Ten Volle Oortuig

David Wilkerson

“Want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pant te bewaar tot dié dag toe” (2 Timótheüs 1:12, kursief, myne).

Dit is die woorde van ‘n sterwende man. Die apostel Paulus het met sy leerling, die jong leraar-in-opleiding, Timótheüs, gepraat. Later, in dieselfde brief, het Paulus aan Timótheüs hierdie gewigtige woorde toevertrou: “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (Timótheüs 4:6-7).

Hoewel Paulus hierdie woorde aan Timótheüs gerig het, spreek sy boodskap tot elke dienaar van Christus wat groot verdrukking ly. Beskou die konteks: Op die ergste punt van sy eie folterende beproewing — op die randjie van die dood — was Paulus ten volle oortuig van God se liefde vir hom. Verder was hy oortuig van die Here se vermoë om sy “pant [dit wat hy aan Hom toevertrou het] te bewaar” ten spyte van alle bewyse daarteen.

Geliefde, hierdie raad van Paulus is bedoel vir elkeen, wat daagliks deur sataniese magte geteister word in ‘n verwoede geestelike oorlog, waarin hulle groot ontberinge verduur as goeie krygsmanne. Hoe was dit moontlik dat Paulus in staat was om met vrymoedigheid van God se getrouheid in elke beproewing te praat? Presies waarvan was hy so oortuig van die Here, dat dit aanleiding gegee het tot die geboorte van so ‘n groot geloof?

Paulus het nooit uitgespel wat sy “pant” was wat hy aan die Here toevertrou het “tot daardie dag” nie. Ons kan net raai wat daardie dinge was. Soos Paulus, moet ons egter ook ten volle oortuig wees van God se getrouheid, om daardie dinge wat ons aan Hom toevertrou het, te bewaar. Inderdaad, om ons beproewings in hierdie moeilike dae te trotseer, is daar verskeie dinge waarvan ons ten volle oortuig moet wees oor ons Here.

1. Ons moet ten volle oortuig wees dat niks ons ooit van die liefde van God in Christus Jesus kan skei nie.

Paulus het aan die kerk in Rome geskryf:

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:38–39).

Voor Paulus hierdie moedige verklaring gemaak het, het hy eers hierdie vraag gevra: “Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?...Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:35, 37).

Uit Paulus se vraag is dit duidelik dat hy Satan se sending in hierdie laaste dae herken het: om God se mense te verhinder om in sy groot liefde te wandel. Dit is jammer dat menigtes in die kerk vandag blind is vir hierdie misleidende werk van die vyand. Baie leef totaal onbewus daarvan dat hy suksesvol was om hulle te keer om God se liefde vir hulle te ken en te geniet.

Moenie my verkeerd verstaan nie: Ons mag nooit ons vyand vrees nie. Maar as ons nie waaksaam is teen Satan se subtiele aanvalle op ons geloof nie, dan sal ons aanhou om verslane lewens te leef. Paulus het geweet hoe belangrik dit is om die duiwel se leuens te ontbloot. Slegs as ons hierdie aanvalle op ons geloof kan identifiseer, sal ons saam met Paulus kan sê, “Want ek is oortuig en versekerd dat niks, geen leuen, geen misleiding, geen beskuldigings — my kan skei van die liefde van God, wat in Christus Jesus is nie.”

Ons moet weet dat Satan vasbeslote is om elke Heilige Gees-geleide bediening stop te sit en om elke Gees-geleide, oorwinnende kind van God te neer te slaan in hierdie laaste dae. Hy teiken nie net diegene op die kansel nie, maar elke gelowige wie se geloof effektief is teen sy koninkryk van die duisternis.

In die afgelope paar jaar, het ek ‘n toenemende innerlike bewustheid, dat die lyding en verdrukkinge van God se uitverkorenes vandag meer is as enigiets, wat in die geskiedenis van Christus se kerk verduur is.

God se regverdiges het nog altyd baie verdrukkinge beleef. Hebreërs 11 getuig daarvan. En nou sê die Skrif, dat Satan teen die kerk uitgevaar het omdat hy weet dat sy tyd aan die uitloop is: “Want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Die wederkoms van die Here Jesus is voor die deur. En so, kom die vyand van ons siele in groot woede met ‘n poging om selfs die uitverkorenes van God te mislei. Op hierdie oomblik, probeer legioene van Satan se teisterende boodskappers om God se uitverkorenes te ontmoedig en te vernietig. Paulus getuig van die hewige aanval in sy eie lewe en verklaar, “Satan het ons verhinder” (1 Thessalonicense 2:18).

In die laaste eeu, het T. Austin-Sparks geskryf oor die duiwel se laaste-dag oorlogvoering. Hierdie goddelike leraar het die volgende gesien: “baie dinge word deur Satan beperk, verhinder en lamgelê. (Menigte van Christene is) nie in staat om te funksioneer om hulle bediening te volbring nie...weens die Satan se belemmering.”

Soos Paulus voor hom, het Austin-Sparks God se mense gewaarsku teen die duiwel se aanvalle. En hy het gelowiges aangemoedig om by God in te tree om die Satan van sy hoë plek van waar hy “die broeders aankla” neer te werp.

Ek glo dat sulke voorbidding in die hart is van elke gelowige wat Satan se belemmerende werk beleef het. Hierdie gelowiges ken eerstehands die stryd wat ons vyand voer teen almal wat lewe volgens Christus se heilige roeping.

Ek het begin glo dat voorbidders Satan se belangrikste teikens is.

Wat is ‘n voorbidder? Eenvoudig gestel, dit is iemand wat die behoeftes en laste van ander in gebed opdra. So ‘n dienaar hou nooit op om vir Christus se kerk, of vir enigiemand wat die Here op sy hart gelê het, te bid nie.

In elke eeu, het God voorbidders op die voorste linies van die geveg teen Satan se owerhede en magte geplaas. Vandag kan hierdie geestelike krygsmanne in elke land gevind word. En daar is ‘n rede waarom hulle “gebedstryders” genoem word. Baie voorbidders wat aan ons bediening skryf, beskryf die hewige geestelike oorlog in hulle eie lewens.

‘n Voorbidder van 91-jaar het die volgende geskryf: “Nadat ek die Here vir so lank al dien, voel ek uitgebrand deur alles wat teen my kom. Na jare van lyding, is my liggaam swak — van al die bekommernisse en beproewings van ander wat gedurig voor my is...Vandat ek 4 jaar oud was, het ek ander liefgehad en vir hulle gebid. Ek was ‘n voorbidder gedurende al hierdie jare...Ek neem die grond terug wat Satan van my probeer wegneem, deur in die Gees te bid...en kry nuwe krag.”

Vir ‘n hele leeftyd, het hierdie heilige Judas se vermaning ernstig opgeneem: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in julle allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar” (Judas 20–21). Die boodskap aan diegene in die geestelike oorlog is duidelik: “Bou jouself op in die geloof. Bewaar jouself in God se liefde.”

Let op dat Judas sy woorde gekwalifiseer het met ‘n vermaning om in die Heilige Gees te bid.

Dit is heeltemal onmoontlik om ons geloof op te bou deur menslike krag of vermoë. Sonder die Heilge Gees, is ons eenvoudig nie in staat om onsself in die wete en versekering van God se liefde vir ons te bewaar nie. Ons weeg nie op teen die mage van die duisternis nie. Ons kan nie eers die skild van geloof opneem, om die hel se vurige pyle te blus, deur ons gedagtes daarop te fokus nie. Ons het God se Gees nodig om ons die krag te gee in alle dinge.

In hierdie moeilike tye, is memorisering van die Skrifte op sigself nie genoeg nie. Ek het ‘n man geken wie se kennis van God se Woord so groot was dat hy “Die Wandelende Bybel” genoem was. Hierdie man kon hele hoofstukke van die Skrif uit sy kop aanhaal. Maar tydens ‘n groot beproewing in sy lewe, het hy sy geloof verlaat. Soos Paulus getuig, “Want die letter maak dood, maar die gees maak lewend” (2 Korinthiërs 3:6).

Dit is tragies dat daar te veel Christene is wat getuig dat hulle Geesvervuld is, maar eenvoudig net nie die Heilige Gees se hulp vra tydens hulle lyding nie. Hulle ken min van sy vrede en vertroosting, hoewel dit juis sy rol is om hierdie dinge te voorsien. Sulke gelowiges het nog nie geleer om heeltemal afhanklik van die Gees te wees nie, moontlik omdat hulle nie ten volle oortuig is dat hulle Hom nodig het nie.

Een probleem is dat baie Christene ‘n hiërargie op die Drie-eenheid lê, waarin ons onsself oortuig dat, “God die Vader eerste is, Jesus Christus tweede is en die Heilige Gees derde is.”

Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die Heilige Gees is self die wese van God en Hy moet aanbid en gehoorsaam word.

Na twee-en-twintig jaar waarin ek ‘n gemeente lei, het ek tot ‘n gevolgtekking gekom oor die Heilige Gees se rol in ons lewens. Kortliks, ek het geleer om nooit te probeer om aan ‘n gebroke gelowige berading te gee sonder om eers vir die Heilige Gees te bid om alle sataniese weerstand neer te werp nie. Elke volgeling van Jesus moet die duiwel se pogings herken waarin hy ons wil verhoed om God se beloftes se ken.  Eers dan is ek in staat om saam met daardie persoon te bid, sodat die Heilige Gees sy hart kan oopmaak en hy God se liefde vir hom kan ontvang.

Ek mag in staat wees om ‘n groot aantal Skrifte, wat op daardie persoon se lewe van toepassing is, aan te haal. En ek kan met liefde en deernis met hom in sy pyn simpatiseer en alles in my vermoë doen om hom te bemoedig. Maar hy moet self bewus wees van die versekering van die liefde en vertroosting wat net die Heilige Gees kan voorsien.

Elkeen wat Jesus ooit liefgehad het, moes tot die Gees uitroep om versekering, sodat hulle ten volle oortuig kon word. Dieselfde is waar vir God se kerk in veral hierdie laaste dae van oorlogvoering. Elke heilige moet van die Gees verseker weet, dat God nie vir hom kwaad is nie, dat die Here hom nie verlaat het nie en dat Jesus aangeraak word deur al sy gevoelens, pyne en seerkry.

2. Ons moet ten volle oortuig wees dat God diegene wat Hom getrou soek, beloon.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Daar is tye waarin baie van ons sukkel om geloof te verstaan. Ons almal begeer om God se beloftes op te eis, nie net vir ons eie vertroosting en seën nie, maar sodat ons Hom kan behaag. Ons wil ‘n geloof hê wat aan God eer bring.

As gevolg hiervan, word ons dikwels beswaard wanneer ons gebede nie beantwoord word nie. Ons begin om ons geloof te bevraagteken en wonder, “Is dit my vertroue op die Here wat te swak is? Is ek traag om te glo? Waarom is die hemele geslote vir my gebede? Het ek op ‘n manier getwyfel? Is ek nie ywerig genoeg nie? Is daar êrens enige wortel van ongeloof in my hart?

Ons probeer altyd so hard om te glo, so hard om die Here te behaag met ‘n behoorlike soort geloof, dat ons ons eie geloof met oordeel dwarsboom. Nou na meer as sestig jaar van diens aan God, wil ek vir jou vertel wat behoorlike geloof vir my geword het:

  • Dit beteken om aan God se beloftes vas te hou, selfs al is daar geen fisiese bewyse dat sy beloftes vervul word nie.
  • Dit beteken om die Heilige Gees te vertrou om my siel gerus te stel met die oortuiging dat God alles vir my beswil doen.
  • Dit beteken om te rus in hierdie verklaring van Paulus: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

Paulus se beroemde vers oor “alle dinge wat ten goede meewerk” sal ons geloof telkens in ons leeftyd beproef.

Vir die blote oog lyk ons omstandighede so dikwels asof dit verkeerd uitdraai. Tog, tydens elke oomblik in ons beproewing, is daar ‘n ewige werklikheid aan die werk. God beweeg alle dinge in die rigting van sy plan vir ons.

Ons weet dit was waar van die voorvader Josef. Hierdie man het dekades van eindelose beproewings verduur en dit het gelyk asof dit niks anders as tragedie voorspel het nie, “tot op die tyd dat sy woord uitgekom het” (Psalm 105:19). Tot op daardie stadium, het “die woord van die Here hom beproef” (dieselfde vers, kursief, myne).

So, kan jy saam met Josef en die apostel Paulus sê dat “alle dinge ten goede meewerk”? Is jou siel gerus dat God se voorsienigheid op een of ander manier sy plan ter wille van jou uitwerk?

Glo jy dat êrens in jou pyn — in jou aanhoudende lyding, jou verlies van kosbare drome, hoop en doelwitte — dat God die heeltyd besig is om jou dieper in Hom te neem? Dat Hy in sy onbegryplike liefde besig is om jou na ‘n beloning te lei wat in hierdie leeftyd ontvang moet word, sowel as in die ewigheid.

Die Here vertel ons in Hebreërs, “Jy moet glo dat Ek jou beloner is.” En die outeur van daardie boek vermaan, “Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry” (Hebreërs 10:36).

God kan nooit meer in sy Woord belowe as wat Hy kan vermag nie. Dit is iets wat Abraham vanaf die begin van sy geloof verstaan het. Paulus sê van Abraham, “En hy het nie in ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het” (Romeine 4:20–21, kursief, myne).

Deur sy geloof, het Abraham “aan God die eer gegee.”

Soos Abraham, gee ons aan God eer wanneer ons elke belofte van Hom ten volle omhels.

Wanneer alles in die lewe goed gaan, dan is dit vir ons maklik om te getuig, “God kan enigiets doen!” Ons kan ander maklik verseker dat God hulle gebede sal beantwoord. Ons kan met oortuiging verklaar dat die Here altyd sy Woord hou.

Maar wanneer alles rondom ons teen die vervulling van God se beloftes saamspan — wanneer alle fisiese bewyse meer soos God se toorn lyk as sy beloning — dan kom die Heilige Gees in ons na vore met woorde van ware vertroosting:

“Hou vas. Vertrou Hom! Jy is nie van God se liefde geskei nie. Hy werk elke uur aan jou situasie. So, moenie twyfel of wankel nie. In plaas daarvan, staan op en stry die goeie stryd van die geloof.”

Ek laat jou met hierdie magtige gedeelte van die apostel Paulus. Hy herinner ons aan God se oneindige getrouheid in alle omstandighede en in elke oomblik van ons beproewing:

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:35–39).

Amen!