Regte Lied – Verkeerde Kant
Israel was in ‘n hopelose verknorsing!
Die Rooi See voor hulle; die berge aan hulle linker- en regterkant; en Farao en sy ysterwaens het van agter af op hulle afgestorm. God se volk het gelyk of hulle hulpeloos vasgekeer was – met geen beskerming nie, reg om verslaan te word. Glo dit of nie, God het hulle doelbewus in hierdie netelige posisie ingelei!
Dit was paniektyd in die laer van Israel. Mans het gebewe van vrees, en vrouens en kinders het gehuil, terwyl hulle om hulle grootouers en familielede saamgedrom het. Skielik het ‘n groep ontstoke leiers op Moses afgestorm en hom beskuldig, “Dit is sekerlik nou die einde! Was daar nie genoeg grafte in Egipte dat ons daar begrawe kon word nie? Jy het ons hiernatoe gesleep om te sterf. Ons het jou in Egipte gesê om ons uit te los. Dit was vir ons beter om slawe te wees as om in hierdie miserabele woestyn te sterf!”
Ek wonder of Moses enige oomblik van angs oor hulle omstandighede gehad het. Toe hierdie man van God egter geween het, het dit gelyk of God Moses berispe het, “Moses: Wat roep jy na My?” (Exodus 14:15).
Niemand in Israel kon geweet het wat ‘n groot verlossing God op die punt was om vir hulle te bewerkstellig nie! Skielik het die winde die see in twee verdeel, en die mense het tussen die geskeide golwe op droë grond deur die see geloop. Toe Farao en sy magtige leër probeer volg het, het die waters weer begin bruis – omgetuimel en hulle almal het verdrink!
Wat ‘n toneel moes dit gewees het! Die volk van God het teruggekyk van die ander kant af en hulle magtige vyand vernietig gesien soos bliksoldaatjies. ‘n Lied het in die laer opgegaan, toe hulle besef het dat God hulle weereens verlos het uit onmoontlike omstandighede! Die Skrif beskryf hulle reaksie – en die lied wat hulle gesing het:
“Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg. Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef” (Exodus 14:31, 15:1-2).
Jy mag dalk hierdie wonderlike oorwinningslied ken wat direk uit die Skrif geneem is. Christene verhef hulle stemme om dit in baie kerke te sing vandag.
Maar, geliefde, let op die volgende woorde en beklemtoning in hierdie gedeelte – omdat dit die hart van hierdie boodskap is!
“Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het...TOE het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing” (Exodus 14:31-15:1).
Hulle het die regte lied gesing – maar hulle het dit aan die verkeerde kant gesing! Israel se lied was nie gesing in ware geloof nie, omdat hulle dit eers aan die anderkant van die Rooi See gesing het – die oorwinningskant en nie die kant van beproewing nie!
Jy sien, daar is twee kante aan al ons beproewings en versoekings: die beproewingskant en die deurbraakkant; die oostekant van duisternis en hopeloosheid, en die weste kant van oorwinning en verlossing. Enige twyfelaar kan sing nadat die beproewing verby is en oorwinning gekom het. Liewer, dit is aan die beproewingskant waar die Here wil hê ons moet leer om Sy lof te besing. Hy verdien ons aanbidding in die donkerste oomblik, wanneer dit lyk asof daar geen uitweg is nie, wanneer dit absoluut hopeloos is – en Hy alleen kan verlos!
Jy kan jou voorstel die toneel in Israel ná hulle oorwinning: Miriam dans saam met al die meisies, tamboeryne skud, almal sing en jubel tot God. Die Skrif sê hulle het vrypostig uitgeroep: “Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder...Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe” (Exodus 15:14-15).
Hoe veilig en magtig moes God se volk gevoel het. Maar die oorwinning was leeg omdat Israel reeds die toets van die dag gefaal het! Slegs Moses het ‘n reg gehad om aan die westekant te sing. Voor die water geskei het, het die volk gekla en gemor en gekerm en gehuil!
Die groot behoefte in die huidige uur is vir Christene om te leer het om die lied van verlossing aan die beproewingskant van hulle moeilikheid te sing.
God se doel om ons toe te laat om te struikel in ‘n hopelose krisis, is om ons te toets – om binne-in ons ‘n fondament van vertroue in Hom te bou! Hoe anders sal Sy kinders in staat wees om Hom te vertrou vir al die oorloë wat voorlê?
Ons hoor die afgelope tyd baie van bedienaars wat in sonde soos owerspel en finansiële skandale verval. Maar die ergste van alles in God se oë, is die groeiende aantal bedienaars wat wegloop van die bediening, omdat hulle toegelaat het dat twyfel en vrees hulle oorwin.
Ons ontvang briewe van dwarsdeur die land wat ons vertel van hele gemeentes wat in versoeking en puin verval, omdat die herder wat eens geloof gepreek het – moed verloor het en hulle verlaat het. Hy kon nie die regte lied aan die regte kant sing nie!
Geliefde, elke krisis wat jy tans beleef, is ‘n geleentheid om te leer om God te vertrou – om ‘n fondament te bou vir alles wat teen jou kom vir die res van jou lewe! Hierdie toets was ‘n geleentheid vir Israel om ‘n spieël teen hulle hart te hou en vir hulle die twyfel aan die binnekant te wys – sodat hulle in geloof hulle tot God kon bekeer!
As Israel tog maar net onthou het van die wonderwerke wat hulle in Egipte gesien het, sou hulle kon sê, “Lewe of dood, ons is die Here s’n!” Hulle sou mekaar kon bemoedig deur ‘n loflied te sing – dieselfde lied wat hulle later aan die verkeerde kant gesing het: “Groot is ons God en baie lofwaardig...” Dit kon dwarsdeur die laer versprei en hulle geloof aan die brand gesteek het! Dit sou ‘n fondament van ‘n blywende geloof in God gevestig het! Dit sou ‘n geloof begin het wat so vuurbestand en onwrikbaar was, dat dit hulle sou dra deur al die swaarkry van die wildernis en die oorloë in Kanaän. Dit sou hulle gevestig het as die volk van God op aarde – ‘n lig vir die nasies!
Maar Israel het nie gesing nie. Hulle het alle vertroue in die liefde van hulle hemelse Vader verloor – en God beskuldig dat Hy hulle verwaarloos!
‘n Dierbare broer in die Here het onlangs sy hart voor my oopgemaak oor ‘n diep, donker beproewing wat hy nou al vir ‘n geruime tyd verduur. Omtrent ‘n jaar gelede, het hy ‘n goed betaalde werk prysgegee, omdat hy besef het dat hy ‘n kompromie sou moes maak in die afsienbare toekoms. Vir maande het hy talle CV’s uitgestuur, maar niks het vir hom oopgegaan nie.
Dit was ‘n tyd van ernstige beproewing vir hom, en hy het allerhande soorte advies van goedbedoelende Christen vriende ontvang. Sommige het vir hom gesê daar moet sonde in sy lewe wees en daarom het God nog nie ‘n deur oopgemaak nie. Ander het gesê, “As jy net genoeg geloof het...”
Maar hierdie broer het vir my gesê, “As God vir my iets probeer sê deur al hierdie dinge, kry ek nie die boodskap nie. Ek sien net nog nie die doel nie. Dit is goed vir mense om iemand soos ek wat ly te bemoedig – maar totdat jy self daardeur gaan, kan jy net nie die pyn verstaan nie! Ek het die Here lief, maar dit lyk so hopeloos. Hierdie beproewing hou net aan – en ek hou aan om op doodloopstrate te beland waar ek ook al gaan!”
Toe het hy iets gesê wat my diep getref het – en die vonk vir hierdie boodskap geword het: “Ek wil uit hierdie beproewing kom met ‘n getuienis. Ek wil nie hê God moet bloot vir my ‘n ander werk gee, my verlos uit my moeilikheid, en my toelaat om voort te gaan sonder dat ek iets by Hom geleer het nie.
“Mense oral hou my dop en ek wil hê hulle moet ‘n getuienis van God sien. Ek wil getoets en beproef deurkom. Andersins, is alles wat ek geleer oor hoe om die Here te vertrou, niks anders as leë teorie nie. Tensy dit werk in moeilike tye, is dit nutteloos!”
Die vlees maak beswaar, “Wie kan sing wanneer jy só ernstig ly?”
Sommiges sou sê, “Dit is nie natuurlik om liedere van verlossing in sulke pyn te sing nie. As ons in Israel se skoene gestaan het, sou ons ook vreesbevange uitgeroep het. Dit is net menslik om bekommerd te wees as jy aan jou familie, jou huweliksmaat en familie te dink – wanneer jy werkloos, jou kinders in die moeilikheid is en jy allerhande soorte probleme beleef.”
Broers en susters, God sien dit nie op daardie manier nie. Sy perspektief is heeltemal anders as ons s’n. Was Hy harteloos toe Hy vir Moses gesê het, “Waarom roep jy na My? Sê vir die volk om vorentoe te trek!” Beteken dit Hy gee nie om oor ons menslike passies en lyding nie?
Nee! Die Skrif sê, “In die woestyn, waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het” (Deuteronómium 1:31). Hy was liefdevolle, sorgsame Vader. En Hy was nie ingenome met die volk se eindelose beledigings en sinspelings dat Hy hulle verlaat het nie!
Jy het moontlik tieners in jou familie. As jy sien wat in ons land, ons stede, ons skole gebeur, sal jy moontlik wonder of God in staat is om dinge in stand te hou. Maar moenie eers begin dink dat ons liefdevolle, hemelse Vader nie jou gebed hoor en nie ‘n muur van vuur rondom jou kinders sal hou nie!
Die Here het vir Israel gesê, “ “En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word! en julle kinders wat vandag geen goed of kwaad weet nie – húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem” (Deuteronómium 1:39). God het die kinders verlos – maar nie die volwassenes wat geweier het om Hom te vertrou nie!
Daar is niks verkeerd om wanneer jy ly na die Here te gaan en uit te roep, “Help!” nie. God verstaan wanneer jou hart gebreek is en dinge sleg lyk. Dawid het gesê, “Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp” (Psalm 18:7).
Maar die tyd kom wanneer die Heilige Gees jou in jou binnekamer ontmoet en sê, nes Hy vir Moses gesê het, “Waarom huil jy nog steeds? Wanneer sal geloof in jou hart opstaan?”
Jy sien, God weet jy is nie in gevaar nie. Hy ken die weg wat Hy gaan gebruik om jou te verlos. Hy het in werklikheid ‘n miljoen maniere. Jy kan dit net nie met jou rug teen die muur raaksien nie! Vir die kinders van Israel, was die muur die Rooi See. As julle probeer het om die berge in te vlug, sou die leeus en ondiere hulle verslind het. Hulle was vasgekeer – presies waar God hulle wou hê!
Hulle het God se verlossing ontvang daardie dag – en hulle het ná die tyd gesing. Maar hulle lied was ‘n lied sonder fondament. Hier is die bewys dat hulle lied oppervlakkig was: Drie dae later, was hulle terug op hulle ou weë van twyfel en vrees!
Al wat hulle in hulle krisisuur gedoen het, was om hulle vrees te onderdruk. Hulle het dit diep binne-in gedruk en ‘n bedekking van lof oorgeplak. Hulle het nooit ‘n doodskoot gegee aan twyfel nie. Dit was egter die hele doel agter die krisis!
Die wêreld vereis van ons ‘n lied te midde van moeilike tye!
Geliefde, daar is ‘n lied wat gesing kan word – en dit moet aan die regte kant gesing word. En jy kan seker wees daarvan, as die wêreld weet dat jy ‘n Christen is, sal hulle dit van jou vereis. Die Psalmis het gesê, “Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ‘n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ‘n Sionslied. Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ‘n vreemde land? (Psalm 137:3-4).
Die volk van God was op die moeilikste plek van hulle lewens. En terwyl hulle weggevoer is, het hulle ontvoerders van hulle ‘n lied verlang. Daar was egter geen lewe in hulle meer oor nie – niks anders as depressie, wanhoop en hopeloosheid nie!
Menigte Christene is in dieselfde posisie vandag. Jy mag vasgekeer wees in jou omstandighede. Die duiwel jaag jou en val jou aan teen 90 myl per uur met ‘n ou versoeking. Jy is op die randjie van moed verloor en dink, “Ek sal dit nie maak nie. Ten spyte van al my geween en gebede, lyk dit of dit so gaan aangaan vir die res van my lewe. Daardie ou verslawing gaan my vir altyd jaag!”
Toe Israel in Babiloniese ballingskap verval het, het hulle ontvoerders vir hulle gesê, “Sing vir ons! Speel vir ons! Ons het alles gehoor oor julle en wat julle God vir julle gedoen het. Ons verkenners het ons alles vertel! Haal nou julle tamboeryne uit en bring julle harpe. Sing vir ons ‘n lied! Wys vir ons blydskap in julle God!”
Ek glo nie hierdie vereiste was slegs spottenderwys gemaak nie. Ek glo dit was ook ‘n jammerlike smeking. Die Babiloniërs se gode het hulle leeg en droog gelaat. Hulle het geen hoop gehad nie. Maar hulle het Israel gehoor sing tot hulle God – ‘n God wat hulle deur onmoontlike omstandighede gedra het. Hulle het gesê, “Hierdie volk het ‘n God wat ‘n see vir hulle kan oopmaak. Sy vuur daal uit die hemel neer. Hy staan teen hulle vyande. Daar moet iets wees aan hierdie God van hulle!”
Net soos die hele wêreld, wou hulle ‘n volk sien wat dieselfde probleme verduur het as hulle en ook dieselfde stryd beleef het as hulle – wat nogtans kon sing en uitroep en hulle geloof behou in die donkerste van ure! Die Babiloniërs het ‘n lied geëis, want daar is iets in elke mense se hart wat uitroep, “Waar op aarde is daar iets wat ‘n mens kan laat sing al het jy alles verloor?” Hulle het ‘n getuienis nodig gehad! En dit is belangrik dat die kinders van God, waar hulle ook al is en watter tyd dit ook mag wees, die liedere van Sion kan sing: “God, ek glo U, maak nie saak wat gebeur nie!”
Die wêreld gaan egter nie reageer op net nog ‘n getuienis nie. Kerkprogramme laat mense dikwels dood en droog. Selfs genesings het deesdae min impak, omdat die wêreld so baie “wonderwerk-medisyne” gesien het – hartoorplantings, ledemaatoorplantings, oogoorplantings.
Nee, die wêreld skreeu op ons, “Julle kan vir ons ‘n wonderwerk wys! Dit is nie die Rooi See wat oopmaak wat ons beïndruk nie. Dit is nie die blindes wat sig gegee word of die kreupeles wat genees word nie. Dit is dat jy die donkerste uur van jou lewe kan instaar, ‘n situasie wat hopeloos lyk vir alle menslike rede – en tog glimlag jy met blydskap en besing God se lof! Dit is die wonderwerk wat ons wil sien!”
Ons vertwyfelinge moet die doodskoot gegee word tydens ons beproewings, anders sal ons geswore murmureerders word
As jy nie met jou bedenkinge afreken nie, sal jy oorgegee word aan ‘n gees van murmurering en klagtes. Jy sal so lewe en so sterwe. Jou vertwyfelinge kan eenvoudig nie onderdruk word nie. Dit moet wortel en tak uitgeroei word!
Laat ons kyk na Israel net drie dae na hulle verlossing uit Egipte. Hulle het gesing, hulle tamboeryne geskud en getuig van die krag en sterkte van ‘n magtige God en daarin geroem dat Hy hulle gelei en beskerm het. Toe het hulle by Mara aangekom, wat “waters van bitterheid” beteken. Dit sou nog ‘n toetsplek vir hulle wees.
Jy sien, God hou aan om krisis na krisis toe te laat, totdat ons uiteindelik die les leer. As ons aanhou weier om dit te leer, sal ‘n tyd kom wanneer Hy ons sal oorgee aan ons eie bitterheid en murmurering. “Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en geen water gekry nie...Toe murmureer die volk teen Moses en sê Wat moet ons drink?” (Exodus 15:22,24).
Op Sondag, het hulle ‘n wonderlike tyd gehad – gesing, gedans en geprys! Nou is dit Woensdag – en hulle is reeds in die moeilikheid. Nog ‘n krisis, en hulle stort in duie!
Hoe kon ‘n volk hulle vertroue so vinnig verloor? Omdat hulle nooit vertroue gehad het nie! Hulle het nooit daardie fondament onder hulle gebou nie!
Daarom het hulle weer die toets gefaal! Hulle het absoluut niks geleer uit hulle vorige krisis nie – en weer het hulle ‘n geleentheid misgeloop om die grootheid van hulle God te laat voortskyn. Van daardie dag af, was Israel nie meer in staat om enigiets van God te leer nie!
Hulle het selfs begin om Sy goedheid vir vanselfsprekend te aanvaar. Hulle het geen kos gehad nie, daarom het Hy manna uit die hemel gestuur. Hy het kwartels uit die hemel gegee, dit in hope buite die laer bymekaargemaak, drie voet hoog. Maar nie ‘n woord van danksegging was gehoor nie! In plaas daarvan, het die mense hulle gewend na gierigheid en alles wat God vir hulle gegee het, opgegaar. Israel het hardnekkig geword!
O, wat ‘n skande is dit om van krisis tot krisis te gaan en niks in die proses te leer nie! Dit bring ‘n vloek daarmee saam – dat jy oorgegee word aan ‘n gees van murmurering!
Vier groot verlossings later, word hulle een laaste kans gegee!
Israel het God se wonderwerk by die Rooi See gesien plaasvind. Hulle het die genesende waters van Meriba gesien. Hulle het gesien hoe water uit ‘n rots stroom by Berg Horeb. En hulle het manna en kwartels uit die hemel sien verskyn.
Nou was hulle gereed om die Beloofde Land binne te gaan. God het vir hulle een laaste geleentheid gegee om op die grond van vertroue en geloof in Hom te kom.
Hulle het 12 verspieders in Kanaän ingestuur en 10 het teruggekom met ‘n slegte berig: "Dit loop oor van melk en heuning...Maar...die stede is versterk, en baie groot...Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. Die land...is ‘n land wat sy inwoners verteer...en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. Ons het daar ook die reuse gesien het...en ons was soos sprinkane in ons oë” (Númeri 13:27-28;31-33).
Die berig het die uiterste chaos in die laer van Israel veroorsaak het. Elke opgekropte emosie, elke twyfel en vrees wat binne-in hulle opgebou het, het in woede teen God gebruis! Toe Josua opgestaan het, “God is met ons! God kan!”, wou hulle almal hom stenig!
Die mense het dit nie geweet nie – op daardie tydstip, maar hierdie toets was om hulle eers voor te berei vir hulle eerste oorlog in Kanaän by Jerigo.
Die verkenners het vir hulle gesê, “Die eerste ding wat jy daar gaan kry, is ‘n ommuurde stad genaamd Jerigo. Dit is ondeurdringbaar. Daar is eenvoudig geen manier na binne nie! Ons het geen wapens nie, geen stormramme nie. Dit is nutteloos, hopeloos. Waarom selfs probeer om daarheen te gaan?” Geliefde, daardie praatjies het reguit uit die hel gekom! En dit is presies wat die duiwel wil hê jy moet oor jou probleme dink: “Daar is geen uitweg hieruit nie.” Jy weet egter God het reeds ‘n plan! Jy kan dit net nie sien nie. Al wat jy sien, is daardie muur voor jou.
Maar God sien oneindig meer as jy. Vir Hom, is daar geen muur daar nie. Dit is ‘n maklike ding vir Hom om dwarsdeur dit te gaan. Daar is geen komplikasies vir Hom betrokke nie, omdat Hy nie die krag van die vyand erken nie. Dit is tyd om Hom te begin vertrou!
Vir Israel, was dit ‘n laaste kans. Dit was tyd om op te staan en te sing, om vir God hulle vertroue te wys! Dit was tyd vir iemand om op te staan en te sê, “Ons het gedink ons was dood by die Rooi See – en Hy het ons verlos! Ons het gedink dit was die einde vir ons by die bitter waters van Mara en Hy het ons verlos! Ons het gedink ons sou van die honger sterf in die wildernis – en Hy het ons verlos! Ons het talle kere gedink dit was neusie verby. Maar elke keer het God ons uit gevaar gered. Hy het ons so ver veilig uitgebring! Laat ons getuig teenoor die wêreld dat ons God kan!”
Niemand het egter nie! Israel het sy laaste toets gefaal! Waar was die oorwinning, die lied? Daar was niks! Israel het slegs geween!
“Toe het die hele vergadering uitgeroep – hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween. En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!
“En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.
“Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel...Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Númeri 14:1-5,11).
Uiteindelik het God se geduld opgeraak. Luister na wat Hy vir die geswore murmureerders gesê het: “Draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee...En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is” (Númeri 1:25,33).
Jesus genees ons twyfel, vrees en ongeloof.
“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word” (Jakobus 1:6-7).
Die wêreld is vandag vol Christene wat nie aan God se heilige Woord wil vashou nie. Hulle dink dit is iets onskuldigs om by die tafel in die huis van God te sit en murmureer en kla, asof God nie hoor nie. God hoor wel ons murmurerings! Dit is beskuldigings dat Hy nie omgee nie, insinuasies dat Hy ons teleurgestel het!
God het my gewaarsku om nie stem te gee aan knaende twyfel en vrese nie – nie aan my vrou, vriende, geliefdes of kollega’s nie. God sê om daardie bedenkinge na die kruis te neem en te sê, “Jesus, genees my ongeloof! Haal dit uit!”
Israel het die volgende 40 jaar in onrus deurgebring – met skinderpraatjies, murmurering, jaloesie en vol bitterheid. Wat ‘n ellendige bestaan het hulle gelei – terwyl hulle steeds daarop aanspraak gemaak het om die kinders van God en heilig te wees. Maar dit was húlle getuienis – nie God s’n nie.
Daar is geen werk, geen verlossing, vir ‘n man of vrou wat voortdurend voor God kla nie. Jy sal werkloos bly vir die res van jou lewe! Of, as jy ‘n werk kry, sal dit ‘n juk om jou nek wees! Dit is ‘n saak van lewe of dood! Jy moet uitkom by die plek waar jy leer om Hom te vertrou. As jy dit nou leer, sal jy die volgende keer wanneer ‘n krisis opduik, singend en jubelend deurkom met lofsange tot jou Verlosser! O, die oorwinning sal daar wees – maar belangriker, jy sal alle twyfel, vrees en ongeloof ‘n doodskoot gegee het.
Waar begin jy? Deur reguit in die spieël van God se Woord te kyk! Beskou jou woorde en aksies oor die laaste 30 dae: Het jy gemurmureer? Gekla? Jy sal dalk antwoord, “Ja – maar ek het nie teenoor God gemurmureer nie!” O ja, jy het! Maak nie saak waar of oor wie jy kla nie, dit is alles op God gerig!
Op elke plek waarna ek in my Bybel blaai, sien ek: “Vertrou My, en Ek sal jou deurdra! Onderwerp jou net aan My weë.” Wat vereis dit? Bloot die volgende: Staan stil en sien die verlossing van die Here. Jy vra, “Maar wat as niks gebeur nie?” Daardie reaksie openbaar twyfel en vrees!
Dierbare heilige, wend jou tot God vandag en sê, “Here, ek het alles gedoen wat ek weet hoe om te doen in my situasie. Ek weet daar is in elk geval niks wat ek kan doen om die probleem om te los nie. Ek gaan U vertrou – en wat vir U oorwinning.
Laat God jou ‘n getuienis vir die wêreld maak – ‘n getuienis van Sy getrouheid. Wees lief vir Hom met jou hele hart op hierdie oomblik. Gee vir Hom al jou probleme, al jou geloof en vertroue – en Hy sal jou die regte lied aan die regte kant gee!