Uit die Dieptes het Ek Geroep
"Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE! Here, hoor my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge. As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word” (Psalm 130:1-4).
Dawid het ontsaglik gely onder die Here se bestraffende roede. Op elke gebied, het dinge vreeslik verkeerd gegaan in sy lewe. Hy het oorweldigende riviere van swaarkry, verskriklike fisieke ongesteldhede, tragedie op tragedie en ‘n koninkryk in onrus gely. Sy swaarkry was so hoog opgestapel, dat hy nie gedink het hy sou oorleef nie. En hy het uitgeroep, “Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my” (Psalm 69:2-3).
Dawid se uiterlike moeilikheid het hom egter nie naastenby so baie gepla soos sy innerlike verskrikkinge nie. Hy was bang dat die Here hom heeltemal verlaat het. Hy het geskryf “U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes” (Psalm 88:7). “U grimmigheid rus op my...” (vers 8). “...ek dra u verskrikkinge...” (vers 16). “U toorngloed het oor my gegaan...” (vers 17).
Dawid het geglo dat God hom verlaat het weens sy sonde – ‘n gedagte wat hy nie kon verdra nie. Hy het by die Here gepleit, “Laat die waterstroom nie oor my loop nie en die diepte my nie verslind nie” (Psalm 69:16). Hy het in wese gesê, “O Here, asseblief – moet asseblief my nie so ver laat afgaan dat ek nie kan uitkom nie!”
Dawid was ook beangs oor die skandaal wat hy in Israel veroorsaak het. Sy sonde was ontbloot en die hele wêreld het daarvan geweet. Sy droefheid oor die skande wat hy veroorsaak het, was so oorweldigend, dat hy God gesmeek het, “...maak my nie ‘n smaad van die dwaas nie” (Psalm 39:9).
Dawid was selfs bevrees dat God sy lewe sou neem as straf vir sy sonde. Elke oomblik wat hy wakker was, was gevul met gedagtes dat hy neergeslaan sou word deur God se toorn. Hy het uitgeroep, “O HERE, straf my nie in u toorn nie...” (Psalm 38:2).
Toe hierdie angste op Dawid neergekom het, was sy siel gevul met die heilige vrees van God. Hy het bely, “As ek aan God dink, moet ek steun...” (Psalm 77:3). Dit is ‘n verwarrende stelling. Waarom sou Dawid hoegenaamd bekommerd wees as al sy herinneringe aan God se werk in sy lewe vir hom blydskap en geluk gebring het? Wat op aarde kon hom nou daaroor bekommerd laat wees?
Dawid was so beangs want al sy gedagtes was so verteer met hoe God teen sy sondes sou optree. Hy het die tug van sy Here se roede in sy vlees gevoel, die pyle van waarheid wat sy siel met geweld binnegedring het: “U pyle het in my ingebring...” (Psalm 38:3).
Hierdie man se gewete het nou ‘n swaar las op hom geplaas. Hy het geweet dat hy gesondig het teen al die liefde en lig wat hy uit die hemel ontvang het. Die Here het hom telke male genadiglik verlos van sy voormalige mislukkings. En hierdie keer, het Dawid geweet hy het verdien om eenkant toe geskuif te word. Daarom het hy net dieper in droefheid en verwarring verval en geskryf, “...my ongeregtighede het my ingehaal, en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof...” (Psalm 40:12).
Ek ken ‘n aantal Christene wat net soos Dawid is. Hulle is liefhebbers van Jesus – hulle het egter verskriklik teen die lig wat aan hulle gegee is, gesondig. Hulle het duisende regverdige preke gehoor, jarelank die Bybel daagliks gelees en tallose ure in gebed deurgebring. Tog het hulle gesondig teen al God se seëning. Hoe? Hulle het ‘n boesemsonde waarmee hulle nog nooit afgereken het nie!
Met verloop van tyd, het hulle sonde hulle afgesny van gemeenskap met Jesus. En nou het die Heilige Gees hulle gewoonte uitgewys en hou dit voor hulle. Hy waarsku hulle, “Genoeg – hierdie sonde moet weg! Die manier waarop jy aanhou om daaraan toe te gee, gaan Ek nie duld nie. Van nou af, het jy ‘n sperdatum. Ek het jou sonde aan jou geopenbaar – maar binnekort sal dit moontlik aan die wêreld geopenbaar word!”
Wanneer hulle nou God se huis binnegaan, kan hulle nie eers hulle koppe oplig nie. En hulle huil soos Dawid, “My sonde is te veel om te tel! My ongeregtigheid het so besit van my geneem. Ek kan nie eers my aangesig na die hemel draai nie!”
Hulle het al die blydskap, vreugde en vryheid wat hulle eers geniet het, verloor. Hulle is nie meer in staat om te bid of te sing met enige lewe of krag nie. En hulle dra ‘n groot gevoel van mislukkig rond. Hulle het swak, sielsiek en neerslagtig geword en is gereed om te beswyk. En hulle weet dit is alles omdat hul sonde hul gemeenskap met God afgesny het!
Beskryf dit jou siel se toestand op die oomblik? As dit so is, dank God vir sy genade. Hy plant in jou ‘n heilige vrees vir die Here! Dit is waarom jy dieper in die dieptes van oortuiging van sonde insink. Jy is onder die las van ‘n gewetenswroeging!
Talle opregte gelowiges wend ywerig ‘n poging aan om nie sy genade in losbandigheid te verander nie – Hulle besef egter hulle wandel weeg nie op teen sy heilige standaarde nie!
Die meeste Christene is verlig om te weet dat hulle nie ingesluit is in Paulus se lys van verdoemende oortredings nie: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellusteling of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9-10).
As hulle egter die volgende vers lees, voel hulle die deurdringende pyl van waarheid: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (vers 11). Skielik onthou hulle ‘n boesemsonde wat hulle nog nie in staat was om van ontslae te raak nie. Hulle dink, “Wag ‘n bietjie – ek is verlos en geheilig. Waarom kan ek nie hierdie gewoonte staak nie? Ek is nie waarlik vry nie!”
Miskien het jy onlangs teruggekeer na ‘n ou begeerte. Miskien het jy ‘n pornografiese webwerf besoek op die Internet, of jy was betrokke by owerspel of homoseksuele sonde. Of miskien het jy goedere van jou werkgewer gesteel, of jy drink skelm ‘n drankie op jou pad terug huistoe van die werk af. Wat ook al jou gewoonte is, jy weet jy is nie vry in daardie een area nie. God het dit egter baie eenvoudig gestel, “Jy kan nie my koninkryk binnekom as jy in jou sonde bly nie!”
Moenie verbaas wees om te begin voel soos Dawid nie. Wanneer die Here een van sy kinders sien stoei met een of ander begeerte of binding, maak Hy vinnig werk daarvan om ons terug te bring na ‘n pad van gehoorsaamheid, vrede en rus. Hoe doen Hy dit? Hy bring omstandighede in ons lewens wat ons forseer om ons sonde in die oë te kyk!
Dikwels beteken dit om ons af te neem in die dieptes, soos God met Jona gemaak het. Hy laat toe dat ons sy teregwysing voel en ingesluk te word deur ons omstandighede. Dit was egter in die donkerste dieptes dat Jona uitgeroep het tot God. En die Here het vinnig gereageer op sy dienaar se roepstem en hom herstel tot sy seëninge en wil!
Dit was in die dieptes wat Dawid se gebed intens geword het!
In desperaatheid, het Dawid uitgeroep, “Here, hoor my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge” (Psalm 130:2). Dit klink vir my soos die pleidooi van ‘n sterwende man. Dawid het duidelik nie net “gedagte gebede” geuiter nie. Hy was op sy aangesig op die grond – gebroke, verslae en het tot God gepleit uit die dieptes van sy hart:
“O, Heilige God Jehova – U moet my roepstem hoor! Ek kan nie meer nie. My sonde is altyd voor my en ek sink van vrees en verskrikking. God, wees my asseblief genadig!”
Dawid het geweet dat sy siel ‘n bevryding nodig gehad het. En hy het homself tot God alleen gewend om daardie bevryding te kry. Hy het tot die gevolgtrekking gekom, “Ek is in so ‘n ellendige toestand, dat net die Here my nou kan help. Ek kan nie op raadgewers, vriende en selfs familie vertrou nie. My enigste hoop is in gebed. So, ek gaan dag en nag uitroep totdat God my smeking hoor!”
Talle Christen huwelike benodig desperaat die soort bevryding wat Dawid gesoek het. Regoor die land, sien ek hoe paartjies sink in donker putte van wanhoop. Gades maak daarop aanspraak dat hulle mekaar liefhet, maar hulle kan nie eers ordentlik met mekaar praat nie. Hulle betoon meer vriendelikheid aan vreemdelinge as aan hulle eie maat. Met verloop van tyd, het hulle huis ‘n vrieskas van gemeenheid geword. Hulle weet dit nie, maar hulle is besig om te vryval na verwoesting en hulle verhouding is vinnig besig om buite beheer te raak. Miskien het jou huwelik so ver geval as wat dit kan. Jy en jou gade het die bodem getref en julle word elke oggend wakker en wonder of daar enige hoop oor is. Deesdae word julle selfs versoek om die verhouding permanent te beëindig.
Geliefde, jy moet wakker word oor jou toestand! Jy het teruggeval in ‘n donker gat, vol ongoddelike gesindhede. En hierdie toestand sal nie eenvoudig vanself weggaan nie. Tensy jy optree, sal dit net erger word, totdat een van julle die huwelik doodmaak.
Ontwaak nou vir die Heilige Gees se stem! Daar is sonde in jou huwelik – en dit word deur beide jou en jou gade gepleeg. Julle moet daarmee deel, anders gaan dit vir ewig op die bodem van die donker put bly.
So, na wie toe neem jy jou droefheid? Maak jy jou hart oop vir jou beste vriendin? As dit so is, bou jy net ‘n saak op teen jou gade? As jy ‘n berader sien, soek jy net regverdiging om dit alles te beëindig?
Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie – ek glo in huweliksberading. Maar as jy ernstig is om by die oorsaak van die probleem te kom, is daar net een plek waarheen om te gaan. Jy hoef nie verder te kyk as jou eie hart nie! Die sonde is net daar binne-in jou. En, soos Dawid, moet jy tot die Here uitroep om genade.
Het jy so desperaat geword soos Dawid? Het jy jouself met die Here afgesonder en op jou aangesig voor Hom neergeval en tot Hom uitgeroep? Eentonige, stil, lui gebede sal niks uitrig nie. As jy nie jou siel voor God ontlaai nie, wil jy nie werklik genesing hê nie – jy wil skei!
Dawid het getuig, “...ek brul van die gebons van my hart...en my gesug is voor U nie verborge nie” (Psalm 38:9-10). Jy moet hardop uitroep soos Dawid, “Here, hoor my gebed! Ek sal U nie laat gaan totdat U my antwoord nie!”
Laat my die soort desperaatheid wat Dawid gehad het, illustreer. Veronderstel jy is eendag op pad huistoe. Net toe jy by die hoek van jou van jou straat aankom, sien jy brandweerwaens voor jou huis geparkeer staan. Swart rook dwarrel by die vensters uit en die hele plek is op die punt om in vlamme op te gaan. En jy weet jou maat en kinders is daar binne-in vasgevang.
Sê vir my – hoe kalm en stil sal jy op daardie oomblik wees? Hoe lank sal jy daar kan bly staan en niks doen, terwyl jy hoop dat die vuur op sy eie sal weggaan? Sal jy stil daar sit en bid, “Jesus, ek hoop U sal die vuur blus”? Nee! As jy enigsins enige liefde in jou hart het, sou jy deur die rook in jou huis in hardloop en iets probeer doen!
As jou huwelik in die moeilikheid is, dan is jou huis aan die brand – en jou verhouding gaan op in vlamme! En as jy toelaat dat hierdie vuur voortgaan, gaan jy alles verloor!
So, het jy die vrees van God in jou oor jou huwelik? Is jy oorlaai met skuld en veroordeling oor jou rol in die verbrokkeling? As dit so is, moenie probeer om jou gewete te sus nie. God stuur vir jou sy sterk woord, omdat Hy jou liefhet. Hy waarsku jou in sy genade en barmhartigheid en probeer jou wakker maak voor jy jouself vernietig. So, hardloop na Hom en bid vurig. Dit is waar alle genesing begin – deur dringed sy Naam aan te roep!
Dawid het besef hy kon nie vir lank in die dieptes van wanhoop bly nie, anders sou hy vernietig word.
Dawid het geweet hy moes ‘n lewensreddende woord hê of alle hoop sou verlore wees. Daarom het hy uitgeroep, “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” (Psalm 130:3).
As ons Dawid se woord in moderne alledaagse taal sou verander, dan sal dit naastenby so klink: “O, Here – ek het U slegs gesien as die groot Privaatspeurder in die lug – wat elke oomblik van die dag al my bewegings dophou, my mislukkings neerskryf, my foon afluister, al my gedagtes hoor, video-opnames van al my treë maak en ‘n saak teen my opbou, daagliks. En U het genoeg bewyse om my vir ewig te verdoem.
“Here, met al die bewyse wat U bymekaargemaak het, watter kans het ek? Hoe kan ek staan wanneer my bose woorde en geheime dade teen my getuig? Hoe kan ek enigiets anders doen, behalwe om te wag om geoordeel en veroordeel te word?
“Elke dag word ek wakker in vrees van u verskriklike toorn teen my sonde. Wie kan staan voor ‘n heilige God, wat ongeregtigheid straf? Nie eens die heiligste, nederigste, betroubare siele kan u oordeel ontsnap nie. En as hulle nie u wet kan nakom nie, watter kans het ek? Ek het boser as hulle almal gesondig!
“Ek weet my sonde mishaag U, Here. En ek weet U sal nie toelaat dat dit voortgaan nie. Maar as ek nie binnekort ‘n teken van U barmhartigheid sien nie, is dit klaarpraat met my. My siel is bankrot, hopeloos. Ek kan nie meer voortgaan nie!”
Talle Christene sukkel net soos Dawid. As die heilige, regverdige vrees van God in hulle siele ingeplant word, dreig sy ontsagwekkende majesteit voortdurend voor hulle. Strome van sy vurige wet wys reguit in hulle harte in en hulle begin kwyn van angs. Net soos Dawid, roep hulle uit, “Here, wie kan voor U staan? Wie kan u heiligheid verduur?”
Ons bediening kry briewe van opregte Christene wat sukkel met homoseksualiteit. Die trant van hulle skryfwerk klink baie soos Dawid se pyn. Baie van hierdie kosbare mense het grootgeword in die kerk en hulle het Jesus lief met hulle hele hart. Maar hulle kan nie vrykom van homoseksuele begeertes nie. Hulle beland in wanhoop, kwyn onder hulle skuldgevoelens en veroordeling. Een desperate jongman het geskryf, “Pastoor David, as ek nie binnekort bevry gaan word van hierdie slawerny nie, sal ek geen keuse hê nie. Ek gaan my lewe neem.”
Dit is tragies dat menigtes van homoseksuele, lesbiërs, alkoholiste en dwelmverslaafdes hulle lewens geneem het, omdat hulle so ver in die dieptes ingeval het. Hulle kon nie van die gevoel ontsnap, dat hulle God aanhoudend mishaag het nie. En hulle wonder voortdurend, “Ek is veronderstel om die krag te hê om hierdie ding te oorwin, maar ek kan nie. Hoe kan ek ooit vry word?”
Jona het presies dieselfde vraag gevra. Hy was letterlik op die bodem, op die oseaanvloer, nie in staat om van sy dilemma te ontsnap nie. Hy het ook uitgeroep, “U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ‘n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan...Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge...” (Jona 2:3-6).
Volgens Jona, wie het hom neergewerp in daardie dieptes van donkertes? Die Here het! Dit was inderdaad God wat die profeet af na die bodem geneem het en die walvis voorsien het om hom in te sluk. Toe Jona sy swaarkry “u bare en u golwe” genoem het, het hy na die Here verwys.
God was eger nie kwaad vir Jona nie, maar hy het bloot telling gehou van sy sonde. So, waarom het Hy toegelaat dat dit met hom gebeur? Waarom het Hy hom na die dieptes gestuur? Hy wou sy dienaar keer om weg te hardloop van sy wil af! Hy wou hê dat Jona sy plan volg, sodat Hy hom kon seën. Kortliks, God het Jona na die dieptes geneem om hom te herstel!
Jona 2:2 sê vir ons presies wat God wou hê: “...Uit my benoudheid het ek die Here aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp – U het my stem gehoor.” Die Here het vir Jona gewag om hom na Hom te wend – om na Hom alleen uit te roep! “Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige tempel aanskou” (vers 4). “Toe my siel in my versmag het, het aan die HERE gedink...” (vers 7).
Vandag doen die Here dieselfde ding met ons: Hy verlos ons deur ons toe te laat om na die dieptes te gaan. Hy laat ons in wanhoop wegsink oor ons sonde, totdat on geen ander bron het om ons na te wend nie, behalwe na Hom. En uiteindelik, roep ons van die buik van die hel uit, “O Here, hoor my asseblief! Ek het die op die bodem beland met geen hoop in sig nie. U moet my verlos!”
Miskien het jy op die bodem beland oor jou sonde. Skynbaar kan jy net nie oorwinning kry oor daardie een boesemsonde, begeerte of bitterheid nie. En nou het die Here toegelaat dat jy afgaan tot in die dieptes. Dit is alles egter vir ‘n doel. Hy hoop dat jy, soos Jona, “Hom weer sal aanskou.”
Wees verseker, toe Jona na die Here uitgeroep het, het God hom gou verlos: “Daarop het die HERE die vis beveel om op Jona op die droë grond uit te spuug” (vers 10). God het vir die walvis gesê, “Dit is genoeg – spoeg hom nou uit. My dienaar het na My uitgeroep en Ek gaan hom antwoord!”
Te veel Christene bly onder in die dieptes in totale moedeloosheid.
Vir baie gelowiges, beteken om te sink tot op die bodem die einde. Hulle word so oorweldig deur hulle mislukkings, dat hulle ‘n gevoel van onwaardigheid ontwikkel. En met verloop van tyd, voel hulle asof so vasgevang, dat hulle nie meer gehelp kan word nie. Jesaja skryf van sulke gelowiges, “Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetroosde...” (Jesaja 54:11).
Sommiges mag uiteindelik kwaad word vir God. Hulle word moeg om vir Hom te wag om iets te doen. Daarom roep hulle beskuldigend uit, “Here, waar was U toe ek U nodig gehad het? Ek het tot U geroep vir verlossing, maar U het nooit geantwoord nie. Ek het alles gedoen wat ek geweet het hoe, maar steeds is ek nie vry nie. Ek is moeg om te bely en uit te roep, sonder dat ek ooit enige verandering sien!” Talle sulke gelowiges gee eenvoudig moed op om te probeer en gee hullself oor aan hulle begeertes.
Ander val in ‘n waas van geestelike apatie. Hulle is oortuig dat God nie meer vir hulle omgee nie. Hulle sê vir hulleself, “...My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby” (Jesaja 49:27). “Die HERE het my verlaat, en die HERE het my vergeet” (Jesaja 49:14).
Ander beland daarin om al hulle aandag op hulle sonde te rig en probeer om hulleself in ‘n aanhoudende toestand van oortuiging van sonde te hou. Dit veroorsaak egter dat hulle net meer verward word en uitroep, “...ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg – hoe kan ons dan lewe?” (Esegiël 33:10). Om oortuig te voel van sonde is in werklikheid nie ‘n einddoel opsigself nie. Wanneer ons verneder word deur skuld en droefheid oor ons sonde, is ons nie veronderstel om in daardie gevoelens te bly nie. Dit is bedoel om ons te dryf na die einde van onsself – en na die oorwinning van die kruis!
Dawid was uit die dieptes opgebring deur die vergewende natuur van God te onthou.
Na al sy geween en geroep na die Here, het Dawid op die ou end getuig, “Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word” (Psalm 130:4). Die Heilige Gees het begin om sy siel te oorstroom met herinneringe van God se barmhartighede. En skielik, het Dawid onthou wat hy alles van die Vader se vergewende, verskonende natuur geleer het. “Maar U is ‘n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid...” (Nehemia 9:17).
Gou het Dawid gejuig en homself herinner, “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). “Wat al jou ongeregtigheid vergewe...” (Psalm 103:3).
Hier is een van die fundamentele beloftes van die Nuwe Verbond. Jeremia verklaar, “...want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:34). En Paulus voeg by in die Nuwe Testament: “...deurdat Hy julle al die misdade vergeef het” (Kolossense 2:13). God het ons sy vergifnis belowe, vir elke sonde!
Hierdie belofte van vergifnis is beperk tot sekere mense. Dit is slegs van toepassing op diegene wat verpletter en siek gemaak is deur hulle sondes...diegene wat afgegaan het tot in die dieptes weens hulle skuld...diegene wat die sielsondersoek van die Heilige Gees verduur het...en wat hulle bekeer en hulle in geloof na Christus gewend het.
Jesus self het gesê dat nie almal wat uitroep, “Here, Here,” die koninkryk van God sal binnegaan nie. Hulle boesemsonde pla hulle nie in die minste nie. Hulle het hulleself oortuig dat God so barmhartig en genadig is, dat Hy hulle sal verskoon, selfs al gaan hulle hardnekkig voort met hulle sonde.
Nee – nooit! Hulle het vir hulleself ‘n valse vrede toegeëien! Hulle het die Heilige Gees se oortuiging van sonde, sy ondersoek en werkinge versmoor. Hulle het verginis gesoek voor hulle skuld kon ryp word tot goddelike droefheid!
Terselftertyd, kan God se vergifnis slegs deur geloof verkry word. Ons dit nie uitredeneer nie. Christus se gawe van sy bloed se versoening vir ons is so diep, so genadig, so geheimsinnig, dat dit bokant enige menslike vermoë is om te verstaan. Ons mag veroordeling, vrees en skuld voel oor ons oortredinge. Maar ons hemelse Vader staan liefdevol langs ons te alle tye, gereed om te vergewe. Die bloed van Christus, die liefde van die Vader, die Here se begeerte om te verskoon – al hierdie seëninge word slegs geken deur geloof: “...die regverdige sal deur die geloof lewe” (Galasiërs 3:11).
Jy mag wonder – hoeveel keer sal die Here jou vergewe as jy aan dieselfde sonde toegee, keer op keer? Wees verseker, sy ontsaglike vergifnis is onbeperk. Elke keer wat jy sondig, kan jy na Jesus toe gaan en verlossing vind. Die Here se vergifnis is egter nie onwys of blind nie – maar op ‘n seker stadium, tugtig Hy ons om ons van sonde te weerhou.
Toe my vier kinders grootgeword het, moes ek hulle tugtig vir hulle verkeerde dade. Ek sou hulle na my kamer roep vir ‘n pak slae – en wanneer hulle die gordel in my hand sien, sou hulle in trane uitroep. Hulle het gehuil, “Nee, Pappa! Ek is jammer. Vergewe my, asseblief!”
Ek het hulle vergewe. Maar dit het my nie gekeer om die lat in te lê nie. As hulle geweet het ek sou dit nie doen nie, sou dit vir hulle betekenisloos word – ‘n grap, eerder as ‘n bron van dissipline. Net so is God se wet altyd daar om ons te herinner aan sy heiligheid vir ons en om ons te herinner aan sy weë – en dat Hy bedoel wat Hy sê!
Laat my jou groet met ‘n woord van hoop. As jy nou in die dieptes van jou sonde is – as jy ween, omdat jy die Here se roede op jou rug voel – wees bemoedig. Hy tugtig jou weens sy deernisvolle liefde. Hy neem jou af na die dieptes, omdat Hy wil hê jy moet sy vrees ken!
Wat presies beteken dit om die Here te vrees? Dit beteken dat jy in staat is om te sê, “Ek weet dat my Vader my liefhet. Ek is veilig, vir altyd syne en ek weet Hy sal my nooit verlaat nie. Hy voel my pyn wanneer ek ook al sukkel. En Hy is geduldig met my terwyl ek teen sonde stry. Hy is altyd gereed om my te vergewe wanneer ek ook al tot Hom roep. Maar ek weet ook Hy sal nie toelaat dat ek aanhou om sy woord ongehoorsaam te wees nie. My hemelse Vader sal my nie spaar nie – omdat Hy my innig liefhet!”
Dit is die punt van dit alles. God wil hê ons moet sy vergifnis aanvaar, sodat ons Hom kan vrees. “Maar by U is vergewing, dat U gevrees kan word” (Psalm 130:4). Wanneer ons die Here vrees, sal ons meer wil doen as om Hom net te gehoorsaam. Ons sal Hom wil behaag om ‘n glimlag op sy gesig te sit. Dit is die geseënde gevolge van die heilige vrees van God.