Teen Hierdie Tyd Behoort Julle Leraars te Wees

David Wilkerson

Die skrywer van Hebreërs sê vir sy lesers, “Teen hierdie tyd behoort julle leraars te wees” (Hebreërs 5:12, my parafrase). Dit is sterk, moedige woorde. Met wie praat die skrywer hier? Kortliks, wie vermaan hy? Die boek Hebreërs wys ons hy praat met gelowiges, wat goed geskool is in Bybelse waarhede. Met ander woorde, hulle wat hierdie brief lees, het onder kragtige prediking van vele gesalfde bedienaars gesit. Dink aan alles wat hierdie Christene geleer is:

  • Hulle het van Jesus se priesterskap en sy voorbidding vir hulle voor God se troon geweet. Hulle het geweet van sy uitnodiging om met vrymoedigheid na die troon te gaan om genade in hulle tyd van nood te ontvang. Hulle is geleer dat ‘n bonatuurlike rus tot hulle beskikking was, as hulle geloof sou voeg by die heilige Woorde wat hulle gehoor het.
  • Hulle was geleer dat die Here aangeraak was en meegevoel gehad het met hulle gevoel van swakheid. En hulle het geweet dat Christus in alle opsigte soos hulle versoek was, maar nie gesondig het nie. Verder, net soos God sy engele gestuur het om Jesus in sy tyd van nood te bedien, sou die Here ook engele na hulle stuur om hulle te bedien. “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Hebreërs 1:14).
  • Hulle was vermaan, “As ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Hebreërs 3:6). En hulle het duidelike waarskuwings ontvang van hoe ongeloof die Heilige Gees bedroef: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:12).

Hierdie gesonde leer word gevind in die eerste vier hoofstukke van Hebreërs. In hoofstuk 5, praat die skrywer met hulle wat bymekaargekom het:

“Nadat julle in al hierdie dinge onderrig is, het julle traag geword om te hoor. Teen hierdie tyd, met al julle Bybel kennis, is julle veronderstel om al leraars te wees. Maar dit is duidelik dat julle iemand nodig het om julle weer van voor af die basiese beginsels van God te leer. Julle het steeds melk nodig, terwyl julle veronderstel is om nou al vaste kos te eet” (sien Hebreërs 5:11–12).

Dink aan wat die skrywer hier sê. Hy vertel kortliks aan sy lesers, “Teen hierdie tyd moet julle standvastige voorbeelde vir julle kinders wees. Julle geloof moet onwrikbaar wees. Julle moenie langer kla of murmureer in julle verdrukkinge nie, maar in plaas daarvan moet julle gewillige deelgenote van Christus se lyding wees. Julle is nie veronderstel om een oomblik warm te wees en dan skielik koud te word, wanneer die vyand instroom soos ‘n rivier nie.”

Ek vra jou, is hierdie woorde op jou van toepassing? Dink aan alles wat aan hierdie huidige geslag Christene geleer is. Hoeveel preke het ons gehoor wat ons uitgedaag het om die Here in alle dinge te vertrou? Hoeveel keer het ons gehoor van God se fenominale beloftes? Hoeveel preke waarin ons geloof opgewek is, het ons ingeneem? Hoe dikwels was ons geseën deur ‘n boodskap van God se getrouheid? En hoe dikwels word ons terneergedruk wanneer ‘n beproewing kom?

Vandag in die kerk, is menigtes goed geleer, vol Bybelse waarhede en is ervare “preekproeërs.” Inderdaad, dit is óns aan wie die skrywer van Hebreërs hierdie brief rig. En hy vertel vir ons, “Teen hierdie tyd is julle veronderstel om leraars in julle voorbeeld te wees. Maar in plaas daarvan, wankel julle geloof steeds in tye van stryd.”

In Deuteronómium 11 vind ons Israel by die Jordaanrivier, op die punt om die Beloofde Land binne te gaan.

Voor God se volk Kanaän binnegegaan het, het Moses hulle byeengeroep vir ‘n spesiale boodskap van die Here. Onthou, dit was nie die geslag wat verdoem was om in die woestyn te sterf weens hulle ongehoorsaamheid nie. Dit was eerder die geslag wat daardie ongelowige geslag opgevolg het. Toe hulle vaders die Rooi See oorgesteek het, was hierdie mense steeds jonk, tussen babajare en twintig jaar oud. Nou was baie van hulle oor die vyftig jaar oud en hulle eie kinders was die derde geslag.

Moses het begin om hierdie “middelgeslag” met die volgende woorde te vermaan: “En julle moet vandag weet dat ek nie spreek tot julle kinders wat die onderwysing van die HERE julle God nie geweet en nie gesien het nie: sy grootheid, sy sterke hand en sy uitgestrekte arm” (Deuteronómium 11:2).

Moses het dit duidelik gemaak: “Die boodskap wat ek op die punt is tot julle te spreek, is nie aan julle kinders gerig nie. Dit is nie bedoel vir hulle wat nie die wonderwerke gesien het wat julle gesien het nie. Dit is nie vir hulle wat nie die tugtiging van die Here geken het nie. Dit is nie vir die onbeproefdes nie, hulle wat nie God se wonderlike mag te midde van hulle beproewing ervaar het nie.

“Nee, hierdie boodskap van die Here is gerig aan julle wat deeglik beproef is. Julle het God se tugtiging eerstehands ervaar. Julle het deur baie beproewings gegaan, was ooggetuies van groot verlossings en julle het God se wonderlike beloftes vervul gesien.” “Maar julle eie oë het gesien al die groot werke wat die HERE gedoen het” (Deuteronómium 11:7).

Waarom wou die Here hierdie boodskap baie duidelik maak aan hierdie middelgeslag Israeliete? Dit was omdat hulle kinders nooit gesien het dat Hy groot wonderwerke in hulle leeftyd gedoen het nie. Die derde geslag het eenvoudig God nie geken soos hulle ouers nie. En nou het die Here in wese aan die ouers gesê:

“Dink aan waar julle nou is, op die grens van die Beloofde Land. Julle verkenners het gerapporteer dat daar reusagtige vyande in die land is, met hoë mure wat hulle stede omring. Verstaan julle wat gaan gebeur? Julle kinders gaan nuwe oorloë, wat julle nie gehad het nie, moet veg. Hulle gaan versoekings verduur wat julle nie eers aan kan dink nie. Hulle gaan te staan kom teen oorweldigende beproewings. En hulle is nie soos julle vir die stryd voorberei nie.

“Julle kinders gaan leermeesters nodig hê, omdat hulle geloof nog nie in die vuur was nie. Julle moet nou hulle leermeesters word. Kortliks, julle lewens en geloof moet voorbeelde vir hulle geslag wees. Inderdaad, ek het julle geroep om leermeesters te word vir elke geslag wat sal volg, almal wat onseker en ongegrond in hulle geloof is.”

“Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ‘n teken op julle hand en laat dit as ‘n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronómium 11:18–19).

God het hierdie middelgeslag in duidelike taal vertel: “Dit is julle voltydse roeping as my  dienaars. Julle moet altyd standvastig wees en nooit twyfel in julle vertroue in My nie. Op hierdie manier sal julle kinders my magtige hand aan die werk in julle lewens sien. Hulle sal bemoedig word deur die vrede wat julle het, te midde van julle verdrukkinge.”

Ek wil nou met God se mense van vandag praat, insluitende elke volwasse dienaar van die Here wat in die Bybel onderrig is.

Dink aan alles wat ons geslag geleer het. Oor die jare het ons, wat die Here intiem geken het, baie wonderwerke beleef. Ons was geseën met sy verlossings uit groot beproewings en versoekings.

Dekade na dekade het ons God getrou bewys te midde van benarde omstandighede. Ons het Hom as ons bron van krag geken. Ons was dikwels aangeraak deur Christus se genesende hand. Ons het die vertroosting en leiding van God se Gees op elke terrein geken. Ons het groot kennis van die Here se vele kosbare beloftes, omdat ons beleef het dat Hy hulle getrou vervul het oor die jare.

Sien jy waarna ek hiermee mik? Ja, geliefde, teen hierdie tyd moet ons al leraars gewees het!

Die feit van die saak is egter, dat ons prediking en ervarings nog nie die jong geslag ná ons aangeraak het nie. Hierdie jonges het nog nie lief geword vir God se Woord nie, omdat hulle nog nie gehoor het dat dit suiwer verkondig word nie. In plaas daarvan, is hulle meestal in die kerk ingelok met vleesgesentreerde aktiwiteite en vermaak. Toe hulle eers binne die kerk was, was die enigste evangelie wat hulle gehoor het, een wat maklik is, sonder enige toewyding. En daardie maklike boodskap het hulle totaal gefaal.

Ek weet dat ‘n paar kerke is wat uitreik na groot getalle jongmense. Maar in die meeste gevalle, het die opkomende geslag nog nie God se wonderwerkende krag gesien of ervaar nie. Sê vir my, na wie toe sal hulle gaan? Na my mening, word hulle verknorsing uitgebeeld in die opskrif van die Wall Street Journal: “The World Has Lost All Trust.”

Die profeet Jesaja het gepraat van ‘n komende dag, wanneer die wêreld “brood van benoudheid en water van bedruktheid” (Jesaja 30:20) sal eet en drink. Jesaja het voorspel dat uit hierdie verdrukkinge en swaarkry, daar ‘n hulpgeroep sal kom. En wanneer God daardie hulgeroep hoor, sal Hy “sekerlik...jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou” (Jesaja 30:19).

Wat ‘n geweldige belofte: Wanneer God sy mense hoor roep uit hulle teenspoed uit, sal Hy hulle antwoord. Hoe sal Hy dit doen?

“Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê; Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20–21).

Sien jy wat Jesaja vir ons vertel? Te midde van ‘n rampspoedige tyd, is daar ‘n hulpgeroep wat tot in die hemel oprys. En wanneer daardie hulpgeroep God se ore bereik, sal Hy ‘n onsigbare, onbekende leër van leraars stuur om ons te lei. Hierdie bedienaars sal opgewek word tydens die moeilikste van tye, wanneer daar baie chaos en verdrukking is, baie strominge en vrese en alles lyk of dit te veel is om te verdra. Dit is die oomblik wanneer God se mense sy leraars die nodigste sal hê.

Wie is hierdie onbesonge bedienaars wat na vore moet kom?

Dit is die leraars waarvan Moses praat, diegene wat deur die skrywer van Hebreërs genoem word. Paulus praat ook van hulle en noem hulle “lewende briewe.” Net soos Jesaja verklaar het, sal hierdie leraars nie langer verborge wees nie, maar na vore kom om deur almal gesien te word.

Sulke leraars mag dalk nooit in ‘n preekstoel gestaan het om te preek nie. Hulle mag dalk nooit lesse gegee het of ‘n tuisbybelstudie onderrig het nie. Inderdaad, hulle mag dalk geen oratoriese vermoëns hê nie. Wat hulle egter wel sal hê, is ‘n stryd-oorwinnende geloof wat allerhande beproewings en verdrukkinge deurgemaak het.

Op die oomblik mag baie van hierdie leraars kniediep wees in hulle eie lyding. Sommige mag vier-en-twintig uur van die dag teenspoed beleef, waarin hulle aaklige pyne en nimmer-einigende beproewings verduur. Maar hierdie dienaars is oorwinnaars. Uit hulle situasies wat deur mismoedigheid en wanhoop verduister word, verrys hulle met ‘n kragtige geloof. Hoe is dit moontlik? Daagliks oorwin hierdie dienaars die vyand deur hulle geloof wat hulle met die beloftes in God se Woord verenig het.

Hierdie mense kan ‘n boek skryf oor wat hulle gely het. En deur dit alles heen, het hulle nie paniekerig geword nie. In plaas daarvan, het hulle aangehou om vorentoe te beweeg met ‘n blywende hoop en met hulle versekering in die Here, wat gegroei en sterker geword het. Dink aan die volgende voorbeelde:

  • Een leraar is ‘n toegewyde vrou van God wat ‘n nimmereindigende beproewing ondergaan. Daagliks het sy die desperate taak om beide vir ‘n verstandelik gestremde seun en ‘n bejaarde skoonma met demensie se sorg. Hierdie vrou moet heeltyd waaksaam wees, want enige van die twee mag wegloop of die huis afbrand. Sy vertel hoe moeg sy soms word en wonder of sy deur nog ‘n dag gaan kom.

    Wat dit vir haar op neerkom, is eenvoudig: Sy bid. Hierdie vrou weet eerstehands toe om met vrymoedigheid na God se troon van genade te gaan om genade in haar tyd van nood te ontvang. Sy skryf dat sy groot inspuitings van krag en troos van die Heilige Gees ontvang. En nou, deur haar voorbeeld, leer sy ander hoe om te oorwin te midde van teenspoed.

  • Ek weet van ‘n goddelike pastoor wat op ‘n hartoorplanting wag. Weens hierdie man se toestand, is hy nie langer in staat om te preek nie. Hy het geen werk of enige versekerde inkomste nie en sy hartmedisyne is baie duur. In terme van sy gesondheid, is hy ‘n wandelende tydbom.

    Tog is hierdie pastoor een van die verborge leraars wat die Here na vore bring vir almal om te sien. Hy het eens in die geheim gely, maar nou is hy ‘n voorbeeld vir almal rondom hom. Met verloop van tyd, het hy sy bekommerde familielede se geloof aan die brand gesteek, soos hulle gesien het hoe sy vertroue in die Here dag vir dag gegroei het. Ek het van hom verneem by ‘n paartjie in die bediening, wat hom ken en sy onwrikbare geloof gesien het.

    Soms voel hierdie kosbare man dat hy geen bediening het nie. Maar in werklikheid, leer hy onbekende menigtes wat nodig het om te weet van God se getroudheid te midde van teenspoed.

Jy is ook een van God se lewende briewe, bekend aan en gelees deur almal rondom jou.

Liewe heilige, ek wil vir jou ‘n vraag vra: Wat sê jou lewe aan hulle rondom jou? Hoe lees die boek van jou lewe?

Ek verheug my oor die baie getuienisse wat nou by ons kantore instroom. Ons lees stories van dienaars wat vol hoop is ten spyte van werkloosheid, hulle wat vrede het ten spyte van fisieke ongesteldheid, hulle wat moed het te midde van eindelose lyding. En hulle het almal een ding in gemeen: Hulle bid.

Hulle is leraars, lewende briewe, God se liefdesbriewe aan ‘n wanhopige wêreld. En hulle het so geword deur in voortdurende gemeenskap met die Here te wees tydends elke beproewing en stryd. Hulle vertrou geheel en al op Jesus om hulle krag te vernuwe om voort te gaan. Hulle is heeltemal afhanklik van die Heilige Gees vir leiding. En hulle gaan voortdurend na God se genade troon in hulle tyd van nood.

Ek vra jou: Is jy ‘n leraar in moeilike tye waartydens jy ander bedien deur jou voorbeeld? Dit is onmoontlik om geloof te behou sonder om met vrymoedigheid in gebed na die troon te gaan vir alles wat jy nodig het. Ek moedig jou aan, gaan daagliks na die Here vir al die genade wat jy nodig het. Hy roep jou as een van sy leraars!