Versit Jou Berg
“En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af. En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.
“Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê, Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê...Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit vekry” (Markus 11:20–24, kursief myne).
Hierdie welbekende gedeelte is geliefd in die kerk van Jesus Christus. Toe ek dit onlangs gelees het, wou God my nie toelaat om daardeur te gaan sonder om dit verder te bestudeer nie. Nou het ek ‘n kragtige geestelike waarheid, wat ek nog nie tevore gesien het nie, daarin gevind.
Jesus was in sy laaste dae van bediening. Hy het pas die tempel gereinig en die geldwisselaars uitgedryf. Nou het Hy tyd saam met sy dissipels gespandeer om hulle voor te berei as pilare van sy toekomstige kerk. Op hierdie tydstip, was hulle egter steeds sonder geloof, “stadig om te glo,” manne van klein geloof. Jesus het hulle verskeie kere vir hulle ongeloof berispe en gesê, “Kan julle nie sien nie?” Hy het in hulle harte ‘n hindernis, wat verwyder moes word, gesien, anders sou hulle nooit gekom het tot die openbaring, wat nodig was om die kerk te lei nie.
Toe hulle verby die vrugtelose vyeboom geloop het, het Jesus dit vervloek: “En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand in der ewigheid van jou ‘n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor” (Markus 11:14). Later, toe die groep weer verby die vyeboom geloop het, het Petrus dit uitgewys, “Here, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” Jesus het ‘n verstommende reaksie op Petrus se woorde gehad. Sonder om ‘n antwoord te gee, het Hy eenvoudig gesê, “Glo in My.”
Ons weet van Jesus se reaksie dat die daaropvolgende boodskap oor geloof sou gaan.
Die verdroogde vyeboom was nog een van Christus se geïllustreerde preke. Wat het hierdie verdroogde plant verteenwoordig? Dit het gedui op God se verwerping van die ou godsdienstige stelsel van werke in Israel. Daardie stelsel het daaroor gegaan om verlossing en God se guns te probeer verdien deur menslike pogings en eie wil.
Iets nuuts was op die punt om in Israel gebore te word: ‘n kerk waarin God se mense net deur geloof sou lewe. Verlossing en ewige lewe sou slegs deur geloof kom. Inderdaad, om daagliks met die Here te wandel, sou ‘n saak van geloof wees. Tog, op hierdie tydstip, het God se mense niks daarvan geweet om in die geloof te lewe nie. Hulle godsdiens het net oor prestasie gegaan: opdaag vir aanbiddingsdienste, die Tora te lees en ‘n uitgebreide stel reëls te volg. Nou het Jesus gesê, “Daardie ou stelsel is verby en op pad na die oordeel.” ‘n Nuwe dag was aan die breek: die kerk van geloof was besig om gebore te word.
In der waarheid, van die heel begin af het God gesoek na ‘n volk, wat voor Hom kon lewe sonder vrees. Hy wou hê dat sy kinders moes rus in liggaam, siel en gees deur ten volle op sy beloftes te vertrou. God noem dit “in my rus ingaan.” Daarom het Hy sy volk in ‘n dorre woestyn ingelei waar daar geen water, voedsel of bron van lewensonderhoud was nie, behalwe die belofte wat Hy aan hulle gegee het om hulle te onderhou. Sy boodskap aan Israel was eenvoudig, “Glo in My.” Hy het hulle geroep om al hulle vertoue in Hom te plaas om die onmoontlike vir hulle te doen.
Maar volgens die outeur van Hebreërs, het God se volk van daardie tyd nooit in sy rus ingegaan nie, omdat hulle nie op sy beloftes vertrou het nie. Ons word gewaarsku om waaksaam te wees, sodat ons nie ook weens ongeloof misluk om in God se rus in te gaan nie.
Die “berg” voor God se mense was en is en sal altyd ongeloof wees.
In die gedeelte van die vyeboom, het Jesus verwys na ‘n naamlose berg: “Elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê” (Markus 11:23).
Ons weet nie wat die berg, waarvan Jesus gepraat het, was nie. Skoliere het die berg allerhande name gegee: die berg van verslawende sonde, armoede, siekte, vrees en moedeloosheid. Die feit van die saak is dat al hierdie dinge uit ongeloof gebore word. Jesus het vir sy dissipels en vir ons vandag gesê: “Ongeloof is soos ‘n belemmerende berg in jou hart wat nie kan versit nie. Dit moet uitgewerp word, of Ek kan nie met jou werk nie.”
Die feit van die saak is, dat Jesus nie in staat was om wonderwerke in ‘n sekere dorp te doen nie, weens die mense se ongeloof: “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs 13:58). Dieselfde geld vandag vir Christus se kerk: waar daar ongeloof is, is Hy nie in staat om te werk nie. Ongeloof is altyd die berg wat die volheid van God se opgebaring en seën verhinder. Jesus vertel vir ons in wese: “Ek kan nie enige daad vir jou doen nie — Ek kan nie die onmoontlike in jou situasie doen nie — nie solank daar ‘n berg van ongeloof voor jou staan nie.”
Die Skrif maak dit duidelik dat God ongeloof nie ligtelik opneem nie.
Die Nuwe Testament gee ‘n voorbeeld daarvan in die storie van Sagaría. In Lukas 1 het God die bejaarde priester ‘n wonderwerk van ‘n kind belowe, ‘n seun wat die voorloper van die Messias sou wees. Sagaría was ‘n goddelike, getroue dienaar wat sy hele lewe lank gebid het vir die koms van die Messias. Inderdaad, toe hy hierdie nuus ontvang het, was hy besig om wierook in die tempel te brand. Die engel Gabriël het aan hom verskyn en gesê, “Jou gebed is verhoor, Sagaría. Jy sal ‘n seun kry en jy sal hom Johannes noem.”
Sagaría het geweet dat hy en sy vrou verby die ouderdom was om kinders te kan kry. Verbeel jou sy dilemma: in sy oë, was dit ‘n vergesogte belofte. Hy moes wonder, “Hoe kan dit wees? My vrou en ek is oud in jare.” Vir hom was dit ‘n berg van ongeloof.
Tog het God nie Sagaría se gebrek aan geloof verskoon nie. Hy het geen medelye met sy ouderdom of sy toegewyde diens van die verlede gehad nie. In werklikheid was God nie van plan om ongeloof in so ‘n toegewyde dienaar toe te laat nie. In plaas daarvan, het die engel Gabriël vir Sagaría gesê, “En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie” (Lukas 1:20).
Wat ‘n swaar straf. Sagaría se eie seun sou die koms van die Messias aankondig, maar die priester self sou nie in staat wees om die nuus tydens sy vrou se swangerskap te vier nie.
Koning Asa is nog ‘n voorbeeld van ‘n getroue dienaar, wie se ongeloof nie God se misnoeë ontsnap het nie. Tydens sy regverdige heerskappy in Juda, het Asa afgodery uitgewis, heidense tempels afgebreek en herlewing na die land gebring. Toe, terwyl die mense God se seën geniet het, het ‘n miljoen-man leër van Kus (Ethiopië) hulle binnegeval. Om teen so ‘n groot leër oorlog te voer, was vir Juda heeltemal onmoontlik. Daarom het Asa na die Here gegaan en die mense tot gebed opgeroep.
Teen alle verwagting in, het Asa se leër ‘n groot oorwinning oor die invallers behaal. Dit was een van die grootste wonderwerke van geloof in die geskiedenis van God se mense. Skoliere sê die hele wêreld van daardie tyd kon oor daardie oorwinning gepraat het.
Op pad huistoe na die oorwinning, was Asa onderskep deur ‘n profeet. Hierdie man het nie gekom om Asa geluk te wens nie, maar om hom ‘n waarskuwing te gee. Hy het die koning vertel, “Solank as wat jy ten volle op die Here vertrou, sal jy geseën wees. Hy sal met jou wandel en oorwinning na oorwinning aan jou gee. Maar as jy van Hom af wegdraai en op jou vlees vertrou, sal jy oneer en chaos op elke gebied hê.”
Asa het hierdie boodskap ter harte geneem en so het hy getrou met die Here gewandel vir ses-en-dertig jaar. Gedurende daardie tydperk, het God Juda baie geseën. Dit was ‘n wonderlike, heerlike tyd om in daardie land te lewe. Toe, na al daardie jare, het daar nog ‘n krisis opgeduik. Die teruggevalle koning wat Israel (wat hulself van Juda afgeskei het) regeer het, het ‘n aanval op Asa geloods. Hy het Rama, ‘n dorpie net vyf myl van Juda se hoofstad, Jerusalem, ingeneem en die lewensbelangrike handelsroete na die stad afgesny. As iets nie vinnig sou gebeur het nie, sou Juda se hele ekonomie in duie stort.
Hierdie keer, het koning Asa in vrees opgetree. In plaas daarvan om die Here te vertrou, het hy die hulp van ‘n berugte vyand, die koning van Aram (Sirië), ingeroep. Dit is ongelooflik, maar Asa het Juda se skatkis met al sy rykdom afgestroop en dit aan die Arameërs aangebied om Juda te verlos. Dit was ‘n daad van totale ongeloof.
Dit word dikwels gesê dat die moeilikste deel van die geloof daardie laaste halfuur is. Die feit van die saak is, dat God reeds sy plan om Juda te verlos in werking gestel het. Maar Asa het daardie plan gekanselleer toe hy in vrees opgetree het en paniekerig geword het. Nou het ‘n profeet na Asa toe gekom en gesê, “Omdat jy nie op die Here vertrou het nie, sal jy van nou af oorloë hê.” En so was dit in Juda. Om in ongeloof op te tree, bring altyd wanorde en chaos.
Jesus het gesê dat dit vir ons moontlik is om die berg voor ons te versit.
Die bergagtige hindernis van ongeloof in ons harte kan inderdaad uitgedryf word, maar net deur geloof. “Elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê” (Markus 11:23).
Jesus vertel hier vir ons wat ons moet doen, en wat ‘n heerlike belofte Hy gee: watter dinge ons ookal begeer, wanneer ons bid, moet ons glo dat ons dit sal ontvang en ons sal dit verkry. Kan jy dit glo?
In my jare in die bediening, het ek gesien dat min Christene glo dat so ‘n bonatuurlike werk kan gebeur. Jy mag in werklikheid sê, “Ek het dit probeer, maar dit het nie vir my gewerk nie. Ek het in geloof gebid en geglo. Maar my gebed was nie beantwoord nie.”
Ek dink aan ‘n jong pastoor wat na my toe gekom het en sy verslawing aan pornografie bely het. Hierdie jongman het God en sy vrou lief en geniet ‘n goeie huwelik. Maar hy het verslaaf geraak aan pornografie en was nie in staat om homself daarvan los te maak nie. Nou het dit begin om hom van al sy geestelike krag te beroof. Hy het ernstig gebid, maar hy was nie verlos nie.
Toe ek die saak verder met hom ondersoek het, het hy my iets van sy vroeër jare vertel. As ‘n jongman, het hy ‘n wonderlike belofte van die Here vir sy lewe gekry. Maar daardie belofte was nooit vervul nie. Die pastoor het vir my vertel, “God het my teleurgestel. Hy het ‘n belofte gemaak, maar dit het nooit in vervulling gekom nie.” Daarom het hy bitter teenoor die Here geword. Nou kon hy nie voor God staan met geloof vir enige soort verlossing nie.
Hierdie jongman se probleem was nie verslawing nie, maar ongeloof. Hy het nie aanvaar dat God gebede antwoord nie. En nou het sy ongeloof voor hom gestaan soos ‘n dreigende berg, ondeurganklik en onwrikbaar. Dit het hom verhinder om in die volheid, wat syne in Christus is, in te gaan.
My vrou, Gwen, en ek het tyd saam met nog ‘n paartjie in die bediening gespandeer. Vir ‘n lang tyd, het hierdie liewe mense groot finansiële druk gehad en het swaar laste insake hulle kinders gedra. Dinge het net al hoe donkerder geword. Die vrou het aan ons bely:
“Soms glo ek dat ‘n ek reg tot ongeloof het. Ek het alles volgens God se Woord gedoen, maar ons familie hou aan ly. Ek het gebid, ek het op God se beloftes gestaan, ek was getrou om Hom in alles te gehoorsaam. Tog was al my gebede verniet. Ek kan nie glo dat Hy besig is om vir ons op te tree nie, want ek sien nie enige bewyse daarvan nie.”
Sedert hierdie twee gesprekke, het God wonderbaarlik vir beide die jong pastoor en die paartjie in die bediening opgetree. Hulle het deur hulle storms gekom en op ‘n wonderlike plek van geloof in die Here uitgekom. Tog verteenwoordig hulle baie gelowiges wat verskriklik sukkel weens ongeloof.
Sommige Christene wandel in geloof vir jare, maar wanneer hulle “krisis van alle krisisse” kom, dan gee hulle toe aan ongeloof.
Selfs vir sulke toegewyde gelowiges, is die berg van ongeloof nie heeltemal verwyder nie. Hoe bedroef dit God wanneer ‘n oorweldigende krisis alle getuienis van sy wonderwerkende krag uitwis. Terwyl ek dink aan wat Jesus oor die berg van ongeloof sê, hoor ek die Heilige Gees aan my fluister:
“David, jy weet nog nie hoe erg ongeloof God se hart kan seermaak en bedroef nie. Jy verstaan nie hoe sy kinders Hom vir soveel eeue gewantrou het nie. God het gehunker na mense wat glo in sy getrouheid in hulle krisistye. Hy sê Hy word aangeraak deur jou gevoelens van swakheid.
“Deur die eeue, het sy volk fenomenale wonderwerke en verlossings beleef. Hulle het getuig dat niks vir die Here onmoontlik is nie. Wanneer die ‘moeder van alle krisisse’ egter toeslaan, is hulle spraak skielik vol wanhoop. Hulle woorde maak Hom seerder as enige ongelowige s’n. Hy neem nie sy kinders se ongeloof ligtelik op nie.”
Dit is wat met Petrus gebeur het. Sy vrymoedige geloof het hom in staat gestel om op die water te loop om Jesus op die see te bereik. Maar toe Petrus sien dat die golwe rondom hom oprys, het hy begin sink. Skielik het hierdie vreeslose dissipel paniekerig geword en uitgeroep, “Here, red my!”
Jesus het Petrus gevang en vir hom gesê, “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (Matthéüs 14:31). Moenie ‘n fout maak nie: Christus het nie geknipoog of geglimlag toe Hy hierdie woorde vir Petrus gesê het nie. Jesus was bedroef oor sy goeie vriend se ongeloof. Hy het geëis, “Waarom het jy in My getwyfel, Petrus? Is ek nie die Almagtige Here nie?”
Net soos Petrus, mag ons vir jare dapper in die geloof wandel voor ‘n krisis opduik en veroorsaak dat ons ons oë op ons situasie plaas. Soos dinge vererger, oorval ‘n gevoel van paniek ons en ons dink dat ons gaan sink. Die hele tyd is God egter binne ons bereik.
Ek het die Heilige Gees gevra om my te wys hoe om enige berge van ongeloof uit my lewe te verwyder, “Here, hoe dryf ek hierdie berg uit my hart uit? Hoe maak ek my siel skoon van alles wat U wonderwerkende krag verhinder?” Hy het vir my gefluister: “As jy gesag oor elke twyfel en vrees wil hê, is daar ‘n plek waarheen jy moet gaan.”
Die antwoord word net op een plek gevind: Getsémané.
Getsémané was die tuin waarheen Jesus gegaan het om te bid toe sy beproewing verpletterend geword het en sy beker hom oorweldig het. Dit was waar Hy sy diepste smarte voor die Vader uitgestort het. Dit was ook waar Hy die stryd oor elke bose owerheid en mag gewen het. Getsémané is die plek waar al die berge sy Woord moet gehoorsaam.
Sommige Christene sê vandag, “Ons geslag is nie ‘n geslag van trane nie. Ons is geroep om fees te vier. En ons word beveel om alles deur geloof in besit te neem. Al wat nodig is, is dat ons die Woord moet spreek en vir ons berg sê, ‘Wyk! Dit is nie nodig vir trane uit ‘n gebroke hart nie. Ons kan eenvoudig die Here se goedheid bepeins.”
Dit is die houding van die voorspoedige, moderne kerk. Hulle wil nie enigiets opoffer met voorbidding of gebed met trane nie. Ek stem saam dat ons God ‘n God van liefde is en ja, ons moet voor Hom feesvier. Maar daar kom ‘n tyd wanneer ons beproewing so oorweldigend is, dat ons niks anders kan doen as om voor die Here te ween nie.
Dit het met Jesus gebeur. Jesus het egter nooit met ongeloof gesondig toe Hy by Getsémané gebid het nie. In teenstelling daarmee het Hy aan sy mense gewys hoe om gesag oor alle sataniese magte te verkry. Dink daaraan: toe die dissipels probeer het om duiwels uit te dryf, het daardie helse geeste hulle uitgelag. Net toe Jesus op die toneel verskyn het, het daardie demone gevlug. Die enigste gesag wat hulle erken, is dié van ‘n berouvolle hart en ‘n gebroke gees.
Beskou nou Jesus se gebede by Getsémané:
- “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). Dit was ‘n verklaring wat in wese gesê het, “Dit is bo my begrip. En as dit voortgaan, sal dit My doodmaak.”
- “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” (Matthéüs 26:39). Het jy al ooit in soveel pyn gebid, met warm trane wat oor jou gesig stroom?
By Getsémané, vind ons Jesus in ‘n reeks van geestelike smarte. Dit is ‘n gedeelte vol trane, smekinge, voorbidding, gebede en verootmoediging. Elkeen is egter ‘n geestelike ervaring wat uiteindelik gelei het na ‘n plek van ontsaglike openbaring.
Ons weet dat ons as volgelinge van Jesus dieselfde dinge sal beleef as wat Hy het. En Hy is ons voorbeeld in sulke krisistye. Wanneer daardie tye kom, moet ons bid soos wat Hy gebid het: met geloof, met die wete dat God al ons trane in bottels opvang. Nes Hy, moet ons bid vir verlossing van ons lydensbeker. En ons moet smeek en God vir ‘n uitweg vra.
Natuurlik is dit nie net ‘n manier van lewe nie, nie net ‘n daaglikse ervaring in ons wandel met die Here nie. Dit is ‘n ontmoeting met Hom, ‘n konfrontasie waar ons aan die einde van iets kom. In daardie oomblik, hou ons op om na ons omstandighede te kyk en begin ons ons siele voor die Here uit te stort. En te midde van dit alles, glo ons, net soos Jesus geglo het, dat God ons liefhet en iets wonderbaarliks in ons lewens gaan openbaar deur ons beproewing.
Jesus het ‘n “deurbraakgebed” by Getsemane gebid.
Ek dink aan Christus se deurbraakgebed as die “uiteindelike gebed.” Met uiteindelik bedoel ek die einde van ‘n reeks. Dink daaraan: op hierdie tydstip, was alles probeer. Toe kom die uiteindelike, of finale gebed, die een wat berge versit en die hel skud. Dit is eenvoudig die volgende: “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matthéüs 26:39, kursief myne).
Jesus het opgestaan van sy smekinge en gesê, “Ek het gebid, geween, gevas en alles gedoen. Nou, Vader, gee Ek my siel aan U oor, met algehele vertroue. Laat U wil geskied.”
Het jy al ooit hierdie “uiteindelike gebed” oor ‘n situasie gebid? “Here, ek het gebid, gevas en oor hierdie saak ingetree. Ek het gevra, geklop, gesoek en geglo. Wat egter nou gebeur, is nie wat ek wil nie. In der waarheid, ek dink nie ek kan dit hanteer nie. Maar U is die Almagtige God, en ek werp alles in U hande. Nou, Vader, doen wat U wil doen, wanneer U kies om dit te doen. Ek rus in U beloftes aan my.”
Dit is die rus wat oorbly vir God se mense vandag, die rus waarna Hebreërs verwys. Dit is om in te tree in daardie geseënde belofte van die Nuwe Verbond, waarin God aan ons verklaar, “Ek sal vir jou ‘n Vader wees, en jy sal vir my ‘n kind wees.”
Geliefde, totdat jy hierdie uiteindelike gebed gebid het, kan jy nie jou berg versit nie. Maar wanneer jy dit doen, sal God jou oë oopmaak vir iets wonderliks. Jy sal nie langer die antwoord op jou gebede mis wanneer dit kom nie. Baie gelowiges mis in werklikheid hulle antwoord op gebed wanneer dit reg voor hulle staan.
Ek ken ‘n moeder wat gevas en gebid het vir ‘n seun wat betrokke was met dwelms en rowery. Met verloop van tyd het hierdie jongman verhard geword. Sy ma het gebid, “O Here, doen wat U moet om Hom te bereik.” Sy was geskok toe haar seun in langtermyn gevangenskap beland het. Tog was dit waar hy Christus gevind het en vandag is hy aktief in die gevangeniskerk. Wat eers verskriklik was, was die begin van haar antwoord.
‘n Aantal jare gelede, het my jonger seun, Greg, na my gekom met trane van gebrokenheid. Dit was ‘n ontmoeting wat ek nooit sal vergeet nie. Greg het vir my die las, wat aan hom gegee is vir jongmense, beskryf. Hy was bang dat ‘n hele geslag besig was om verlore te gaan. Ek was so aangeraak deur sy trane, dat ek heeltemal oorbluf was. Ek kon net saam met hom bid, “Here, doen wat dit ookal verg. Antwoord my seun se gebed.”
Kort daarna, het Greg die grootste beproewing van sy lewe beleef. Hy het vier jaar van ongelooflike, ondraaglike pyn verduur. Sy fisieke uithouvermoë en gevolglik, sy geloof, was getoets tot op die uiterste grense. Hy het jare lank met wanhoop gestry, omdat God hom nie van sy voortdurende pyn verlos het nie.
Toe, in die laaste paar maande, het God hom uit sy beproewing uitgehaal op ‘n wonderlike manier. Greg het my verlede week gebel om te sê, “Pa, dankie dat Pa nie moed verloor het met my tydens daardie jare nie.” Ek het hom vertel dat ek nie een oomblik getwyfel het dat die Here met hom besig was nie.
Het jy gebid vir ‘n nouer wandel met Jesus? Vir meer geduld, meer getrouheid? Liewe heilige, God het begin optree die oomblik toe jy gebid het. Miskien het verdrukkinge gou daarna gekom en daarmee saam verwerping en moeilike tye en dinge wat jy begin verag het. God was egter aan die werk om vir jou ‘n antwoord te bring.
Ek moedig jou aan, bid die uiteindelike gebed met geloof. Gou sal die Here openbaar dat dit waardeur jy gaan, die presiese antwoord op jou gebed is. Halleluja!