenes behandel het. God het die Egiptenare verwoes en hulle leër laat verdrink, omdat hulle sy volk skade laat lei het. Net so, het God se enigte saak met Babel te doen gehad met hulle dreigement om Israel uit te wis tydens Ester se tyd. Toe Haman teen die Jode saamgesweer het, het God hom ontbloot en hom van die toneel verwyder.
Let op, dat toe God Babel vernietig het, was dit nie oor hulle afgodery, sensualiteit of geweld alleen nie. Dit was omdat die Babiloniërs sy gesalfdes aangeraak het. Hulle het Israel se heilige voorwerpe van aanbidding geneem en daaruit gedrink. Met die gevolg dat die wêreld se magtigste koninkryk uitgewis was. Die oomblik toe die Babiloniërs op God se belange inbreuk gemaak het, het Hy hulle vernietig.
Ons Here sal ‘n geskil hê met elke nasie van die wêreld ten einde sy heilige Sion te red en voorspoedig te laat wees. Hy sal koninkryke neerwerp bloot deur sy hand van oordeel uit te steek. Hy het die Romeinse Ryk neergewerp, omdat dit probeer het om sy kerk uit te wis deur tien wrede vervolgings. Die ergste veldtog was moontlik onder die Keiser Diocletianus. Hierdie bose man het Christene wreed gejag en doodgemaak. Selfs al het hy dit gedoen, het hulle getalle gegroei. Dit het uiteindelik vir Diocletianus stapelgek gemaak. Hy het op die ou end sy leierskap oor Rome geabdikeer, omdat hy mal geword het in die proses van sy poging om Christus se belang uit te wis.
In Génesis 20, het God die heidense koning Abiméleg geoordeel omdat hy homself geposisioneer het om God se gesalfdes aan te raak. Abiméleg het Sara, Abraham se vrou in sy harem opgeneem. Maar God het in ‘n droom aan hom verskyn en vir hom gesê, “Jy is ‘n dooie man.” God se enigste saak met Abiméleg was om sy uitverkorenes, Sara, te bewaar. Hy het die koning beveel, “Gee nou die man se vrou terug, want hy is ‘n profeet...Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort” (Génesis 20:7).
Al hierdie voorbeelde voorsien ‘n duidelike beeld van God se besorgdheid oor sy uitverkorenes. Hy sal enigeen, wat Israel skade doen of sy kerk aanraak, teëstaan.
Dit het alles te doen met die kommerwekkende wêreld situasie.
Ons nasie is getraumatiseer deur terroriste. Die Twin Towers is uitgewis, die Pentagon is aangeval. En ons wonder, “Wat is God se belang in dit alles?” Ons Here is bedroef oor die dood van die onskuldiges. Sy hart is daarop uit om die weduwees en wese te vertroos en by te staan. Die Skrif sê Hy het koninkryke vernietig omdat hulle sulke hulpeloses verwaarloos het.
Maar God se uiteindelike besorgdheid oor hierdie teëspoed is hoe dit sy kerk raak. Hy sal nie toelaat dat enigiets sy ewige doel vir sy mense op ‘n syspoor plaas nie. Hy het sy plan vir sy uitverkorenes vanaf die grondlegging van die wêreld bepaal en niks kan daarmee inmeng nie. Geen terroris, godsdiens of nasie kan ‘n enkele jota van God se doel vir sy mense verhinder nie. Alles gaan voort op sy goddelike skedule.
Jesus was op die regte tyd gebore. Hy het opgedaag op presies die uur wat God in die ewigheid vasgestel het en geen koning, regering of godsdienstige leier kon dit keer nie. Jesus was ook gekruisig en het opgestaan volgens God se goddelike skedule. Niks kon die Here se ewige plan om die wêreld te red deur die offer van sy Seun verhinder nie.
Ten slotte, net voor Hy na die Vader opgevaar het, het Jesus vir sy kerk hulle opdragte gegee. Hy het ons beveel om die hele wêreld in te gaan om te preek, te evangeliseer, dissipels te maak, siekes te genees en duiwels uit te dryf. Na 2,000 jaar, is hierdie waarheid steeds in opmars. God se gesalfdes beweeg altyd vorentoe. En almal wat hulle aanraak of skade doen, word verwyder.
God het ‘n boodskap vir alle Islamitiese Terroriste.
Toe die Twin Towers geval het, het Osama bin Laden se terroriste gedans en gejubel. En terwyl bomme op Afghanistan geval het, het bin Laden Amerika gewaarsku: “Die verskrikking wat julle sien, is net die begin. Nou is dit die tyd vir Moslems regoor die wêreld om hulle geloof te bewys.” Met daardie verklaring, het die jihad, of heilige oorlog teen Amerika begin.
In die tussentyd, het beamptes van regoor die wêreld – eerste ministers, premiere, ambassadeurs – saam met Amerika se leiers op Ground Zero, by die Twin Towers vergader. Hulle kon slegs hulle koppe in ongeloof skud oor die verwoesting en slagting. Gou het boodskappe van regoor die wêreld ingestroom en gevra, “Wat sal die impak op Amerika wees? Hoe lank sal dit duur? Sal New York ooit weer wees wat dit eens was?”
‘n Opvallend soortgelyke toneel vind plaas in Jesaja 14. Juda was pas aangeval deur die Assiriërs en dit het die hoofstad van Jerusalem geskud: “Want die HERE het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die HERE gehandel het” (2 Kronieke 28:19). Terselftertyd, het Palestina die suide van Juda aangeval en ten minste vyf stede ingeneem en verwoesting aangerig.
Terwyl Juda verneder is, het die Palestyne begin skree en sing. Maar God het Jesaja gestuur om vir hulle te sê, “Wees nie bly, of ganse land van die Filistyne (Palestina), dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal ‘n basilisk voortkom, en sy vrug sal ‘n vlieënde draak wees. En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal veilig lê en rus; maar jou wortel sal Ek deur honger laat sterwe, en jou oorblyfsel sal hy doodmaak. Huil, o poort! Skreeu, o stad! Bewe, o ganse land van die Filistyne! Want uit die noorde kom rook, en daar is geen afswerwer onder sy skare nie” (Jesaja 14:29-31).
God het die einde van diegene, wat gejuig het oor die tugtiging van sy volk, voorspel. Hy het gewaarsku, “Julle beter ophou skree. Binnekort sal Ek Juda in veiligheid laat woon. En Ek sal jou heeltemal uitwis. Ek gaan jou wortels uittrek en jou volk van ‘n hongersnood laat sterf.”
Jerusalem was ‘n kroonstad in hierdie tyd. Sy verwoesting het die omliggende nasies verskrik. Boodskappers was gestuur met vrae oor Juda se welstand en toekoms: “Hoe sal dit jou land verander? En waarom sou jou God die verwoesting van sy eie stad toelaat? Sal Jerusalem ooit weer uit die puin opstaan om te herstel?”
Gou was Jesaja besoek deur Juda se beamptes en godsdienstige leiers. Hulle het gepleit, “Wat sal hulle dan die boodskappers van die nasie antwoord?” (Jesaja 14:32). Jesaja het geantwoord, “Dat die HERE Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil” (Jesaja 14:32). Met ander woorde, “Vertel die boodskappers: Almagtige God het sy kerk, sy uitverkorenes gegrondves. En die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.”
Ek hoor die Here dieselfde boodskap spreek vandag. Hy het gesê, “Sê vir al die terroriste die kerk wat gebou is op Christus, die Rots, is lewend en wel. Al wat hulle gedoen het, was om ‘n slapende reus wakker te maak. Hierdie reus is nie net die weermag van Amerika nie. Dit is my kerk, my uitverkorenes. My weermag van dienaars neem tans wapens op. En hulle kom teen die vyand met wapens wat hy glad nie ken nie.”
Wat is hierdie wapens? Dit is nie bomme, missiele, chemikalië of gewere nie. Die wapens wat vir ons gegee is, is magtiger as al hierdie dinge. En hulle waarborg om elke vesting neer te werp. Ons weet Osama bin Laden en sy terroriste kan nie vir ons spesiale wapens wegkruip nie.
Natuurlik praat ek van die krag van gebed en geloof. Ek bedoel nie die oppervlakkige gebede van sommige wat hulle tot God bekeer het in die weke na die aanval nie. Hulle het teruggegaan na hulle biddelose, oneffektiewe lewens. Ek bedoel ook nie die gebede bedienaars, wat Christus se goddelikheid ontken en sy opstanding bespot nie. Hulle gebede word nie eers verhoor nie.
Nee, God het ‘n heilige oorblyfsel vir Homself opsy gesit. En hulle herken die aanvalle op September 11 as ‘n wekroep. Hulle is die wyse maagde, toegewyde gelowiges wat hulle lampe in stand hou en olie pomp. En tans bombardeer hulle die hemel met gebed.
As daardie terroriste maar net geweet het wat hulle wakker gemaak het. Die kerk van Jesus Christus bid soos wat hulle nog nooit gebid het nie. Sion het sy grofgeskut uitgehaal en voer oorlog op sy knieë. En oral oor Amerika, meld tieners aan vir oorlog. Hulle sê vir hulle ouers en pastore, “Ek wil myself opoffer as ‘n sendeling na ‘n Moslemland om Jesus te verkondig.”
Tans wonder baie evangeliese bedienaars, “Wat kan ek vir die mense sê as hulle vra wat met ons nasie gaan gebeur? Wat as daar nog terroriste aanvalle is? Moenie ‘n fout maak nie, ons land is erg geskud. En daar lê nog meer terrorisme voor. Maar die belangrikste is dat God iets onwrikbaars vir ons gegee het om op te staan: Jesus Christus het sy kerk gebou en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.
Christus is God se Gesalfde, sy Uitverkorene.
God het sy Seun, Jesus, gesalf. En diegene wat in Christus is, is ook gesalf. Die woord gesalf beteken “aan Christus geheilig.” Kortliks, ons is sy duur gekoopte eiendom en afgesonderdes wat sy liggaam is. Ons lees reeds dat Jesus sy gesalfdes beveel het om die evangelie na elke nasie te neem. Dit is God se bepaalde raad. En geen persoon of nasie durf sy ewige doel probeer verhinder nie.
Ons weet egter die Koran leer die Moslems om Christene dood te maak as hulle probeer om hulle vir Christus te wen. Daarom het ek ‘n opregte vraag vir die mullahs en ajatollahs van die Taliban: Waarom het julle nie sendelinge opgelei in plaas van terroriste en hulle na Amerika en ander nasies met Christen bevolkings gestuur nie? As jou godsdiens verhewe is, waarom het julle nie probeer om ons te bekeer nie? Waarvoor is julle so bang dat julle ons moet probeer opblaas? Is julle boodskap so leeg en swak, dat julle mense moet terroriseer om dit te aanvaar?
Laat Islam leer van Kommunisme. Die magtige Sowjet Unie het oorlog gemaak teen die kerk van Jesus Christus. Hulle het die U.S.S.R. in ‘n goddelose nasie verklaar en ateïsme in sy skole onderrig. Hulle het kerke afgebrand en Bybels verban. En hulle het God se uitverkorenes geterroriseer en gelowiges in die tronk gegooi en gemartel.
Hoe het God gereageer? Hy het die Ystergordyn afgebreek, nie net in Rusland nie, maar regdeur Europa. God het verklaar, “Ek het hierdie kerk gegrondves. En Ek sal julle nie toelaat om my uitverkorenes aan te raak nie. Dit is verby met julle. Ek gaan julle neerwerp.” Die Here het Kommunisme heeltemal vertrap en die magtige Sowjet-ryk in stukke verdeel. Hy het sy state verdeel, sy leiers eenkant toe geskuif en die ekonomie bankrot gemaak. Rusland was verneder, omdat hulle God se gesalfde saad aangeraak en sy profete skade gedoen het.
Wat was die uiteindelike gevolg? God het nou talle bedienings en sendelinge in Rusland ingestuur. En ek glo dieselfde ding sal in Afghanistan en Pakistan gebeur. Die Here gaan deure oopmaak wat geen mens voorheen kon oopmaak nie. Niks kan sy ewige doel verhinder nie.
Maar Amerika moet ook ‘n les leer by die Sowjet Unie. Ons kan nie aanhou om God uit ons samelewing te verwyder nie. Bybels word reeds in klaskamers verban en Christen simbole word verwyder van publieke plekke. Die tyd mag inderdaad kom wanneer dit nie meer wettig sal wees om te evangeliseer en mense te bekeer nie.
Ons moet egter nie bekommerd of besorg wees nie. Almagtige God het sy kerk gegrondves. En enige nasie wat Hom verban, is minder as niks in sy oë. Die Here mag chaos oor daardie nasie bring, maar in sulke tye sal ‘n samelewing weer sy deure oopmaak vir die evangelie. Skole sal om hulp roep en selfs regeringsamptenare sal vir geestelike hulp vra. Weereens sal God se dienaars in staat wees om sy waarheid te verkondig, enige tyd en enige plek.”
“Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde...Dat die HERE Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil” (Jesaja 12:6, 14:32). God se kerk mag arm en nietig voorkom. Dit lyk of daar so min ware heiliges oor die aarde versprei is. En soos Paulus sê, daar is nie baie rykes of edeles nie. Maar die klein kuddetjie van Christus sal bly en op sy Woord vertrou: “Ek het hierdie kerk gegrondves. En my kerk sal oorwin.”
Geen terroris, godsdiens of nasie kan teen die kruis van Jesus opstaan nie. Hy het die hele wêreld gewaarsku, “Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie” (Psalm 105:15).