SY HEERLIKHEID AANSKOU

Gary Wilkerson

“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U my gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U my liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld” (Johannes 17:24, my beklemtoning). Jesus het dit vir sy dissipels gebid – en dit sluit ons in. Hy het die Vader gevra dat ons sy heerlikheid mag sien, wat beteken om Hom te ken.

Daar was sekere tye in die Ou Testament toe Jesus Homself geopenbaar het in menslike of engelagtige vorm. Jy weet wat daardie kere gebeur het. Toe Jesaja God se heerlikheid in die tempel gesien het, het sy liggaam gebewe en hy het op sy aangesig neergeval. Toe Jakob probeer het om met die Here te stoei, het Hy Jakob se heup ontwrig. Toe Moses gevra het om God se heerlikheid te sien, het die Here vir hom gesê, “Reg, maar eers moet jy jou gesig toemaak. Dan moet Ek jou wegsteek agter ‘n rots. Slegs dan kan Ek jou My nagloed van agter laat sien...” Kortom, Hy moes Moses beskerm teen die volle openbaring van Homself. Dit was nie ‘n maklike ding om in die heerlike teenwoordigheid van die Heilige te wees nie!

Dit het nie nét in die Ou Testament gebeur nie. Toe Petrus Jesus die eerste keer ontmoet het, het hy op sy aangesig neergeval, skielik bewus van sy onwaardigheid en het verklaar, “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man” (Lukas 5:8). Daar was geen ligsinnigheid in ‘n ontmoeting met die Here nie. Dit was ook waar van die apostel Johannes, verban op Patmos, toe hy die Openbaring ontvang het. Toe die Here se stem die eerste keer met hom gepraat het, het Johannes vreesbevange op sy aangesig neergeval.

Ons weet vanuit die Skrif dat dít die normale reaksie is van mans en vroue wanneer hulle Jesus sien. Dit skep die vraag: Het óns Jesus gesien? Is óns verander deur die geringste glimpsie van sy teenwoordigheid in ons lewens? Wat sal gebeur as ons Hom sou sien soos Moses, Jesaja of Johannes of Petrus?