Verander Papperds in Krygers

Ek was in graad vier toe ek die eerste keer gehoor het iemand gebruik die woord “papperd.” Dit was die naam wat kinders Groot Tom genoem het, die grootste seun in ons klas. Tom kon maklik iemand platgeslaan het. Hy was sterk, stewig en gespierd – en hy kon amper enigiets optel. Maar hy het eenvoudig geweier om te baklei!

Selfs die kleinste outjie in ons klas het hom geterg. En so maer en tengerig as wat ek was, het ek op die ou end Tom verdedig! Ek en hy het goeie vriende geword, maar dit was verskriklik om te sien hoeveel onnodige teistering hy beleef het. En dit kon dalk alles opgehou het as hy opgestaan en gesê het, “Ek het genoeg gehad! Ek wil nie baklei nie – maar as een van julle nog een keer op my spring, gaan ek myself verdedig. Ek is nie meer julle slaansak nie!”

Maar Tom het dit nooit gedoen nie. Wanneer daardie kleiner seuns hom geterg het, het hy omgeval soos ‘n lamsak. Tot en met graad vyf of ses, was hy steeds ‘n “papperd,” “lafaard,” “sissie” en “poeierkwas.” En hoe ouer hy geword het, hoe erger het die tergery geword. My laaste herinnering van Tom was ‘n ses-voet seun vol vrees – altyd besig om die spit af te byt van een of ander seun se toorn.

Jy mag dink, “Dit is goed Tom was nie ‘n vegter nie. Hy moes seker ‘n “vredeliewende seun” gewees het. Ek wil nie voorstel dat Tom ander moes uitdaag om hom te terg nie. Maar Tom se probleem was, hy was werklik ‘n lafaard!

Geliefde, dit is tyd dat ons Christene die klaaglike werklikheid oor onsself in die oë kyk – en dit is, die kerk van Jesus Christus is vol papperds!

Wanneer ek die term “papperd” gebruik, is ek nie sarkasties nie. Ek ken bloot nie ‘n ander woord om die geestelike lafhartigheid wat in die kerk insypel te beskryf nie! Ek praat natuurlik nie van alle Christene nie. Maar die huis van God is vandag vol swakkelinge wat bang is vir die duiwel en sy toorn, wat nooit sal opstaan teen hom nie en wat aanhoudend misbruik word deur die magte van die hel.

Die Bybel waarsku dat in die laaste dae, Satan met groot woede sal neerdaal omdat hy weet sy tyd is min. Hy het inderdaad sy hele arsenaal teen God se volk gebring om te probeer om hulle moeg te maak. Hy het legioene van leuenagtige, demoniese geeste gestuur om die kerk te verlei en te teister. Hy is juis nou besig om allerhande leuens in gelowiges se gedagtes in te spuit wat skuld, veroordeling, depressie en vrees bring.

So min gelowiges weet hoe om op te staan en te veg!

Selfs met al die gepraat wat in die kerk aangaan oor geestelike oorlogvoering, het Christene nog steeds nie geleer hoe om teen die vyand op te staan nie. Ons is onopgewasse teëstand vir die duiwel!

Ek glo nie dat elke ongeluk wat ‘n Christen oorkom van die duiwel kom nie. Ons blameer hom vir baie van ons eie roekeloosheid, ongehoorsaamheid en luiheid:

Jou verskriklike nagmerrie was nie van die duiwel af as jy bed toe gegaan het met ‘n maag vol jalapeno rissies en ‘n liter Pepsi nie. Jy mag dink, “Die duiwel het my die hele nag land geteister! Ek het ‘n trop buffels gesien trap op my maag, hulle kraletjie oë het vir my gelag. Dit was hel. “Nee – dit was dwaas! Dit was nie die duiwel wat jou gemartel het nie – dit was jou eie skuld!

As jy laat wakker bly en sensuele films op jou videomasjien kyk, moenie sê die duiwel het daardie wellus in jou hart geplaas nie. Jy het dit self daar geplaas deur die TV aan te skakel!

Dit is maklik om die duiwel te blameer vir ons dwaasheid. Op daardie manier, hoef ons nie daarmee af te reken nie.

Maar daar is ‘n ware duiwel teenwoordig in ons wêreld vandag – en hy is aan die werk! Hoe anders kan jy verduidelik wat met menigtes Christene gebeur? Baie is glad nie soos hulle Verlosser nie. Hulle maak jou agteraf sleg, skinder en kla. Hulle is jaloers, onvriendelik, onbarmhartig, stook onenigheid en moeilikheid. Hulle leef jaar na jaar met bitterheid, haat, vleeslikheid en gierigheid.

Ek ken oral mense in kerke wat sweer hulle het hul pastore lief – hulle luister egter na venynige skinderstories oor hulle! Hulle weet hulle herder gee sy lewe vir hulle, week na week. Tog, laat hulle die skinderstories en halwe waarhede voortgaan – en doen niks om dit stil te maak nie! Met hulle stilte keur hulle alles goed wat gesê word – en daardie gif word in hulle eie gees geplant.

Laat my vir jou iets vertel van Satan se strategie: As hy nie die Almagtige van Sy troon kan aftrek nie, sal hy probeer om God se beeld uit jou uit te skeur! Hy wil aanbidders verander in murmureerders en lasteraars. En elke stukkie skindernuus wat jy hoor, elke storie wat vertel word oor iemand, kom reguit uit die put van die hel!

Net soos hy Job en Petrus wou kry, smeek Satan God om jou te kry – om jou te sif soos koring! Maar daar is twee dinge wat elke gelowige moet weet wanneer Satan inkom soos ‘n brullende leeu:

1. Satan kan jou nie willens en wetens aanval nie. God het ‘n muur van vuur rondom elkeen van sy kinders geplaas, en Satan kan nie anderkant daardie muur gaan sonder God se toestemming nie.

God laat wel toe dat die muur soms afkom – maar onder baie beperkte parameters. Hy doen dit om ‘n onwrikbare geloof in ons te vorm, om ons in oorlogvoering op te lei en om Sy krag en heerlikheid op die aarde te bewys. Met elke beproewing wat ons beleef, kom hierdie belofte egter: “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie. maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

2. Satan kan ook nie ‘n Christen se gedagtes lees nie. Sommige mense is bang om te bid omdat hulle dink die duiwel luister hulle af! Ander dink die duiwel kan al hulle gedagtes lees. Dit is nie so nie! Slegs God is alomteenwoordig en alwetend: “Ek, die HERE, deursoek die hart” (Jeremia 17:10). “Ek is wat niere en harte deursoek” (Openbaring 2:23). “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:13). Slegs die Here kan ons gedagtes lees!

Maar Satan hoef nie ons gedagtes te lees nie – omdat hy ons dade kan lees. Hy hou ons voetstappe dop en let op waarheen ons gaan en wat ons doen. Hy weet wanneer ons wegglip om iets te doen wat ons nie mag nie. Hy sien ons swakhede – en hy spuit leuens in om ons dade te pas! Hy hoor ons gesprekke oor hoe broos en swak ons is – en hy probeer ons skrikmaak oor ons swakhede!

Die Skrif beveel ons om op te staan, sterk te wees en te stry teen die vlees en die duiwel:

“Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk” (1 Korinthiërs 16:13). “...broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (Efésiërs 6:10). “Jy dan...wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is” (2 Timótheüs 2:1). “Jong manne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het” (1 Johannes 2:14).

In hierdie laaste vers, het die apostel Johannes nie met tagtig-jaar-oue, ervare manne van God gepraat nie. Hy het jong krygers aangespreek wat vol van God se Woord was! Johannes het in wese vir hulle gesê, “Omdat julle ‘n stand ingeneem het en Sy Woord aan julle geglo het, het julle die stryd teen die duiwel oorwin. Julle het die bose in julle lewe oorwin!”

Geliefde, God se Woord is nie ‘n “papperd Bybel” nie! En ons boodskap is nie ‘n “papperd evangelie” nie! God soek mense wat eerder krygers as papperds sal wees. Daar is geprofeteer dat ons die stryd sal wen – maar slegs as ons sal opstaan en veg! Die Skrif sê ons is meer as oorwinnaars en seëvier totaal oor die krag van die vyand!

Ou Testament krygers was magtig in die stryd teen sataniese magte. Die Skrif sê hulle het, “koninkryke oorweldig...geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang...dapper gewees...in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf” (Hebreërs 11:33-34).

Maar iets is verskriklik verkeerd vandag. Te veel Christene se knieë knak en is magteloos – word maklik geviktimiseer, gemanipuleer en verneder deur Satan! God het ‘n heilige toorn in my geplaas teen hierdie gebrek aan weerstand. En ek glo dit is tyd dat ons seëvierende krygers word, nie ineenkrimpende papperds nie!

Die storie van Gideon vertel vir ons hoe God ‘n groep papperds in krygers verander het. En ek sien in hierdie storie vier stappe om ‘n vreeslose kryger teen Satan te word:

Stap Een: Jy moet siek en sat word om siek en sat te wees!

Jy moet keelvol wees om neerslagtig gehou te word deur die duiwel – mismoedig, depressief, vreugdeloos, leeg en geteister te lewe!

Die boek Rigters vertel vir ons, “Maar toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank. En die Midianiete het die oorhand oor Israel gekry” (Rigters 6:1-2).

Elke jaar teen oestyd, het die Midianiete oor Israel se grond getrek met duisende kamele, skape en beeste. Hierdie diere het alles in sig opgevreet en Israel verarm agtergelaat. “En Israel het deur die Midianiete baie arm geword” (Rigters 6:6). Die Israeliete was op hulle laagste punt ooit. Hulle was gedwing om in donker grotte en klam lêplekke te bly, verhonder, bang en hulpeloos.

Toe het iets gebeur. Dit het met Gideon begin, en dit het dwarsdeur die laer versprei: Israel het siek en sat geword om in daardie donker grotte weg te kruip!

Gideon het moeg en ergerlik geword. Na sewe lange jare, was hy moeg dat die Midianiete oor Israel geseëvier het! Ek verbeel my ek sien hom op ‘n berg, waar hy afkyk na al die Bedoeïene stamme. Hy het gekyk hoe berede krygers Israel se dorpies geplunder het, en probeer het om alles in sig dood te maak.

Gideon het vir homself gesê, “Hoe lank gaan ons hiermee opgesaal wees?” Hulle trek deur ons grond sonder enige weerstand. Niemand staan op en doen enigiets daaromtrent nie! Ons word vertel ons het ‘n God wat vir ons vaders opgetree het. Maar kyk nou na ons – ons is gestroop, hulpeloos. Ons lewe in voortdurende vrees!”

Dit is jammer, dit is ‘n beeld van hoe die meeste Christene vandag leef. Die vyand het ingekom en hulle beroof van al hulle vrede en effektiwiteit. Hy plunder hulle lewens en families net soos hy wil – en hulle bied geen weerstand nie! Hulle leef in een of ander donker grot van depressie en bitterheid. En hulle staan eenvoudig en kyk terwyl Satan meer ellende oor hulle huise bring. Hulle is mismoedig gemaak – mismoedig in geloof, mismoedig in waaksaamheid, mismoedig in krag, mismoedig in gesindheid!

Dit is presies waar Israel was. Iets het egter opgestaan in Gideon. En hy het gesê presies waarvoor God gewag het om te hoor:

“Dit het ver genoeg gegaan! Ons dien ‘n magtige, seëvierende God. Waarom gaan ons aan, dag na dag, en verdra hierdie misbruik? Vir sewe jaar lank het ons in hierdie grotte weggekruip en die Midianiete vrylik oor ons laat loop, met geen veglus of weerstand nie!”

Ek vra jou – hoe mismoedig is jy? Hoe ver onder het die duiwel jou gebring? Tot by die punt van depressie, bitterheid en vrees?

Wanneer gaan julle wakker word en sê, “Genoeg hiervan! Genoeg dat die duiwel toelaat om my en my familie te beroof! Ek is siek en sat daarvoor, en ek sal nie so lewe nie! God het dit nooit vir my bedoel nie. En ek gaan die toelaat dat die duiwel enigiets meer van my neem nie. Ek het genoeg gehad!”

God sal nie iets doen totdat jy heeltemal gewalg is nie – totdat jy siek en sat is om siek en sat te wees nie!

Jy mag miskien sê, “Broer Dave, dit was sonde wat die Midianiete op Israel laat afkom het. Israel het bloot betaal vir hulle sonde.” Dit is waar – hulle het oordeel gely vir hulle afgodery. Maar die Skrif sê ook die mense het toe “die HERE aangeroep” (Rigters 6:6). En dit is presies wat God wou hê hulle moes doen!

Jy mag dink, “Ek kan nie teen die duiwel staan en baklei nie, omdat ek betaal vir my sonde. Ek het gesondig – ek het God teleurgestel. Al hierdie dinge gebeur omdat die duiwel weet hy het my!”

As dit waar is, dan moet jy doen soos Gideon – roep die Here aan! Ons dien dieselfde God wat Israel gedien het. En as Hy Israel se hulpgeroep gehoor het in hulle afgodery, sal Hy jou uit die dieptes van jou mislukking hoor!

Die oomblik wat jy uitroep tot God, gebeur iets in die hemele. Jy is dalk nie in staat om dit te sien nie – maar God het begin om te werk om jou onthalwe!

Stap Twee: Reken af met jou vrese en ongeloof!

Israel het in afgodery verval. Maar hulle kern sonde was steeds ongeloof, wat gelei het tot allerhande soorte vrese! En God het vir hulle ‘n profeet gestuur om hulle kern sonde te openbaar:

“En toe die kinders van Israel die HERE aanroep vanweë die Midianiete, het die HERE ‘n profeet na die kinders van Israel gestuur, en dié het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek self het julle laat optrek uit Egipte en julle uit die slawehuis uitgelei en julle gered uit die hand van die Egipternaars en uit die hand van al julle verdrukkers en hulle voor julle uit verdrywe en hulle land aan julle gegee. En Ek het aan julle gesê: Ek is die HERE julle God; julle mag die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, nie vrees nie. Maar julle het nie na My stem geluister nie” (Rigters 6:7-10).

God het in wese gesê, “Ek beveel julle, ‘Vrees nie’ – maar julle was ongehoorsaam en het gevrees! Nou kan Ek nie My werk klaarmaak, totdat julle met julle vrese afgereken het nie!”

Die profeet het vir hulle geê, “Kyk na julle – ‘n klomp papperds, wat wegkruip en bang is om op te staan en te veg. Julle het reeds moed opgegee. Maar julle het ‘n geskiedenis van God wat verlos! Hy het julle vaders groot oorwinnings gegee toe hulle Hom vertrou het. En Hy het belowe om julle ook te verlos – maar julle glo Hom nie! Hy het julle uit slawerny gebring en al julle vorige vyande verslaan. Waarom tree julle nou soos hulpelose lafhartiges op?”

Moses het Israel beveel: “Dan moet jy vir hulle nie vrees nie...laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie” (Deuteronómium 20:1-3). Hy sê in wese, “God is met ons. En omdat Hy teenwoordig is, het jy geen rede om verskrik te wees nie. Jy hoef nooit bang te wees dat die vyand jou sal laat misluk nie!”

Talle Christene, is egter vreesbevange dat die duiwel hulle gaan vernietig. Hulle is bang hulle sal ‘n fout maak of terugkeer na hulle sonde, en dat die duiwel sy sin sal kry. Maar dit is ‘n leuen uit die put van die hel! Die Bybel sê jy hoef nie angsbevange te wees terwyl jy deur hierdie lewe gaan nie!

Wanneer jy aan vrees vasklou, word dit aansteeklik. Almal rondom jou steek aan! Moses het al die krygers wat bang was, huistoe gestuur: “Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie” (Deuteronómium 6:8). Hy het in wese gesê, “Gaan net huistoe en vat dit rustig. Anders sal julle die oorwinning vernietig vir diegene wat opstaan om oorlog te voer!”

Toe Gideon sy leër bymekaargemaak het, het God hom ook beveel om al die bang soldate huistoe te stuur: “Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gilead af. Toe het daar van die manskappe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly” (Rigters 7:3). Twee-en-twintigduisend papperds het huistoe gegaan – almal het gesidder in hulle sandale, bang vir die magte van die hel! Maar God het vir Gideon gesê, “Ek moet manne van geloof en dapperheid hê! Vertel hulle om huistoe te gaan en te bid totdat hulle ‘n ruggraat ontwikkel het.”

God spreek dieselfde woord met Sy kerk vandag. Hy sal vra, “Waarom vrees jy? Waarom sondig jy deur My nie te vertrou om oorwinning in jou lewe te bring nie? Ek het belowe om alle demoniese magte wat teen jou kom te verslaan!”

Sommige Christene sal egter nooit verander nie. Hulle kan nie leef sonder hulle troetel murmurerings en klagtes nie. Hulle is verslaaf aan ellende! Hulle klink soos die wêreldskare – al hulle gesprekke gaan oor ellende, ellende, ellende. Dit gaan alles oor egskeiding, verneukery, familieprobleme, werkprobleme, hartseer, siekte, wie is in watter hospitaal, wie se kinders is in die tronk, wie se man is ‘n dronkaard, watter sekretaresse het met watter baas weggeloop. Sonder hulle ellendes, het hulle niks om oor te praat nie!

Die wat egter die Here soek, word opgebou in geloof deur Sy Woord vir hulle te hoor: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). En hier is God se Woord aan almal wat Sy naam aanroep:

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand...jou teëparty sal omkom...hulle sal word soos niks en soos ‘n nietige ding – die manne wat teen jou oorlog voer” (Jesaja 41:10-12).

“Geloofd sy die HERE, die God van Israel...om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe” (Lukas 1:68, 72-75).

God sê jy kan leef in oorwinning en geregtigheid sonder vrees – al die dae van jou lewe!

Stap drie: Werp jou boesemsonde neer!

“En in dieselfde nag het die HERE vir hom gesê...breek die altaar van Baäl af wat aan jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan” (Rigters 6:25).

Gideon se vader, Joas, het groot beelde van Baäl en die godin Astarte wat uit groot rotse gemaak is, opgerig. Sy redenasie was, “Baäl het vir Midian mag oor ons gegee. As ons miskien hulle god aanbid, sal hy vir ons mag gee.” Mense het myle ver gekom om daar te aanbid, insluitende Midianiete en Moabiete. Dit was ‘n magtige, demoniese vesting in Israel!

Maar God het vir Gideon gesê, “Ek gaan nie Israel verlos totdat jy ontslae raak van hierdie afgod wat tussen ons staan nie. Lê dit neer – kap dit af!” So, in die middel van die nag het Gideon “tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die HERE aan hom gesê het” (Rigters 6:27). Hy het ‘n os geneem het toue gebruik om Baäl en Astarte neer te trek!

Vandag gee God Sy kerk dieselfde boodskap wat Hy vir Gideon gegee het: “Ek wil jou help – maar ek kan nie as jy My nie vertrou nie. Jy is vol vrees. En voor Ek verlossing kan bring, sal jy hierdie vesting moet omtrek, hierdie boesemsonde!” “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring” (Hebreërs 12:1). Ons moet alle vestings van vrees en sonde afbreek!

Gideon het demoniese vestings met ‘n sterk os omgetrek. Maar aan ons is wapens gegee ver kragtiger as dit: “Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp...planne verbreek...gevange neem...” (2 Korinthiërs 10:4-5).

Daar is slegs een manier om jou boesemsonde neer te werp: “Julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid...Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 20,24).

Alle oorwinnings kom deur met geloof te bid. Dit beteken nie koue, leë gebed nie – maar gebed in die Gees, gebed wat God glo vir verhoring: “Terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees” (Efésiërs 6:18).

Geliefde, God voorsien vir jou die oorwinning as jy bid. Maar jy moet aanhou om weer en weer na Hom terug te gaan, terwyl jy in die Heilige Gees bid teen jou boesemsonde. Elke oomblik wat jy in gebed deurbring breek nog ‘n steen van jou afgod af. Gou sal jy sien dat dit verswak en kleiner word. En eendag sal jy wakker word en vind dat jou vesting dood is, weg – vir ewig neergewerp!

Stap vier: Leer om Satan teë te staan op jou eie!

Jy moet leer om jou eie oorloë te voer. Jy kan nie op iemand anders vertrou vir jou verlossing nie!

Miskien het jy ‘n gebedskryger vriend wat jy kan skakel en sê, “Ek het ‘n oorlog voor my. Sal jy vir my bid? Ek weet jy het krag by God!” Dit is goed – maar dit is nie God se hele wil vir jou nie! God wil hê jy moet ‘n kryger word! God wil hê jy moet in staat wees om op te staan teen die duiwel.

God het vir Gideon belowe, “Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan” (Rigters 6:16). God het vir hom gesê, “Ek het jou gestuur – Ek sal met jou wees!”

Maar toe het die mense van die stad kom soek na die een wat hulle afgode afgebreek het: “En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, lê die altaar van Baäl daar omgegooi en die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap en die tweede bul geoffer op die altaar wat daar gebou was! Toe sê hulle, die een vir die ander: Wie het hierdie dinge gedoen? En onderwyl hulle ondersoek en uitvra, sê hulle: Gideon, die seun van Jaos, het hierdie ding gedoen! Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, hy moet sterwe, omdat hy die altaar van Baäl omgegooi het, en omdat hy die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap het” (Rigters 6:28-30).

Maar waar was Gideon? Hy het weggekruip – steeds onseker van God se beloftes, steeds aan die wonder of God met hom was! Gideon het gesê, “As die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het...?” (Rigters 6:13). En so gaan dit met baie van ons! Jesus het ons belowe, “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:20). En tog het ons nie geleer om te staan op Sy Woord en te veg nie! In plaas daarvan, kyk ons na al ons swakhede en dink, “As God waarlik met my is, waar is al Sy wonderwerke dan? Waar is die bewyse dat ek sterk is? Ek word steeds geteister deur begeertes. My huislike toestand is steeds dieselfde. God, as U met my is, waarom het dinge nie verander nie?”

Dinge sal begin verander – die oomblik wanneer jy ten volle oortuig is dat God met jou is. Dat Hy met jou praat ek dat Hy vir jou alles sal wys wat jy nodig het om te weet!

Voor Gideon gaan oorlog voer het, het God vir hom elke nodig besonderheid gegee. Hy het aangehou om Gideon se manne minder te maak totdat slegs 300 oor was – 300 krygers uit 22,000 manne! Maar hulle was al wat God nodig gehad het. Hulle het op hulle vyande neergekom vanaf die heuwels, terwyl hulle geskreeu, kruike stukkend gebreek en ramshorings geblaas het. “Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug” (Rigters 7:21).

Dierbare heilige, God wil vir jou wys hoe om uit jou probleem te kom. Hy sal vir jou sê hoe oorwinning gaan kom en Hy sal elke besonderheid verskaf. Maar eerste, sê Hy, “Ek gaan wag totdat jy ten volle oortuig is dat Ek met jou is. Ek gaan wag totdat jy jou vertroue in My plaas!”

En dit is wat ‘n kryger doen! Hy verwerp nederlaag. Hy werp elke vrees neer. Hy breek sy boesemsonde af met gebed. En, laastens, hy staan op God se Woord – maak sy hart gereed voor die Here om die oorwinning te behaal!

Dierbare heilige, jy is sterker as wat jy dink! Soos Gideon mag jy dalk wonder, “Hoe kan ek baklei? Ek is so swak, so onervare,” Maar God het vir Gideon gesê, “Gaan in hierdie krag van jou” (Rigters 6:1). “Watter krag?” vra jy. Gideon het nie enige krag gehad nie. Hy was ‘n papperd!” Gideon se krag was opgesluit in God se woord aan hom: “Ek sal sekerlik met jou wees.”

Geliefde, dieselfde woord – “Ek is met jou” – is jou krag! En jy sal daardie krag ontvang deur te glo dat hierdie woord waar is – en deur daarop te handel!

So seker as wat jy enigiets anders weet, kan jy weet dat God met jou is. Jy kan weet Sy Gees is oral rondom jou. Maak nie saak wat die duiwel teen jou bring nie, jy kan staan in Sy oorwinning en krag, want “God het gesê! Dit is jou krag!