SATAN KAN JOU NIE KRY NIE!
Dit was nodig dat Jesus die menslike vorm moes aanneem, sodat Hy deur alles kon gaan wat ons op aarde beleef – verwerping, pyn, smart, versoeking. Hoewel Hy God in die vlees was, het Hy die volle menslike belewenis verduur, nie as God nie, maar as ‘n mens, met al ons swakhede. Dit stel Hom in staat om vir ons te bid met geweldige medelye: “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18).
Beskou ‘n dierbare suster wat sukkel. Sy is ‘n liefhebber van Jesus, maar sy is moedeloos, terneergedruk en verwerp. Sy staan in skaamte en dink, “Ek is so seergemaak en dit lyk of niemand my verstaan nie.” Sy is op moedverloor se vlakte, heeltemal wanhopig.
Boonop, staan Satan langs haar en beskuldig haar: “Kyk na hierdie mens! Sy het so te sê geen geloof nie. Wat se soort Christen is sy?”
Dit is dan wanneer Jesus ingryp! Hy sien haar hartseer en weet haar geloof is swak en daarom kom Hy voor die Vader om haar onthalwe en begin om vir haar voorbidding te doen. Hy word haar Advokaat! “Vader, Ek weet hoe hierdie dierbare voel. Ek was ook daar – verwerp; bespot; op gespoeg. In desperaatheid het Ek uitgeroep, “Waarom het U My verlaat?” Ek het medelye met hierdie vrou, Vader, maar Ek het al haar sondes afgewas en sy het steeds ‘n hart vir My.”
Dit is waar Jesus se gebede vir ons inkom: “Vader, Ek sou wou hê dat daar vir haar ‘n nuwe stroom van genade uit die hoogte gegee word. Mag die Heilige Gees oor haar kom en haar in die besonder nuwe moed gee. Gee haar vrede en rus in die Heilige Gees. Sy is Myne en Satan kan haar nie kry nie!”
Skielik, van nêrens af nie, skep die vrou moed, die vrou voel bemoedig, omdat genade aan haar geskenk is deur die gebed van ons Hoëpriester! Hy het medelye met die gevoelens van ons swakhede – en Hy tree in genade op.