VANDAG IS DIE DAG VIR DIE OES

David Wilkerson (1931-2011)

“Toe sê Hy [Jesus] vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matthéüs 9:37-38).

Jesus het in wese gesê, “Die lande is ryp en die oes is volop en dit is tyd om te begin insamel.”  Op daardie oomblik, het die groot, laaste geestelike oes begin en dieselfde oes gaan aanhou totdat Christus terugkeer.

So wat het Jesus in sy tyd gesien? Het Hy ‘n geestelike ontwaking in Israel gesien? Was daar herlewing in die sinagoges? Het priesters teruggekeer na God toe? Die evangelie openbaar baie min bewyse van enige geestelike beweging na God toe; inteendeel, dit dui op die teenoorgestelde. Tog, op hierdie stadium het Christus gesê dat die lande ryp is.

Dink jy Jesus se woord insake ‘n ryp oes is van toepassing vandag? Bekeer nasies hulle? Is daar ‘n groot beroering in ons samelewing? Is daar ‘n uitroep vir heiligheid in hierdie geslag?

Met min uitsonderings, gebeur sulke dinge nie. Toe Jesus se dissipels die toestand van sake wou weet as die laaste dae nader kom, het Hy hulle geantwoord deur te praat van hongersnood, aardbewings, verdrukking, verdeelde nasies en valse profete. “En op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees” (Lukas 21:25-26). Kortliks, Jesus beskryf hier die mees angstige, depressiewe, gespanne geslag van alle tye.

Te midde van al hierdie ontwrigtings en onrus, sê Jesus vir sy kerk, “Mense is gereed om te hoor. Nou is die tyd om te glo vir ‘n oes.” Christus is die Here van die oes en as Hy sê die oes is gereed, dan moet ons dit glo. Dit maak nie saak hoe goddeloos hierdie geslag word of hoe magtig Satan skynbaar word nie, ons Here sê vir ons, “Hef op julle oë en kyk na die oes!”

Jesus soek arbeiders wat vure en loutering deurstaan het, ‘n volk wat sal staan voor die wêreld en verkondig, “God is met my! Ek het ander kant uit gekom meer as ‘n oorwinnaar deur Christus wat in my woon. Ek is ‘n lewende bewys dat Jesus alles-genoegsaam is.”