Staan Onwrikbaar Vas In Christus
Die boodskap wat ek hier aan julle skryf, is van die Heilige Gees aan my. Trouens, ek beskou dit as my eie persoonlike wekroep. Ek besef dat baie lesers moontlik nie soos ek hoef aangeroer te word nie. Tog het die Gees se roering my so diep getref dat ek my notas op my lessenaar voor oë wil hou om dit weer en weer in die komende dae te lees.
Jy sien, daar is een ding wat ek bo alles vrees: dis die gedagte dat ek van Christus sal wegdryf. Ek sidder aan die gedagte dat ek lui en geestelik nalatig sal word, dat ek vasgevang sal word in biddeloosheid en vir dae aanmekaar sal voortgaan sonder om God se Woord te raadpleeg.
Namate ek die afgelope vier jaar deur die wêreld gereis het, het ek ʼn wêreldwye “geestelike tsunami" van bose wegdrywing raakgesien. Die golwe van hierdie tsunami het kerkverbande algeheel oorweldig en in sy volgstroom het dit puinhope van belangeloosheid nagelaat. Dit gebeur dwarsdeur die wêreld waar eens kragtige gemeentes en kerkdenominasies van die godvresende weë van hulle stigterslede af wegdryf.
Die Bybel waarsku duidelik dat dit moontlik is vir toegewyde gelowiges om van Christus af weg te dryf. Verder waarsku dit ernstig om daarteen te waak om in die middernaguur aan die te slaap raak. "Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur die engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as as ons so ʼn groot saligheid verontagsaam …… ?" (Hebreërs 2:1-3).
Daar is bybelse voorbeelde van eens kragtige kerke wat op die ou end weggedryf het. In Openbaring lees ons van die kerk van Éfese wat Christus bedroef het omdat hulle van hul eerste liefde af weggedryf het. Net so het die kerk van Laodicéa weggedryf omdat hulle louwarm was, en die kerk van Sardis wat in ‘n geestelike dood in weggedryf het. Paulus waarsku die gelowiges in Gelásië dat hulle weggedryf het van die oorwinning van die kruis en teruggekeer het na die werke van die vlees.
Paulus sê, "Ontwaak, jy wat slaap." "Pas dan op dat julle nougeset wandel, ..…… en koop die tyd uit, omdat die dae boos is" (Efésiërs 5:14-16). Paulus dring ook aan, "dat die uur vir ons alreeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die verlossing is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het" (Romeine 13:11). Hy voeg by dat sekere gelowiges "tot oneer van Christus wellustig word ..… want sommige het al afgewyk agter die Satan aan" (1 Timótheüs 5:11, 15). Elkeen van hierdie verse is aan geesvervulde Christene gerig en nie aan ongelowiges nie. En die boodskap is duidelik: "Word wakker uit jou slaap. Wakker jou genadegawes aan!"
Laat ek dit hier stel dat my eerste bekommernis nie die wegdrywing van die kerk of sy bedienings is nie. Nee, ek is in die eerste plek oor my eie wandel met Christus bekommerd. Ek moet vra, "Hoe kan ek die nagevolge ontvlug indien ek Jesus verwaarloos en van Hom af wegdryf?"
Paulus sê dat ons as ‘n voorbeeld moet let op Israel wat in 'n modder van laksheid in gedryf het: "Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. ……. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie" (1 Korinthiërs 10:7,12). Moet nou nie verkeerd verstaan nie; Paulus praat nie hier om van Christus afvallig te word nie. Hy praat van ʼn verlies aan ywer. Petrus waarsku ook: "Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ʼn stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word" (2 Petrus 3:17).
Dis hoekom Paulus sê, "Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou word nie" (1 Korinthiërs 9:27). Paulus se hele lewe het daaroor gegaan om vrugte te dra. En hy praat hier soos een wat selfs die blote gedagte vrees dat hy uit sy standvastigheid sal wegdryf.
Soos Paulus, staan ek vas in my redding. Maar ek moet ag slaan op die waarskuwings van die Here en van groot manne van God.
Dit sal wys wees om ag te gee op die lesse van die natuurwette. God het al die plante en diere geskape en hulle lewensiklusse en sorg weerspieël sy universele natuurwette. Paulus skrywe, "omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is …… in sy werke verstaan en duidelik gesien kan word" (Romeine 1:19-20). Inderdaad, Jesus leer ons om te let op die blomme, voëls, osse, skape, miere en saad omdat hulle almal vir ons lesse kan leer. Hier is ʼn paar geestelike waarhede wat in die natuur geïllustreer word:
1. Verwaarlosing veroorsaak agteruitgang. Ek het insig gekry toe ek van ʼn visspesie wat in die Mammoth grotte in Kentucky gevind word, gelees het. Dit is ʼn klein skulpvis met 'n kop wat heeltemal bleek is met twee swart kolle wat soos oë lyk. Toe bioloë hierdie swart kolle ontleed het, het hulle bevind dat hierdie vals "oë" is en nie kan funksioneer nie. Uiterlik het die swart kolle soos oë gelyk en op die oppervlak het dit voorgekom asof dit perfek is. Maar agter hierdie oë was alles vervalle. Die optiese senuwees was ʼn nuttelose inmekaar gekrimpte en verdorde veseltjie. Eenvoudig gestel, daardie visse het oë maar hulle kon nie sien nie.
Wat het gebeur? Hierdie bepaalde spesie was eens meerkleurig gewees en het oë gehad wat normaal gefunksioneer het. Dit het egter die donker, koue onderwêreld verkies bo die lig. Deur weg te kruip en versteek te bly het hierdie skulpvis uiteindelik verbleik. Oë was toe nie nodig nie en die natuur het dit so toegelaat. Die vermoë om te sien het geheel en al verlore gegaan weens die konstante gebrek aan lig.
Hierin lê ʼn kragtige les omtrent ons geestelike wandel. Dit wat jy nie benut nie, verloor jy. Met ander woorde: Jy moet voortdurend jou geestelike gawes oefen as jy verwag om ʼn geestelike lewe te hê. Jy kan nie net Sondae kerk toe gaan en verwag om voldoende versterking te kry om jou die komende week deur te dra nie. Jy moet daagliks jou eie wandel met God hê.
2. Verwaarlosing kan deur vermoeidheid veroorsaak word weens die worsteling in die Christelike lewenswandel. Op hierdie oomblik is daar baie dierbare siele wat net eenvoudig moeg is. Hulle is deur hulle fisiese en geestelike stryd uitgeput vanweë ʼn spervuur van probleme en hartseer. En hulle gee op, nie op Jesus nie, maar op die stryd. Hulle is moeg van die spanning, afgemat van die stryd, en hulle wil nie langer so ernstig in hul wandel wees nie. Hulle wil net ontvlug.
Onlangs het ʼn pastoor die volgende aan my geskryf: "In al my jare in die bediening het ek nog nooit die vlak van moeilikhede, ontmoediging, verhoudingsprobleme en finansiële stress wat in die laaste paar jaar oor ons gemeente gekom het, ervaar nie. Hoe meer ek gebid het en die Here gesoek het omtrent hierdie moeilikhede, hoe meer het dit toegeneem. Ten einde raad het ek daaraan begin dink om die bediening te verlaat. Christus sal ek nooit prysgee nie, maar dit wat ek nou elke dag in ons kerk in die oë moet kyk, is net te moeilik om te hanteer."
Dawid, die skrywer van soveel Psalms, het ook van sy stryd moeg geword. Hy was so tot in sy siel toe moeg weens die moeilikheid en stryd wat teen hom gewoed en hom gekwel het, dat hy net verlang het om na ʼn plek van vrede en veiligheid te ontvlug: "My hart krimp inmekaar in my binneste, en verskrikkinge van die dood het op my geval. Vrees en bewinge kom oor my, en angs oordek my. Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos ʼn duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly! Gou sou ek vir my ʼn skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm" (Psalm 55:5-9).
Op hierdie oomblik glo ek dat die liggaam van Christus in die middel van ʼn "volmaakte storm" is. Die hel het losgebrand en Satan het ʼn groot aanslag van stapel gestuur om die oorwinnende kerk te oorrompel. Baie gelowiges trek terug en wil graag geheel en al uit die stryd te tree. Hulle het besluit, "Dis genoeg. Ek sal Jesus nie verlaat nie, maar ek gaan ‘n makliker uitweg vind."
Jesus verskyn en openbaar Homself wanneer dit lyk of die boot wil sink. Net soos vir sy dissipels, verskyn Hy in die middel van ons storm terwyl Hy oor die golwe wandel. Hy kom na ons toe waar ons in die brandende vuuroond is, net soos hy vir die Hebreeuse kinders gedoen het. En Hy is met ons wanneer ons binne-in die leeuhok gegooi word, net soos Hy met Daniël was. Inderdaad, Sy krag gee Hy die meeste aan ons in ons oomblikke van swakheid. Paulus getuig, "En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbing" (2 Korinthiërs 12:9).
Soos Dawid, smag baie van ons om te ontsnap wanneer ons vreesaanjaende en vermoeiende tye moet deurgaan. Ons wil ontvlug na een of ander plek vêr van mense af, weg van ons moeilikhede en stryd na ‘n plek waar dinge stil en rustig is. So keer sommiges na binne, of raak afgestomp van TV kyk, leef in voortdurende moedeloosheid en kom op die punt om die stryd gewonne te gee om op God te vertrou om hulle deur te sien.
Dit is juis in ons tye van stryd dat ons die volgende wet van die natuur teëkom:
3. Verwaarlosing belemmer alle geestelike groei. Verwaarloos ʼn mens plante of diere deur hulle nie water en voedingstowwe te gee nie, gaan hulle dood. Ry deur feitlik enige voorstad en jy sal pragtige tuine, groen grasperke met kleurvolle blomme en plante sien. Veral naweke sien jy huiseienaars in hulle tuine, besig om nat te maak, te snoei, te verfraai en misstof toe te dien.
Maar dan kom ʼn mens by die enkele huis wat die mooi tuintonele versteur. Niks is versorg nie: die grasperk is nie gesny nie, dit is verwaarloos en verwelk en onkruid groei orals hoog en smoor die plantlewe. Alles spreek van doodgaan en die hele toneel roep uit, "Verwaarlosing! Traagheid! Luiheid!"
Salomo beskryf so ʼn toneel: "Ek het by die land van ʼn lui man verbygeloop, en langs die wingerd van die verstandelose mens, en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi. En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem: Nog ʼn bietjie slaap, nog ʼn bietjie sluimer, nog ʼn bietjie handevou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek aan baie dinge soos ʼn gewapende man" (Spreuke 24:30-34).
Salomo sê vir ons, "Alles is deur loutere verwaarlosing verniel. Ek het eerstehands gesien wat gebeur as jy lui is en ek het dit ter harte geneem." Die les geld ewewel as God se Woord en gebed verwaarloos word. As jy deelname aan die soete gemeenskap met die Here nalaat en nie waardevolle tyd met sy Woord spandeer nie, sal jy deur die swaartekrag van die vlees aangetrek word. En die krag van verwaarlosing is afwaarts. Niemand is moeiliker om wakker te maak nie as 'n louwarm Christen wat deur sy verwaarlosing afwaarts getrek word.
Ek dink aan ʼn voorbeeld uit my eie tuin. ʼn Boom wat ek eens op ʼn tyd in die koelte geplant het, het begin kwyn. Ek besluit toe om dit in die son oor te plant, en ek het ʼn punt daarvan gemaak om dit elke dag water te gee, met ʼn lepelvol Miracle Grow plantkos in die water gemeng. As ek ʼn dag oorgeslaan het, het die boom se blare begin hang. Maar sodra ek dit met die Miracle Grow mengsel nat gemaak het, was dit verkwik en het dit weer reggekom.
Liewe heilige, jou Bybel is suiwer Miracle Grow. Verwaarloos jy dit sal jy vind jou siel verwelk. Maar as jy jou siel gereeld met hierdie "wonderkos" versorg, sal jy weer herstel tot volle krag en lewe.
Laat ek weereens uitklaar vir wie hierdie boodskap van die Heilige Gees bedoel is. Dit is nie aan sondaars gerig nie, maar aan oorwinnende Christene: jy en ek. Ek hoor die Gees sê, "David, liefhebber van Christus, Bybel leraar, jy praat met ander hoe jou lewe en bediening deur gebed verander is. Maar het jy my Woord verwaarloos? As jy wat ek vir jou gesê het nie ernstig opneem nie en die skipbreuk van die nalatiges om jou ignoreer, sal jy die stadige aantrekkingskrag van laksheid ervaar. ʼn Onsigbare swaartekrag-bedwelming sal in jou gees begin en jou louwarm laat word.
Moet nie ʼn fout maak nie: hierdie boodskap is nie oor wettisisme nie maar oor eie verantwoordelikheid. Paulus praat met Timótheüs oor hierdie einste saak en onderrig sy jong helper: "Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlingskap. Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees. Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel die wat jou hoor" (1 Timótheüs 4:13-16).
Paulus praat natuurlik hier oor om God se Woord te lees. En hy sê aan Timótheüs "Let daarop, dink daaroor na, en gee jouself geheel en al daaraan oor."
ʼn Ander les van die natuur openbaar wat gebeur as ons die goeie stryd verruil vir ʼn makliker uitkoms en van ons stryd af wegloop. Ek het onlangs ʼn studiestuk van ʼn bioloog oor krappe gelees. Hulle is skepsels wat in ʼn onstuimige, gevaarlike omgewing tussen skerp rotse lewe. Krappe word daagliks deur die branders rond geskommel en van alle kante deur kreature uit die dieper waters aangeval. Hulle stry aanhoudend om hulself te beskerm, en mettertyd ontwikkel hulle ʼn sterk dop en sterk instinkte vir oorlewing.
Dit is verbasend dat sommiges in die krap familie die stryd om oorlewing opgee. In hulle soeke na 'n veilige heenkome, vind hulle verblyf in die verwerpte doppe van ander seediere. Hierdie krappe staan bekend as kluisenaarkrappe. Met veiligheid die voorkeur, onttrek hulle hul uit die geveg en ontsnap in tweedehandse, pasklaar wonings..
Maar die kluisenaarkrappe se "veilige wonings" is duur en noodlottig. Deur hulle gebrek aan stryd, verval noodsaaklike dele van hulle liggame. Hulle organe verswak omdat dit nie gebruik word nie. Mettertyd verloor die kluisenaarkrap al sy krag om te beweeg asook ander noodsaaklike lede wat nodig is om te ontsnap. Hierdie liggaamsdele val net eenvoudig af. Dit plaas die krap buite gevaar maar laat die krap magteloos om enige iets anders te doen as om net te bestaan.
Intussen het die krappe wat die stryd volgehou het, aangehou groei en floreer. Hulle vyf paar bene het fris en sterk geword van die sterk strome wat hulle moet weerstaan. En hulle het geleer om van hulle roofvyande weg te kruip deur vernuftig onder die rots formasies in te vlug.
Hierdie wet van die natuur openbaar ook die wet van die Gees. As gelowiges word ons deur die golwe rondgegooi en geteister met golf na golf van moeilikhede. Ons kom van aangesig tot aangesig te staan teen venynige plunderaars in Satan se owerhede en magte. Maar namate ons veg word ons sterker. En mettertyd herken ons die geslepenheid van die duiwel wanneer hy hulle teen ons ontplooi. Ons ontdek ons ware skuilplek, die "spleet in die rots", deur op Jesus te vertrou. Alleenlik dan is ons in die hitte van die van ons stryd veilig.
ʼn Christen wie hom beywer vir "vrede en veiligheid teen enige prys" en bloot aan verlossing klou, betaal ʼn duur geestelike prys. Dus, hoe kan ons waak daarteen om van Chrisrus af weg te dryf en "so ʼn groot saligheid" verwaarloos? Paulus sê vir ons hoe: "Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie" (Hebreërs 2:1).
God stel nie daarin belang of ons deur sy Woord kan spoedlees nie. Om baie hoofstukke in een dag deur te lees of om die Bybel vinnig deur te lees mag vir ons voel dat ons iets bereik het. Maar dit is van groter belang dat ons "hoor" wat ons lees met ons geestelik ore en daaroor na te dink sodat dit in ons harte "gehoor" word.
Om standvastig in God se Woord te bly, was vir Paulus nie ‘n kleinighed nie. Hy waarsku liefdevol, "Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie" (Hebreërs 2:1). Hy sê ook, "Ondersoek julself of jul in die geloof is; stel julself op die proef. Of is jul nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle minstens nie verwerplik is nie!" (2 Korinthiërs 13:5).
Paulus beweer nie dat hierdie gelowiges verwerplik en sleg is nie. Inteendeel, hy moedig hulle aan, "As geliefdes in Christus, toets julself. Stel ʼn geestelike besteklys op. Jy weet genoeg van jou wandel met Jesus om te weet dat hy vir jou lief is, dat hy nie van jou weggedraai het nie, dat jy vrygekoop is. Maar vra jouself af: hoedanig is my gemeenskap met Christus? Bewaar jy dit met ywer en toegewydheid? Steun jy op Hom in jou moeilike tye?"
"Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou" (Hebreërs 3:14).
Miskien besef jy, "Ek sien dat ek in my lewe ʼn bietjie weggedrywe het en dat ek geneig is om te sluimer. Ek weet ek bid al minder en minder. My wandel met die Here is nie wat dit behoort te wees nie."
Toe ek die Heilige Gees gevra het om my te wys hoe om teen verwaarlosing te waak, het Hy my gelei om oor Petrus se wegdrywe en sy uiteindelik vernuwing na te dink. Hierdie man het Christus ontken terwyl hy selfs gevloek het en aan sy beskuldigers gesê, "Ek ken hom nie."
Wat het gebeur? Wat het Petrus tot op daardie punt gedryf? Dit was trots, die gevolg van selfregverdigende grootpratery. Hierdie dissipel het aan homself en ander gesê, "Ek sal nooit my liefde vir Jesus laat koud word nie. Ek het ʼn punt in my geloof bereik waar ek nie nodig het om gewaarsku te word nie. Ander mag wegdrywe maar ek sal vir my Here sterf."
Tog was Petrus die eerste van die dissipels wat die stryd prys gegee het. Hy het sy roeping versaak en na sy ou loopbaan teruggekeer en aan ander gesê, "Ek gaan visvang." Wat hy eintlik gesê het, is, "Ek kan dit nie hanteer nie. Ek het gedink dat ek nie kon misluk nie maar niemand het ooit God erger as ek gefaal nie. Ek kan nie meer die stryd in die gesig staar nie."
Op daardie tydstip het Petrus reeds bely dat Hy Christus verloën het. Verder was hy in Jesus se liefde herstel toe Christus in die geslote vertrek aan sy volgelinge verskyn het en die Heilige Gees "op hulle geblaas" het. Petrus was vergewe, van sy wegdrywe genees, en hy was Gees vervuld. Maar hy was binne-in steeds ʼn brose man.
Nou, terwyl Jesus vir sy dissipels wag om na die strand toe terug te keer, was daar in Petrus se lewe ʼn saak wat nie uitgeklaar was nie. Dit was nie vir Petrus voldoende om herstel en verseker van sy verlossing te wees nie. Dit was nie genoeg dat hy soos enige ander toegewyde gelowige sou vas en bid nie. Nee, die saak wat Chrisus in Petrus se lewe wou aanspreek was verwaarlosing in ʼn ander vorm. Laat ek verduidelik.
Terwyl hulle op die strand om die vuur sit en eet en gemeenskap hou, vra Jesus drie maal vir Petrus, "Het jy vir My meer lief as die ander?" Elke keer het Petrus geantwoord, "Ja, Here, U weet dit," en Christus antwoord op sy beurt, "Laat My skape wei." Let op dat Jesus hom op daardie tydstip nie herinner het om te waak en te bid nie of om God se Woord pligsgetrou te lees nie. Christus het aanvaar dat hul daarin reeds goed onderrig is. Nee, die opdrag wat Hy Petrus gee was, "Laat My skape wei."
Ek glo dat in hierdie eenvoudige paragraaf het Jesus Petrus geleer hoe om teen verwaarlosing te waak. Hy het in wese gesê, "Ek wil hê jy moet van jou fout vegeet, vergeet dat jy van My af weggedryf het. Jy het nou na My toe teruggekeer, en Ek het jou vergewe en herstel. Dus is dit nou tyd om jou fokus van jou vertwyfelinge, mislukkings en moeilikhede af weg te neem. En die wyse om dit te doen is om my mense nie te verwaarloos nie en hulle te bedien in hulle behoeftes. Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek jou."
Die punt is, ek kan myself aan baie gebed oorgee, ʼn ywerige student van die Bybel wees, my liggaam onder beheer bring, die voorkoms van die bose vermy, gereeld vas en Christus hartstogtelik liefhê. Ten spyte daarvan dat ek al hierdie dinge doen, is dit vir my nog steeds moontlik om die groot saligheid wat aan my gegee is, te verwaarloos. Hoe? Deur myself van die behoeftes van mense af te sluit. As ek al hierdie dinge doen maar nogtans nie gepla is oor die verlorenes en behoeftiges nie, of die gekwetste mense in Christus se liggaam ignoreer, het ek ʼn soos kluisenaarkrap geword wat net op my eie behoeftes en veiligheid ingestel is.
Pastore het my hartseer vertel, "Ek kan nou nie werkers of vrywilligers vir enige iets kry nie. Na kerk haas almal hulle na hul motors toe, en hulle stop nie om hulp met ons bediening aan te bied nie." Wat ʼn tragiese beeld van so ʼn kerk: vol geestelike swakkelinge, eens kragtige mense wat die roete van die kluisenaarkrap geneem het.
Handelinge bied ʼn voorbeeld van ons roeping om op ander se behoeftes eerder as ons eie te fokus. Na die uitstorting op Pinkster, het die mense, "volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede" (Handelinge 2:42). Dit was goed dat die apostels die ander gehelp het om in die Woord en in gebed te bly.
Toe het Petrus en Johannes na die tempel toe gegaan om te bid en het daar ʼn verlamde man wat hulle vir almoese gevra het, gesien. Duidelik het die dissipels hierdie man vantevore hier gesien, want hulle was al by ander geleenthede in die tempel en hy was gereeld daar gesien bedel.
Hierdie keer het Petrus die bedelaar in die lig van Jesus se woorde aan hom gesien: "Laat My skape wei". En die dissipel het gereageer. Die Skrif sê hy "het hom stip aangekyk" (3:4), en hierdie keer het Petrus nie sy roeping verwaarloos nie. Hy het besluit "Ek moet iets doen," en hy het begin deur die man se hand te neem en hom op te rig. Die res van die verhaal is bekend: dat die verlamde man opgespring het en God geprys het, ten volle genees.
Dikwels is ons oë soos die van die seldsame visspesie wat ek genoem het: hulle blyk funsioneel te wees maar "sien" in werklik nie. En die waarheid is, daar is altyd behoeftes wat Jesus ons sou laat aanspreek het en wat altyd voor ons oë is. Ons het net geestelike oë nodig om dit raak te sien.
As jy volhard in gebed en God se Woord, sal jou siel floreer. Nou is egter die tyd om die Heilige Gees te vra om jou oë oop te maak om die behoeftes wat op jou drempel is, raak te sien. Hy sal getrou wees om jou na geleenthede te lei waar jy kan bedien en om jou ʼn behoefte uit te wys waarby jy gereeld verby gegaan het, maar nog nooit "raakgesien" het nie. As jy op sulke leiding reageer sal jy nooit wegdryf nie. Dit sal jou veilig hou en is jou muur van beskerming: "Laat My skape wei."